Bron: Kompas, 2012. 5 bladsye.

Die Sewe Dae van Genesis 1 en Evolusionisme

Dit Waaroor jy nie kan Praat nie, moet jy oor Swyg🔗

Een van die grootste filosowe van die twintigste eeu, Ludwig Wittgenstein, het die volgende gesê:

Waaroor jy nie kan praat nie, moet jy oor swyg.

Wittgenstein se oë het oopgegaan vir die annekserende gedrag van die moderne ‘verligte’ wetenskap in die rigting van bepaalde dele van die werklikheid (byvoorbeeld taal en godsdiens). Wanneer ons praat oor die ontstaan van die aarde, is sy opmerking dalk ook veelseggend. Kan ons wel iets betekenisvol sê oor die ontstaan van die aarde? In Genesis 1 vind ons ’n baie beknopte beskrywing oor die ontstaan van die aarde. In die res van die Bybel word hier en daar verder daaroor iets geskryf. Tog bly dit baie min.

Calvyn🔗

Wat Johannes Calvyn in sy Kommentaar op Genesis geskryf het, herinner aan die uitspraak van Wittgenstein. Heeltemal aan die begin van sy kommentaar skryf hy iets wat die moeite werd is om te oordink, al klink dit op eerste gesig nogal ingewikkeld:

Aangesien die grenslose wysheid van God ten toon gesprei word in die fassinerende kunswerk van hemel en aarde, is dit absoluut onmoontlik om die geskiedenis van die skepping van die wêreld te onthul op ’n manier wat reg doen aan sy waardigheid. Want net soos die maat van ons verstand te klein is om sake van ’n dergelike grootsheid te begryp, is ons taal ewe min geskik om ’n volledige en substansiële verslag daarvan weer te gee. Maar omdat dit te prys is in iemand, wanneer hy met beskeidenheid en eerbied homself wy aan die refleksie op God se werke, hoewel hy minder ver hierin vorder as wat hy sou wens, daarom onderneem ek ook in hierdie verband ’n poging om ander hierin te help, vir sover ek daartoe in staat is, en ek hoop dat die diens wat ek hierin bewys nie net die goedkeuring sal wegdra van hulle wat God vrees nie, maar ook van God self.1

Nou is dit ’n feit dat die eksegetiese wetenskap sedert die dae van Calvyn nie stilgestaan het nie. Maar dit neem nie weg nie dat ’n teoloog van ’n aantal eeue gelede op sommige punte nog net so aktueel is en bly, ja, selfs die meerdere ten opsigte van vandag kan wees. Ek wil in hierdie verband veral wys op die hermeneutiek. Hóé lees ons Genesis, en veral Genesis 1? Wat Calvyn hieroor gesê het, is van so ’n tydlose gehalte dat dit die moeite werd is om dit op ons te laat inwerk. Om te begin, dink ek aan wat wel genoem word die akkommodasieleer. In sy openbaring aan die mens pas God hom aan by die vlak en bevattingsvermoë van die mens. Hy pas Hom selfs aan by die wêreldbeeld van die mens, byvoorbeeld dat mense in Bybelse tye gemeen het dat die aarde plat is. Ook dáárvan was Calvyn goed deurdronge. In teenstelling tot wat dikwels beweer word, was Calvyn juis ’n groot voorstander van die ontwikkelinge in die natuurwetenskappe. Dink aan die ondersoek van Copernicus in die astronomie, met as konklusie dat die aarde om die son draai en nie andersom nie, en dat die aarde nie plat is nie maar rond. Dink ook aan die werk van Vesalius in die anatomie. In teenstelling tot die Roomse kerk het Calvyn Vesalius se disseksies van lyke gesteun. Danksy hierdie disseksies is belangrike vooruitgang gemaak op geneeskundige gebied. Daaruit sou later byvoorbeeld blyk dat die hart ‘net’ ’n pomp is… Desnieteenstaande het Calvyn – en die gereformeerde teologie in sy voetspore – bly uitgaan van die betroubaarheid van die Bybel as God se openbaring. Hierin het Calvyn se akkommodasieleer ’n belangrike rol gespeel. In die Bybel spreek God tot die mens soos tot ’n kind. Calvyn gebruik in Latyn die woord balbutire – dit is wanneer ouers die krom taaltjie van hulle kinders naboots. Die feit dat God in die Bybel Hom by ons bevattingsvermoë aanpas, is vir ons des te meer ’n rede om ons oor sy grootheid te verwonder.

