Bron: Wegwijs. 2 bladsye.

Is die sonde (sondeval) opgeneem in God se Raadsbesluit?

Die vraag wat in die opskrif gestel word, is nie so maklik om te beantwoord nie. Ons is geneig om ‘Ja’ daarop te sê: God se raad behels immers alle dinge. Hy werk alles volgens die raad van sy wil (Efesiërs 1:11). Maar ons moet dit ook met versigtigheid benader. Sekerlik: God het nie net die sonde toegelaat nie; dit was ook sy vaste en wyse besluit dat die sonde in die wêreld gekom het.

Dit beteken intussen glad nie, dat die Allerhoogste in enige opsig deur die sonde bevlek is nie, of dat Hy die outeur (d.i. die Bewerker of Voorloper) van die sonde sou wees nie. Dit sou godslasterlik wees om so te dink. God is lig en geen duisternis is in Hom nie (1 Johannes 1:5). Hy is te rein van oë om die kwaad aan te sien (Habakuk 1:13). In die slotwoord van die Dordtse Leerreëls word die gedagte dat God die outeur van die sonde sou wees, van harte en met afsku verwerp.

Sulke kettery, wat die bron van die sonde in God self soek, was daar wel aan die rand van die kerk gewees. Byvoorbeeld by Jakob Böhme (1575–1624) en by F.W.J. Schelling (1775-1854). Volgens hulle sou daar in God ʼn donker diepte wees. En daaruit sou mens die sonde moet verklaar. Dit is natuurlik afskuwelik om so iets te veronderstel.

In reaksie daarop mag ons natuurlik nie in die ander uiterste verval nie. Asof die sonde geheel en al buite God sou omgaan. Asof die sonde eintlik ʼn mag is wat God self ook nie kan hanteer nie, met eerbied gesê. Dit is in stryd met God se soewereiniteit en almag. God haat die sonde met heel sy heilige Wese. En tog lei en stuur die Here die sonde so, dat dit ondanks haarself lei tot die verheerliking van God se naam en tot heil van sy volk.

In ʼn bekende gedeelte van sy Institusie skryf Calvyn oor God se werksaamheid by die kwaad (Inst. II,4,2). As voorbeeld noem hy die lyding van Job. Sowel die Satan as die mens, asook God self het die hand in hierdie vreeslike lyding, as Job van al sy besittings beroof word. Maar, so het Calvyn betoog, sowel die doel as die werkwyse is anders. Die Here wil sy kneg deur hierdie lyding beproef, maar die Satan wil hom daardeur tot wanhoop bring. Die Here laat dan ook die Satan toe om Job te pla. En so word die bose opset van Satan en die vyandige mense duidelik.

In ʼn volgende paragraaf (II,4,3) bestry Calvyn Augustinus, waar hy, as dit gaan oor die verharding en verblinding van die goddelose, maar net wou praat oor ʼn voorwetenskap van God. Met ʼn beroep op Deuteronomium 2:29,30 (waar dit gaan oor Sihon, koning van Hesbon) wys Calvyn daarop dat God wel deeglik self die hart van hierdie koning verhard het, sodat hy in die hande van die Israeliete oorgelewer sou word. Hier is dus nie net sprake van ʼn voorkennis nie: God het die verharding beraam en bewerk, sonder dat die Here self in enige opsig deur die kwade besoedel is.

Al moes Calvyn op ʼn sekere punt teen Augustinus ingaan, kan ons onsself weer baie goed met die volgende uitspraak van Augustinus vereenselwig:

“God se werk is so groot, dat op wonderlike en onuitspreeklike wyse selfs dit wat teen sy wil geskied, nie buiten sy wil om geskied nie.”

Uit die Woord🔗

Wat sê die Bybel dan oor hierdie dinge?🔗

Ons kan lang nie alle tekste noem, wat hier van belang is nie. Maar ons wil tog wys op ʼn paar opmerklike plekke in die Bybel, sowel in die Ou as in die Nuwe Testament.

