Die Predikant op die Preekstoel Oor die wese van die prediking
Die Predikant op die Preekstoel Oor die wese van die prediking
In ʼn boek wat onlangs verskyn het, teken Gerben Heitink die verandering wat die dominee in die laaste dekades ondergaan het.1 Dat hy ampsdraer is, het al hoe meer op die agtergrond geraak. Vir baie is die dominee vandag meer ʼn ‘professional’ wat vanuit ʼn eie deskundigheid die gemeente voorgaan. Die predikantskap het sy sakrale trekke verloor en het al meer ʼn beroep onder baie beroepe geword.
Hand aan hand met hierdie ontwikkeling is daar ʼn ander beskouing van wat die predikant op die preekstoel doen. Die preek verloor al hoe meer sy verkondigende karakter. Die preek het verander van bediening van die Woord na gesprek met en oor die Woord. ʼn Gesprek waarin die dominee saam met die gemeente soek na die betekenis van die Woord vir vandag. Die predikant wat dink dat hy met ‘n ‘boodskap’ van God kom, oorskat homself. Hy is net ʼn mens met meer deskundigheid as ander. Terselfdertyd onderskat hy die gemeente. Hulle bestaan uit mondige Christene wat self sal uitmaak wat hulle met die Bybel in hulle lewens wil doen. In ons tyd wil mense nie meer gesagvolle verkondiging aanvaar nie. Mense ervaar dit as van min waarde. Moderne mense wil self van iets oortuig raak en daar moet in die preek voor ruimte gegee word.
Die boek van Heitink behandel die vraag of die dominee nie by die gemeente verbypraat nie. In hierdie artikel wil ek my besig hou met die vraag of die preek nie ook, as bediening van die Woord, as verkondiging van God se boodskap aan sy gemeente, by die gemeente verbygaan nie. Daarmee wil ek op die volgende vrae konsentreer: as wie staan die dominee op die preekstoel? Kan, en mag, hy sê: ek bedien aan u die Woord van God? Kan ons nog sê: ‘Die bediening van die Woord in die vergadering van die gemeente dra ʼn amptelike karakter. Dit kom tot die gemeente met Goddelike gesag. Die bedienaar spreek die Woord in die Naam van die Here’?2
Die predikant as deskundige hoorder⤒🔗
Voordat ek op die vrae nader ingaan, wil ek aandag gee aan wat G.D.J. Dingemans oor die predikant en die preek skryf.3 Ek doen dit omdat sy beskouing baie invloedryk is, en geag kan word as verteenwoordigend van die moderne ‘preekkunde’. Sy boek oor die preekkunde dra die veelseggende titel Als Hoorder onder de Hoorders.... Daarmee word die plek en die werk van die dominee op die preekstoel al dadelik gekenmerk.
Dingemans is daarvan oortuig dat die predikant nie primêr in die prediking aanwesig is as ‘verkondiger’ nie. Hy doen beslis weg met die gedagte dat die gemeente ʼn gesagvolle boodskap vanaf die kansel moet hoor. Dit werk vandag nie meer so nie. Die beskouing van die Skrif as ʼn Woord van Gód gaan hy verby. Die Skrif is ʼn boek vol ervarings van mense. Ons, moderne mense, het ons eie ervarings. Nou kom dit daarop aan dat ons óns ervarings verbind met die ervaring van die Bybelse figure. Interpretasie is hier die sleutelwoord.4 Ons moet die ou Bybeltekste ‘interpreteer’ om te ontdek hoe mense deur die ontmoeting met God geraak en verander is, en daardie gebeure so in sy heilsame betekenis vir ons, te verstaan.
