Bron: Waarheid en Dwaling. 3 bladsye.

Die Swaard oor die Skool?

Een van die grootste dwalings wat tans in omloop is, is dat die staat die orde in die hele samelewing moet handhaaf. Christene beroep hulle veral op Romeine 13 om aan te toon dat God owerheidspersone gegee het om deur die swaard orde te handhaaf. Ongelukkig word hierdie orde, wat bedwinging van geweld en belastings insluit, oorspan sodat die staat ook onregmatige inspraak kry in ander samelewingsverbande. Die kerk, skool, huisgesin en staat se ordes verskil. Die straf van die staat is heeltemal anders as die straf in die ouerhuis. Hierdie beginsel van unieke ordes vir elke samelewingsverband is iets wat dringend weer op die voorgrond gestel moet word.

Monopolie🔗

Die dwaling dat die staat vir die orde in die ganse samelewing verantwoordelik is,  veroorsaak dat die staat se mag bykans onbeperk en onbetwis word. Daar sal baie streng gewaak moet word teen 'n magsmonopolie van die staat met betrekking tot die handhawing van orde. Nie alleen sal die staat se mag ingeperk moet word tot dit waarvoor God die owerheidspersone daargestel het nie, maar die ander samelewingsverbande sal hulleself moet speen van die onordelike inmenging van die staat in hulle eie huishoudelike sake.

Staatsinmenging is Sigbaar in die Volgende:🔗

  • Die staat beheer die leerplanne, die opleiding en indiensneming van onderwysers.

  • Die staat beheer ook selfs indirek watter rigtings 'n sekere hoeveelheid kinders mag studeer.

  • Die staat bepaal die toelatingsvereistes, soos onder andere dat geloof geen rol daarin mag speel nie.

  • Die staat het, nadat die Hunter-verslag oor onderwys 'n paar maande gelede uitgebring is, die bietjie ouerinspraak nog verder verminder tot geboue-instandhouding.

  • Omdat universitêre opleiding baie duur is, en die universiteite baie van die staat afhanklik gemaak word, het die staat 'n ongesonde houvas op navorsing gekry. Dit blyk duidelik uit die aandrang van owerheidsweë dat die toelatingsvereistes vir universiteit verlaag moet word tot geletterdheid.

  • Die staat matig homself die reg aan om sogenaamd burgers op te lei soos wat hy nodig en goed ag.

Inmenging🔗

Om bogenoemde punt duidelik te maak is dit nodig om 'n paar aktuele voorbeelde uit te lig. Tans het die staat bykans 'n algehele alleenbeheer oor die onderwys. Die staat swaai swaard en septer op dié gebied. Ons is al gewoond daaraan om van "staatskole" te praat, in onderskeiding van privaatskole. Tog is die woord "staatskool" 'n teenstrydigheid. Twee samelewingsverbande kan nie om dieselfde terrein meeding nie.

Ideologie🔗

Wat in ag geneem moet word, is dat hierdie stelsel van staatsinmenging in die onderwys niks nuuts is nie. Inteendeel, die struktuur van inmenging het die afgelope dekades dieselfde gebly; al wat tans verander het, is die spesifieke rigting waarvoor die onderwys nou deur die staat aangewend word. Dat die staat tans ongehinderd so voortgaan is vanweë 'n bepaalde ideologie dat die staat verantwoordelik is om die orde in die skole te handhaaf.

Hierdie staatsinmenging kan ook in ander samelewingsverbande uitgewys word, byvoorbeeld in die regspraak, in die kerke, as mens bv. dink aan die aandrang dat kerke gemeenskapsontwikkeling-gerig moet wees. Die ideologie van staatsinmenging, veral dan in die onderwys, moet aan die hand van die waarheid getoets word.

Skoolreformasie🔗

Die meeste ouers, selfs uit gereformeerde kring, stuur hulle kinders skool toe, hoofsaaklik met die oog op goeie opleiding om uiteindelik 'n goeie werk te verseker. Alhoewel dit op die oog af prinsipieel reg klink, moet daar teen dié siening beswaar gemaak word. God het die mens geskep en hulle op die aarde geplaas om Hom deur die skepping te leer ken.

