2 bladsye.

Die Seën

  • Die laaste woord aan God. Soos wat die diens met God en met sy werking begin het, so sluit dit ook weer af met God en met sy werksame woord. Hý begin die diens, maar Hý sluit ook weer die diens af. Daarom moet alle verdere toevoegings tot die diens deur gebede, liedere of andersins, nagelaat word.

  • Die woord wat alles saamvat. In een gevleuelde woord vat die seën al die woorde wat in die erediens gespreek is en al die handelinge wat daar verrig is, saam. Dit laat die gemeente as die skare geseëndes ingaan in die lewe, met 'n nuwe opdrag en as draers van die seën.

  • 'n Lang weg. In die Vroeë Kerk sluit die diens met die seën deur die biskop. Aan die einde van die eerste deel van die diens as die kategumene en andere die diens moes verlaat, is hulle geseën, maar ook die gelowiges aan die einde van die hele diens.

    Die Roomse kerk het aanvanklik nie die seën geken nie. Die diens loop ten einde slegs met die wegsendingformule. Vanaf die elfde eeu was die seën aan die einde van die mis 'n wydverspreide gebruik.

    Die reformatore voer weer die seën in aan die einde van die diens en dan meestal in die Aäronitiese vorm, Numeri 6. So vind ons dit byvoorbeeld by Calvyn, by Pollanus, by die Sinode van Dordrecht, 1574.

    Dit is inderdaad baie gepas om die diens op hierdie wyse te laat sluit: met die seën van die Here.

  • Die seën kan op verskillende maniere verstaan word.

    Daar is eerstens die opvatting dat dit in optatiewe sin, as 'n wens, verstaan word. So sien die Roomse mis dit. Die seën is egter veel meer as 'n vrome wens.

    'n Ander opvatting is dat dit 'n gebed is om die seën van die Here. So word dit verstaan in verskillende Oosterse liturgieë. Dit word die seëngebed deur die biskop.

    Die derde en juiste siening van die seën is dat dit 'n verkondiging van die seën is. So is dit 'n gawe, 'n donatio, van die Here wat in sy Naam aan die gemeente verkondig en toegesê word. Agter die seën staan die Drie-enige God. Hý is die eintlike Verlener van sy seën. Wat Hy spreek, geskied. Wat God gee, is werksaam en Hy neem dit nie weer terug nie. Die seën word uitgespreek in die geloofsekerheid dat dit verhoor word. Die seën word gelê op die gemeente. Die ganse werk van God-drieënig is daarin saamgevat. Dit is die laaste verbondswoord of verbondsbelofte van God wat op die gemeente gelê word: Ek wil julle God wees! Julle mag My volk wees!

  • Die seën werk nie magies nie. Dit bly gesagvolle spreke wat in die geloof toegeëien moet word.

  • Die seën moet ook afgewissel word – 2 Korintiërs 13:13 met die Aäronitiese seën, Numeri 6:24-26.

  • Die seëngebaar. In navolging van die gebruik in Israel, hef die liturg sy hande skouerhoogte op. Die seënende gebaar is die gebaar van die handoplegging: die seën word op die gemeente in kollektiewe sin gelê. Die gemeente ontvang die seën staande.

  • Wegsturing in die lewe. Die seën is die toesegging, die verkondiging in God se Naam dat sy seën, en daarmee Hyself, met ons meegaan. Die gemeente gaan weg waar hulle voor sy aangesig gestaan het, maar gaan weg met die seën, wat impliseer dat die gemeente nou gaan leef voor Sý aangesig. Seën en sending, sending en seën, hang ten nouste saam. Wat in die erediens gebeur het, moet verder werk en in die wêreld uitstraal. So word die erediens "hierbinne", "daarbuite” voortgesit en geloofwaardig in die wêreld. Die aanbidders word seëndraers. Dit gaan dus om die ontvang en verdere deurgee van die heilvolle krag van God; die uitsending van die heilvolle, herstellende en bewarende krag van God wat aan die wêreld versoening en vrede bied.