Bron: Die Kerkblad, 1992. 4 bladsye.

Die Teologie van die Gelofte van Bloedrivier

Op 'n dag soos hierdie kyk ons terug en ons kyk vorentoe. Ons kyk terug na Bloedrivier, na die manne in die laer wat 'n gelofte gedoen het. Maar ons kyk ook vorentoe, want ons is op pad na die 21e eeu. Wat gaan die toekoms vir ons bring? Sal daar oor tien jaar nog 'n Suid-Afrika wees? Sal daar nog iets oorbly van die Christelike beskawing waar ons voorouers so sterk die klem op gelê het? Dit bring ons by die vraag: wat kan Bloedrivier ons vandag nog leer?

  • Ons kan die geskiedenis van Bloedrivier van verskillende kante bestudeer. Bloedrivier kan vanuit 'n militêre hoek bekyk word. Dan gaan dit oor koeëls en gewere, skilde en assegaaie. Die krygstegniek van die dapper boere vra dan ons aandag. Ook die oorlogsbeplanning van die Zoeloevegters moet dan in oënskou geneem word. Die dapperheid van die geringe aantal vegters teenoor so 'n groot oormag sal ons dan diep beïndruk. Die ongelyke magsopbou van weerskante vra eweneens ons aandag.

  • Bloedrivier kan ook in historiese perspektief geplaas word. Dan moet daar aandag gegee word aan die aanleiding tot en die gevolge van hierdie veldslag vir die toekoms van 'n volk. Het Bloedrivier volksvormend gewerk en het dit 'n bydrae gelewer tot nasiebou?

  • Dit is ook moontlik om Bloedrivier vanuit 'n politiese perspektief te bekyk en dan kan die vraag gevra word of daardie veldslag vir ons 'n les leer oor volkere-verhoudinge en politieke strukture van die Afrikanervolk.

  • Ek wil egter 'n terugblik op Bloedrivier werp vanuit 'n godsdienstige perspektief. In die eerste plek is dit 'n oorkoepelende perspektief. Maar in die tweede plek is hier na my oortuiging ook vir ons die belangrikste les en kan ons in verband met die voortbestaan van ons volk en ons toekoms by Sarel Cilliers en Andries Pretorius en sy manne iets leer wat ons vandag dringend nodig het.

Die manne van Bloedrivier gaan ons nie verheerlik nie. Al was hulle helde, was hulle tog gewone mense soos u en ek. Almal wat die geskiedenis van daardie tyd ken, weet hoe die boere ook maar onderling gestry het. Lees maar die geskiedenis van die Groot Trek. Daar was onderlinge naywer, afguns, eersug en wat nie al nie. Tog wil ons die manne van Bloedrivier eer. Hulle was helde, nie alleen helde op die slagveld nie; hulle was geloofshelde. En daarin is hulle tot vandag toe vir ons tot 'n ligtende voorbeeld. Hulle geloof is vir ons tot 'n voorbeeld. Sonder daardie geloof is daar vir ons as Afrikanervolk nie 'n toekoms nie.

Daar is vier dinge wat uitstaan in die geskiedenis van Bloedrivier. En die merkwaardige is dat ons die vier dinge vind in die Gelofte wat opgestel en afgelê is en telkemale herhaal is. Daarom gaan ek probeer om die Gelofte teologies te ontleed en te beoordeel. Dit beteken hoegenaamd nie dat ons die Gelofte as 'n soort belydenisgeskrif moet beskou nie. Maar daardie unieke Gelofte is wel 'n belydenis, 'n geloofsbelydenis, want dit spel vir ons uit die geloof van die manne wat dit opgestel en vir hulle rekening geneem het.

Godsgeloof🔗

Die gelofte wat die Boere afgelê het, was nie net 'n onderlinge verbintenis nie. Dit was hoegenaamd nie bedoel om mekaar moed in te praat nie. Die Gelofte het 'n bepaalde adres gehad. Die Gelofte was 'n gelofte aan God, aan God geadresseer, die God van hemel en aarde. Hulle het 'n diepe besef gehad dat daar 'n God is en daardie God staan nie buite die krygsgewoel waarby hulle betrokke is nie. Want hoe noem hulle God? Hulle praat van die God van hemel en aarde. Let veral op die byvoeging: "en aarde". Dit is nie sonder betekenis nie. Daardie Boere het dit gewaag om hulle benarde situasie op God te betrek. Hulle het geglo en geweet dat God met sy magtige hand, met sy sterk arm, kan ingryp en die beslissing van die stryd in hulle guns kan beklink. Wat spreek daaruit? Daaruit spreek geloof in 'n God wat Hom met hierdie wêreld bemoei. Wat nie koud, strak, onbewoë en onbetrokke neerkyk na wat op hierdie aarde gebeur nie.

