Bron: Vox Viva. 3 bladsye.

Die wereld na Emmanuel Kant

U het dit al opgemerk – wanneer u oor God praat, vind almal dit nie so vanselfsprekend dat dit enigsins moontlik is nie.  Dit het eintlik onmoontlik geword om oor God te praat, sonder om daarmee saam baie meer te sê.  Daar is onmiddellik baie wat u moet verduidelik oor wie hierdie God is van wie u praat en hoe dit enigsins moontlik is dat u met sulke stellige sekerheid kan sê u ken Hom.  Die onbevangendheid waarmee en eenvoudige manier waarop vroeër oor God gepraat kon word, het verdwyn.  Dit het problematies geword om die eerste artikel van ons Geloofsbelydenis ter sprake te bring.  Hoe kan dit?!  ‘n Belangrike rede hiervoor, is dat ons in ‘n wêreld lewe na die wêreldberoemde filosoof Immanuel Kant. Ons word eenvoudig nie meer toegelaat om dinge oor God te sê wat ons graag wil nie.

Kennismaking🔗

Wie was dié man wat die wêreld waarin ons vandag leef, so ingrypend beïnvloed het?  Geen filosoof of teoloog het so ‘n groot invloed gehad op die verloop van die teologie en filosofie van die negentiende en twintigste eeue as die man van Skotse afkoms nie.  Ten minste, sy grootvader het aan die einde van die sewentiende eeu vanaf Skotland na Duitsland geëmigreer.

Sy van is eers “Cant” gespel.  In Duitse uitspraak word dit natuurlik “Sant” en uiteindelik “Zant”.  Die filosoof Immanuel het dit laat verander na “Kant”.  Hy is gebore in Köningsberg, Oos-Pruise op 22 April 1724.  In sy geboortestad het hy vanaf 1755 tot sy dood in 1804 filosofie aan die plaaslike universiteit doseer. As jongman het hy teologie gaan studeer met die oog op die Woordbediening en hierdie studies voltooi.  Hy het by geleentheid gepreek, maar nooit predikant geword nie.

Ná die Verligting🔗

Kant het geleef in die volle nawerking van die denke van die sogenaamde “Verligting” (Aufklärung) wat in Duitsland groot invloed uitgeoefen het.  Die feit dat denkers wat die teologie in die negentiende eeu baie sou beïnvloed, nl. Immanuel Kant, G.W.F. Hegel en Friedrich Schleiermacher almal Duitsers was, gee iets weer van die invloed van die denke van die Verligting in Duitsland.  Vrae is gevra oor die plek van die godsgeloof in die wêreld en godsdiens in die lewe van die mens.  Kant het op sy manier ‘n plek wou gee aan die godsdiens in die etiese en morele aspekte van ons lewe.

Kant se probleme met Abraham wat van die Here die opdrag gekry het om sy seun, Isak, te gaan offer, laat ons iets sien van die plek wat hy aan die geloof in God gegee het.  Vir Kant was die opdrag van die Here aan Abraham totaal onvanpas en onaanvaarbaar.  Met sekerheid kon hy sê dat hy nie sy seun sou offer nie.  Dit kan tog nie volgens sy eie morele en etiese insigte nie!  Van hierdie etiese insigte het hy groot sekerheid.  Waarvan hy nie seker kon wees  soos Abraham dit was nie, is dat dit werklik God was wat die opdrag gegee het.  Selfs al sou hy ‘n stem regstreeks uit die hemel kon hoor wat vir hom die opdrag gee, sal hy geen sekerheid oor God kon hê nie.

Die opdrag aan Abraham is volgens Kant “onsedelik”.  Onvanpas.  Vóór Kant is dit vanselfsprekend aanvaar dat God só ‘n opdrag kon gee.  Hy is immers God en ons leer Hom ken uit sy Woord.  Ook sy woord aan Abraham.  Geloof in God gaan vooraf aan alles.  Dit is vanselfsprekend.  Vir Kant nie meer nie.  Vir Kant dink jy eers na oor wat goed en moreel is en vorm dan jou idee van wie en wat God is en kan wees.  Die vanselfsprekendheid dat daar eerste aan God gedink word, selfs in die mees onbegryplike gebeure op aarde, verdwyn by Kant.

Geloof in God wat sy hand het selfs in die mees onverklaarbare menslike-en natuurrampe op aarde begin verdwyn.  Geloof wat bereid is om ons rede te onderwerp aan wat God in hierdie wêreld kan en mag doen, word ‘n vreemde geloof.  Die vertrouensvolle oorgawe in God wat dinge doen wat indruis teen wat ons “goed” vind, word onaanvaarbaar.  Die afstand tussen geloof en die God wat sy eie Seun oorgee tot in die dood, groei vir Kant onoorbrugbaar groot.  Verlossing kan tog nie moontlik wees by ‘n (immorele) God wat bereid is om te laat doodmaak om iets goed te bereik nie?!  Die brug tussen geloof en rede (verstand) word ‘n brug te vêr.

Subjektief🔗

Dit waarvan ons seker kan wees, word bepaal vanuit die subjek (mens).  Dit is sekerlik die hooftema van Immanuel Kant se denke en sy invloed op ons tot vandag.  In sy Kritik der reinen Vernunft (Kritiek op die suiwer rede) uit 1781 sê Kant dat ons oor die werklikheid buite onsself niks met sekerheid kan sê nie.  Ons ken met ons verstand en dit wat nie tot die kategorie van ons verstand hoort nie, kan ons geheel en al nie bedink nie.  Dit pas nie in ons denkraamwerk in nie.