Allereers 1 Samuel 2:25. Daar lees ons dat Hofni en Pinehas nie na die waarskuwings van hul vader geluister het nie, want die Here wou hulle ombring. So is dus die ongehoorsaamheid en brutale goddeloosheid van Eli se seuns God se besluit. God is nie ʼn sadis, wat onskuldige mense wat dit nie kan help, die dood in jaag nie.  Hofni en Pinehas was losbandige mense, wat hulle nie aan God of mense gesteur het, en ten volle die verantwoordelikheid vir hulle eie kwaad gedra het. Maar ons lees in hierdie verband verder, dat God op hierdie wyse ook deur sonde en afval heen, die weg baan na ʼn betroubare priester, uiteindelik na ons barmhartige Hoëpriester Christus Jesus.

In 1 Konings 12:14 staan dat die dwaasheid en sondigheid van Rehabeam, om nie na die raad van die oudstes te luister nie, ʼn beskikking van die Here was. Natuurlik het die dwaasheid nie behoort aan die alwyse God nie. Rehabeam is volkome verantwoordelik vir sy eie foute.

God het dit egter so bestuur, dat die huis van Salomo vir die afgodery wat hy bedryf het, gestraf sou word. Daarby het God ook die sonde en dwaasheid van Rehabeam gebruik. Maar die feit bly staan: Daar is nie ʼn sweempie van goddeloosheid by God nie. Gelukkig dat God dit nog so bestuur het dat daar in Juda ʼn lig bly brand. Want ten slotte sou die groot koning wat ons deur sy Woord en Gees regeer, uit die stam van Juda gebore word. In sy aanbiddelike soewereiniteit gebruik God Rehabeam se sonde vir sy heilige doel.              

ʼn Baie kras uitspraak vind ons in 1 Konings 22:20-22. Daar staan geskryf dat die Here self ʼn leuengees sal laat uitgaan om Agab te verlei. Dit wil hier voorkom asof God opdrag tot die sonde gee en dit bewerk. Maar: die oordeel kom oor Agab. Daarom word hy verhard en verblind. Daarom moet die leuengees sy werk doen. Hierdie leuen is glad nie uit God nie. Hy is waaragtig en die waarheid self. Op God se heilige gewaad mag geen enkele smet gewerp word nie. In sy soewereine welbehae stuur en lei God die sonde so, dat sy oordeel oor Agab se sonde uitgevoer word en dat Israel deur die oordeel heen uiteindelik bewaar word.            

So is daar ook in die Nuwe Testament tekste wat wys op die God se soewereine almag oor die sonde. Volgens Romeine 9:17 het God die goddelose Farao laat optree. God het Hom die mag gegee waarmee hy Israel verdruk het. So heers God se bestuur en raad oor alles: ook oor die sonde en die verharding van Farao. Intussen sê S. Greijdanus in sy kommentaar tereg dat God Farao nie die mag gegee het om dit te misbruik nie. Maar ondanks alles is, deur die sonde en verharding heen, God se naam bekend gemaak oor die hele aarde. So gebruik en bestuur God dus die sonde van die goddelose om tot sy doel te kom: die verheerliking van sy Naam en die verlossing van sy volk.               

Dit blyk ook baie duidelik uit Handelinge 2:23. Daar staan nie net dat Jesus na die voorkennis van God, maar na die bepaalde raad en voorkennis oorgelewer is. Die vreeslike sonde, dat hulle hul aan God se eie Seun vergryp het en Hom oorgelewer het, het God nie net vantevore geweet nie, maar dit was ook na sy raad en wil, soos dit eintlik in die Grieks opgeteken staan. Seker, God het die sonde gehaat en ook hierdie skandelike oortreding van moord op die Verlosser van die wêreld. En tog het God dit alles so gelei, ook hierdie gruwelike sonde. So het Jesus die Lam van God geword, wat die sonde van die wêreld wegneem.

Tenslotte🔗

As ons alles oorweeg, moet ons erken dat God se oordeel ʼn diepe afgrond is. Ons kan nie alles verstaan nie. Maar deur die sondeval en deur al die sonde en afval heen lei God ons na sy ewige ryk. Daar sal geen sonde meer wees nie. God is dan alles in almal. So is God se raad vir ons nie te deurgrond nie, maar wel om te aanbid.