8 bladsye.

Die Teenwoordigheid van Christus in die Erediens

Die erediens rus nie alleen op die sentrale betekenis van die soen­verdienste van Christus nie, Hy is ook nie alleen 'n Deelnemer van die erediens nie, maar Hy is in die erediens teenwoordig. Hierdie teenwoordigheid van Christus in die erediens is van beslissende be­tekenis en ons kan die wese daarvan nie verstaan nie sonder om uit te gaan van sy teenwoordigheid, steeds te reken daarmee en alles daaruit af te lei. In Christus is tegelyk die Drie-enige God in die erediens teenwoordig. In die erediens kom staan en verkeer die ge­meente voor die aangesig van die Here. Hulle moet die teenwoor­digheid van die heilige God besef. Hulle moet iets daarvan beleef van "op audiëntie bij den Koning der koningen" te wees (A. Kuyper). Die doodsheid en kragteloosheid van die erediens moet veral daar­aan gewy word dat die gemeente "het niet meer inzien, niet meer beseffen, niet meer ontwaren, dat in de vergadering der gelovigen God zelf verschijnt om zijn volk te zegenen…" (A. Faber). Omdat hierdie teenwoordigheid van God in Christus in die erediens so be­langrik is vir die verstaan daarvan, moet op verskeie aspekte van die teenwoordigheid gelet word.

1. Christus is veral in die Erediens Teenwoordig🔗

God is oral teen­woordig maar in die erediens word hierdie teenwoordigheid heelte­mal anders. C. Mahrenholz wys daarop dat God oral is,

Maar God se alteenwoordigheid is 'n teenwoordigheid in die verborgenheid. Ons kan God in sy alteenwoordigheid slegs vermoed, maar nie vind nie. In die erediens egter is dit anders, daar tree God uit sy verbor­genheid, daar word sy teenwoordigheid speurbaar en ervaarbaar in die Woord en werk van Jesus Christus, wat Hy vir ons in die wêreld gestuur het, vir ons laat kruisig het, vir ons opgewek het. Hierdie "vir ons" is die beslissende.

Die teenwoordigheid van Christus is te alle tye en oral aan elke gelowige, maar dit word tog besonderlik beloof aan die liggaam van die gelowiges, die kerk. Die belofte van die teenwoordigheid word nie soseer aan enkelinge beloof nie, maar aan die gemeenskap van gelowiges.

R. Paquier: It has been assured to all who together call upon the name of Jesus Christ, the divine name of the Kyrios, a name which is presence. It is in the fraternal group of believers, in the body which they form to call upon this name, that the Lord makes himself present … It is through the church that Christ is pre­sent and active in the world. It is through the church that the incarnate presence of God in Christ is extended or prolonged in time and space. It is striking that each promise of the presence of Christ is made not to individuals as such, but always to the community … In the New Testament Christ says to the community of his disciples: I am with you (plural); I am among you (plural) … Christ lives in his church through the Holy Spirit … The Lord lives in his church. The church, the body of Christ, shows hic et nunc the presence and action of its Lord … The church is the consequence of the incarna­tion; it is the witness of it, the sign, the reflection. The church is the instrument … which the Lord uses to reveal his presence today…Dynamics of worship, 1967, 14, 16

Hierdie teenwoordigheid van Christus in sy kerk kom weer in 'n besondere sin tot openbaring in die erediens. In die erediens kom die kerk besonderlik tot openba­ring: "Worship is the peculiar or special occasion of the presence of the Lord in his church. It is through its worship that the church becomes aware of itself as the people of God and their body of Christ, and presents itself as such before the world" (R. Paquier).

2. Die Werklikheid van Christus se Teenwoordigheid in die Erediens🔗

God in Christus is in die erediens nie as die Afwesige en Veraf Per­soon oor wie mens praat en sing nie, "maar as die teenwoordige Here voor wie se oë ons saamkom, wie se Woord ons hoor, vir Wie ons aanbid en onder wie se seën ons tuiskom" (W. Stählin). Die ere­diens gee uitdrukking aan hierdie groot Bybelse boodskap: God met ons (Jesaja 7:14; Matteus 1:23). Ons het die duidelike beloftes en voor­beelde van Christus se teenwoordigheid waar die gelowiges in Sy Naam saamkom. Daar is die beloftes wat staan in die verband met die onderlinge sorg van die gelowiges vir mekaar en van die eis tot vergifnis:

