Bron: Die Kerkblad. 3 bladsye.

Die Reformasie van die 16de Eeu

Dit is nie alleen Gereformeerdes wat in hulle kerkgeskiedenisboeke skryf dat die Reformasie van die 16de eeu die belangrikste gebeurtenis in die tydvak ná Christus in Europa se geskiedenis was nie, maar ook Roomse navorsers sien dit nou só. Die Amerikaanse Roomse historikus, John P  Dolan, noem in sy boek, History of the Reformation (Toronto, 1967), hierdie Reformasie “onbetwisbaar die belangrikste gebeurtenis in die geskiedenis van die Wes-Europese denke sedert die koms van die Christendom”.

Renaissance, Humanisme, Revolusie, Reformasie?🔗

Die Renaissance van die 16de eeu was die herontdekking van die klassieke kuns en kultuur van die ou Grieke en die Romeine. Maar die Renaissance was uit en uit ’n elite-beweging en het nie die massas van die volke saamgeneem nie.

Die Humanisme van die 16de eeu (nie met die hedendaagse humanisme te verwar nie) was ook ’n elite-beweging: aan die een kant is hand-aan-hand met die Renaissance ’n terugkeer na die herwaardering van die antieke (Griekse en Romeinse) kultuur deur middel van die bestudering van die antieke tale (Grieks en Latyn) en skrywers bevorder; aan die ander kant het die mens ook hier in die middelpunt gestaan - die mens se deug (soos in die antieke tyd), sy ideale, sy selfverwerkliking in hierdie wêreld. Dit het destyds ook nie die volksmassas meegesleep nie.

Revolusie beteken ’n radikale omverwerping van ’n bestaande politieke, kerklike of maatskaplike stelsel of orde. Terwyl heelwat teenstanders van die 16de-eeuse Reformasie die Reformasie as ’n revolusie bestempel, is só ’n oordeel baie ver van die waarheid af. Dikwels word ook geweld ingespan om ’n revolusie te laat slaag (dink aan die Franse Revolusie teen die einde van die 18de eeu).

Daarenteen was die Reformasie van die 16de eeu in Europa die herontdekking van die Woord van God. Toe die kerk van destyds die Woord verloor het (die altaar het die preekstoel vervang; daar is geglo dat die genade direk deur sakramente uitgegiet word in teenstelling met die verkondiging van die genade deur die prediking van die Woord), het die gelowiges weer Christus se gesag deur sy Woord oor alles, ook in die kerk, herontdek. Die herontdekking van die gesag van die Woord het die menslike gesag van die pous met al sy hiërargiese strukture in die kerk omvergewerp. Hierdie Reformasie was nie soos die Renaissance en die Humanisme ’n elite-beweging nie, maar het (veral na Martin Luther se optrede in Wittenberg op 31 Oktober 1517 en daarna) die gewone volk meegeneem.

Gebore en nie gemaak nie🔗

Agter hierdie 16de-eeuse Reformasie was geen menslike beplanning nie. Toe Luther sy 95 stellings teen die kerkdeur van Wittenberg vasgespyker het (wat onder die gewone lidmate van die kerk die vonk in die kruitvat was), was dit ’n doodgewone, gebruiklike, akademiese daad wat deur die kerkleiers beantwoord sou moes word. Luther self het nooit die buitengewone reaksie onder die volk verwag nie, en het gesê: “Ek was soos ’n blinde perd daarin gelei.” Dit was die Heilige Gees wat God se Woord in Luther en onder die gemeente gewerk het. Die Reformasie het nie van onder van die mens gekom nie, maar van bo, van God almagtig, deur sy Woord. Die Heilige Gees het Luther deur die lewende Woord van God gelei om die bevrydende en oorweldigende heilsboodskap weer te ontdek: die regverdige sal alleen deur die geloof lewe! (Hab 2:4; Rom 1:16-17.)

’n “Plus”-godsdiens🔗

Die kortste manier om die afwykings van die Roomse Kerk te tipeer - dáár waar dit van die Woord afgedwaal het - is om dit te beskryf as die kerk met die plusteken (+):

  • Jesus Christus + die moeder Maria en “heiliges” tot wie gebid word;
  • die Heilige Skrif + die tradisie en insettinge van mense soos sg. “heiliges”;
  • die Woord van God + uitsprake van sinodes en van die pous;
  •  die kanonieke boeke + die apokriewe boeke;
  •  God se werk + ons werk;
  •  geloof + verdienste

Hierby kom nog ’n menigte dinge wat heilig verklaar is en by die godsdiens bygevoeg is en in die ritueel ge­akkommodeer word, soos heilige plekke, heilige gebruike, heilige relikwieë, ensovoorts. (Relikwieë is beweerde oorblyfsels soos bv. stukkies van die kruispaal, botteltjies met die wyn van die bruilof te Kana, stukkies van Jesus se kleed, heilige water van die Jordaan en ’n menigte ander. Die vors, Frederik die Wyse van Sakse, het byvoorbeeld ’n versameling van 5 000 sulke relikwieë gehad. Vandag nog is daar nouliks ’n altaar in ’n Roomse kate­draal in Europa sonder een of ander beweerde relikwie.)

