Bron: Kompas, 2009. 3 bladsye.

In die Skadu van Calvyn

In hierdie herdenkingsjaar van Calvyn val daar so baie lig op hierdie groot figuur uit die kerkgeskiedenis dat ander hervormers dreig om in sy skaduwee te verdwyn. Daar kan verskeie name genoem word: sy leermeester en vriend Le Fèvre d’Etaples in Parys wat hom die regte weg gewys het. Verder Farel in Genève wat hom sy roeping op die hart gedruk het. Dan was daar Bucer in Straatsburg van wie hy so baie geleer het. En dan was daar die tien jaar jongere leerling, vriend en medewerker Theodorus Beza. Op hom wil ons in hierdie herdenkingsjaar van Calvyn ’n bietjie lig laat val.

Theodorus Beza🔗

Beza is op 24 Junie 1519 te Vézelay in Frankryk gebore. Hy stam uit ’n oud-Boergondiese geslag. In 1528 word hy vir verdere opvoeding toevertrou aan die geleerde Melchior Wolmar in Orleans. Daar maak Beza reeds kennis met Calvyn wat op daardie oomblik in Orleans studeer het.

Wolmar moes later weens sy hervormingsgesinde idees uit die land vlug en dit kan aanvaar word dat Beza dus reeds op jong leeftyd met die hervorming kennis gemaak het. Daar was egter min sigbaar van ’n toewyding aan die saak van die hervorming. Beza voltooi sy studies in die regte en die letterkunde en lei ’n lewe soos dit van hom verwag word. Deur geskrifte van Bullinger begin hy hom steeds meer verdiep in die Skriftuurlike leer. Maar eers in 1548 kom hy as gevolg van ’n ernstige siekte tot inkeer en sluit hy in volle oortuiging aan by die Reformasie. Gevolglik moet ook hy vlug en hy trek, soos baie Franse geloofsvlugtelinge, na Genève. In 1549 word hy professor in Grieks aan die universiteit van Lausanne in Switserland.

In Lausanne lewer Beza sy eerste groot bydrae aan die saak van die herinrigting van die kerk. Hy was ’n bekwame digter en in Lausanne voltooi hy ’n Franse beryming van die psalms waaraan die digter Marot begin het.

Byna tien jaar lank het Beza in Lausanne saam met die bekende teoloog Viret gestry vir die selfstandigheid van die kerk teenoor die magsbeluste owerheid in Bern. Hier het Beza hom ook verder in die teologie bekwaam en predikant geword.

In 1558 is dit duidelik dat die Bernse owerheid geen selfstandigheid van die kerk sal toelaat nie, en daarop vertrek Beza na die onafhanklike stadstaat van Genève. Hier word hy naas Calvyn predikant en professor aan die akademie.

Beza en Servet🔗

Reeds voor sy verhuising na Genève was Beza betrokke by wat in die stad gebeur het. In 1553 het die Libertynse stadsraad die ketter Servet ter dood veroordeel. In daardie tyd en ook later is Calvyn – ten onregte – dikwels uitgewys as die mag agter die skerms. Beza het die pen opgeneem om die standpunt van die kerk en die stadsraad te verdedig. Dit is die moeite werd om ʼn oomblik by die verdediging stil te staan.

Beza neem sy uitgangspunt in die toenmalige algemeen aanvaarde stelling dat die owerheid gemoeid is met die morele aspekte van die samelewing. Dit beteken dat hulle wat in hierdie opsig oortree, gestraf moet word.

Vervolgens gaan hy die besware van die toleransie-aanhangers weeg. Hulle stel die voorbeeld van Christus wat sagmoedig, vriendelik en vergewingsgesind was. Maar waarom word die houding net bepleit ten opsigte van ketters en Godslasteraars en nie wanneer moord ter sprake is nie? Is dit nie die ware Christelike houding dat die kudde van gelowiges beskerm word nie? Die vraag is dus nie of die regerings die kwaad moet straf nie, maar of kettery ’n kwaad is. En is sulke leringe soos dié van Servet nie gevaarliker vir die siel as wat ’n rower of moordenaar is vir die aardse besit of tydelike lewe nie?

Daar word verder gestel dat ’n ketter ’n opregte mens is wat uit aandrang van sy gewete handel.

Maar as daar ’n stad is wat beleër word deur die vyand en ’n pasifis wat in die stad woon, trek rond onder die verdedigers om hulle aan te moedig om die wapens neer te lê, sal die regering van die stad dan nie optree nie? Tog is die pasifis opreg en tree hy volgens sy gewete op.

’n Ander beswaar wat geopper word, is dat veroordeling van ketters hulle nie tot bekering bring nie. Inderdaad, maar die straf is ook nie ontwerp om tot bekering te bring nie, maar om te vergeld wat hulle doen. Hulle verlei die kleines en swakkes in die gemeente, hulle is soos wolwe wat die kudde bedreig. Die bestuur van ’n universiteit sal ’n dosent, wat in sy onderwys teen alles ingaan wat die gesonde verstand as reg en waar ken, van sy taak onthef. En wanneer hy dit doen, is hy dan wreed? So behoort die regering die ware godsdiens te beskerm.

