Bron: Die Kerkblad, 1985. 2 bladsye.

Die verbond eis geloof

In die preek van Petrus wat in Handelinge 2 weergegee word, vind ons ook lig oor 'n ander dwaling waar­deur ons bedreig word, en wat vir ons net so 'n groot gevaar inhou as die doperse dwaling. Hierdie dwa­ling wil ek noem 'n Dopperse dwa­ling, hoewel dit ongelukkig aller­mins tot die Gereformeerde Kerk beperk is. Om die waarheid te sê, dit laat sy invloed teenswoordig in ander kerke miskien sterker geld as by ons waar dit, goddank, nie meer die toon aangee nie.

Nie 'n "gereformeerde" dwaling nie!🔗

Ek noem dit "'n dopperse dwaling" omdat dit beslis nie 'n gereformeerde dwaling genoem kan word nie. Gereformeerd is dit nie, want nog die Skrif, nog die Reformatore, nog ons Gereformeerde konfessies gee enige steun daaraan; dit het eers teen die begin van hierdie eeu uit Nederland hierheen oorgewaai onder invloed van die navolgers van Abraham Kuyper wat geleer het dat kindertjies van verbondsouers gedoop moet word op grond van hulle veronderstelde wedergeboorte.

Hierdie dwaling het dieselfde ver­keerde uitgangspunt as die doperse dwaling, nl. die doop dui op iets wat in my as dopeling gebeur het, in plaas van die skriftuurlike stand­punt wat leer dat dit op die werk van Christus en die beloftes van God dui.

Blatant onskriftuurlik🔗

Hierdie dwaling staan nie nader aan die Skrif as die doperse dwaling nie; dis blatant onskriftuurlik. Die Skrif leer dat ons wedergebore is uit die lewende woord van God (1 Petrus 1:23); hierdie dwaling leer dat ver­bondskinders normaalweg, op die absolute uitsondering na, sonder die woord en buite die woord om gebore word, lank voor hulle die woord kon hoor of verstaan, nog voor hulle doop, en dat hulle op grond daarvan gedoop moet word.

Ons wil erken dat dit God vrystaan om 'n kind sonder die verkon­diging van die woord te wederbaar, en ons bely trouens in die Dordtse Leerreëls dat ons nie hoef te twyfel aan die saligheid van ons kindertjies wat jonk sterwe nie. Hulle kon nooit self die woord verstaan, aanvaar of verwerp nie. Maar die normale weg van wedergeboorte, soos deur die Skrif aangedui, is: Ons word deur die woord van God wedergebore.

Skeiding tussen Woord en Gees🔗

Dit is merkwaardig dat die voor­staanders van die dopperse dwaling die Pinkstergroepe verwyt – en meesal tereg! – dat hulle die Hei­lige Gees van die woord van God skei. Maar dan bring hulle 'n nog veel konsekwenter skeiding tussen woord en Gees tereg deur te leer dat die wedergeboorte van feitlik alle verbondskinders buite die woord omgaan!

Alle verbondskinders is nie wederge­borenes nie🔗

Van Abraham se agt seuns is die verbondslyn net in Isak voortgesit. Van Isak se twee verbondskinders was een 'n verworpene. God sê self van Esau en sy nageslag: "Ek het hom gehaat" (Maleagi 1:2).

Die ryk man in die hel (Lukas 16:24-25) was 'n verbondskind, en in die hel beroep hy hom nog op die verbond: "Vader Abraham, stuur tog vir Lasarus!" Abraham ontken nie die verbondsverhouding nie, hy antwoord: "My kind". U sien, die ryk man het hom net 'n bietjie laat op die verbond beroep; hy moes eer­der met die verbond van God erns gemaak het. Hy was nie wederge­bore nie; wedergeborenes gaan nie verlore nie.

Die vyf dwase meisies in die gely­kenis (Matteus 25) was in die verbond; hulle was kerklidmate; hulle het aan die Bruidegom geglo en Hom verwag. Hulle het Hom selfs tege­moetgegaan! Ongelukkig net: Hy was vir hulle nie belangriker as enigiets anders op aarde nie. Op die ou end het hierdie verbondskinders by wyse van spreek aan die hemel­poorte staan en krap en skreeu om ingelaat te word, maar moes hulle die verskriklikste woorde hoor wat jy ooit uit die mond van Christus kan hoor: "Ek ken julle nie!"

En wat van die gevaarlike leerstelling wat soms verkondig word, dat 'n verbondskind net by absolute uitsondering verlore kan raak? Watter beeld teken hierdie gelyke­nis? Vyf uit die tien, die helfte, gaan verlore! Die lyn tussen uitverkore­nes en verworpenes lê nie iewers tussen die kerk en die wêreld nie, hy loop deur die middel van die kerk! Hy sny die bondelinge in twee, altans volgens hierdie gelykenis van die Here Jesus.

God het aan al hierdie verbondskinders die beloftes toegesê wat Hy aan jou toesê. Maar hulle het nie daarmee erns gemaak nie. Hulle het dit eenvoudig verontagsaam, of openlik "Nee dankie!" daarvoor gesê. Daarom het al hierdie ver­bondskinders verlore geraak, vir ewig.

Nee, die verbond veronderstel nie geloof nie, dit eis geloof ! Abraham, die eerste bondeling, "het in God geglo, en dit is hom tot geregtigheid gereken" (Genesis 15:6). En dikwels gebeur dit eers op gevorderde leeftyd. Saggeus was 'n verbondskind, maar hy het die beloftes van die ver­bond verwerp, totdat hy die Here Jesus persoonlik leer ken het, geglo het en hom van sy sondes bekeer het. Eers toe het die Here Jesus van hom gesê: "Vandag het daar vir hierdie huis redding gekom; hy is mos ook 'n kind van Abraham, 'n verbondskind." Maar voor "van­dag" was jy 'n ongeredde verbonds­kind.

Die Here sê vir elke gedoopte lid­maat: "Ek sal jou God wees, jy moet my kind wees." Dis die Here wat so roep. Dit het Hom die dood van sy Seun gekos om dit te kan sê.

Het jy al geantwoord?

Sê vir Hom baie duidelik Ja of Nee!

Daar is nie 'n derde moontlikheid nie.