Bron: Die Kerkblad. 2 bladsye.

Die Predikant en die Algemene Verkiesing

Aangesien ons as gelowiges glo dat die Woord van God op elke faset van ons lewe en samelewing lig werp, het die bedienaar van die Woord 'n groot verantwoordelikheid om te alle tye — veral nou in ʼn tydperk voor ʼn verkiesing — sy roeping met getrouheid te vervul.

Predikante sal hulle opnuut moet vergewis van die feit dat hulle nie tot die politiek of tot 'n politieke party geroep is nie maar tot die be­diening van die Woord van God. Predikante is bedienaars van die versoening in Christus, van die evangelie van vrede en van gereg­tigheid. Hulle mag en moet egter die lig van die Woord ook op die terrein van die politiek laat val omdat die heerskappy van Christus oor alle lewensterreine strek.

Die predikant mag nooit as bedie­naar van die Woord openlik vir 'n bepaalde politieke party kant kies en dan daardie party in sy optrede as predikant propageer nie. Hy be­hoort eerder sy gemeente só vanuit die Woord toe te rus dat elke lidmaat self daartoe in staat is om die politiek van die dag te beoordeel.

Die gedrag en gesindheid van ge­lowiges word tog vanuit die Woord en Gees van God bepaal.

In sy eie persoon het die dominee natuurlik die reg en verantwoorde­likheid om self 'n politieke standpunt te hê. Hy is immers voluit bur­ger van hierdie land. As hy hom eg­ter geroepe voel om aktief deel te neem of om 'n politieke kandidaat te wees, dan doen hy dit eers nadat hy sy amp as predikant neergelê en tot 'n ander lewenstaat oorgegaan het. Solank hy predikant is, moet hy hom by sy roeping bepaal, en dit is om volledig in die diens van die Woord te staan.

Die predikant sal dit in gedagte moet hou dat sy eie politieke stand­punte — veral op die terrein van die partypolitiek — in sigself nie evangelie is nie.

Die dienswerk van 'n predikant neem al sy tyd en energie in beslag. Saam met sy kerkraad bepaal hulle hulle by kerklike sake en dit op kerk­like wyse. Die gemeente moet op­gebou word en daar moet sorg gedra word dat predikante en lidmate ­te midde van partypolitieke ver­skille die eenheid van die liggaam van Christus bewaar en dat die waarheid in liefde betrag word.

Die predikant het 'n groot taak om lidmate deur prediking en huisbesoek só toe te rus dat Christus in die onderlinge gesindhede, besprekinge en selfs onderlinge verskille gestalte sal kry en dat die Heilige Gees die kerk sal lei. Elke lidmaat wat onder leiding van die Woord en Gees lewe, moet voortdurend die sout van die aarde en die lig vir die wêreld wees.

Gelowige mense is mense met self­beheersing en nugterheid. Hulle moet lei en nie ander laat ly nie.

In 'n tyd waarin alles verpolitiseer word — selfs in die kerk — behoort veral predikante daarop bedag te wees dat die kerk 'n unieke gemeen­skap is. Gelowiges is tog burgers van die koninkryk van die hemele. Ons burgerskap is primêr in die hemel, en daarom is ons op aarde deel van die Godsvolk. Hoewel ons hier óók volkome deel van 'n bepaal­de land en volk is, mag politieke verdeeldheid nie op die kerk oorge­plant word nie.

Ons vind dit dikwels dat politieke standpunte ons denke oor die kerk en oor kerklike sake beheers, in plaas van die om­gekeerde. Hier rus 'n groot taak op die skouers van die predikante om die Woord van die waarheid reg te sny.

Voordat die predikant egter die gemeente tot aandag kan roep, moet hyself eers op aandag staan. Hy en die ouderlinge moet in woorde en dade goeie voorbeelde vir die kudde wees.'n Algemene verkiesing is 'n be­langrike gebeurtenis vir 'n volk, met implikasies vir ál die verskillende volke en groepe in hierdie land. Vir die kerk is dit nie minder belangrik nie. Langs hierdie weg word regeerders aan die bewind gestel wat onder meer ook moet sorgdra dat daar ruimte vir die kerk sal wees om waarlik kerk te wees sodat ons 'n rustige en stil lewe kan lei in alle godsvrug en waardigheid. Daarom sal die predikant ook voorbidding moet doen dat die wil van. God sal geskied.