Akkommodasie in Genesis🔗

Wat beteken dit alles vir die sewe dae van Genesis 1? Teenwoordig het baie mense ’n probleem met hierdie sewe dae, juis omdat dit op gespanne voet staan met die hipoteses van die evolusionisme, wat praat oor ’n ontstaansproses van die aarde wat oor miljoene jare sou gestrek het. Om daardie rede probeer sommiges hierdie sewe dae op ’n ander manier uitlê. Dit sou nie oor letterlike dae gaan nie, maar oor sogenaamde teologiese of simboliese dae. Die woord ‘dag’ in Genesis 1 sou dan ’n ander betekenis hê as wat dieselfde woord in die res van Genesis het. In Genesis 1 sou dit ’n meer digterlike betekenis hê, en dus moet dit minder letterlik opgevat word.

Genesis 1 het inderdaad digterlike kenmerke, en in ons tyd word iets wat poëties is, as minder letterlik gesien. Dit is vir ons egter moeilik om te besef dat dit ook anders kan wees. In die tyd toe Genesis geskryf is, was dit egter nie die geval nie. Gedigte is toe in ongeletterde kulture, waar die meeste mense nie kon lees en skryf nie, gebruik om belangrike gebeurtenisse te onthou. Die geskiedenis is juis in digvorm opgeteken. Poësie is naamlik makliker om uit jou kop te leer as prosa. ’n Digterlike teks (soos Genesis 1) dui daarom nie op ’n verminderde waarheidsgehalte nie, soos wat ons geneig is om te dink. Die feit dat Genesis 1 digterlike kenmerke het, kan dus nie as ’n argument gebruik word om die hoofstuk as minder histories te tipeer nie.

Al is dit nie volledig nie, gee Genesis 1 ’n betroubare verslag van God se skeppingsdade. Dade wat deur geen skepsel nagereken kan word nie. Genesis 1 is ʼn rigtingwyser na die vir ons onverklaarbare en onbevatbare feit van die skepping self. Woorde uit die mond van die Skepper, geakkommodeer of te wel toegespits op die situasie van Moses en die volk. Dit hou byvoorbeeld in dat die ordening wat ons in Genesis 1 vind ’n weerspieëling is van die wêreldbeeld van daardie tyd.

Nou kan die vraag dalk by jou opkom: ja, maar praat God dan self wel die waarheid? Het God regtig alles geskep, eeue of wie weet hoe lank voor die bestaan van sy volk Israel, maar so dat dit pas in hulle wêreldbeeld? En dit wat in Exodus 20:11 staan, naamlik dat die HERE in ses dae die hemel en die aarde geskape het en op die sewende dag gerus het, is dit werklik God se eie woorde? En indien wel, het God bedoel wat Hy sê? Dit is gedrewe deur hierdie vrae dat sommiges tot die gevolgtrekking kom dat die inkadering van die skepping in sewe dae in Genesis 1 nie ontologies (= letterlik so gebeur) kan wees nie. Hulle kom dan met ’n alternatiewe oplossing: die dae van Genesis 1 is nie gewone dae nie, maar teologiese dae, of ‘dae van God’.

Protologie en Eskatologie🔗

Dit is belangrik om te besef dat so ʼn ‘oplossing’ ’n hermeneutiese grens oorskry. Ek het al verwys na die opmerking van Wittgenstein: Dit waaroor jy nie kan praat nie, moet jy oor swyg. Calvyn was hom as eksegeet goed bewus van hierdie hermeneutiese beginsel: dit is absoluut onmoontlik om die geskiedenis van die skepping van die wêreld te onthul op ’n manier wat reg doen aan sy waardigheid. Oor die protologie (= die leer oor die begintyd) kan ons as mense nie met stelligheid praat nie. Net soos ons dit nie oor die eskatologie (= die leer oor die eindtyd) kan doen nie. Ons kan slegs naspreek wat God self daaroor gespreek het. Om ’n voorbeeld uit die eskatologie te noem. As ons in Openbaring 22:2 lees oor die boom van die lewe wat twaalf keer per jaar vrug sal dra, elke maand opnuut, lê ons dit deurgaans in simboliese sin uit – daar sal ’n ongekende welvaart en vrugbaarheid heers. Maar dat hierdie opmerking ook die bedoeling het om te dien as ’n brokkie inligting oor hoe dit op die nuwe aarde regtig sal wees, dit kan ons nie kontroleer nie. Tog mag ons nie sê dat dit net simbolies bedoel is en nie so sal wees in die toekoms nie, omdat dit vir ons so moeilik voorstelbaar is. Ons begeef onsself dan op ’n terrein waaroor ons behoort te swyg omdat ons nie daaroor kan praat nie. Ons neem hierdie gegewe gelowig aan onder die besef dat God dit aan ons vertel – terwyl Hy Homself aanpas (akkommodeer) by beelde uit hierdie wêreld en so aan ons bevattingsvermoë – as ’n betroubare rigtingwyser na die ongekende welvaart en vrugbaarheid op die nuwe aarde, waar dit miskien ook wel regtig so sal wees dat ’n boom elke maand weer vrugte dra! Die bedoeling van hierdie teks is dat ons ons solank verheug oor die ongekende welvaart, onder die gelowige besef dat ons goeie Herskepper tot alles in staat is.

