3 bladsye.

Die Werking van die Gees

Vergewing en Vaderskap🔗

Die Evangelies toon aan dat die fondament van die gemeenskap van die heiliges die vergewing van die sondes is. Dit bring ons by die eksklusiewe karakter van die gemeenskap van die heiliges. Die gemeenskap van die heiliges is gebou op die versoening en vergewing wat Christus verwerf het en daarom verskil die gemeenskap van die heiliges wesentlik van ander vorme van gemeenskap soos die van gehudes, vriende, kollegas ens. Ons het egter reeds gesien dat die gemeenskap van die heiliges wel die ander vorme van gemeenskap beïnvloed en so ook verryk en verdiep.

Nou word in die Evangelies die gedagte van die vergewing onmiddellik verbind aan die gedagte van die Vaderskap van God. Jesus leer dit onder andere in die gelykenis van die verlore seun in Lukas 15. Daar is die vergewing van sondes en die (Goddelike) Vaderskap onlosmaaklik aan mekaar verbonde.

Die Vader-kind-verhouding rus op die vergewing van sondes.🔗

Ons moet oppas dat ons die Vader-kind-verhouding nie gaan individualiseer nie. Ongetwyfeld is daar ’n persoonlike element in hierdie verhouding. Elkeen wat glo in die vergewing van sy sondes deur die bloed van Christus mag God sy Vader noem. Maar wanneer ons net die persoonlike in hierdie verhouding beklemtoon dan het ons nog nie by die volle betekenis van die Vaderskap van God volgens die Nuwe Testament uitgekom nie.

In teenstelling tot die opvatting van die rabbyne wat die kindskap van God baie sterk geïndividualiseer het, word in die Nuwe Testament juis die gemeenskapsgedagte so sterk beklemtoon. In verskillende Joodse gebede vind ons die gebedsaanspraak: “My Vader”, terwyl Jesus sy dissipels leer bid het:  “Onse Vader”. Openbaringshistories   moet   ons   die   Vaderskap van God beskou as die realisering van die belofte van die nuwe verbond. Dit is die voortsetting en vervulling van die band tussen die Here en die volk Israel in die Ou Testament.              

Die aanduiding van die Vaderskap van God in die Evangelies wys vir ons dat daar op grond van die vergewing ’n nuwe gemeenskap ontstaan wat so intiem is dat al die gelowiges saam as kinders van die hemelse Vader genoem word. Hier kom dus ook die gesinskarakter van die volk van God aan die lig.

Die Bewerker van die gemeenskap🔗

Die gemeenskap van die heiliges is dus ’n gawe van Christus wat voortvloei uit die vergewing van sondes. Die Nuwe Testament leer ons egter dat ons die wonder van die gemeenskap van die heiliges ook nog van die kant van die Heilige Gees kan benader. Die verband tussen die Heilige Gees en die gemeenskap van die heiliges vind ons veral in die Handelinge van die apostels.

Die apostel Paulus skrywe op twee plekke in sy briewe oor die “gemeenskap van die Heilige Gees” (2 Kor. 13:18; Fil. 2:1). Die vraag is wat Paulus met die uitdrukking bedoel? Gaan dit hier om ’n gemeenskap wat die gelowiges met die Heilige Gees beoefen of bedoel die apostel hier ’n gemeenskap wat deur die Gees veroorsaak word? Dit lyk vir ons dat Paulus tot uitdrukking wil bring dat die Heilige Gees die Bewerker of die Skenker van die gemeenskap van die heiliges is, want anders sou ons die gedagte kry dat daar naas die gemeenskap met Christus ook nog ’n aparte gemeenskap met die Gees sou bestaan, terwyl die Skrif ons juis leer dat die gemeenskap met Christus ’n gemeenskap in die Gees is. Wat die Gees bewerk sien ons op Pinkster. In Handelinge 2 lees ons van die uitstorting van die Heilige Gees. Op Pinkster word die gemeenskap met God in sy hoogste vorm en tegelykertyd die gemeenskap van die heiliges gebore.

Voor Pinkster was daar ook reeds gemeenskap tussen die Here en sy volk en ’n gemeenskap van die gelowiges met mekaar, want die Heilige Gees werk reeds in die Ou Testament. Maar op Pinkster kom Christus deur sy Gees woon in sy kerk. Ná en as vrug van die verlossingswerk van Christus word die Heilige Gees uitgestort. Die gemeenskap tussen die Here en sy volk word openbaringshistories op Pinkster gerealiseer. Hierdie gemeenskap is nie alleen ’n gemeenskap met God nie maar ook ’n gemeenskap met mekaar.

Individu en gemeenskap🔗

Die gemeenskap wat in Handelinge 2 geteken word is van ’n sodanige karakter dat die individualiteit ten volle gehandhaaf bly. Op Pinkster is almal vervul met die Heilige Gees (vers 4). Dit wys op die gemeenskap. Almal wat aanwesig was, kry deel aan dieselfde Gees.