Heers en Beheers🔗

Dit is die rede waarom God ook 'n opdrag aan die mense gee om oor die aarde te heers en dit te beheers. Die eerste en hoofrede waarom kinders skoolonderrig moet ontvang, moet dus wees om hulle Skepper te leer ken, en dan nie net in Bybelkunde nie, maar in al die ander vakke. Dit is tog wat die verbondsbelofte by die doop van ons eis: om die kinders in die vrese van die Here te onderrig onder leiding van die Woord en die Gees. Die doop dring ons om die huidige praktyk van skoolonderrig heeltemal van die grond af te hervorm; daar moet ten sterkste weerstand gebied word teen die huidige neo-marxistiese transformasie van die skole. Hierdie reformasie moet volgens 'n paar beginselriglyne geskied.

Roeping en Beroep🔗

Eerstens moet die ouers weer heeltemal in beheer kom van die skole. Die kinders moet ROEPINGS-bewus opgevoed word en nie net BEROEPS-gerig nie. Dit bring mee dat ander aspekte ook in ag geneem word soos: wat wil God hê moet ek met my lewe doen? Wanneer dié vraag biddend beantwoord is en 'n beroepskeuse gemaak is, kom dit dan vreemd voor dat die staat iemand toelating weier deur te sê daar is al te veel mense in dié rigting, die kwota is vol, en die staat benodig mense op ander terreine. Die staat mag nie die roepingskeuses bepaal van rigtings waarin gestudeer mag word nie. God roep die mens tot sekere take in sy skepping.

Skoolorde🔗

Tweedens is dit hoog tyd dat die skool hom ontworstel aan die wurggreep van die staat. Die eerste stap hiertoe is om 'n belydenis op te stel oor wat die Skrifwaarheid is in verband met die opvoeding van verbondskinders. So 'n belydenis wat neerslag vind in 'n neergeskryfde skoolorde sal 'n magtige wapen wees tot reformasie van hierdie beleërde samelewingsverband.

Belastingkonsessies🔗

Die ouer is derdens primêr verantwoordelik vir die opvoeding van die kind. Die skool is 'n eie samelewingsverband wat sy eie orde het, wat nie deur die staat gehandhaaf mag word nie. Net so min as wat die staat verantwoordelik is vir die handhawing van die kerkorde, net so min is dit aanspreeklik vir die skoolorde. Dit bring mee dat die huidige staatsinmenging in die skole uitgeskakel moet word.

Die nuwe beweging vir reformatoriese onderwys moet een slaggat goed raaksien, naamlik staatsubsidies. Dit is baie aanloklik om die hand na die staatskas toe uit te reik, veral as dit druk gaan, maar die werklikheid is egter dat enige staatsubsidie gepaard gaan (al is dit indirek) met staatsdruk en -inmenging. Die onlangse aanstelling op die raad van die PUK is 'n sprekende voorbeeld. 'n Nuwe rigting moet ingeslaan word: eerder as om vir staatsubsidies aansoek te doen, moet die ouers sterker by die owerheid begin beding vir belastingkonsessies. Waar die ouers self die kinders laat opvoed, moet die belasting by hulle verminder word, aangesien tans belastinggeld vir "staatskole" gebruik word.

Daar moet dus wegbeweeg word van "staatskole" sonder om weer te verval in "kerkskole" wat prinsipieel net so verkeerd is, omdat die kerk 'n ander opdrag as 'n skool het.

Staat se Taak🔗

Gelowige ouers moet onbeskaamd volle verantwoordelikheid neem vir die skole. Drie groepe mense is hier van belang: die kinders wat die onderwys kry, dié wat dit verlang en die mense wat die onderrig gee. Dit is duidelik dat die staat nie 'n "onderwysverlangende" is nie. Die staat se taak is net om swaardorde te handhaaf, sodat die ander samelewingsverbande ordelik, rustig en met alle godsvrug en waardigheid hulle roepings kan nakom.

Die reformasie van die samelewing, veral dié van die staat se inmenging in die skool, is 'n geweldige groot opgawe. Teenstand sal daar wees, maar hoe gouer daarmee begin word, hoe beter kan die volgende geslag weer die reformasie verder voer as waarmee hierdie geslag begin het. Ons moet reformeer, altyd reformeer - ook die skool.