Spreek en Swyg oor die Protologie🔗

Ten aansien van die protologie geld dieselfde. Calvyn skryf:

Want net soos die maat van ons verstand te klein is om sake van ’n dergelike grootsheid te begryp, is ons taal ewe min geskik om ’n volledige en substansiële verslag daarvan weer te gee.

Wat is die implikasie t.a.v. die skeppingsdae? As uit die eksegese blyk dat hierdie sewe dae ’n inkadering en ordening is van die skeppingsdade van God, ’n inkadering wat rekening hou met die wêreldbeeld van die eerste hoorders, gee dit ons nog nie die reg nie om te konkludeer eintlik het die skepping dus anders gebeur. Dan begeef ons ons op ’n terrein waaroor ons eerder kan swyg. Oor die protologie – die skepping – kan ons geen betekenisvolle woord spreek nie. Geen mens was teenwoordig nie (Job 38:4). Daarom bly ons uitgaan van God se eie woorde wat, hoewel geakkommodeer aan ’n spesifieke tyd met ’n spesifieke wêreldbeeld, wel n betroubare verwysing is na die egte gebeure van die skepping waarvan Hyself die Outeur is. Hoe Genesis 1 presies vergelyk met die egte skeppingsgebeure, daaroor kan ons as mense nie praat nie. Ons besef dat ons goeie Skepper tot alles in staat is. Hy was in staat om die skepping in ’n handomdraai te voorskyn te roep. In die tyd van die kerkvader Augustinus het wetenskaplikes kritiek op Genesis 1 gehad omdat ses dae volgens hulle veels te lank was. In lyn met die heersende paradigma van daardie tyd het hulle ’n korter tyd verkies. En inderdaad, God kon dit in ’n handomdraai gedoen het. Maar Hy kon dit ook in ses dae gedoen het, of in watter tydperk ook al. Nietemin moet ons versigtig wees om die ses dae van Genesis te maklik as net die ‘verpakking van die produk’ weg te gooi. In hierdie verband wil ek weer na Calvyn verwys. Pleks van dat hy saamstem met mense wat beweer dat God die wêreld in ʼn handomdraai geskape het, en dat Moses dit net vanuit ’n opvoedkundige of teologiese oogmerk oor ses dae gesprei het met een dag rus, met die voorstel dat die ordening en inkadering geen historiese basis het nie, skryf Calvyn:

Laat ons veel eerder konkludeer dat God self die ruimte van ses dae vir Homself geneem het, met die bedoeling om sy werke te akkommodeer aan die bevattingsvermoë van die mens. Ons is so maklik geneig om die oneindige heerlikheid van God, wat hier tentoongestel word, oor die hoof te sien. 2

Calvyn durf nie die ontologiese basis (naamlik of dit regtig so gebeur het) agter die inkadering en ordening van die skepping in sewe dae in twyfel trek nie. Daaroor kan ons as mense nie met stelligheid praat nie. Daartoe moet ons ons ook nie laat verlei deur ander vakwetenskappe nie, of dit nou die filosofie, argeologie, biologie of wat ook al is. Ook vir hulle – net soos vir die teologie – sal die skepping altyd protologie bly, waaroor jy as mens, ook al is jy ʼn wetenskaplike, nie met stelligheid kan praat nie. Elke tydperk het sy eie vrae by Genesis 1 gehad. Ook in ons tyd wonder ons oor bepaalde dinge. Hoe het die eerste drie skeppingsdae gelyk? Daar was toe mos nog nie ’n son en ’n maan nie? Hoe kon vleisetende plante oorleef, omdat hulle voor die diere geskep is? Het ons soms die moed om te sê: ons weet nie die antwoord op alle vrae nie? Waar was jy toe Ek die aarde gegrond het? Gee te kenne as jy insig het (Job 38:4). En wat vir my so opvallend is, is dat, wanneer ʼn mens met dieselfde kritiese houding die evolusionistiese stelsel ondersoek, jy met nog soveel meer onbeantwoorde vrae opgeskeep sit.