In hierdie ‘interpretasieproses’ speel die predikant sy rol. Hy is nie die amptelike verkondiger van die heil nie, maar die hoorder onder die hoorders, die éérste hoorder. ‘Predikante is spesiaal opgelei om die geheime van die Woord binne te dring. Hulle het die konteks bestudeer. Hulle het geleer eksegetiseer. En hulle het ondersoek hoe die boodskap deurgewerk het in die lewe en die leer van die kerk. As ʼn reël is predikante goed opgeleide ‘professionals.’5 Vir Dingemans is die preek dan ook nie ʼn amptelike verkondiging nie, maar ʼn ‘raakpunt’, ʼn ‘ontmoetingsplek’, ʼn ‘kommunikasiekring’ waartoe die hoorders kan toetree om God op ʼn aktiewe manier te soek en, indien moontlik, te vind. Daarby is die predikant die ‘helper’, die ‘bemiddelaar’. Hy het ‘vakbekwaam’ en ‘beroepshalwe’ die eerste na die Woord geluister. En as deskundige eerste hoorder, help hy die kerkgangers met sy ‘vakbekwaamheid’ om in kontak en gesprek met God te kom. ‘Die preek is die element in die erediens waarin die predikant as hoorder onder die hoorders, aan die kerkgangers hulp probeer bied met hulle eie kommunikasie met die Bybel en die evangelie, en daarmee hulle kommunikasie met God self’.6 Elke gemeentelid moet naamlik tydens die diens sy of haar ‘eie preek’ maak. Daarmee moet die voorganger help deur die materiaal daarvoor aan te bied.
In ʼn latere studie beskryf Dingemans die ideaal van ʼn kerk as ‘rondetafelgemeenskap’ en stel dit selfs dat preke miskien vervang behoort te word deur ʼn vorm van ‘groepswerk’, met die predikant as leraar wat ander leer om sélf die tekste te lees, te interpreteer en toe te pas.7 Die predikant ‘bring nie meer ʼn duidelike “boodskap” nie, maar hy bied verskillende perspektiewe vanuit die hoeke van verskillende vrae van die hoorders’.
Sonder om die skrifkritiese standpunt van Dingemans te deel, kom skrywers uit gereformeerde kringe na aan sy beskouing van die predikant en die preek. Vir L. Wieringa is ‘bediening’, ‘verkondiging’, ‘prediking’ heilshistories bepaalde begrippe waarmee dit verby is. Die apostels het gepreek en verkondig. Hulle het ‘die groot nuus’ gebring. Die dominee maak saam met ander Christene deel uit van die span ‘agter die nuus’. Die predikante is deur mense aangestel. Hulle verkondig nie, hulle ‘hou ʼn preek’. Dit wil sê: ‘Hulle lê uit, hulle lig toe, hulle adviseer, hulle bemoedig’.8 Die dominee is nie ʼn prediker nie, maar ʼn helper by Bybellees. Wieringa skryf: ‘Die Bybel is in alle opsigte ʼn baie insiggewende teks ... en het vir menigeen ʼn groot klomp uitleg, toeligting, toepassing en dergelike nodig as ons as selfstandige Christene ons Bybel wil “verstaan”. En daarvoor is ʼn geskoolde mens (man of vrou) nodig met voldoende bekwaamheid, om ʼn gemeente te kan dien met hulp by Bybellees en -verwerk.’ Dit is dan ʼn preek.9
W.G.H. Bassie en W.P. Kruijswijk benader die saak ietwat anders, maar meen tog dat daar nie ʼn “prinsipiële” verskil tussen ʼn dominee se preek en ʼn inleiding by ʼn vereniging is nie.10 Uitdrukkings soos ‘die bediening van die versoening’ en ‘heroutediens’ geld wel vir die prediking van die apostels, maar kan nie op die preek van die dominee toegepas word nie. Die Woord van God moet, meer as wat dit tot nou toe die geval was, in die midde van die gemeente te staan kom. Daarvoor is dit nodig dat ons begin om die preek uit sy ‘teologiese omhulsel’ te bevry.11
Hierdie publikasies maak dit duidelik hoe dringend die vrae is wat ek aan die begin van hierdie artikel gestel het. Die dringendheid word nog meer duidelik wanneer ons ons herinner hoe in die tyd van die groot Reformasie oor die prediking gepraat is.
