3 bladsye. Vertaal deur Nic Grobler .

Die Rassisme in ons Almal

Is elke mens ʼn rassis? Dit gaan te ver om dit sonder meer so te stel. Maar dit blyk dat ʼn aansienlike deel van die Nederlandse bevolking rassisties dink. Hoekom? En hoe skuil rassistiese gevoelens in ons eie hart? En hoe raak jy daarvan ontslae?

Rassisme, diskriminasie, anti-Semitisme🔗

Iemand wat rassistiese gedagtes en gevoelens koester, het ʼn hekel aan mense van ʼn ander ras as die ras waartoe jy self behoort. Sulke gedagtes en gevoelens lei al te gou tot diskriminasie teen die ander. Uit ondersoeke het geblyk dat baie vorme van diskriminasie verborge bly. Mense rapporteer nie diskriminasie nie, want hulle dink dit sal tog nie help nie. Daar word min of niks aan gedoen nie. En baie wil hulle eenvoudig nie daaraan steur nie. Ligter vorme van diskriminasie word uiteraard as sleg en pynlik ervaar, maar mens kan daarmee saamleef.

Baie mense met ʼn buitelandse agtergrond het in Nederland met diskriminasie te doen gekry. Dit gebeur inderdaad omdat hulle immigrante is of op grond van hulle geloof of velkleur. Dit gebeur veral in die arbeidsmark en in die onderwys. Beskermende wetgewing is klaarblyklik nog nie voldoende nie en die besef en die ordentlikheid leef nie by almal dat diskriminasie teen ander mense uiters afkeurenswaardig is nie.

Anti-Semitisme neem ook toe. In die eng vorm van anti-Semitisme is die Jode die bron van kwaad in die wêreld. Hoe mens by so ʼn gedagte kan uitkom, sal altyd ʼn raaisel bly. Uiteraard kan mens oor Jode dinge sê, net soos ons dit van Nederlanders en van onsself kan sê. Daarvoor het mens bietjie selfkennis nodig. Maar om te beweer dat die Jode die oorsaak van die kwaad in die wêreld is, is te absurd vir woorde. Jy het dan op bepaalde aspekte ʼn onderontwikkelde verstand... Maar emosies laat hulle nie altyd deur die verstand stuur nie. Daar is meer as net die rede. In rassisme, waarvan anti-Semitisme ʼn gevaarlike vorm is, word mens gedryf deur angs, deur pure onkunde en deur onredelike haat.

Drie elemente van rassisme🔗

Hierdie drie elemente sal altyd ʼn rol by rassisme speel. Daar is ʼn (vae) angs vir die ander. Die ander is anders as wat ek is. Ek ken hom nie goed genoeg nie. Ek weet nie hoe ek my teenoor hom of haar moet gedra nie. Hy het ander gewoontes, hang ʼn ander godsdiens aan, dink anders as ek oor soveel dinge. Maar al is die gevoelens rasioneel ongefundeer en al word hulle nie deur geldige argumente gesteun nie – dit is hoe ek voel. Gevoelens word in dié opsig dan feite. En as feite kan sulke gevoelens gevaarlik wees. Hulle werk. Hulle het invloed op ander. Jy kan jou as persoon, maar ook as groep, deur sulke gevoelens laat meesleep. ʼn Man soos Hitler het dit reggekry om (byna) ʼn hele volk in die afgrond van anti-Semitisme mee te sleur. Die argumente daarvoor het gekom uit angs, onkunde en pure haat. En dit alles is aangeblaas deur vuur uit die hel.

Dit is duidelik dat rassisme alles te doen het met waardes en norme. Opvoeding kan moontlik komende onheil voorkom. So ʼn onheil kan die vorm aanneem van minder ingrypende vorme van afwysing en diskriminasie, negering en koel behandeling van mekaar, tot erger vorme van diskriminasie. So kan rassisme en gepaardgaande diskriminasie ʼn bron wees van etniese spanning en die oorsaak van gewelddadige optrede. Dit kan lei tot die ontstaan van allerlei skeurings en verdelings in die maatskappy. Rassisme is daarom nie ʼn onskuldige kwaad nie – geen vorm van kwaad is onskuldig nie. ʼn Geskel het gevolge. Dit kan nie positief wees nie. Onbeskofte behandeling lok gevoelens van angs en afkeer uit. Om mekaar te treiter en te verpes kan ʼn verwoestende invloed op die lewens van mense hê. Dit kan die lewe van alle vreugde ontneem. Die lewe word daarmee ʼn harde en moeilike ervaring. Elke afwysing deur liefdeloosheid, in welke vorm ook al, bring skade mee. Deur hulle te treiter en te verpes kan (ook jong) mense selfs na selfmoord gedryf word.

