Bron: Die Kerkblad, 2007. 3 bladsye.

Die vraag na God …

son en wolke

Die nuwe boek van die Oxfordse natuurwetenskaplike, Richard Dawkins, The God Delusion, het opnuut die eeu-oue vraagstelling na die bestaan van God op die voorgrond geplaas. (Richard Dawkins moet nie verwar word met Stephen Hawking van Cambridge nie.)

Vir mense van Joodse, Christelike en Moslemse geloofsoortuiging is dit ’n absurde vraag, maar vir talle natuurwetenskaplikes, ateïste en ander soorte gelowiges is dit ’n klinkklare konklusie: God bestaan nie. Dawkins voer aan dat die bestaan van ’n persoonlike God wetenskaplik nie bewysbaar is nie, dat dit op bygeloof berus, en dat die geloof in so ’n God vir die mense en vir die samelewing selfs gevaarlik en ondermynend is. Dawkins is natuurlik nie die eerste wetenskaplike wat tot hierdie konklusie gekom het nie.

God bestaan nie🔗

Die filosoof Ludwig Feuerbach (1804-1872) het geredeneer dat die idee van God voortspruit uit die ervaring van die mens self. God is ’n wensdroom en word in stand gehou deur ’n illusie. God is ’n projeksie van die menslike gees, van die mens se verlange. Dis nie so dat God die mens na sy beeld gemaak het nie, nee, eerder omgekeerd: die mens skep vir hom ’n God na sy (die mens se) beeld. God bestaan nie.

Die maatskappy-kritikus Karl Marx (1818-1883) sluit aan by Feuerbach, maar fokus meer op die sosiaal-ekonomiese toestande. Dis immers die onderbou van ekonomiese kragte wat die bowebou van kuns en kultuur, politiek en godsdiens, ja, alles bepaal. Dis die méns wat godsdiens maak en nie godsdiens die mens nie. Menslike selfstandigheid en vryheid eis dat God afgeskaf word. Die opheffing van alle vorme van godsdiens, wat die mens verslaaf en bedwelm, is die voorvereiste vir ware geluk. Die mens is die hoogste wese en alle verhoudings wat die mens verneder en verslaaf, moet verwerp word. “Hoe meer die mens op God vertrou, hoe minder hou hy van homself oor.” Omdat godsdiens die mens se aandag van die nood hier-en-nou wegtrek en verskuif na ’n verre toekoms van ’n “siel in die hemel”, is godsdiens “opium van die volk”.

Die Duitse filosoof Friedrich Nietzsche (1844-1900) het beweer: “God is dood; God bly dood; ons het hom doodgemaak.” Hierdie uitspraak moet egter nie oppervlakkig verstaan word nie. Navorsers wys daarop dat hy hom met hierdie uitspraak verset het teen die Christelike konsep van God van sy tyd. Die bonatuurlike God, die God van die vooruitgang in die geskiedenis, die God van moraliteit en die God wat met die menslike verstand bewys kan word, dáárdie God is dood.

Die psigo-analitikus Sigmund Freud (1856-1939) borduur voort op die patroon van “God is wensdenkery”. Godsdienstige idees is illusies en vervullings van die oudste, sterkste en dringendste wense van die mens, daardie wense wat na die mens se onderbewussyn weggedruk is. Een van die sleutelelemente in alle godsdienste is die verering van ’n vaderfiguur en so ook is die geloof in ’n persoonlike God niks anders nie as ’n verheerliking van ’n (aardse) vaderfiguur. So gesien, is godsdiens ’n onvolwasse reaksie op die besef van hulpeloosheid, ’n kinderlike waan-idee, ja, wensdenkery.

kind wys na lug

In die sestigerjare van die vorige eeu het daar in die VSA ’n God-is-dood-teologie ontstaan (William Hamilton en Thomas J.J. Altizer), waar ’n hele aantal motiewe ’n rol gespeel het. Nie net is beweer dat die klassieke bonatuurlike voorstellings van God dood is en moet verdwyn nie, maar ook dat daar nooit ’n God was (en is) nie. Die woord “God” moet radikaal nuut geformuleer word; mense ervaar God nie meer nie, behalwe as die groot afwesige.

Op soek na antwoorde🔗

Die vraag na God bly die mense boei en sal hom ook nooit loslaat nie. Die Godsvraag bly ’n lewensvraag. Dit verbaas ook nie dat wetenskaplikes telkens na “sagter” antwoorde soek om hierdie “harde” vraag – vir die moderne mens – te beantwoord nie. Ek noem slegs enkele van hierdie pogings. Die een poging word genoem prosesteologie en word verbind met name soos Alfred N. White­head (1861-1947), Charles Hartshorne en Schubert Ogden. Abstrak beoordeel, is God oneindig en alomteenwoordig; konkreet gesien, verander God soos die wêreld verander. Hoewel sy liefde onveranderlik is, verander Hy tog soos wat sy ervaring met die wêreld ontwikkel. God word enersyds deur die wêreldproses verryk, terwyl Hy andersyds hierdie proses tot nuwe waardes en hoogtes opvoer deur nuwe moontlikhede te open.