Want waar twee of drie in my Naam vergader, daar is Ek in hulle midde.Matteus 18:20

Sy laaste groot opdrag om die evangelie wêreldwyd te verkondig sluit Jesus af met hierdie belofte "En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld" (Matteus 28:20). 'n Belangrike voorbeeld van Sy teenwoordig­heid by sy dissipels wat oor Hom loop en praat het en waar Hy by hulle oorgebly het en waar Hy by die dank en breking van die brode aan tafel bekend geword het, is die geskiedenis van die Emmausgangers (Lukas 24:13vv.). Ook belangrik is die feit en betekenis en werk­likheid van Jesus se teenwoordigheid in die versamelde dissipelkring op die eerste aand van sy opstanding, en 'n week later (Johannes 20:19vv.). Hoewel die Nuwe Testament nie 'n uitgewerkte leer bied van die teenwoordigheid van Jesus Christus in die erediens nie, is dit die groot onderliggende gedagtegang. Immers, Hy leef, en leef in sy kerk. Hy het beloof dat Hy in hulle midde sal wees waar hulle in sy Naam saamkom; Hy het deur sy uitstorting van die Heilige Gees hulle byeengebring en woon in hulle midde. In hulle byeenkomste het die gemeentes geleef van die werklikheid van sy teenwoordigheid. In die aanbidding en erkenning van Hom as die Kurios, in die vreugde van die samesyn met Hom, in die blye verwagting om ewiglik met Hom te wees — dit alles spreek van die sekerheid dat geglo is in en gereken is met die teenwoordigheid van Jesus Christus in die ere­dienste. Tereg sê W.F. Goltermann in hierdie verband: "Zoals Jezus Christus … met mensen heeft verkeerd tijdens Zijn aardse leven, zo wil Hij als de opgestane en verheerlijkte Zoon verkeren met Zijn kerk op aarde. Hij wil in haar tegenwoordig zijn (Matthéüs 18:20) en Hij is tegenwoordig wanneer Zijn Woord weerklinkt en de door Hem ingestelde mysteriën worden voltrokken. De praesentia realis is de grondslag waarop de kerk leeft en geactiveerd wordt." Dit is beslissend dat God in Christus self in die erediens na ons kom: "As God met ons spreek deur sy Woord, kom Hy ook na ons. Hier­die koms van Hom in die evangelie is Jesus Christus. So is dit die beslissende diens wat God aan ons in die erediens betoon, dat Hy Homself in Christus aan ons skenk" (W. Hahn). Hierdie teenwoor­digheid is 'n vrye geskenk, maar dit rus op sy vaste belofte en "there is nothing more certain than His promised presence" (W. Hahn). Nie in menslike sin is die erediens indrukwekkend nie en word daar nie volgens ons maatstawwe groot dinge verrig nie, maar die teenwoordigheid van die lewende God in sy genade teenoor mense is en bly steeds 'n onbegryplike wonder. Treffend stel C. Marenholz dit so:

Dit is waar dat in die erediens geen atoom­kragte gevind en ontbind word nie, dat in hom ook geen wêreldgeskiedenis gemaak word nie en in hom nie die groot en magtige persoonlikhede van die aarde tot diskussie en besluite kom nie. Die erediens is teenoor die buitewêreld 'n klein, magtelose en betekenis­lose aangeleentheid. Ten spyte daarvan hou ons aan hom vas … omdat Christus dit beveel het. Leer, doop, doen tot My gedagtenis, bid, loof … Hierdie erediens is egter met die belofte verbonde dat Christus daar waar twee of drie in Sy Naam vergader, Hy onder hulle is … In die erediens word die ganse wonder voltrek dat die verborge God Hom bekend maak, dat die mens die stem van Jesus Christus as 'n teenwoordige stem hoor, dat uit al die aardse nood die belydenis en lofprysing van die dankende gemeente gestalte kry.Das Wesen der christlichen Gottesdienst, in: Musicologia et Litur­gica, 1960, 294, 295

Hierdie wonder gebeur steeds weer: "In every act of worship the church experiences afresh the miracle of the coming of the risen Christ" (F.M. Segler). Die bewussyn van die teenwoordigheid van die Here loop deur die hele diens: "For the beginning and end of all worship is the awareness of God… It is God's presence, ever seeking communion with His creatures, ever available to those who seek Him, that sustains and prefects Worship…" (M. H. Shepherd).