Die stem van die Reformasie←⤒🔗
Hoe die Reformasie die prediker en die preek gesien het, hoor ons op ʼn indrukwekkende manier in die Tweede Helvetiese Konfessie wat in 1562 deur H. Bullinger opgestel is en daarna deur nagenoeg al die Switserse kerke aanvaar is.12 In Artikel I word gesê: ‘Derhalwe, waar hierdie Woord van God gepreek word deur predikers wat wettig geroep is, in die kerk verkondig word, glo ons dat die Woord van God self verkondig en deur die gelowiges ontvang word, en dat mense geen ander Woord van God mag versin, óf van die hemel verwag nie.’ In die kantlyn kan dié beroemde formulering gelees word: ‘Die prediking van die Woord van God is die Woord van God.’ Verder aan, in Artikel XVIII, word bely: ‘God sou wel uit eie mag sonder middele ʼn gemeente kon skep, maar Hy wil liewer deur die diens van mense met die mense omgaan. Derhalwe kan die bedienaars net as Gód se dienaars beskou word, omdat God deur hulle die heil van die mense skep.’ Daar word onder meer verwys na die woorde van die Here: “Wie iemand ontvang wat Ek stuur, ontvang My; en wie My ontvang, ontvang Hom wat My gestuur het” (Johannes 13:20).
Die reformatore van die sestiende eeu het die belydenis van hierdie Konfessie, met krag geleer. Martin Bucer, die reformator van Straatsburg, benadruk die goddelike roeping van die bedienaars.13 Van meet af aan wys hy op Romeine 10:15: “...hoe kan hulle preek as hulle nie gestuur word nie?” Die prediker kom nie op eie gesag nie, maar as gesant van Christus. Wanneer die bedienaar ooreenkomstig die Woord spreek, moet ons sy woord en leer aanneem ‘als des herren red und lere’. In sy boek Over de Ware Zielzorg sê die reformator dat die gelowige só behoort te sê: ‘hierdie bedienaars wil ek as Hom self hoor, en hulle woord en werk in hierdie diens, as hulle dit na die insettinge van die Here verrig, nie as húlle woord en werk nie, maar as die woord en werk van my Here Jesus Christus’.
By Johannes Calvyn is dit nie anders nie.14 Ook hy gaan van die roeping deur God uit. Kragtens dié roeping tree die bedienaars op, is hulle bodes (nuntii), gestuurdes van die Here en verteenwoordigers van sy Persoon (Komm. Galasiërs 4:14). Hulle is sy gesante. Mens moet hulle stem hoor as dié van Hom (Komm. 3 Korinthiërs 6:1). God neem sommige uit die mense ‘om as sy afvaardiging op die wêreld te dien, vertolkers van sy verborge wil te wees en ten slotte sy Persoon te verteenwoordig’ (INSTITUSIE IV,3,1). ‘Dit is ʼn besondere voorreg dat Hy die monde en tonge van mense waardig ag om vir Hom te heilig sodat sy stem deur hulle weerklank kan vind’ (INSTITUSIE IV,1,5). Die amp van die leraars ‘kon ook nie voortrefliker versier word nie as toe Hy gesê het (Lukas 10:16): "Wie na julle luister, luister na My, wie julle verwerp, verwerp My" ‘(INSTITUSIE IV,3,3). Wat die Reformasie oor die werk van die predikant op die preekstoel sê, is nie bedoel om ʼn identiteit van preek en die Skrif te proklameer nie, maar gee uitdrukking daaraan dat die betrokkenheid van mense nie die Woord sy krag laat verloor nie. ‘Dit gaan daaroor dat ons weet: in die prediking spreek God ons toe’.15
Amptelike bediening←⤒🔗
Mens kan nie sê dat net die apostels ‘gepreek’ en ‘verkondig’ het nie. Paulus besweer Timótheüs: “Verkondig die woord…" (2 Timótheüs 4:2). In Grieks word ʼn werkwoord (kèrussein) gebruik wat elders die prediking van die apostels tipeer (vgl. Mattheus 10:7; Markus 16:15; Handelinge 10:42; 20:25). Paulus weet van predikers wat Christus ‘verkondig’ (kèrussousin) met goeie bedoeling (Filippense 1:15). Ook die ‘bediening van die versoening’ is nie uitsluitlik aan die apostels toevertrou nie. In 2 Korinthiërs 5:18-19 gebruik Paulus die woordjie ‘ons’. Dieselfde apostel wys die opsieners van Éfese daarop dat hy nie nagelaat het om aan hulle die hele raad van God te verkondig nie (Handelinge 20:27) en doen dit kennelik om daarin nagevolg te word. In Hebreërs 13:7 hoor ons weer oor “voorgangers” wat aan die gemeente “die woord van God ... verkondig” het.
