1 bladsye. Vertaal deur Nic Grobler.

Die Tussentoestand

In die teologie het die leer van die tussentoestand te doen met die toestand van die siel tussen die dood en die finale opstanding. Hierdie leer antwoord op die vraag: “Wat gebeur met my na die dood?” Wat die Skrif hieroor leer, is daarom lewensbelangrik vir die gelowige: ná die dood word die gelowige in die hemelse heerlikheid opgeneem en hy is van die heerlikheid en van sy teenwoordigheid by Christus bewus. Hoe anders is dit as die ervaring van die ongelowiges en onberoulikes wat reeds, voordat hulle liggame opgewek word, die smart vir hulle sonde bewustelik in die hel beleef (Luk. 16:22-28).

Daar is vele wat dit ontken. Sommige leer ʼn “sieleslaap”: dat die siele wat in die hemel of die hel is, slaap en nie weet wat met hulle gebeur nie. Sommige Christelike Rekonstruksioniste leer dat die siel by die dood ophou om te bestaan. So ʼn beskouing is, soos Calvyn lank gelede reeds gesê het, verwerplik en moet nie deur die volk van God verdra word nie. Dit vernietig hulle hoop in Christus, herroep die verskrikking van die dood en laat hulle sonder troos voor die laaste van alle vyande.

Ons hoop op heerlikheid in Christus is gegrond op die woorde van Jesus aan die kwaaddoener aan die kruis: “Vandag sal jy saam met my in die Paradys wees” (Luk 23:43). Kan enigiemand werklik glo dat Jesus bedoel het, “Jy sal daar wees, maar jy sal dit nie weet nie”, of “Jou paradys sal wees dat jy ophou bestaan tot die finale einde oor duisende jare aanbreek”?

Oor Filippense 1:23 het Calvyn gesê: “Dink hulle dat hy (Paulus) aan die slaap wou raak sodat hy nie langer na Christus sou verlang nie? Was dít waarna hy verlang het toe hy gesê het dat hy, wanneer sy aardse tentwoning afgebreek word, hy ʼn gebou het van God, ʼn huis nie met hande gemaak nie? (2 Kor. 5:1). Waar is die wins om by Christus te wees, as hy sou ophou om met Christus te lewe? Wat! Word hulle nie deur die woorde van die Here, wanneer Hy Homself die God van Abraham, Isak en Jakob noem, en sê dat Hy “nie ʼn God van dooies [is] nie, maar van lewendes” (Matt. 22:32; Mark. 12:27) oorbluf nie? Is Hy dan nie vir hulle ʼn God, en hulle vir Hom ʼn volk nie?''1

Wat van daardie Skrifgedeeltes wat die dood van die gelowiges as slaap beskryf? (Matt.27:52; Mark. 12:27; 1 Kor. 11:30; 1 Kor. 15:20, 51; Ef. 5:14; 1 Tess. 4:14). In die lig van wat hierbo gesê is, kan dit nie beteken dat daar so iets soos ʼn sieleslaap is nie. Dit verwys na die dood en ontbinding van die liggaam; dat vir die gelowige, vir wie die dood oorwin is, die dood so maklik is as om aan die slaap te raak. Dit is nie vreemd dat die dood van gelowiges as slaap beskryf word nie, want deur die dood gaan hulle die ewige rus van hulle arbeid in (Jes. 57:2; Openb. 14:13).

Uit die Skrif leer ons dat God daarvoor voorsiening maak dat, in die tyd tussen dood en opstanding, die siel sonder die liggaam die heerlikheid wat Hy beloof het, geniet, “want ons weet dat as ons aardse tentwoning afgebreek word, ons ʼn gebou het van God, ʼn huis nie met hande gemaak nie, ewig, in die hemele” (2 Kor. 5:1). Daarom is “om uit die liggaam uit te woon” om “by die Here in te woon” (vs. 8). Daarom is ons, terwyl ander onwillig is, gewillig om van die liggaam afwesig te wees, is ons nie?

Endnotes🔗

  1. ^ Johannes Calvyn, “Psychpannychia”, Basel 1536.