Die opgestane en teenwoordige Here wat in die sentrum van die Christelike erediens staan, is tegelyk die gekruisigde en opgestane historiese Christus, die verhoogde Here wat aan die regterhand van die Vader sit; maar ook die Here wat triomfantelik weer kom as die Wêreldregter. Die allesbepalende betekenis van Jesus se kruis bly steeds in die erediens weerklink, maar waarby steeds Hy as die Oorwinnaar oor die kruis en die dood, as die Opgestane. Dit is Hyself wat gekruisig is maar wat opgestaan het, wat onder die dissipels teenwoordig is, verseker Hy aan sy dissipels (Johannes 20:20). In die erediens kom Hy steeds as die Opgestane: "In die erediens is die opgestane Here teenwoordig. As ons van Hom praat en aan Hom dink, dan lewe ons nie van herinneringe nie. Herinnering ("Gedachtnis") is in Bybelse sin altyd teenwoordigstelling ("Vergegenwärtigung")… Christus selbst vergegenwärtigt sich im Gottesdienste" (G. Voigt). Hierdie gedagte dat Hyself teenwoordig is as die Opgestane met die hele vrug van sy versoeningswerk en dat dit 'n nuwe realiteit vir ons word, mag nooit vergeet word nie: "Als wij de Messias en al wat Hij voor ons heeft gedaan en al Gods heils­werk, ook in de Zoon vervat, gedenken, dan is Hij tegenwoordig met alles wat Hij gedaan heeft en met alles waar Hij — ons vooruit ­is dóórgegaan. Ook wat geschied is in Hem, wordt opnieuw als realiteit voor ons bevestigd, Hijzelf bevestigt het in de tekenen voor ons, steeds opnieuw, totdat Hij komt" (J. P. Boendermaker). Die teenwoordige Christus is die ganse Christus: "The Christ who makes himself present is the whole Christ, who is, who was and who is to come; incarnate, crucified and risen; humiliated and exalted; hidden and manifest" (Worship, in: Faith and order findings, Montreal, 1963, 19).

Vir die wese van die erediens moet ons dus ten diepste deurdronge wees van die wete en werklikheid van die teenwoordigheid van God in Christus in die erediens. Hiervan leef die erediens en dit is die diepste geheim daarvan. Steeds weer moet ons by allerlei ander dinge verbykyk en deur alles sien om Hóm raak te sien en met Hom te reken. Mooi stel A.D. Muller dit:

Die erediens is die aanskou­likste, digste, die sentraalste, die duidelikste vorm van die teenwoor­digheid van Christus.

3. Die Beslissende van die Teenwoordigheid van Christus in die Erediens🔗

Die geloof in en die leef uit die werklikheid van die teenwoordigheid van Christus in die erediens is verder beslissend vir die verstaan van die wese van die erediens. Daar is sekere momente wat wel tot skade kan ontbreek, maar dan hou dit nie op 'n erediens te wees nie; daar is sekere elemente wat kan ontbreek en dan diskwalifiseer dit nog nie die erediens nie. Die teenwoordigheid van Christus is van soveel beslissende en grondliggende betekenis, dat indien dit sou ontbreek, dan val die hele erediens daarmee plat en verloor dit sy sin en be­tekenis en legitimasie.

J. Schweizer lê klem op hierdie aspek: beslissende vir elke liturgiese bemoeiing is die wete van die gemeente van die teenwoordigheid van die Here wat aan hulle daar belowe is waar twee of drie in sy Naam byeen is. Terwyl hulle dit glo, kan hulle ook weet van die belangrikheid van hierdie erediens waarin nie een of ander gemoedelike ontwikkeling voorberei moet word nie … maar juis in hierdie erediens geskied die beslissende van die kant van die Here wat teenwoordig is, dit naamlik, dat die genadige teen­woordigheid van God geglo en die hele volheid van sy erbarming volgens sy belofte as werksaam ervaar kan word. Want waar die Here is, daar gaan dit nie om moontlikhede nie, maar om werklik­hede.Zur Ordnung des Gottesdienste, in der nach Gottes Wort reformierte Gemeinden der deutsch sprachigen Schweiz, 1944, 23.