Die Res van die Bybel oor die Skepping🔗

Wat ook belangrik is, is die feit dat die res van die Bybel (bv. Exodus 20:11 en 31:17) juis die boodskap van Genesis 1 onderstreep en nie relativeer nie. Naamlik dat die ordening en inkadering van die skepping in sewe dae onlosmaaklik aan die skepping verbonde is. Daarom kan ons vandag nog sê: Die beskrywing in Genesis 1 is ’n betroubare verwysing na die gebeure self. Ons kan dit wat God sê, nie kontroleer nie. Ons kan Hom wel naspreek. Des te meer gesien die feit dat God hierdie inkadering van die skepping in sewe dae self nie relativeer nie, maar in sy Woord inskerp as primêre motivering by die vierde gebod. Ook vind ons by herhaling in die res van die Skrif terug dat alles geskape is op die woord van God. God het gespreek, en dit het te voorskyn gekom. Kyk Psalm 33:6 Deur die Woord van die HERE is die hemele gemaak en deur die Gees van sy mond hulle hele leër. En Psalm 33:9: want Hý het gespreek, en dit was; Hý het gebied, en dit staan. En in die Nuwe Testament Hebreërs 11:3: Deur die geloof verstaan ons dat die wêreld deur die woord van God toeberei is. Die klaarblyklike betekenis van hierdie verse – naamlik dat God gespreek het en dit was ineens daar – stem ooreen met die boodskap van Genesis 1. Dit is moeilik versoenbaar met ’n opvatting dat God byvoorbeeld van ’n evolusionistiese proses gebruik sou gemaak het om sy skeppingswerk te doen.

Ook wys die Here Jesus Christus in sy uitsprake duidelik dat Adam en Eva die eerste mense op aarde was, en dat hulle gelewe het aan die begin van die geskiedenis van die aarde. Kyk bv. Markus 10:6 en Mattheüs 19:3-6. Behalwe vir die feit dat Christus die Woord in eie Persoon is, is Sy Gees die Outeur ook van die Ou Testament, ook van Genesis 1.

Voor ʼn mens skepping en evolusionisme in mekaar wil skuif – dalk met goeie bedoelings – moet ʼn mens tog eers baie goed nadink oor die verreikende konsekwensies. Wie die hipotese aanvaar dat die mens deur ’n evolusionêre proses ontstaan het uit die aap, kry direk ’n probleem met wat die Bybel openbaar oor die sondeval van die eerste mensepaar Adam en Eva, asook die feit dat hulle gelewe het aan die begin van die geskiedenis van die wêreld.

Toe God Adam op sy twee voete op aarde neergesit het, toe was die dekor voltooi. Sy eie menslike liggaam, regop met hare op die regte plekke, tande in die mond, bakterieë in die derms. Maar ook as hy opgekyk het in die nag, die strale van miljarde sterre wat sy oë bereik, en as hy ’n gat gegrawe het in die grond, die grondlae en klippe wat hy teengekom het. Die voëls wat rondom hom gefladder het met hulle volgroeide vlerke, volgroeide bome, berge met hul kranse en skeure, en riviere met hul rivierlope.

Skepties en Nederig🔗

Natuurlik is daar vir ons baie onopgeloste raaisels in die skepping wat ons (verstandelik) laat wonder. Een van die dinge wat mense deesdae boei, is die ouderdom van die aarde. In hierdie verband is dit belangrik om te besef dat die evolusionisme geen bevredigende antwoord bied oor die ontstaan en ouderdom van die aarde as ʼn mens die saak werklik tot op sy fondament deurdink nie. Die evolusionistiese daterings is primêr op modelle van statistiese waarskynlikhede gegrond, nie op feite nie. Terselfdertyd moet ons besef dat God ons in sy Woord nie bind aan ’n presiese datering van die aarde se ouderdom nie. Die aarde het inderdaad ʼn ‘appearance of age’, dit lyk of dit baie oud is. Moontlik is dit so deur God geskape. Dit hou in ’n suidpool met sy ysberge van oneindig baie seisoene se yslae, en berge wat lyk of hulle van die ewigheid afstam. In kort ’n volledig funksionerende ekosisteem as dekor vir die geskiedenis om te begin. Dit kom op dieselfde neer as die feit dat God Adam en Eva as volwasse mense geskep het, met volgroeide tande, naels, hare, ensovoorts – inderdaad ‘appearance of age’. Maar nogmaals, dit waaroor ons nie in die posisie is om te praat nie, is dalk beter om oor te swyg.

