Bron: Die Kerkblad, 2007. 2 bladsye.

Draadstropery

draad sny🔗

Draadstropery op plase🔗

Een maal per maand ry ek van Pretoria na Potchefstroom vir ’n redaksievergadering van Die Kerkblad, en elke keer tref dit my: die toenemende draadstropery langs die pad. Eers was dit baie opvallend in die omgewing van Carletonville en Welverdiend waar alle draadheinings geleidelik gestroop is, en tans gebeur dieselfde in die omgewing van Tarlton en Brandvlei. Dit gebeur ook op ander plekke in die land – hoe wyd die voorkoms daarvan is, is aan my onbekend – maar die verskynsel word op baie plattelandse dorpe aangetref. En in nie een van die koerante wat ek lees, het iemand nog ’n artikel of brief daaroor geplaas nie – ’n onverstaanbare stand van sake.

Die vraag ontstaan: Hoe moet ons oordeel oor hierdie grootskaalse draadstropery?

  • Allereers is dit doodgewoon diefstal en daarmee in stryd met die gebod van God. Dit is die onwettige toeëiening aan myself van dit wat aan iemand anders – boere of rade – behoort.
  • Tweedens benadeel dit konstruktiewe boerdery en sodoende die boeregemeenskap. Boere kan wel nog in sulke draadlose kampe saai en oes, maar veeboerdery word prakties onmoontlik. ’n Veewagter vir elke veekudde is nie ideaal vir ’n land wat hom as opkomende ekonomie wil vestig nie.
  • Derdens maak dit padvervoer onveilig en verhoog dit – veral snags – die moontlikheid van padongelukke. En wié is verantwoordelik vir die skade aan voertuie en lewensverlies in sulke gevalle? Kan die draadstropers nie medeverantwoordelik gehou word nie?
  • Vierdens doen dit afbreuk aan die estetiese voorkoms van ’n dorp of stad. As die ingang (en uitgang) van ’n dorp of stad onnet en rommelrig vertoon, met gestroopte of slap-hangende drade, rig dit nie juis 'n vriendelike uitnodiging aan besoekers nie.
  • Laastens laat dit die lastige politieke persepsie ontstaan van “bevryde gebiede” waar enigeen kan gaan plak op andermansgrond en ’n nuwe tuiste kan skep. As die “koloniste” dan die land by die inheemse bevolking “gesteel” het, is draadstropery ’n nuwe manier om “verlore” grondgebied te herwin - kan gedink word. Ek herhaal: hierdie persepsie begin ontstaan – en ’n gevestigde persepsie word baie moeilik uitgeroei.
  • Hierdie – wat ons kan noem – “ontgrensing” van plase kan onmoontlik ongestoord voortgaan. Dit is noodsaaklik dat die boeregemeenskap en die regering indringend en omvattend daaraan sal aandag gee. ’n Goeie oplossing vir die probleem is noodsaaklik vir ’n verantwoordelike samelewing.

Draadstropery in die samelewing🔗

Ons samelewing word nie net geteister deur fisiese draadstropery van plaasheinings nie, maar ook deur die stropery (en ontgrensing) van samelewingswaardes – waaroor ons al dikwels geskryf het. As die waardes en norme wat die grense van ’n verantwoordelike samelewing bepaal, wegval, dan gaan so ’n samelewing moeilik staande bly. Hier dink ek onder andere aan dinge soos misdaad, korrupsie, dwelmverslawing, magsmisbruik en rassisme wat die onderbou van ons samelewing wegkalwe. Solank ons samelewing deur hierdie monsters ondermyn word, kan dit nie as ’n verantwoordelike samelewing beskryf word nie.

doringdraad

Draadstropery in die teologie🔗

Die kern van die Christelike geloof bestaan uit drie-in-een eenvoudige belydenisse: geloof in God die Vader, ons Skepper; geloof in Jesus Christus, ons Verlosser; geloof in die Heilige Gees, ons Vernuwer (HK 7:22; 8:1). Of anders gesê: geloof in Jesus Christus, my Verlosser; geloof in God die Vader, my Bewaarder; geloof in die Heilige Gees, my Lewendmaker (HK 1:1). Uiteraard kan op elk van hierdie drie artikels uitgebrei word en byvoorbeeld gevra word: Wie, en hoe, is hierdie God? Wie, en hoe, is hierdie Jesus Christus? Wie, en hoe, is hierdie Heilige Gees?

’n Geloofsartikel wat vandag al hoe meer in Suid-Afrika in dispuut kom, handel oor die persoon en werk van Jesus Christus. Is Hy werklik die Heiland, of is Hy een van baie paaie na God? Het Hy waarlik liggaamlik uit die dood opge­staan, of dien ons ’n dooie Jesus wat net ’n mooi voorbeeld nagelaat het? Hierdie vrae is veral deur die beweging wat as Nuwe Hervorming bekendstaan, ter sprake gebring en deur hulle op ’n wyse beantwoord wat die klassieke Christelike geloof ondermyn. Ek tipeer dit as draadstropery en “ontgrensing” van die Christelike geloof – dit wil sê as ons hier nog hoegenaamd van Christelike geloof kan praat.

Draadstropery in die eie hart🔗

Waarskynlik die grootste gevaar van draadstropery vind natuurlik in ’n mens se eie hart plaas, dáár waar jy nie meer tussen goed en kwaad en tussen reg en verkeerd (wil) onderskei nie. Die groot gevaar is dat die grensdrade in ’n mens se eie hart wegval en jy alle gevoel vir moraliteit, fatsoenlikheid, welvoeglikheid en betaamlikheid verloor. Daarom waarsku die Skrif ook: “Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe” (Spr 4:23).

hart en dorindraad

Grense, geloofs- en morele grense, laat ons dit ten slotte opmerk, is nie bedoel om die lewe te beknot of te beskadig nie, maar juis om lewensruimte te skep en te bevorder. ’n Mens kan alleen vry wees as jy verantwoordelik is, en verantwoordelik as jy vry is. Alleen Christus maak ons waarlik vry en alleen sy Gees dra ons op die pad van verantwoordelike vryheid en vrye verantwoordelikheid.