Die hele erediens moet die werklikheid van die teenwoordige en werkende Christus uitstraal. Alles moet na Hom wys en uit Hom die koers en bevestiging ontvang. Vir die erediens is die teenwoordigheid van die lewende Christus van beslissende betekenis; dit gaan vir die erediens en daarmee vir die kerk om die vraag om te wees of nie te wees. Hiermee staan of val die erediens.

4. Die Teenwoordigheid van Christus in die Erediens is nie Outoma­ties nie, maar uit Genade🔗

Hoewel die kerk steeds leef van die be­loftes van die teenwoordigheid van die Here in die erediens en dit steeds verwag en geglo word, kan dit nooit verstaan word as sou dit vanselfsprekend wees of enigsins outomaties werk nie. Dit kan nooit gebeur dat deur allerlei handelinge van die mens of deur allerlei filosofiese opvattings van die erediens of vanuit mistieke gesigs­punte dit sou beteken dat Christus altyd en steeds teenwoordig is en dat dit outomaties geskied nie. Dit is altyd 'n vrye geskenk. Dit moet deur die Here geskied. Hy wil dit doen, Hy het dit belowe en die kerk reken steeds daarmee. Tog — dit is van begin tot einde 'n geskenk van die Here dat Hy in die eredienste inkom. Dit is verder 'n geskenk wat nooit op enige manier afgedwing of gewerk kan word nie. Dit is nie in die kerk se mag om dit te bewerk nie. Die kerk het nie beskikking oor sy teenwoordigheid nie. "This presence is a sheer gift. It can be neither contrived nor enforced by man" (W. Hahn). Die teenwoordigheid word bewerk deur wat Christus doen en ons verkry dit deur geloof in sy beloftes: "This means … that the Church has not this divine presence at its disposal, and cannot conjure it up by an automatic process which it might use as it pleases" (J.J. von Allmen); en verder: Die teenwoordigheid van Christus is werklik en die gelowiges kan daarop reken, maar die kerk "is not dispenser of this presence … it cannot be induced, it can only be besought … it means that those who celebrate it recog­nize that the Lord … is not at their disposal, that they are indeed His ministers and not technicians. By its invocatory character … it does not seek to manipulate" (Ibid.). Ons kan God nie dwing om teenwoordig te wees nie, dit kan as geskenk nie deur mense afgedwing word nie. Die sekerheid van die teenwoordigheid lê alleen in die belofte wat die Here gegee het "er te zullen zijn, te zullen spreken en te zullen horen … God gaf de belofte dat Hij tot zijn volk komen zou om het te zegenen, overal waar zijn Woord heerst…" (J.L. Koole). Teenoor die hele gedagte van G. van der Leeuw van 'n voortgaande inkarnasie en 'n versakramentalisering van die erediens, het O. Noordmans heftig gereageer. Hy pleit wel vir saaklike reële teenwoordigheid van God in die erediens, maar sien dit veral "in de lijn van de bijzondere genade … Daartegenover is ook de tegenwoordigheid Gods een vrijmachtige en daardoor een bijzondere … toch is zijn praesentie niet vanzelfsprekend of zakelijk; zij blijft een betooning van genade … niet als een zakelijke, die zich met een zekere noodwendigheid aan alle aanwezigen opdringt en in de minste geste van de liturgie … een bijzondere gunst van zijn genadigen wil … Een organisch samenpassend geheel met een vaste mystieke kern, waarin de aanwezigheid Gods onverbrekelijk samen­hangt met bepaalde liturgische handelingen van de gemeente, is dan ondenkbaar" (Liturgie, 1939, 68-75). R. Will gebruik die uitdruk­king "confrontation-reëlle" om hierdie teenwoordigheid mee uit te druk, waarby uitkom dat die ontmoeting — met — God van sy wil en van sy besondere genade afhang (Le Culte, II, 23). Steeds moet in gedagte gehou word dat in die erediens die Here sy volk ontmoet en teenwoordig is kragtens die besondere openbaring in Jesus Christus en dit alles berus van begin tot einde op die genade as 'n vrye ge­skenk wat Hy egter wil skenk en dat Hy teenwoordig wil wees.