Liefdeloosheid🔗

Wanneer ons die woord liefdeloosheid noem, raak ons die diepste wortel van rassisme. En liefdeloosheid is ʼn vorm van haat. Haat is weer die wortel van doodslag. Liefdeloosheid en haat is (byna) altyd die wortels van doodslag, van venynige diskriminasie, klein oorloë en groot oorloë. Dit het in ons wêreld begin met die oorlog tussen twee broers. Kain het sy broer Abel doodgeslaan. Kain was uit die bose, en dan is jy in staat om selfs jou broer te vermoor (1 Johannes 3:12). Wie nie liefhet nie, bly in die dood.

Elke mens is na die beeld van God geskape. Die ware lewe en geluk van elke mens lê in die (herstelde) verhouding met God, deur die geloof in Jesus Christus en die leiding van die Heilige Gees. Daar is nie ʼn ander weg tot die lewe, die vrede en die rus nie. Wanneer die liefde van God in ons harte kom, sien ons ons medemens in ʼn ander lig. Ons laat ons dan nie meer lei deur oordele op grond van die uiterlike van die mens nie. ʼn Ander afkoms, velkleur, godsdiens, kultuur en gewoontes is nie meer redes om vir iemand bang te wees nie. Uiteraard moet ons altyd met wysheid en versigtigheid met medemense omgaan. Ons moet en mag vorme van kwaad of die kiem van kwaad raaksien. Maar ʼn Christen probeer steeds om die medemens in die lig van die verhouding tot God te sien. Daarmee maak ons nie die medemens mooier of beter as wat hy of sy is nie. Want ons leer onsself ken! Ons leer onsself ken in die lig van ons eie verhouding met God. En dan word ons baie versigtig. Ons weet in beginsel watter mag die sonde is. Ons besef dat die wortel van diskriminasie, van rassisme, van anti-Semitisme in ons eie hart aanwesig is, en dat dit steeds daaruit geweer moet word. Net as die Woord van Christus in ons woon en die Gees van God ons lei, sal rassisme en anti-Semitisme uit ons hart verdwyn.

Die kwaad lê diep🔗

Die kwaad sit dus inderdaad diep. Dit kan, in bepaalde omstandighede, skielik kop uitsteek. Ons kan selfs verbaas wees dat ons dit by onsself bespeur. Maar dit geld van die kwaad. Die Christelike belydenis dat die mens van nature ʼn sondaar en goddelose is, is nie ʼn teorie nie. ʼn Christen vind die krag om die sonde in homself te bestry, in die genade en die liefde van God. Ons streef daarna om die werwingskrag van die sonde in ons uit te doof. Dit kan in bepaalde omstandighede ʼn sware stryd wees. Ten diepste is daar ʼn lewenslange stryd teen die sonde in ons lewe. Hierdie stryd ken tallose nederlae, maar ook baie oorwinnings. Ons val steeds terug op die genade van God. Hoe groot is sy trou! Hoeveel geduld het Hy nie met my nie. Ek ervaar dit as ʼn onbegryplike wonder dat Hy my verdra het en steeds verdra. Ek soek my veilige skuilplek in en onder die bloed van die Christus.

Rassisme sal dus bly bestaan solank as die wêreld in sy huidige vorm bestaan. Geen burgerskapskursus sal dit heeltemal uit die weg ruim nie. Geen integrasiemodel sal dit regkry om die liefdeloosheid tussen mense uit te skakel nie. Dit beteken nie dat burgerskapstoetse en integrasie-aksies sonder sin en doel is nie. Die owerheid het die taak om die kwaad en onreg in die gemeenskap sover moontlik teen te gaan en aan bande te lê. Maar net God kan die hart verander. Sy liefde is so kragtig dat daar nie net gevoelens van wederliefde ontstaan nie, maar dié gevoelens word ook ʼn bron van krag vir dade uit liefde; om tot aksie oor te gaan, jou in te span vir die welsyn van medemense en op te kom vir geregtigheid. Beskawing en kultuur demp die uitings van rassisme. Ons sal nie nou die begrippe beskawing en kultuur verder probeer omskryf nie. In Nederland heers die (tyd)gees van die liberalisme of die neoliberalisme. Dié gees bring ook ʼn eensydige kultuur en maatskappy mee. Dit is bepaald nie maklik om die Nederlandse beskawing en kultuur te omskryf nie. Dinge is teenswoordig so gevarieerd en gekompliseerd, dat één definisie nie genoeg is nie. Jy het verskillende beskrywings nodig.

Maar kom ons erken almal die rassis in onsself, en wys dit die deur van ons hart. Laat ons onsself en mekaar leer om deur die oë van Christus na ons medemens te kyk. Dan sal ons altyd die goeie raaksien.