Bron: Wegwijs. 2 bladsye.

Doop en Opvoeding

Ons kinders is God se kinders, deur God aan ons sorg toevertrou. En Hy wil dat ons hulle voor Hom grootmaak en opvoed. Daarom bring ons hulle in die kerk by die doopvont.

Kruisdraers🔗

Die eerste aspek waar die doop ons by bepaal, is dat ons kinders net soos ons in sonde ontvang en gebore is. Hulle het net soos ons die reiniging deur die bloed en die Gees van Christus nodig.

Opvoeding skep nie slegs ruimte vir en werk aan die ontplooiing van die gawes wat ons kinders van God gekry het nie. Dit sal altyd saamgaan met die stryd teen die sonde. Verbondskinders opvoed tot mense van God (2 Timoteus 3: 16) beteken ook hul opvoeding tot kruisdraers, tot mense wat hul kruis by die volg van Christus blymoedig dra. Om godvresend te leer leef, moet hulle leer om met die wêreld te breek en hul ou natuur te dood.

Ons bely by die doop nie alleen die verdorwenheid van ons kinders nie, maar allereers dié van onsself. Ons moet hulle opvoed tot die stryd wat ons allereers self in ons eie lewe moet voer. Dit beteken dat ons langs ons kinders staan in hulle stryd. Dat ons begrip vir en geduld met hul swakhede het. Nie om dit goed te praat nie, maar om juis saam daarteen te stry.

Ons moet hulle leer om die stryd in die geloof te voer deur die navolging van Christus. En dit moet ons steeds meer laat besef hoe afhanklik ons self van die Here is. Wie weet hoe swaar die stryd is, sal slegs die oog op God rig, juis ook vir die vervulling van die opdrag om vir ons kinders die stryd te leer en hulle daarin voor te gaan.

Hoe nodig het ons die troos van die doop vir onsself en ook vir die opvoeding van ons kinders!

Belyers🔗

Die doop bepaal ons by ons eie sonde en swakheid. Maar op so ’n manier, dat ons leer vertrou op die Here alleen. Hy sluit sy verbond met ons en ons kinders om vir ons ’n God te wees. Hy buig Hom in die doop na ons toe en beloof om alles vir ons te wees. Sondige, swak mensekinders mag vir hulself en vir hul kinders vra of God hulle in genade wil aansien. En hul mag daarby pleit op sy grondelose barmhartigheid. Hoe ryk skitter die belofte van God in die doop, die belofte in die Naam van die Drie-enige God: Vader, Seun en Heilige Gees. Die volle rykdom van die verbond van die Drie-enige God word hier na ons toegedra. En dit as pure genade.

Die doop as reinigingsbad leer ons tegelykertyd die noodsaak van die reiniging en die belofte van die reiniging raaksien. En deur dit te gaan sien, leer ons die Here dank en loof! Dit moet ook aan die kinders geleer word. Hulle moet opgevoed word tot belyers wat God se vaderlike goedheid en barmhartigheid erken en bely.

Juis daarom bid ons vir ’n Christelike en godvresende opvoeding, vir hierdie seën wat saamkom as ons deur die Heilige Gees regeer word. Dit gaan immers oor die opgroei en toeneem in Christus. Ingeplant as rank in Christus, die ware Wynstok (Johannes 15). Dit gaan immers oor die opgroei in die genade en in die kennis van ons Here en Heiland, Jesus Christus (2 Petrus 3: 18).

Groter Sorge🔗

As kinders nie die verbond kon breek nie, sou ons ons nie hoef te bekommer oor hulle ewige toekoms nie. Maar ons weet daar is kinders van die verbond wat hulle van die Here afkeer en hul doop verag. Hoe groot is hierdie hartseer vir almal wat dit van naby beleef, ja uiteindelik ’n groot hartseer vir die hele gemeente.

Ouers sal baie klein begin word onder sulke omstandighede. Hulle voel hul onmag om hul kind met die Woord van die Here te bereik. Veral as daar skaars of heeltemal geen gesprek meer oor die Here en sy Woord moontlik is nie. Ouers kan dan baie maklik hulself begin afvra: wat het ons verkeerd gedoen? Hoe moeilik kan dit vir hulle wees om hierdie moeites oor te gee aan die Here, juis as die Here alles vir hulle is en dit hul daarom soveel hartseer veroorsaak om hul kind te sien afdwaal. Uiteindelik is dit al wat hulle kan doen, om na die Here te vlug en hul kind aan Hom te opdra en hul hart voor Hom uit te stort.

Juis nou moet ouers hul troos soek in die verbond. Die Here wil ook dan alles vir ons wees.

Wie sy kind nie meer met woorde kan bereik nie, moet deur sy voorbeeld laat sien dat ook in hierdie omstandighede die Here by ons die eerste plek inneem. Dit is die beste appèl wat mens op sy afdwalende kind kan doen. En dit is die beste wat mens ook sou kon doen vir ander kinders wat ’n mens het. Hulle moet nie die slagoffers word van so ’n situasie nie.

Dit is menslik om na die stem van vlees en bloed te luister. Maar Christus sê: Wie seun of dogter bo My liefhet, is my nie waardig nie (Matteus 10: 37). Juis terwille van ʼn afdwalende kind moet ons saam met Josua bly sê:

Maar ek en my huis, ons sal die Here dien.Josua 24:15b

En dan vind ’n mens ook troos en rus by die Here wanneer jy pleit op grond van die verbond en doop: Here, doen dit, nie omrede ons, maar vir u Naam. Dan staan die Here langs ons in ons verdriet. Hy het nog meer verdriet as ons, dat ons kind, sy kind, afdwaal en sy liefde versmaad. Dan spreek Christus se trane en klag oor Jerusalem wat Hom verwerp het, ons juis sterk aan (Matteus 23:37; Lukas 13:34; 19:41). Dan kan ons na niemand beter toe gaan as na die Here nie!

Waar ons magteloos is en ons kind nie meer kan bereik nie, ja dit wat by mense onmoontlik is, is moontlik by God. Deur so te pleit leer ons ook om dit aan Hom oor te gee.

In hierdie stryd vir ons kind is ons bowenal versigtig dat ons verdriet nie tussen die Here en ons ’n skeiding bring nie. Ons leer bid: Here, heilig ons verdriet, en gee dat ons Christus bly volg en daarby ons kruis blymoedig dra. Alleen so kan ’n mens werklik leer bid en uitsien na die terugkeer van ons kind tot die Here.