5. 'n Teenwoordigheid wat Voortduur🔗

Die teenwoordigheid van Christus in die erediens geskied telkens weer en hierdie teenwoordig­heid is belowe dat dit sal voortduur totdat Hy weer sal kom (Matteus 28:20). Hierdie belofte moet saamgelees word met die wonderlike belofte van die Heilige Gees, die ander Trooster wat by ons sal bly "tot in ewigheid" (Johannes 14:16). Jesus kom weer en tot daardie dag sal die Gees ons alles leer en herinner aan alles wat Jesus aan ons gesê het (Johannes 14:18, 23, 26). Ook ten opsigte van die nagmaal is daar die versekering dat ons dit moet doen tot sy herinnering totdat Hy dit saam met ons sal voleindig (Matteus 26:29; Markus 14:25; Lukas 22:16-19). Die viering van die nagmaal is die herinnering van Jesus in sy lydingsoffer en dit word gedoen "totdat Hy kom" (Lukas 22:19; 1 Korintiërs 11:24-26).

6. Die Teenwoordigheid van Christus by die Nagmaal🔗

In die loop van die geskiedenis van die kerk en met die opkomende Roomse sakramentsleer wat sy toppunt gevind het by die besluit van 1215 waar die transsubstansiasie afgekondig is, het die gedagte van die teenwoordigheid sy fokuspunt in die erediens gekry in die nagmaal. Die opkoms van dié gedagte is reeds vroeg te bespeur. Dit hang saam met die groeiende siening dat Christus teenwoordig gestel word by die nagmaal deur die epiklesegebed, verder deurdat al meer die gedagte opgekom het dat die nagmaal verander word in die werklike offer van Christus. Nog later word dit 'n offer wat die mens aan God bied. By die herhaling van die nagmaal word Christus steeds bloedloos geoffer. Hy is dus werklik teenwoordig in die brood en wyn wat na substansie verander sodat dit werklik sy liggaam en bloed word. Hierdie offer word steeds herhaal en word meer 'n offer wat die mens aan God bied as 'n offer wat Christus gebring het tot heil van die mens. Christus is vir die Roomse kerk werklik teenwoordig deur die bemiddeling van die kerk. Dit geskied in die mis. Deur die konsekrasie van die brood en wyn word die heil gerepresenteer. Die brood en wyn word substansieel die liggaam en bloed van Christus en in die kommunie waar die hostie (brood) geëet en soms wyn gedrink word, word Christus werklik geëet en gedrink. So kry die gelowiges deel aan die werklike Christus. Daarom kry die teenwoordigheid van Christus, die praesentia realis, by Rome 'n besondere betekenis. Die hele teenwoordigheid gaan feitlik hier op in die teenwoordigheid by die nagmaal. Juis hierdie misvattings ten opsigte van die teenwoordigheid van Christus by die nagmaal het die protes van die reformatore na vore gebring, maar ook 'n algemene gereserveerdheid om te praat van die teenwoordigheid van Christus in die erediens. Die Konsilie van Trente het hierdie leer van die teenwoordigheid van Christus so saamgevat dat,

in die sakrament van die heilige eucharistie na die wyding van brood en wyn onse Here Jesus Christus waaragtig God en mens waarlik, werk­lik en wesentlik onder die gedaante van hierdie sigbare sake bevat word.

Luther het ernstig beswaar gemaak teen die offergedagte van die mis, sowel as teen die stilmis en die transsubstansiasieleer. Hy het vasgehou aan die werklike teenwoordigheid van Christus en ook dat die elemente van brood en wyn nie verander nie. Om dit bymekaar te bring het hy gekom by die sogenaamde konsubstansiasieleer, waar Christus teenwoordig is op elke plek "in, met en onder brood en wyn". Jesus se menslike natuur het na sy opstanding deel gekry aan sy goddelike natuur se eienskappe en hierdie eienskappe sluit ook die alomteenwoordigheid in. Tereg wys B. Engelbrecht daarop dat hierdie twee groot vrae bly staan: Watter sin het Jesus Christus se hemelvaart as heilsfeit indien sy liggaam en bloed deel gekry het aan die eienskap van alomteenwoordigheid direk na sy opstanding? Tweedens, bring hierdie siening van die teenwoordigheid van Chris­tus mee dat die groot klem wat hy ook gelê het op die geloof hier op die agtergrond kom. Volgens Luther ontvang ook die ongelowige die ware, werklike liggaam en bloed van Christus (B. Engelbrecht, Die praesentia realis in die protestantse erediens, in: Teologie in die kerk, 1978, 131).

