Bron: Die Kerkblad, 1990. 1 bladsye.

Die Testament van Calvyn

In die Naam van God. Ek, Johannes Calvyn, dienaar van God se Woord in die kerk van Genève, voel my deur verskillende siektes so aangetas, dat ek nie anders kan as om te dink dat God my spoedig uit hierdie wêreld wil kom haal nie, en ek het daarom besluit om 'n testament en laaste wils­beskikking skriftelik in die volgende vorm te laat opstel:

Allereers dank ek God dat Hy medelye gehad het met my, sy arme skepsel, en my getrek het uit die afgrond van die afgodery waarin ek vasgesit het, om my tot die lig van die evangelie te trek, en my deel te laat hê aan die saligmakende leer wat ek nie waardig was nie. Hy het ook sy barmhartigheid verder uitgestrek en my met al my swakhede en gebreke gedra, waarmee ek honderdduisend maal verdien het om deur Hom verwerp te word.

En nie alleen dit nie, maar ook nog meer: Hy het sy genade so ver aan my bewys dat Hy my werk tot verbreiding en verkondiging van die waarheid van sy Evangelie gebruik het. Daarom verklaar ek dat ek wil leef en sterf in die geloof en geen ander hoop en vertroue het as daarop, dat Hy my in genade aangeneem het. Ek neem die genade aan wat Hy aan my in ons Here Jesus Christus bewys het en steun op die verdienste van sy lyde en sterwe, omdat al my sonde daardeur begrawe word. Ook smeek ek Hom dat Hy my wil was en reinig deur die bloed van ons groot Verlosser wat vir arme son­daars vergiet is, sodat ek voor sy aangesig kan verskyn en sy beeld kan vertoon.

Ek verklaar ook dat ek na die mate van genade wat Hy my verleen het, my ingespan het om sy Woord suiwer te verkondig in preke en geskrifte en om die Heilige Skrif getrou uit te lê. Ek het ook in alle twiste wat ek met die vyande van die waarheid moes stry nie lis en spitsvondigheid gebruik nie, maar het steeds eerlik te werk gegaan in die verdediging van sy saak.

Maar ag, die wil wat by my was, en my ywer — as ek dit so mag stel — was so koud en flou dat ek in alles skuldig gevoel het, en was dit nie vir sy oneindige goedheid nie, sou al my hartstogtelike strewe niks anders as rook­dampe gewees het nie. Ja, die genadegawe wat Hy aan my verleen het maak my nog skuldiger; daarom bly dit alleen my toevlug dat Hy die Vader van barmhartigheid is en Homself ook sal toon en bewys as die Vader van so 'n ellendige sondaar.

Origens is dit my wens dat my liggaam na my dood op die gewone wyse begrawe word, en so wil ek op die dag van die salige wederopstanding wat.

Uit die bostaande is dit duidelik dat Calvyn gesterf het as 'n ellendige, wat alles alleen van God se genade verwag het. Ons 'Calviniste' kan dalk heelwat hieruit leer. Ook van die wyse waarop hy na sy wens begrawe is.

Volgens 'n boek deur dr. L. Praamsma is Calvyn die dag na sy dood reeds in 'n eenvoudige kis sonder enige prag of praal in die kerkhof Plainpalais begrawe. Hy wou nie 'n grafsteen gehad het nie, met die gevolg dat daar mettertyd nie meer presies geweet is waar sy graf is nie.