Dit bring ons by die moderne Godsbeskouing wat helaas ook in Suid-Afrika, aan van ons universiteite en van sommige kansels in kerke verkondig word. Die nuwe leer aangaande God is: God is wel heilsmagtig, maar Hy is nie almagtig nie. Dit beteken: God kan ons wel verlos van ons sondes, Hy is by magte om ons sy heil te skenk, maar meer moet en mag ons nie van Hom verwag nie. Dit is nie so dat God die lewe van volkere en van mense bestuur en dat Hy tot in die fynste besonderhede ons lewe lei nie. Met al die dinge wat in die wêreld gebeur, het God in die hemel niks uit te maak nie. Die mense maak oorlog, daar is geweld, misdaad en onreg. Daar was in hierdie eeu twee wêreldoorloë. Ses miljoen Jode is in konsentrasiekampe vermoor. God is liefde. Hy staan buite die gebeure op aarde.

Hierdie Godsvoorstelling moet ons radikaal afwys. Dit ontneem ons ons troos, ons sekerheid en dit maak die mens moedeloos en selfs radeloos. Wanneer dit waar is dat God Hom nie met hierdie wêreld bemoei nie, dat Hy nie betrokke is by alles wat op aarde gebeur nie, dat Hy dus nie almagtig is nie, nie die God van die aarde is nie, dan is daar nie hoop vir ons nie. Daarom is dit goed en noodsaaklik om weer opnuut na die Gelofte te luister. Die Boere van Bloedrivier het gepraat van die God van hemel en aarde. Dit is die God wat alles bestuur en lei. In Wie se hand ons lewe is en by Wie al ons paaie is en sonder Wie se wil daar selfs nie 'n haar van ons hoof kan val nie. Wat sê Job vir sy vrou? "As ons die goeie van God aanvaar, moet ons nie ook die slegte aanvaar nie?" (Job 2:10).

Dit is van die uiterste belang dat ons veral in 'n tyd soos hierdie, in 'n tyd van onsekerheid, onrus, geweld, dreiging, onvoorwaardelik glo dat God in beheer is. Hy lei die wêreldgebeure, die landspolitiek, die lewe van kerk en volk en ook ons eie kleine lewe. Godsgeloof was daar in die hart van Sarel Cilliers en Andries Pretorius en hulle medestryders. Dit is die uitstaande kenmerk van die Gelofte van Bloedrivier. Sonder daardie Godsgeloof kan 'n volk nie bestaan nie en het ons nie 'n toekoms nie.

Soewereiniteitsgeloof🔗

Ons lees ook uit die Gelofte wat by Bloedrivier gemaak is dat die Boere aldaar nie alleen 'n onvoorwaardelike vertroue gehad het in die almag van God nie – hulle het ook geglo in die soewereiniteit van God. Hulle geloof was 'n soewereiniteitsgeloof. God alleen kan die oorwinning gee. Maar ons moet tog daarop let dat die Boere met 'n voorbehoud gekom het. Tot twee maal toe lees ons van hierdie voorbehoud. "As Hy ons beskerm en ons vyande in ons hand gee" en "'n huis op te rig waar dit Hom behaag". In die vaste geloof dat God regeer, het hulle bely dat: indien dit God behaag om aan ons die oorwinning te gee. Hy sal ons beskerm indien dit Hom behaag. Hy kan beskerming bied en Hy kan die oorwinning gee. Dit is nie die geweer van die skerpskutter, die vernuf van die generaal, die beplanning van die gevegstaktiek wat die oorwinning moet verseker nie. Dit is God alleen. Maar die Here is dit nie aan hulle verplig nie. God is soewerein. Daarom begin hulle ook die Gelofte met die woorde: "Hier staan ons voor die heilige God". God is die Heilige! Hulle besef dit en daarom staan hulle eerbiedig stil by God se soewereiniteit.

Hier lê ook vir ons 'n belangrike les in die hede. Ons hoor soms die opmerking: die Here sal nie toelaat dat ons hier ondergeploeg word nie. En nou leef ons maar onbekommerd voort. Hoe weet ons? Wat het met die Jode in die land Kanaän gebeur? God het hulle in daardie land gebring. Maar Hy het hulle ook uit hulle land verdryf en in ballingskap gevoer. Daar was 'n bloeiende kerk in Noord-Afrika, die kerk van Augustinus en Cyprianus. Maar wat het gebeur? Die Islam het eenvoudig die kerk weggeveeg. Laat ons maar diep buig voor die heilige wil van God. Die Here is niks aan ons verplig nie. Wanneer ons kyk na die volksondes soos dobbel, Sondagontheiliging, kerkverlating, openbare onsedelikheid, oneerlike handelspraktyke, sakebedrog, materialisme, dan het ons as volk nie verdien om nog langer hier voort te bestaan nie. God is die Heilige. Hy is soewerein. Ons kan net bid soos die melaatse man wat by Jesus gekom het: "Here, as U wil, kan U my reinig!" (Matteus 8:2). Eers bely hy Jesus se vrymag en daarna Jesus se almag. So moet ons ook bid vir ons volk, ons kinders, ons nageslag.