Aan die ander uiterste as Luther het Zwingli die teenwoordigheid van Christus gesien as 'n blote herinneringsmaal van Christus. Die woorde uit Johannes 6, dit is my liggaam ("hoc est corpus meum"), wil Zwingli verstaan: dit beteken my liggaam (in plaas "est" lees hy "significat"). Tog het Zwingli seker gelyk as hy klem lê op die feit dat die nagmaal 'n teken is. Die swakheid is egter dat hierdie tekens slegs sien op die herinnering en dat dit nie verbind word met die ge­loof nie.

Tussen die standpunte van Luther en Zwingli staan Calvyn met sy suiwer Bybelse siening van die teenwoordigheid. Dit het ook deurgewerk in die Gereformeerde belydenisskrifte en liturgiese geskrifte. Hy beklemtoon dit dat Christus inderdaad teenwoordig is by die nagmaal, maar dat dit geskied deur sy Gees. Hy laat nie die elemente verander nie of gee nie aan die Jesus voor sy hemelvaart alomteen­woordige eienskappe nie, maar handhaaf ten volle die heilshistoriese betekenis van die hemelvaart en die verheerliking van Christus in sy mag aan die regterhand van die Vader: Hy verstaan dit egter uit die Skrif dat Christus deur die uitstoring van die Heilige Gees alomteenwoordig is. Hy is dus by die nagmaal teenwoordig deur Sy Gees. Hy is egter nie slegs by die nagmaal teenwoordig nie, maar in die hele erediens. Hier het Luther probleme gehad met sy standpunt. Immers, indien Christus op so 'n besondere wyse by die nagmaal teenwoordig is, op watter wyse is Hy dit in die orige van die erediens? Verder het Calvyn klem gelê daarop dat die geloof ervaar word. Hy aanvaar ook dat die nagmaal 'n teken is, maar dan nie in die sin van Zwingli slegs as herinneringsteken nie, maar 'n teken van die geloof dat Christus inderdaad deur sy Gees teenwoordig is. Christus is by Calvyn werklik teenwoordig, dit is nie slegs 'n herinnering nie, maar hierdie teenwoordigheid is God se werk, is die werk van die Heilige Gees en dit geskied in en deur die geloof. Die ongelowige kan dit wel eet, maar hy ontvang nie soos by Luther die werklike Christus nie, maar eet en drink 'n oordeel oor homself. Christus is in die hele erediens teenwoordig, soos wat Hy immers oral teenwoordig is ­deur sy Gees.

Dit is dus tegelyk die gekruisigde, opgestane en verheerlikte en weerkomende Christus wat in die nagmaal teenwoordig is:

Die blydskap ("Jubel") wat by die oerchristelike nagmaalsviering ge­heers het, word verklaar uit hierdie gemeenskap met die opgestane, van Wie die gemeente seker was ook al sien hulle Hom nie… So ervaar die gemeente in die nagmaal dat Christus die Gekruisigde, Opgestane en Weerkomende self in hulle midde tree en aan hulle die maaltyd en daarmee saam Homself uitdeel.W. Hahn

7. Die Teenwoordigheid van Christus deur Sy Woord🔗

Christus se teenwoordigheid is nie beperk tot die nagmaal nie, maar kom veral tot openbaring deur die lees en verkondiging van die Skrif. Die ver­kondiging van Christus se verlossingsgeskiedenis is op ons gerig. Waar hierdie verlossende boodskap van Christus aan ons verkondig word, daar is Christus besonderlik teenwoordig. In die erediens kom Hy in die kleed en gestalte van die Woord. "The presence of Christ in worship is … a presence in the Word. The Word is that of oral preaching, for though present everywhere, Christ is comprehended in his Word. The Word is the essence of his presence, for through the Word proclaimed, all the works of God are revealed ... His presence is related to his people and cannot be divorced from them" (Vilmos Vajta, Luther on Worship, 1958, 90, 91).

Deur die verkondiging van die Woord kom die verheerlikte Chris­tus as die lewende en werkende Here in die midde van sy vergaderde gemeente om daar te doen wat hierdie Woord verkondig. Hy kom as die lewende en sentrale Figuur in die verkondiging van die Woord, want die egte bediening van die Woord teken die beeld van Chris­tus af en hy maak hierdie gestalte onder mense waar. Ons kan sê die teenwoordigheid van Christus by die nagmaal is dieselfde as by die verkondiging as die Woord, maar dit is net in 'n ander gestalte — by die nagmaal deur die teken en by die verkondiging deur die hoorbare woord. Dit bly egter steeds die Heilige Gees deur Wie Hy teenwoordig is en hierdie teenwoordigheid moet deur geloof aanvaar word. By albei hang die woord en die daad ten nouste saam. Daar mag nie 'n teenstelling gemaak word tussen die teenwoordigheid van Christus deur die Woord en deur die nagmaal nie. Die nagmaal is juis om die Woord te versterk.