’n Saak van “enkel en alleen” (= die “sola” van die Reformasie)🔗

Teenoor hierdie godsdiens met die +, die “plus” van bykomstighede en die bygeloof, stel die Reformasie van die 16de eeu sy “enkel en alleen”, sy “sola” (volgens die Latyn wat destyds deur die kerkleiers gebesig is):

Solus Christus: Enkel en alleen Jesus Christus - sonder Maria, sonder sogenaamde heiliges, die pous of watter mens ook al - deur “niks anders as Jesus Christus en Hom as gekruisigde” (1 Kor 2:2) word die mens verlos.

Sola fide: Enkel en alleen deur die geloof. Dit is enkel en alleen deur geloof in Jesus Christus dat ek geregverdig word, sonder die werke van die wet.

Sola Scriptura: Enkel en alleen die Skrif. Dit is enkel en alleen deur middel van die Bybel, die heilige Skrif en die prediking van die Skrif, dat ek die stem van die Goeie Herder kan hoor. Die Skrif is die volkome Woord van God. Ons belydenis (art. 7 NGB) is hieroor baie duidelik: “... niemand, selfs nie die apostels nie, (mag) anders leer as wat ons reeds deur die Heilige Skrif geleer word nie - ja, al was dit ook n engel uit die hemel (Gal 1:8) ...”

Sola gratia: Enkel en alleen uit genade. Dit is enkel en alleen deur die genade van God wat ek behou word. Dit is enkel en alleen die genade van Jesus Christus aan die kruis wat my red. Ek het geen ander Middelaar as die Seun van God nie. Geen ander mens nie!

Soli Deo gloria: Enkel en alleen aan God die eer! God se eer is die enigste doel van alles en aldus ook van die mensdom, die kerk en my lewe.

“Ecclesia reformata semper reformanda ...”🔗

Hier het ons ’n reformatoriese spreuk waarmee die bewaring van die gesag van die Woord in die kerk tot uitdrukking kom. Dit beteken: Die gereformeerde kerk moet altyd weer reformeer. Hierdie spreuk, “ecclesia reformata semper reformanda”, word ongelukkig dikwels verkeerd gebruik, omdat die laaste, veronderstelde, deel daarvan, “ad fontes” (“terug na die bronne” = “terug na die Woord”) weggelaat word. “Ecclesia reformata semper reformanda” is nie ’n blanko tjek om te dink enige verandering is reformasie nie, om te dink die leer, diens en tug (o.a. die belydenis, die liturgie en die kerkregering) kan verander of gewysig (sogenaamd vernuwe) word volgens eie goeddunke nie. Hierdie spreuk binne sy histo­riese konteks beteken altyd ’n terugkeer na die gesag van Christus se Woord, terug “ad fontes” = terug na dié Bron, die Skrif as Woord van God.

Reformasie is bekering🔗

“Ecclesia reformata semper reformanda” behels dat die kerk nooit met reformasie klaar kry nie. Die lidmate van die kerk, elkeen van ons, is “van nature geneig om God en my naaste te haat” (HK, antw. 5). Dit is die gemeente se swakheid: Ná reformasie, die terugkeer na God se Woord - ons kan ook sê, “die ware bekering” (= die “afsterwing van die ou mens en die opstanding van die nuwe mens” - HK, vr/antw. 88), kom maar altyd weer ’n deformasie = ’n val in die sonde, ’n wegdwaling van die Woord. Juis daarom roep die Here sy kerk, sy sondige gemeente op tot bekering, tot reformasie.

Jesus Christus se belofte … en sy waarskuwing🔗

Jesus Christus ag die kerk se terugkeer na sy Woord só dringend dat Hy in sy sewe briewe aan die gemeentes in Klein-Asië hulle sewe keer oproep tot bekering. Sy waarskuwing aan die kerk van Efése moet ons almal ter harte neem om na sy Woord terug te keer: “Bekeer jou en doen die eerste werke. Anders kom ek gou na jou toe en sal jou kandelaar van sy plek verwyder as jy jou nie bekeer nie” (Openb 2:5). Die straf op die verlating van die Woord is meedoënloos …

Net so troosryk is die Here Jesus Christus se belofte aan sy kerk wat sy Woord bewaar: “Omdat jy die woord van my lydsaamheid bewaar het, sal Ek jou ook bewaar in die uur van beproewing wat oor die hele wêreld kom om die bewoners van die aarde op die proef te stel” (Openb 3:10).