Die evolusionistiese verklaring oortuig my in elk geval nie. Die werklikheid is te kompleks vir so ’n ontwikkeling. Dit is nie omdat ek nie krities wil dink nie. Dit is dink ek eerder omdat ek meer as gemiddeld krities dink. As Christen is ek bevoorreg om te geleer het om skepties te wees oor die mensheid en sy bevindinge. Uiteindelik is geen mens betroubaar nie, ook nie ’n wetenskaplike nie, selfs nie ’n Christen nie. Slegs God is betroubaar.

Die tyd sal leer watter van die hedendaagse ‘ontdekkings’ feit en watter fiksie is. As Christene behoort ons daarom baie versigtig te wees om hipoteses te aanvaar wat op gespanne voet staan met die Skrif as geheel. Laat ons nie vergeet nie dat elke wetenskap ’n ideologiese basis het. Daar moet altyd ’n filterproses plaasvind om feite van hipoteses te skei, en selfs die filterproses is relatief. ’n Fossiel wat gevind word, kan ’n feit wees. Die identifikasie en datering het egter alles te make met interpretasie. Besef ook dat ’n feit dikwels op meerdere wyses geïnterpreteer kan word.

Dit is verder belangrik om bewus te bly van die geskiedenis van die evolusionistiese wêreldbeskouing in die Westerse wêreld. Wittgenstein, waarna ek hierbo verwys het, het in die eerste helfte van die twintigste eeu geleef. Aangesien hy so oortuig was van die evolusionisme en die ‘survival of the fittest’, het hy as Oostenryker na Engeland verhuis. Die Britse volk is naamlik deur wetenskaplikes toe algemeen beskou as die mees ontwikkelde ras. In die eerste wêreldoorlog het hy vir Brittanje teen sy vaderland geveg. Hy het die kant van die ‘fittest’ gekies. Het u trouens geweet dat die evolusionistiese wêreldbeskouing die hoofoorsaak was vir albei wêreldoorloë? Lees Hitler se Mein Kampf om dit opnuut agter te kom. Deur skade en skande het Wittgenstein geleer dat die wetenskap sy grense het. Sy mees diepsinnige gedagte bring hom terug tot ’n besef wat eintlik so eenvoudig is: dit waaroor jy nie kan praat nie, moet jy oor swyg.

Hoewel evolusionêre aanpassing as sulks ’n erkende feit is (olifante in die Okavango het bv. breër pote as in die Kruger Wildtuin sodat hulle nie in die moerasse wegsak nie), het dit sedert Darwin se publikasies ’n wêreldbeskouing geword wat baie ellende veroorsaak het. Ek skryf dit sodat ons nie te naïef oor evolusionisme raak nie. Dit lyk deesdae of Europa en Amerika die les van twee wêreldoorloë alweer vergeet het.

Ons lewe in ʼn tyd waarin miljoene dollars uitgegee word vir ruimtetuie, satelliete en teleskope om meer uit te vind oor die mens se oorsprong. Vir ’n groot deel is die motivering hieragter dat die gesekulariseerde mensdom hoop om nuwe sin vir hulle bestaan te vind. Veral omdat die boodskap van die Bybel hulle nie meer kan bevredig nie.

Vir ’n Christenwetenskaplike geld egter – meer nog as vir iemand anders – dat ’n gesonde dosis skepsis hom sier, veral ten opsigte van dit wat as die heersende paradigma beskou word. Moenie net enigiets as feit aanvaar nie. Moenie jou te gou op sleeptou laat neem deur iets wat by nader insien slegs ’n hipotese is nie. En deurdink hipoteses oor die ontstaan van die aarde en die mensdom deeglik in die geheel van die Bybelse leer. Hipoteses is meestal nie net onskuldige ‘proefballonnetjies’ nie, hulle het konsekwensies. En wanneer jy wel met feite te make het, besef dat elke feit multi-interpreteerbaar is. Die feite is meestal nie problematies nie, maar dit wat mense met die feite doen.

Dit voel dalk onbevredigend as Christene steeds moet hamer op die wetenskap se beperkte vermoëns in hierdie verband. Tog is dit ’n noodsaaklike les in nederigheid vir ons almal, veral ook vir wetenskaplikes. Ons is dalk bly met die investering vir Suid-Afrika, noudat die grootste radioteleskoop in die Karoo geplaas gaan word. Tog is ons as Christene by voorbaat skepties oor die verwagtings dat hierdie teleskoop enigsins lig sal werp op die vraag na die ontstaan van lewe in die heelal.

Vir die antwoord op daardie vraag het ʼn mens nie ʼn teleskoop nodig nie…

Endnotes🔗

  1. ^ J. Calvyn Kommentaar op Genesis. Inleiding (eie vertaling).
  2. ^ J. Calvyn Kommentaar op Genesis 1:5 (eie vertaling).