8. Christus se Teenwoordigheid tot Ons Heil🔗

Waar die kerk nouge­set uit die Skrif opvang en dit beoefen dat Christus besonderlik in die erediens teenwoordig is, daar is dit met die duidelike geloof dat Hy daar teenwoordig is tot ons heil. Hy is teenwoordig vir ons, met ons en wil hierdie teenwoordigheid tot 'n seënryke gebeure maak. Hy is wel ook teenwoordig as die Regter en die Een wat ons aan­spreek, ons slaan, ons oordeel, maar in die eerste plek is sy teen­woordigheid om deur dit alles heen sy wonderlike genadewerk in en aan ons te verrig en verder te verrig en so te voltooi. Selfs in die erkenning en uitwysing van ons sonde en skuld en die aankondiging van die straf, is die bedoeling van dit alles om ons te bring om al meer van hierdie genade deurdronge te wees en hierdie genade te aanvaar. Sy teenwoordigheid is een stuk genade van God teenoor sy skepsels en veral teenoor sy gemeente: "A grace, because the pre­sence of Christ is the presence of salvation. He gives Himself to us ... and He draws us and binds us to Himself by arousing and strengthening our faith" (J. J. von Allmen).

9. Die Wyse waarop Christus se Teenwoordigheid Aanvaar Word🔗

Die teenwoordigheid van Christus in die erediens is 'n werklikheid, maar dit word nie direk vir almal merkbaar en ervaarbaar nie. Daar is 'n weg waarlangs ons hierdie teenwoordigheid bemerk en ervaar.

  • Deur die geloof. Die teenwoordigheid van Christus leer ons sien deur die geloof "No more than one could without faith recognize in Jesus of Nasareth the Christ, the Son of the living God, can one, in Christian worship, be assured of His presence and behold His living reality" (J.J. von Allmen). Hierdie teenwoordigheid word nie deur menslike handelinge opgewek nie, maar die gemeente word daarvan bewus deur die geloof en "geloven is verwachten dat God het doet. En de middelen die Hij daarbij gebruikt, zijn Zijne middelen en niet de onze…" (O. Noordmans). God skenk die geloof waardeur ons sy teenwoordigheid bemerk, en deur die geloof word ons geroep om dit te bemerk en vas te hou.

  • Die Heilige Gees openbaar Jesus Christus in die erediens en laat ons sy teenwoordigheid bemerk en ervaar. Die groot werk van die Gees is om die soeklig te laat val op Jesus. Jesus het gesê dat die Gees Hom sou verheerlik en dit doen Hy inderdaad. Hy tree graag terug agter Jesus sodat die volle lig op Hom kan skyn. Hy laat uit die Skrif die beeld van Christus duidelik na vore tree. Op allerlei maniere, deur die liedere, gebede, Skriflesing, nagmaal, deur elke element van die erediens, laat Hy misverstande aangaande Jesus verdwyn en laat Hy sy beeld uitstraal. Hy laat ons egter ook in ons harte en gewetens die teenwoordigheid ervaar en die spreke van Christus as sy spreke tot ons ondervind. Daarom kan ons met R. Paquier saamstem as hy sê: "…the presence of the Lord is given to the church by the Holy Spirit. Indeed it is only when the risen Lord breathes upon the assembled believers and says "Receive the Holy Spirit" … that he is recognized as being present and the worship dialogue becomes a real encounter. It is only then that the assembly makes itself known as the body of Christ, through which the Holy Spirit imparts the pre­sence of the Lord with reality and persuasiveness…"

  • Christus se teenwoordigheid en gehoorsaamheid. Soos by die eis van geloof en by die werk van die Heilige Gees is die gehoorsaam­heid aan God belangrik vir die bemerking en ervaring van sy teenwoordigheid; daar is wel 'n duidelike verband. God woon onder sy volk waar hulle Hom gehoorsaam (in die Ou Testa­ment). Dit geld ook van die kerk en dus ook van die erediens. Hy is teenwoordig waar sy dienare en gemeente Hom gehoorsaam en sy wil doen en daardeur openbaar Hy Homself duideliker aan hulle. "In the case of disobedience and violation of the covenant, the divine presence does not become absence, but judgment (cf. Leviticus 26:14v.). The favourable presence of God among his people is related always therefore with the faithfulness of this people to their vocation" (R. Paquier).