Afhanklikheidsgeloof🔗

In die derde plek het die vegters by Bloedrivier hulle onvoorwaardelik onder God se leiding geplaas. Hulle geloof was ook 'n afhanklikheidsgeloof. Beskerming het hulle van die Here alleen verwag. Hy moet die oorwinning gee. God alleen is by magte om ons vyande in ons hand te gee. Ja, ons kan dus selfs oorlog voer onder God se leiding. Hoeveel te meer is dit noodsaaklik om ook in die gewone dinge van die lewe ons aan God se leiding toe te vertrou en alles van Hom alleen te verwag. Wat lees ons uit die Gelofte? Die boere by Bloedrivier het hulle onder God verneder. Hulle het hulle diep voor God verootmoedig. Wat gebeur as 'n mens hom voor God verootmoedig, as hy diep voor die Here neerbuig? Petrus skryf: "dan sal Hy ons verhoog op sy tyd". Dit het die Here by Bloedrivier gedoen. Hy het hulle verhoog, Hy het die oorwinning gegee.

Daarom is dit vandag die boodskap vir die hele volk en ook vir elkeen van ons persoonlik: Verneder julle dan onder die kragtige hand van God, sodat Hy julle kan verhoog op die regte tyd (1 Petrus 5:6). God se hand is in die Bybel die teken van God se krag, die simbool van sy leiding. In ons volkslied, Die Stem, is dit mos so aangrypend tot uitdrukking gebring.

Op U almag vas vertrouend
Het ons vadere gebou.

Roemgeloof🔗

Dit is ontroerend om in die Gelofte te lees dat die Boere by Bloedrivier die eer en die roem van die oorwinning aan God wou toeskryf. So 'n geloof sou ons kon noem "roemgeloof". Dit het vir hulle van die begin tot die end om God gegaan, om sy eer, die eer van sy Naam. Dit is 'n bewys dat hulle 'n diep geloof gehad het, dat hulle Godsvertroue heg en vas was. Daarom sê ons nie te veel wanneer ons praat van die teologie van die Gelofte van Bloedrivier nie. God die Here neem 'n sentrale plek in. God wat alles lei en bestuur, God wat soewerein is, God wat by magte is om die oorwinning te gee, God wat geëer en geprys moet word.

Dit alles bring ons ten slotte by die dag en die kerk wat spesifiek in die Gelofte genoem word. Die boere beloof aan die Here om die dag en datum elke jaar as 'n dankdag, 'n sabbat, deur te bring en om 'n huis tot sy eer op te rig. Hieruit spreek twee dinge. Hulle ken hulleself. Vanuit 'n eg Bybelse selfkennis besef hulle dat 'n mens God se weldade so maklik vergeet. Daarom die dag en die huis. En tweedens – dit is miskien die allerbelangrikste uit die Gelofte – het hulle gedink aan hulle kinders en kindskinders, die opkomende geslagte. Hulle het besef ons moet aan ons kinders oordra wat ons van God ondervind en ontvang het. En dan gaan dit nie net om die oorwinning nie, maar om wat die Here God gedoen het. Dit moet die opkomende geslagte weet en onthou.

Negatief en Positief🔗

Watter les kan ons uit hierdie dinge leer? lets negatiefs en positiefs. Ten eerste moet ons nie te horisontaal met die dinge van elke dag en van ons land en volk besig wees nie. Of dit nou die politiek is, die sorg om die bestaan, die toekoms van ons land, die ekonomie wat druk. Ons is dikwels maar te geneig om net op 'n horisontale vlak te beweeg. Maar dan beweeg ons ook so gemaklik uit mekaar. Ons sienings verskil, ons behoort aan verskillende politieke partye, ons verskil kerklik van mekaar. Ons raak vreesbevange, ons word paniekerig, emosies laai op en op die ou end kry ons 'n onheilige Bloedrivier, ons bekamp mekaar op lewe en dood. Juis dit kan ons vandag glad nie bekostig nie. Laat ons begin om elkeen sy politieke oortuiging te gun.

Maar laat ons – en dit is die positiewe – op God konsentreer. Op die God van die Bybel, die God van die geskiedenis, die God van Bloedrivier. Dan kom daar vrede in ons hart, rus in ons gemoed, begrip vir mekaar – en as daar iets is wat saambind, dan is dit die Godsgeloof. Oor politieke grense en maatskaplike, sosiale verskille heen sal ons mekaar dan vind, respekteer en selfs bemoedig.

Die toekoms van elkeen van ons persoonlik, maar ook van land en volk, is in God se hand. Wat kan ons anders doen as om ons onder daardie kragtige hand te verneder, te verootmoedig. Onder daardie hand is ons veilig. Ons sing mos:

Die oorlogsperd kan nie behou nie,
hoe hy ook aanstorm met geweld;
hy red nie met sy ysterklou nie
wat grimmig neerdreun op die veld.
Maar die Heer se oë straal met mededoë
op wie klein van krag,
voor Hom stilverslae,
in hul donker dae
op sy goedheid wag.