In die spoor van die reformatore het die gereformeerde kerke op grond van hierdie Skrifwoorde die verkondiging van die Woord as ʼn blywende opdrag gesien. Daarby het ook die beskouing van die funksie van die prediking as genademiddel, ʼn belangrike rol gespeel. In Romeine 10:14 skryf Paulus: “Hoe kan hulle in Hom glo van wie hulle nie gehoor het nie? En hoe kan hulle hoor sonder een wat preek?” En in 1 Korinthiërs 1:21 sê hy dat dit God behaag het “om deur die dwaasheid van die prediking die wat glo, te red...” Die prediking van die Woord is die middel waardeur die Heilige Gees die geloof in menseharte werk. Daarom moet daar in die samekoms van die gemeente steeds weer gepreek word. Calvyn het, met die oog op hierdie funksie, van die prediking gesê: ‘God het die ganse volheid van die lewe in Jesus gestel, om deur middel daarvan Hom aan ons mee te deel. Op dieselfde wyse as wat God die volheid van die lewe in Christus gestel het, het God sy Woord verorden as instrument deur middel waarvan Jesus Christus met al sy gawes aan ons toebedeel word.’16
Die bediening van die Woord in die samekoms van die gemeente dra ʼn amptelike karakter. Hoe deskundig die voorganger ook al is, hy tree nie op as deskundige nie, nog minder as ‘professional’. Die dominee staan op die preekstoel as ampsdraer, as die man wat deur God self tot hierdie diens geroep is. God wil dat sy Woord verkondig word (vgl. 2 Timótheüs 4:1,2). Die Heilige Gees wil deur die prediking hulle wat glo, red (1 Korinthiërs 1:21). Die versoening moet ‘bedien’ word (2 Korinthiërs 5:18). Die Here maak mense waardig vir hierdie werk (vgl. Hebreërs 5:4) en maak hulle daartoe bekwaam (vgl. 1 Timótheüs 4:12; 2 Timótheüs 2:2). Hierby is die gemeente betrokke. Hulle bemerk die gawes (vgl. Handelinge 6:3) en verkies tot die amp (Handelinge 6:5). So word die keuse van God openbaar.17 Hy wat in die Woord arbei, mag weet dat hy so deur God self geroep is.
Die dominee staan op die kansel kragtens hierdie roeping van Godsweë. Hy is ʼn deur God gestuurde. Hy verteenwoordig sy Stuurder. Vanweë hierdie Goddelike roeping het die reformatore “Wie na julle luister, luister na My; en wie julle verwerp, verwerp My..." (Lukas 10:16) ook op die bedienaars betrek. Terselfdertyd het hulle hierdie verteenwoordiging geheel en al aan die Woord verbind. Net wanneer die herders die Wóórd verkondig, is hulle ’mond van God’ en ‘plaasvervangers van Christus’, sê Calvyn.18
En van die ampsdraers wat ons in die Skrif teëkom skryf die reformator: ‘As ons dit trouens alles ordelik ondersoek, sal ons vind dat hulle geen gesag om te onderwys of te antwoord gehad het anders as in die Naam en die Woord van die Here nie. Wanneer hulle immers tot die amp geroep word, word hulle tegelyk gebied om niks (van hul eie) saam te bring nie, maar uit die mond van die Here te praat. En Hy bring hulle self ook nie in die midde van die volk om deur hulle aangehoor te word voordat Hy hulle geleer het wat hulle moet sê nie en hulle mag niks sonder sy Woord sê nie’ (INSTITUSIE IV,8,2).
