Bron: Kerk en Woord, 2000. 2 bladsye.

Die Spruit Kedron en die Berg Moria

Lees Joh. 18 en 19

Spruit Kedron

Dit is merkwaardig hoedat sekere kardinale oomblikke van die Ou Testamentiese verbondsgeskiedenis weer in die Nuwe Testamentiese tyd na ons toe terugkom, en hulle vervulling vind in die dinge wat alles met ons Here Jesus gebeur het.

In Gen 22:1-19 lees ons dat terwyl Abraham in Berséba vertoef (Gen 21:31-34; 22:19), God hom op die proef gestel het met die opdrag dat hy sy seun moet offer. Om hierby alle misverstand uit te skakel het die HERE gesê: jou enigste, wat jy liefhet, Isak. Die HERE was besig om ’n belangrike boodskap van vaderlike liefde, sy eie vaderlike liefde aan Abraham te openbaar. ’n Vaderlike liefde wat baie jare later in Jesus Christus, die Eniggeborene van die Vader, sy geliefde Seun in wie Hy ’n welbehae het, vervulling sou vind.

Om hierdie opdrag te vervul, moes Abraham na die land Moria gaan, waar God een van die berge sou aan­wys. Eers moet hy alles verlaat om te gaan na die land wat God sou wys, en nou moet hy sy seun offer op die berg wat God sal wys. Hy het te doen met ’n God wat te midde van al sy ryke beloftes, absolute gehoorsaamheid van sy onderdane opeis.

Die naam Moria kom nog een keer in die Ou Testament voor, naamlik in 2 Kron 3:1.

En Salomo het die huis van die HERE begin bou in Jerusalem op die berg Moria waar Hy aan sy vader Dawid verskyn het, op die plek wat Dawid reggemaak het op die dorsvloer van Ornan, die Jebusiet.

In 2 Samuel 24 word beskrywe hoedat die Profeet Gad aan Dawid opdrag gegee het om op die dorsvloer van Arauna ’n offerande te bring aan die HERE, en hoedat die plaag waarmee die HERE die volk getref het as gevolg van Dawid se sonde om sy eie mag met ’n gespog te probeer bepaal deur sy weerbare manskappe te laat tel, tot ’n einde gebring is.

Nou sien ons onmiddellik ’n klomp dinge in plek val. Abraham moes sy geliefde seun op Moria vir die HERE slag. Dawid het op die berg Moria die versoeningsoffer vir die HERE geslag om sy skuldstraf en God se wraak tot ’n einde te bring. Salomo het op hierdie berg die tempel gebou, waar die HERE voortaan onder sy volk sou woon en waar daagliks die versoeningsoffer vir die volk se sondes gebring sou word.

Dit is op hierdie plek dat Dawid later sy koninklike intrek gemaak het: Jerusalem, met die heuwels van Moria.

Maar dit was nie die eerste keer dat Abraham na hierdie plek gegaan het nie. In Gen 14:17-24 word beskrywe hoedat Abraham teen vier magtige konings van die Amoriete geveg het om Lot en al sy goed te verlos, en die buit terug te verower. Op sy terugtog het Abraham ’n merkwaardige ontmoeting gehad, in die laagte Sawe, wat ook Koningslaagte genoem is, nie ver noord van Jerusalem nie. Dit is dieselfde plek waar Absalom later ook sy gedenkteken opgerig het (2 Sam 18:18). Daar het die koning van Sodom hom tegemoet gegaan en ’n voorstel gemaak oor die verdeling van die terug-verowerde buit.

Berg Moria

Wat daardie besondere ontmoeting so merkwaardig maak, is dat daar nog ’n koning by was van wie daar tevore nog niks vermeld is nie. Hy tree net plotseling in die geskiedenisbeskrywing na vore. Dit is Melgisedek, die koning van Salem – later Jerusalem, ’n priester van God, die Allerhoogste. Hierdie koning tree met groot waardigheid op. Hy kom Abram tegemoet met ’n huldeblyk van brood en water. Ook seën Melgisedek hom.

Uit die res van die heilsgeskiedenis sien ons hoedat hierdie plek, die berg Moria en die stad Jerusalem, waar Abraham sy enigste moes gaan offer, waar Melgisedek regeer het as koning van geregtigheid, priester van die allerhoogste God, ’n uitnemend belangrike rol vervul. Daar sal ook selfs later weer ’n koning (Hebr: Melek) in Jerusalem regeer met die naam “Sedek” – Adoni-Sedek (Josua 10:1). Dit was nog voordat die beloofde land volledig ingeneem is. En baie jare later sou een van Dawid se nasate ook daar regeer – een met die naam Sedekia (Die geregtigheid van Jahwe).

Toe Dawid eens daar regeer het, is hy by geleentheid gedwing om sy troonsaal te verlaat. Dit was toe sy seun Absalom teen hom in opstand gekom het. In 2 Samuel 15:23 staan: “En die hele land het hardop gehuil terwyl al die manne (van die Dawids-regime) verbytrek; en die koning het deur die spruit Kidron getrek; en al die mense het deurgetrek op pad na die woestyn.” So was die Kidronspruit aan die Noord-Oostelike kant van die tempelheuwel die deurgang na die woestyn toe.

Ons lees egter verder in vers 30: “En Dawid het die hoogte van die olywe opgeklim, terwyl hy aldeur loop en ween; en sy hoof was bedek, en hy het kaalvoet geloop; en al die mense wat by hom was, het hulle elkeen sy hoof bedek en opgegaan en aldeur geween.”

Maar dan lees ons dit by die laaste momente voordat Jesus as Seun van Dawid oorgegee is om verhoor en gekruisig te word in Joh 18:1 – “Nadat Jesus dit gesê het (Sy hoëpriesterlike gebed vir sy dissipels aan die eerste Nagmaalstafel gebid het), het Hy met sy dissipels oor die spruit Kedron gegaan waar daar ’n tuin was, waarin Hy self gegaan het en sy dissipels. Lukas sluit hierby aan in sy weergawe, Luk 22:39 – “En Hy het vertrek en volgens gewoonte na die Olyfberg gegaan – en ook sy dissipels het Hom gevolg.” Daar het Hy in sy benoudheid en angs tot sy vader gebid dat sy sweet soos bloeddruppels geword het wat op die grond val. En ’n dag later is hierdie eniggebore Seun van God gedwing om met die kruis op sy skouers die Via Dolorosa te stap na Gólgota, Noordwes net buitekant die stad. En daar het ons Hemelse Vader sy eie eniggebore Seun wat Hy liefgehad het op Moria geoffer vir al ons sondes.

Dan vra mens net weer. Waarom word daar in die Ou Testamentiese geskiedenis soveel moeite gedoen om name van plekke en name van mense te noem, saam met die gebeure? Kan dit ooit waar wees dat hulle sommer maar net so toevallig uit verskillende eeue uit verskillende bronne so saamgevoeg is, of is die teendeel nie eerder waar nie: sien ons die fyne delikate werk van die Groot Outeur, die Groot Redaktor, die Heilige Gees wat alle dinge en alle mense en alle gebeure op alle plekke met goddelike sukses, volmaak afstuur en drywe om ons Here Jesus in die middelpunt van die verkondiging te plaas?

“O, Diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele en onnaspeurlik sy weë! Want wie het die gedagte van die Here geken, of wie was sy raadsman gewees? Of wie het eers iets aan Hom gegee, dat dit hom vergeld moet word? Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Syne is die heerlikheid tot in ewigheid...”