1 bladsye. Vertaal deur Nic Grobler .

Die Woord van God

God is so groot dat ons Hom nie kan ken tensy Hy Hom aan ons openbaar nie. Só groot is Hy dat ons Hom nie kan sien of aanraak nie (1 Tim. 6:16). Daarom openbaar Hy Homself deur sy Woord as ons Verlosser en ons Vader. Dit behoort nie vir ons vreemd te wees nie, want spraak is immers die belangrikste manier van kommunikasie selfs onder ons, wat na sy beeld geskape is.

Nietemin is dit ʼn wonder dat God met mense praat. Dit is ʼn wonder, in die eerste plek, dat die oneindige en ewige God, in ons beperkte en onvolmaakte menslike taal, van Homself en sy heerlikheid praat en waarlik iets van Homself aan ons bekend maak. Dit is waarlik God wat ons ken en met wie ons gemeenskap beoefen deur sy Woord.

God se spreke met ons is, in die tweede plek, ʼn wonder omdat spraak, net soos met ons menslike taal, meer is as net  ʼn manier van kommunikasie. Dit is die wyse waarop ons gemeenskap met God beoefen, Hom ken en Hom liefhet. Soos  ʼn man die stem van sy geliefde vrou ken en liefhet, so ken ons God en het ons Hom lief, wanneer ons sy stem hoor (Hoogl. 2:14).

In die derde plek is die openbaring van God van Homself deur sy Woord  ʼn wonder omdat die Woord nie blote klanke is, of tekens op papier nie, maar inderdaad  ʼn lewende woord wat tot in ewigheid bly (1 Pet. 1:23). Dit is  ʼn woord wat ons nie net lees en hoor nie, maar wat  ʼn sigbare en  ʼn tasbare openbaring word van die lewende en onsienlike God. (1 Joh. 1:1), sodat ons die ewige onsienlike God sien in die persoon van sy Seun, die Woord wat vlees geword het.

Laastens is die Woord ook  ʼn wonder omdat dit  ʼn mees genadige en barmhartige daad van God is om met ons te praat. Sou dit nie verwag kon word dat Hy, weens ons sondeval, Hom van ons sou onttrek nie? Tog spreek Hy, en Hy spreek vrede.

Dat God as ons Vader en ons Verlosser in sy barmhartigheid met ons praat, is alleen moontlik deur die onskeibaarheid van die geskrewe, hoorbare, gelese en gepredikte Woord van die vleesgeworde Woord. Die een bestaan nie sonder die ander nie. Alleen deur die geskrewe Woord ken ons die Lewende Woord; daar is geen ander manier nie, watter aansprake daar ook al mag wees van diegene wat deesdae nog van direkte openbarings praat. Ook kan die geskrewe Woord nie begryp en ontvang word, tensy ons dit ken en ontvang deur daardie Lewende Woord wat vlees geword het nie.

In hierdie verband bestaan dwalings van twee kante. Enersyds moet ons enige sprake dat Christus buite die Skrif geken en geglo kan word, vermy en nie dink dat ons, noudat die Bybel voltooi is, met Hom gemeenskap kan beoefen, Hom kan hoor en Hom kan sien sonder die Skrifte nie. Andersyds mag ons nooit vergeet nie dat om die Skrif te lees sonder dat ons Christus daarin vind (Joh. 5:39,40), beteken dat ons sonder begrip, en dus tevergeefs, lees.

Hierdie Skrifte is van die vroegste tye af in geskrewe vorm deur God aan ons gegee en so bewaar, sodat dit nooit betwyfel en dit nooit vergeet mag word nie. Dit is net in hierdie Skrif wat dit God behaag het om Hom in en deur ons Here Jesus Christus te openbaar. “Dit is dié” sê Jesus, “wat van my getuig” (Joh. 5:39). Laat ons dan des te meer daarop ag gee (Heb. 2:1).