Ten slotte neem Beza die vraag onder oë watter soort straf toelaatbaar is. Hy wys alle marteling en wreedheid af. Maar hy wys daarop dat die doodstraf in uiterste gevalle wel deeglik toelaatbaar is. Daar is ketterye wat tot verskriklike dinge lei, soos die anabaptiste in Münster uitgewys het.

Beza konkludeer dat die doodstraf wel deeglik toepasbaar is vir ernstige en Godslasterlike ketters. Dit is ook in ooreenstemming met die Woord van Christus om húlle te vrees wat die siel kan verderf, meer as hulle wat jou van die lewe kan beroof. Boonop is die kettery ’n direkte oortreding teen God se majesteit.

Tot sover Beza. In ons huidige samelewing is kerk en staat geskei en daar is al ver gevorder met die poging om ’n neutrale samelewing te skep waarin godsdiens geen plek het nie. In daardie opsig het die redenering van Beza vir ons tyd geen betekenis nie. Maar dit gee wel ’n uitstekende vergelyking van die verskil in openbare lewe toe en nou. En dit laat ons wonder of die toestand van vandag wel goed is!

Beza en Calvyn🔗

In baie opsigte was Beza die vertroude medewerker van Calvyn. Hy het hom sterk gesteun in die woordestryd met die Lutheraan Westphal oor die leer van die nagmaal. Saam met Calvyn het hy hom beywer vir die eenwording met die Waldense. Soos Calvyn het hy vurig verlang om eenheid met die aanhangers van die Augsburgse konfessie te bereik. Maar bo alles was Beza die man op wie Calvyn gereken het in sy ywer vir die reformasie in Frankryk. Meerdere kere het Beza na Frankryk gereis om die Gereformeerdes daar by te staan en van advies te dien. Tydens die bloedige godsdiensoorloë het Beza as leërkapelaan die Hugenote versterk en bemoedig. Toe koning Frans in 1561 sterf en deur Karel IX opgevolg word, word daar ’n poging onderneem om godsdiensvrede te bereik. Daar sal ’n groot en verteenwoordigende openbare debat gevoer word om die (elfjarige!) koning in staat te stel om te oordeel watter godsdiens die regte een is. Vir hierdie gesprek wat in 1561 in Poissy gehou is, was ook Calvyn genooi. Weens sy swak gesondheid kon Calvyn nie daaraan deelneem nie en weer het Beza vir Calvyn verteenwoordig. Hy was aan die kant van die Hugenote die vernaamste spreker teenoor kardinaal De Guisse en verskeie professore van die Paryse Sorbonne. Beza het hom met waardigheid en groot kennis van sake van sy taak gekwyt. Soos te verwagte was, het die debat geen duidelik resultaat opgelewer nie. Tog is dit opvallend dat die regentskapraad eers teen die einde van die gesprek die koning te jonk ag om self ’n besluit te neem. Was daar tog iewers vrees dat Beza die jong koning kon beïndruk het? Sowel Roomse as Gereformeerdes het die oorwinning in die woordestryd opgeëis.

Opvolger van Calvyn🔗

Na Calvyn se afsterwe word Beza, wat rektor van die Geneefse Akademie was, sy opvolger as voorsitter van die raad van predikante in Genève. Beza het goed besef dat hy nie die genialiteit van Calvyn besit het nie. Om dié rede het hy ook voorgestel dat die voorsitterskap nie by sy persoon sal berus nie, maar beurtelings deur die predikante beklee sal word. Ook na die dood van Calvyn bly Beza sterk betrokke by die reformasie in Frankryk. Hy besoek die geloofsgenote en neem deel aan hul kerklike vergaderings. Die bloedige Bartholomeüsnag van 1572 was vir Beza aanleiding om die reg van verset van die onderdane te verdedig. In hierdie opsig het hy afgewyk van Calvyn wat slegs lydelike verset van die onderdane en meer aktiewe verset van die laere owerhede verantwoord geag het. Tot sy 65ste jaar het Beza uitstekende gesondheid geniet. Daarna het sy kragte afgeneem, maar hy het tot Januarie 1597 (toe hy ruim 77 jaar oud was) sy lesings aan die akademie waargeneem. Sy oudag was bewolk deur sorge oor die reformasie in Frankryk. Veral die oorgang van Hendrik IV in 1593 na die Roomse kerk het hom diep getref. Merkwaardig is dat, na hierdie gebeurtenis, die gerug deur die Jesuïete versprei is dat Beza met die kerk van Genève teruggekeer het na die kerk van Rome. Beza het die gerug weerspreek in ’n satiriese geskrif waarin duidelik sy ou vuur weer blyk.

Op hoë leeftyd is Beza op 13 Oktober 1605 in Genève begrawe. Op bevel van die stadsraad is hy begrawe in die voormalige klooster van Sint Pieter. Dit is gedoen omdat sy teenstanders gedreig het om sy liggaam op te grawe en aan Rome uit te lewer.