10. Die Voorlopige Aard van Christus se Teenwoordigheid in die Erediens🔗

Christus is werklik in die erediens teenwoordig, maar dit is in hierdie bedeling nog op twee maniere beperk. "On the one hand it is an in­visible presence, and on the other it is an incomplete presence, which will not be complete until the Parousia" (W. Hahn), ja, "this presence is imperfect, that it awaits its completion and fruition with the ad­vent of the parousia … His presence in Christian worship is, as it were, partial and broken" (J.J. von Allmen).

​11. Die Krag van Christus se Teenwoordigheid🔗

  • Word daar genoeg met die teenwoordigheid van Christus in die erediens gereken? Ons praat van en bely die praesentia Christi, die teenwoordigheid van Christus. Is dit egter in ons erediens en in die hele gang van die diens en die gemoed van die ampsdraers en lidmate nie dikwels meer 'n absentia Christi, 'n afwesigheid van Chris­tus nie? (R. Boon, Liturgie en ambt, Ministerium, jrg 3, 11, 1969, 190, 191). A. Kuyper het jare gelede gewys op die besondere beteke­nis van die feit dat die versamelde gemeente die oudiënsie by die Koning van die konings so min besef: "Indien de geloovigen zelfs in hun zaamvergadering niet tot een staan en verkeeren voor het aangezicht Gods komen, en de tegenwoordigheid van de Heilige niet ontwaren, wat blijft er dan van hun gemeenschapsoefening met den Heilige over? … dat men … op audiëntie bij den Koning der koningen is geweest, leeft niet in het bewustzijn…"

    Waar ons sê dat ons in Jesus Christus glo, beteken dit tog seker dat hierdie geloof iets sal laat bemerk van die teenwoordigheid van Christus in die erediens. Daarom sê W. Stählin,

    "Om in God te glo, beteken daarom veral om sy belofte te vertrou en van Hom juis dit te verwag wat Hy aan ons geopenbaar het."

    Dit is vir die kerk van lewensbelang om te besef dat hy in die ere­diens te make het met die teenwoordigheid van die lewende Christus, dat hy verskyn en spreek en handel voor die aangesig en voor die oë van die Here en dat dit nie gedagteloos mag geskied nie. Dit vereis ons grootste aandag, want dit geskied met sy volle aandag.

  • Christus se teenwoordigheid is die groot aantrekkingskrag van die erediens. Dikwels word gesê dat allerlei dinge gedoen moet word om mense en veral die vervreemde mense en die vervreemde jeug aan te trek na die erediens. Dinge soos popsang en popmusiek word genoem en veel ander. Die groot aantrekkingskrag is hierdie Jesus wat teenwoordig is. Teenoor al die krag en geweld en bekoring van die wêreld staan Hy daar as die Middelaar die Verlosser, as die enigste Naam onder die hemel wat aan die mense gegee is waardeur ons kan glo (Handelinge 4:12). Hy kom in die betekenis van die naakte kruis wat sê redding uit genade, maar dan is dit egte redding; Hy is die groot Bevryder wat die bande en boeie van mense losmaak. Daarom het Hy krag. Hy het gesê dat as die Seun van die Mens van die mens van die aarde verhoog sou word, sou Hy sy dissipels na Hom toe trek (Johannes 12:32). Ons sou ook kon sê dat Hy soos deur 'n groot magneet die dissipels na Hom toe trek in die erediens. Tereg sê M. Perry "When worship has become the response to the experienced reality of God … then the call to worship has that inner driving force which cannot be denied". Daarom sê hy is dit nie nodig om 'n Chris­ten te trek deur druk of allerlei behendighede ("gimmickry") nie.

    Die nuwe lewe en krag van die erediens is geleë in die leweskenken­de teenwoordigheid van Christus. Hierdie dinamisme moet deur die hele erediens pols en uitkring in die hele lewe waarin die erediens plaasvind.