Wanneer ons byvoorbeeld ‘n voorwerp sien, sien ons wel iets.  Maar is dit ons self wat daaraan eienskappe en identiteit toeken.  Ons besluit wat die kleur, vorm en grootte daarvan is.  Of dit egter in werklikheid wel so is, weet ons nie seker nie.  Daar is geen manier om dit te toets nie.  Toetsing sou alleen moontlik wees as jy die objek self sou kon ondersoek.  Maar só ‘n ondersoek sou op sy beurt slegs weer via ons eie waarneming kon gebeur.  In alles wat ons ken, is ons self betrokke.  Kennis is subjektief.  Die voorwerp buite onsself bly vir ons onkenbaar.  Das Ding an sich (die objek self) kan nie geken word nie.

Eensaam en alleen🔗

Alles wat ons ken, is vasgevang in beelde van ons eie verstand.  Beelde wat ons eie verstand skep.  Wat buite ons verstand is bly ‘n groot geheimenis.  ‘n Misterie.  God ook.  Alles wat ons oor God sê is subjektief.  Dalk is Hy heel anders as wat ons dink.  Hy het dalk totaal ander eienskappe as wat ons dink.  Eintlik is ons blindes wat in die donker tas en dink ons ken God.

God is buite ons en ook verhewe bo tyd en ruimte.  Ons kan alleen oor God dink in menslike begrippe.  Ons sal byvoorbeeld sê God is onbeweeglik.  Of Hy is bo ons.  Hy is onverganklik, sondeloos en onsienlik.  U sien ons praat oor God in menslike terme.  Volgens Kant kan dit dan nie oor die ware God gaan nie.  Ons ken net ons eie beelde oor God.  Mense is met hulle denke oor God met hulle self besig.  Hulle is alleen.  Elke vorm van denke oor God is uitgesluit.  Kant wil God, God laat wees – glad nie te vereenselwig met ons wêreld en tyd nie.  Hy wil God nie vereenselwig met ons menslike idees nie.

Selfverstaan en onsekerheid🔗

Dit is verseker nie oordrewe om te stel dat die gedagtegang van Immanuel Kant ‘n waterskeiding in die denke van die Westerse wêreld veroorsaak het nie.  Ook in die teologie van die Weste.  Daarby bedoel ek ten minste twee dinge.

In die eerste plek het daar in die lewensbeskouing van mense ‘n skuif plaasgevind.  ‘n Skuif weg van God na die mens.  Die mens kom in die middelpunt te staan.  Daar word gedink vanuit die mens.  Kennis is nie meer in die eerste plek kennis van iets wat die mens te bowe gaan en buite die mens is nie.  Kennis is nie meer goddelike waarheid nie.  Hoe langer hoe meer word in die Westerse wêreld kennis beskou as dit wat beperk is tot die menslike en aardse dinge.  Kennis is selfkennis.  Nie meer kennis van God nie.  Godsdiens word ‘n manier om mense (en veral onsself) beter te verstaan.  Hierdie kennis het ook niks te doen met goddelike sekerheid nie. Kennis is beperk tot die horison van die mens.  So vêr as wat my gedagtes kan gaan, so vêr gaan my kennis.

Vervolgens en ook in noue aansluiting by die eerste punt, het Kant se filosofie tot gevolg dat alle teologie onseker word.  Geloofskennis is nie meer ‘n sekerheid  nie.  Alle gepraat oor geloof wat ‘n bewys is van die dinge wat ons nie sien nie, word vir Kant onbegryplik.  Geloofskennis gee geen sekerheid nie, maar eerder onrustigheid.  Dit is ook die bedoeling van geloofskennis.

Horison🔗

God kan geen voorwerp van ons kennis meer wees nie.  Kant glo dat mense altyd oor God sal bly praat, want dit kan nou eenmaal nie anders nie.  Mense bly gewoon oor God praat.  God word dan egter wel eerder meer iets van die “goddelike” aspekte van ons lewe.  “God” word ‘n begrip, gedagte en woord wat te doen het met menslike taal.  Dit is ‘n woord wat ons herinner aan dit wat ons self geen kennis van of in elk geval geen greep op het nie.  Wat ons ook al dink oor “god”, het dit in elk geval niks met “kennis” te doen nie.

Hier lê die grootste rede waarom dit vir u en my moeilik geword het om vandag in ‘n 21’ste eeuse Suid-Afrika oor ons God te praat met mense.  Ons kom agter dit is nie meer so vanselfsprekend dat mense verstaan waarvan (van Wie) ons praat as ons van “God” praat nie.

Daar skuil natuurlik ook die gevaar dat as ons self nie goed daarop let nie, ons met mense kan praat oor God en die illusie beleef dat ons goed kommunikeer, maar eintlik oor twee totaal verskillende sake praat.  Vir baie het “god” bloot die diepste verstaan van die mens self geword.  ‘n Woord wat verwys na die diepste wese van ons mense self.  Of dit word as woord wat gebruik word om ons menslike beperkings (horisonne) aan te dui.  Dit dui die uiterste grens aan waaroor ons kan dink of wat ons kan beleef.  Wil ons vandag as Christene getuies wees van die God en Vader van ons Here Jesus Christus, dan sal ons deeglik kennis moet neem van die gedagtewêreld waarmee ons vandag gekonfronteer word.  Ons sal ook moet leer om krities na onsself te kyk in die manier waarop ons oor God vandag en in die verlede gepraat het.  Uit dit alles kan ons, dank God!, uit die Skrif wat werklik God se Woord is, vêrder…