Dit is egter geensins die geval dat die enkeling hierdeur in die groep verdwyn nie. Die gemeenskap wat op Pinkster deur die Heilige Gees bewerk word, is nie ’n volksmassa of ’n menigte waarin die persoonlikheid van die enkeling verdwyn nie. Want daar is ook tonge van vuur wat hulleself verdeel en op elkeen van die aanwesiges gaan sit het (vers 3). Daar was dus op Pinkster ook ’n persoonlike aanraking met die Heilige Gees.

In die wêreld sien ons die twee uiterstes. Aan die een kant kry ons die beklemtoning van die gemeenskap of die saamhorigheid, maar dan op so ’n wyse dat die individu in die massa verdwyn. En uit reaksie sien ons andersyds weer ’n eensydige benadrukking van die enkeling wat lei tot individualisme.

Die wonder van die gemeenskap van die heiliges is dat dit ’n gemeenskap is waarin die enkeling tot sy volle reg kom. Individualiteit en eie persoonlikheid word deur die gemeenskap van die heiliges nie vernietig nie maar juis tot sy rykste ontplooiing gevoer. Dit is besonder treffend deur Paulus tot uitdrukking gebring in sy tekening van die kerk as ’n liggaam met baie lede. Die hand en die voet, die oog en die oor het elkeen sy eie plek in die liggaam en vervul sy eie taak ten behoewe van die liggaam. Daar is die eenheid van die liggaam nieteenstaande die verskeidenheid van die lede (1 Kor. 12 :12-27).

Gawe en opgawe🔗

Ten slotte leer Handelinge 2 ons dat die gemeenskap van die heiliges in die eerste plek ’n gawe is, ’n gawe van Christus. Maar tweedens is dit ook ’n opgawe vir die kerk en vir elke gelowige.

Die Gees bewerk die gemeenskap. Dit kan nie sterk genoeg beklemtoon word nie dat die gemeenskap van die heiliges ’n gawe van Christus is. Petrus sê in sy prediking: “Hy (d.i. Christus) het dit uitgestort, wat julle nou sien en hoor” (Hand. 2 : 33).

Maar aan die ander kant lees ons ook in Handelinge 2 dat die gelowiges volhard het in die gemeenskap (vers 42). En in vers 46 word dit selfs genoem ’n eendragtige volharding, Die werkwoord volhard wys op ’n kragtige inspanning en die werkwoordvorm wat in vers 42 gebruik word wys ook op ’n voortdurende inspanning.

Die Heilige Gees skakel die gelowige in in die beoefening van die gemeenskap van die heiliges. Die gemeenskap van die heiliges is ’n gawe van Christus en word deur die Heilige Gees bewerk, maar dit moet deur ons beoefen word.

En dan noem Handelinge 2:41-47, waar die gemeenskap van die heiliges op so ’n treffende wyse geskilder word, vier kenmerke van hierdie wonderlike gemeenskap.

Vier kenmerke🔗

In die eerste plek is die gemeenskap van die heiliges ’n Woordgemeenskap. Die gelowiges in Handelinge 2 het volhard in die leer van die apostels (vers 42). Met die leer is bedoel die didache, die apostoliese verkondiging. Vir die beoefening van die gemeenskap van die heiliges is die Woord van God onmisbaar. Deur die Woord van die Here moet die gemeenskap gevoed en versterk word. Daarom is die kerkgang op Sondag en die persoonlike ondersoek van die Bybel van so ’n groot belang.

’n Tweede kenmerk is die breking van die brood. Ook daarin het die gelowiges te Jerusalem volhard (vers 42). Dit dui op die nagmaal soos ’n vergelyking met vers 46 ons kan leer waar in onderskeiding van die breking van die brood die gebruik van voedsel genoem word. Die sakrament van die heilige nagmaal is ook van groot belang in verband met die opbou van die gemeenskap van die heiliges.

’n Derde kenmerk is die gebed (vers 42). Gebed, gemeenskaplik gebed in die erediens en ook persoonlike gebed in die binnekamer is besonder belangrik vir die versterking van die gemeenskap van die heiliges.

’n Vierde kenmerk van die gemeenskap van die heiliges is die gemeenskaplike besit (vers 45). Die gelowiges het mekaar gedien met hulle goedere.

En vers 46 wys dan samevattend daarop dat die gemeenskap van die heiliges as Woordgemeenskap, sakramentsgemeenskap, gebedsgemeenskap en goederegemeenskap ook ’n saamwees is. Hulle was bymekaar (vers 44), ja hulle was eendragtig bymekaar. Die woord eendragtig in vers 46 wys op ’n innerlike band van gemeenskap.

Die eenheid in Christus deur die Heilige Gees het sigbaar geword in ’n heerlike eenheid met mekaar. Elkeen se nood het almal aangegaan, en almal se welsyn, stoflik sowel as geestelik, was elkeen se verantwoordelikheid.