’n Volgende poging is te vind by die kritiese Nederlandse teoloog Harry Kuitert (1924). Hy gaan daarvan uit dat “alles wat ons van Bo sê, van benede kom”. Dis ménse wat oor God praat. Uitgaande van die evolusieteorie moet dan gesê word: “Eerst waren er mensen en toen God.” Die mens het uit die dier ontwikkel, en die eerste mense het vir hulle stamgode uitgedink om hulle te help teen die chaos, die dreigende natuurkragte en ’n onbeheerbare lot. Ook Israel het sy stamgod gehad, ’n stamgod wat uiteindelik al die ander oorleef het. Wat Jesus gedoen het, is om ook nie-Jode toegang te laat kry tot hierdie God van Israel. En vandag: Bestaan God nog? Nie meer as persoon nie, maar wie weet, mense moet maar op soek gaan …

Vier jaar gelede het in Suid-Afrika ’n nuwe beweging, genaamd die Nuwe Hervorming, ontstaan. In die boek Die Nuwe Hervorming (2002), onder redaksie van Piet Muller, soek hulle ’n antwoord op die vraag na God in die rigting van (wat genoem word) “panenteïsme”. Hierdie groot woord beteken “God is in alles” en “alles is in God”. Die tyd vir ’n nuwe Godsbeeld het aangebreek; die persoonlike, bonatuurlike Godsbeeld is uitgedien. Gevolglik kan 'n mens ook nie meer tot God bid nie, jy kan net oor “hom” (dit?) mediteer. “Die Here is my herder” beteken hiervolgens niks anders nie as “die aarde versorg my” (Hansie Wolmarans).

Godsbewyse?🔗

Deur die eeue is daar probeer om op die vraag na die bestaan van God redelike antwoorde te gee. So het daar ’n reeks sogenaamde “Godsbewyse” ontstaan. Die groot Katolieke teoloog Thomas van Aquino (1225-1274) is veral hiervoor bekend. Hy het vyf “bewyse” opgestel: eerstens, alles wat beweeg, vra om ’n eerste beweger; tweedens, alles het ’n oorsaak en dit vra om ’n eerste oorsaak; derdens, alle toevallighede roep na ’n eerste noodsaaklikheid; vierdens, alle morele “goed” vra na ’n hoogste goed; vyfdens, alles moet ’n bepaalde doel hê. (Die Switserse teoloog Karl Barth het by geleentheid speels opgemerk dat, indien hy een “Godsbewys” sou kon noem, hy na die bestaan van die Godsvolk Israel sou verwys.) Daar moet egter in gedagte gehou word dat Thomas nie bedoel het om die bestaan van God met redelike argumente te “bewys” nie, maar om ondersteuning te verleen aan die reeds bestaande geloof in God. Die hoofrede vir geloof in die bestaan van God is God se selfopenbaring. Die “Godsbewyse” is eerder steunsels as “bewyse”.

God se selfbekendmaking🔗

Die klassieke Christelike geloof gaan uit van ’n bepaalde vertrekpunt, van God se selfopenbaring in die skepping, in die Bybel en in Jesus Christus. Dit val op dat die Bybel nie met “God as probleem” begin nie, maar met "God as Skepper": In die begin het God die hemel en die aarde geskep. En dan vervolg die Skrif met God as Redder. Twee maal, in die Ou Testament, red Hy sy volk, uit Egiptiese slawerny en uit Babiloniese ballingskap. Daarmee begin ook die Nuwe Testament, met God wat sy volk van hulle sondes verlos deur Jesus Christus. Die onderskeid tussen Skepper en skepping is van deurslaggewende betekenis vir die Godsbeskouing van die Bybel. God is nie deel van sy skepping nie, en sy skepping is nie deel van God nie. En tog is God nie afwesig in sy skepping nie. Hy is deur sy Gees werksaam teenwoordig, doelgerig na ’n goeie eindpunt toe. Sy koninkryk kom!

blommeveld

Die God van die Bybel kan nie reg verstaan word buite die openbaring in Jesus Christus om nie. Niemand kom na die Vader behalwe deur Hom nie, en wie Hom gesien het, het die Vader gesien. Wie na God soek buite Jesus Christus om, bevind hom/haar in ’n donker tonnel sonder einde.

Dis waar wat Dawkins sê: die God van die Bybel kan nie bewys word nie. Maar dit kan ook ewe min bewys word dat Hy nié bestaan nie. Indien jou vertrekpunt is dat slegs dit bestaan wat wetenskaplik bewys kan word, dan gaan jou vertrekpunt jou eindpunt bepaal. As jy met ’n geslote wêreldbeeld begin, sal jy met ’n geslote wêreldbeeld – sonder God – eindig. Maar dis ’n baie eng beginpunt. Die menslike verstand kan baie min dinge volledig “bewys”, en daarby is al die bewyse baie voorlopig en gebrekkig van aard. “Bewese” teorieë moet telkens weer hersien word. God kan nie bewys word nie. Hy wil ook nie bewys word nie. Hy wil net geglo word. Hy wil ontmoet word. Hy wil liefgehê word. Hy wil gehoorsaam word. “Hy is wat Hy is”, “Hy sal wees wat Hy sal wees.” Hy is hoog, maar Hy is ook naby, selfs in ons, deur sy Gees. Maar God verwag van sy kinders dat hulle so sal lewe dat sy Naam nie vanweë hulle onchristelike optrede bevraagteken en belaster sal word nie. Christene se optrede moet mense eerder na God laat uitvra en mense nader na Hom toe bring.

Dit alles beteken nie dat die vraag na – en geloof in – God ’n vanselfsprekende vraag is waarop ’n goedkoop antwoord gegee kan word nie. Groot geloofshelde in die Bybel het dikwels gevoelens van intense Godverlatenheid geken en ervaar, hulle het met God geworstel en kritiese vrae gevra: “Waar is U, Here?”; “Waarom gebeur dit of dat?”; “Hoe moet ek U wêreldbestier verstaan?” Maar uiteindelik sal ons ons weer aan Hom oorgee, deur Hom ingebreek en oorrompel word, hierdie God van Abraham, Isak en Jakob, hierdie Vader van ons Here Jesus Christus – dus, nié die God van die filosowe nie (Pascal). Net by Hom is ware lewe, groot geluk en volle vrede te vind – vir tyd en ewigheid.