God sê vir Jeremia: “sê aan hulle alles wat Ek jou sal beveel” (Jeremia 1:17), en: “as jy voortbring wat edel is, en niks onedels nie, sal jy soos my mond wees” (Jeremia 15:19). Dit is die magna carta vir elke ampsdraer, ook vir die dominee op die preekstoel. Die Woord van God moet tot sy volle reg kom (Kolossense 1:25v.). Die Woord van God moet ‘verkondig’ word (Hebreërs 13:7). Wanneer die dominee hierdie Woord getrou verkondig, dan geld wat die Tweede Helvetiese Konfessie sê: die prediking van die Woord van God is die Woord van God en die gemeente moet die gepredikte Woord aanneem “nie as die woord van mense nie, maar, soos dit waarlik is, as die woord van God” (1 Thessalonicense 2:13).
Die Formulier vir die Bevestiging van Bedienaars van die Woord in die Gereformeerde Kerkboek (van die Gereformeerde Kerken Nederland) vermaan dan ook die gemeente: ‘Dink daaraan, dat God self u deur hom aanspreek. Neem daarom die woorde wat hy na die Skrif tot u spreek, met blydskap aan. Ontvang hierdie bedienaar met vreugde, want lieflik is die voete van hulle wat ʼn goeie boodskap bring.’ Die dominee staan nie op die preekstoel as ʼn deskundige of ʼn ‘professional’ nie. Ook nie as ‘hoorder onder die hoorders’ nie. Hy staan daar as ampsdraer, as iemand wat deur God geroep is tot die werk van verkondiging, hy staan daar as gesant van God.
Paulus skryf met betrekking tot homself en sy medewerkers in die Evangelie: “Ons tree dan op as gesante om Christus wil, [ons kan ook lees ‘ten behoewe van Christus’]19 asof God deur ons vermaan. Ons bid julle om Christus wil: Laat julle met God versoen” (2 Korinthiërs 5:20). Die apostel en sy medewerkers is gesante van Gód, wat die versoening wat in Christus volbring is, moet verkondig. Wie hulle ontmoet, ontmoet God. Dit blyk uit wat die apostel hier byvoeg. Die woordjie ‘asof’ wat hier gebruik word, gee die bedoeling van Paulus nie goed weer nie. Ons sou eerder kon vertaal: ‘sodat God deur ons vermaan’. Die apostel wil dit uitdruk dat die Korinthiërs in die predikers van die Evangelie met God te doen het, dat God self hulle in die prediking aanspreek. (Die Afrikaanse 1983 vertaling, het hier: ‘Ons tree dus op as gesante van Christus, dit is God wat deur ons ʼn beroep op julle doen – RSS).
Gesagvolle boodskap←⤒🔗
Aan die begin van hierdie artikel het ek die omskrywing van die preek, soos dit in die ou leerboek van T. Hoekstra te vinde is, aangehaal: ‘Die bediening van die Woord in die vergadering van die gemeente dra ʼn amptelike karakter. Dit kom tot die gemeente met Goddelike gesag. Die dienaar preek die Woord in die Naam van die Here’. Ek hoop dit het duidelik geword dat die dominee nie as ‘hoorder onder die hoorders’ op die preekstoel besig is nie, maar as geroepe ampsdraer, as ʼn gesant van God. Is Hoekstra reg wanneer hy sê dat die prediking met Goddelike gesag tot die gemeente kom en dat die bedienaar die Woord in die naam van die Here spreek?
Hierdie opvatting van die prediking gaan ver terug. Van Luther kom: ‘Hic dixit Dominus. Dit het God self gesê. Ek was weer ʼn apostel en profeet van Jesus Christus in hierdie preek. Wie nie so van sy prediking kan roem nie, moet liewer daarmee ophou, want in sy ongeloof laster hy God.’20 Bucer stel dit so: ‘In die dienaars wat Christus gegee het, en in die dienste wat hulle verrig, moet ons Hom self bewonder as die enigste saligmaker, leermeester, onderwyser en hoogste priester, Hóm hoor, ontvang en vashou’.21 En Calvyn skryf ‘dat die Woord van die evangelie, deur watter mens dit ook al verkondig word, juis die uitspraak van God is wat voor die hoogste regbank aangekondig, in die boek van die lewe opgeskryf, in die hemel bekragtig, vas en seker is” (INSTITUSIE IV,11,1).
Dat die reformatore sulke sterk uitsprake oor die prediking maak, kom uit die oortuiging dat Christus werklik sy stem in die samekoms van die gemeente wil laat hoor en sy gesante daarvoor gebruik. Die prediker moet aan hierdie spreke van Christus diensbaar wees. Sy naam is dienaar van die Woord. Dit beteken dat die dominee moet besef: ek moet met die Woord van my Sender kom. Wat sê Christus in hierdie Skrifgedeelte vir sy gemeente? Hoe kan ek sy boodskap onder woorde bring sodat die gemeente die stem van die groot Herder hoor?
Die taak van die dominee is meer as om ‘helper’ by die lees van die Bybel te wees. Hy lê nie net uit en lig toe nie. Die preek is nie maar net ‘hulp’ by die verstaan van die Skrif nie. Dit is ʼn boodskap wat met gesag tot die gemeente kom. Want dit is die Woord wat Christus deur middel van sy gesant in die midde van die gemeente spreek.
Ek weet, op die preekstoel kan dinge behoorlik skeefloop. Daar kan eie gesigspunte uitgedra word en aanvegbare dinge gesê word. Dit is nie verniet dat die reformatore steeds weer die diensknegkarakter van die amp beklemtoon het nie. ʼn Predikant is nie outomaties ‘mond van Christus’ nie. Hy moet hom hou by die magna carta van Jeremia 15:19. Maar wanneer hy werklik die Woord ‘bedien’ of ‘bring’ dan geld: ‘Die prediking van die Woord van God is die Woord van God’. Dan klink daar vanaf die preekstoel ʼn gesagvolle boodskap, dan verhef Christus sy septer oor ons en geld wat ons saam met die reformatore in Sondag 31 van die Heidelbergse Kategismus bely.
Ons sal steeds saam met Hoekstra sê dat die bedienaar die Woord in die naam van die Here spreek. Die uitdrukking ‘in die naam van’ het in die Nuwe Testament ʼn komplekse betekenisinhoud.22 Dit kan, onder meer, beteken ‘in opdrag van’ (vgl. 2 Thessalonicense 3:6), ‘met beroep op’ (vgl. Johannes 16:26), ‘in gehoorsaamheid aan’ (Matthéüs 18:20), ‘in die krag van’ (Handelinge 4:7) en ‘op gesag van’ (Johannes 5:43). Al hierdie nuanses kom saam wanneer ons sê dat die dienaar ‘in die Naam van die Here’ spreek. Hy is op die preekstoel besig as gesant van Christus, in sy naam: kragtens sy opdrag, in sy krag en op sy gesag. Terselfdertyd is hy daar ook besig ‘in gehoorsaamheid aan’. Hy moet sy opdrag getrou uitvoer, maar as hy dit doen spreek hy die Woord ‘in die naam van die Here’.
C.J. de Ruijter beskryf hoe moderne mense die ampsdraer sien.23 Die ‘van God gestuur’ verdwyn. Die persoon en die manier van funksioneer kry steeds meer klem. Dit werk ook deur na die manier waarop mense die preek sien en beleef. Moontlik is dit dominees self wat dit in die hand werk. Dit val my op hoe selde hulle preke nog begin met ‘ek bedien aan u die Woord van God’. Ek hoor meer: ‘ons staan saam stil by...,’ ‘ek vra u aandag vir...,' ‘ons oordink saam...,' ‘ons lees saam...’. Dit lyk vir my belangrik om opnuut te besef hoe dominees op die preekstoel besig is en hoe ons daardie werk moet beskou.
ʼn Woord van Bucer het, sedert ek dit gelees het, my bygebly: ‘Wie aan God behoort, wie Christus ken, sal so ywerig moontlik na hóm luister van wie hy seker weet dat God hom deur ʼn bepaalde besluit daarvoor gestuur het, sodat hy Hom tot sy heil sou dien. Die ware evangelie dra te min vrug, grotendeels omdat die roeping, die besluit en die behae van Christus ons Here nie vir ons, wat dienaars van die Woord is, òf vir hulle wat die plek van hoorders inneem, dié waarde dra nie.'24