Bron: Die Kerkblad. 3 bladsye.

Ds. Dirk Postma en Christelik-nasionale Onderwys

As die lewe van ds. Dirk Post­ma tans in oënskou geneem word, is daar veral twee fasette van sy arbeid wat opvallend is:

  1. sy onvermoeide ywer vir die ver­kondiging van die Evangelie in Nederland en in Suid-Afrika; en
  2. sy volgehoue werksaamhede vir die bevordering van opvoedende onderwys in die algemeen, en die opleiding van teologiese studente en predikante in die besonder.

In hierdie artikel word veral gelet op die merkwaardige bydraes wat hy gelewer het ter uitbouing van Christelik-nasionale onderwys in Nederland en in Suid-Afrika.

Postma se eie onderwys en opleiding🔗

Om ds. Postma se ywer vir onder­wys te verstaan, is dit vooraf nodig om kortliks na te gaan hoe sy eie onderwys en opleiding verloop het. Sy eie opleiding vir predikant het hy veral by ds. T.F. de Haan ontvang, en op 10 Junie 1840 word Postma voor die Provinsiale Sinode van Friesland skriftelik en mondelings geëksamineer. De Haan het by Post­ma ’n besondere liefde vir die ou tale gekweek. Hoewel Postma slegs ’n jaar intensiewe opleiding gehad het, het hy met sukses die volgende vakke afgelê: Hebreeus, Grieks, Uitlegkunde, Leerstelligge waar­hede, en Bybelse en kerkgeskiede­nis. Vir ’n deeglike wetenskaplike vorming was ’n jaar studie te kort. Postma het dit self terdeë besef en juis hierdie besef het hom in sy latere lewe gedurig gemotiveer tot selfstudie en in sy ywer vir onder­wys vir andere.

Op 19 Junie 1840 word hy deur die Provinsiale Sinode van Friesland toegelaat tot die bediening en op 5 Julie 1840 word hy in sy eerste ge­meente, Minnertsga, bevestig. Na Minnertsga het hy ook Middelstum, Wildervank en Zwolle bedien. Dit is veral te Zwolle waar hy aktief be­trokke geraak het by die onderwys van sy volk se kinders.

Die Christelike skool te Zwolle🔗

As die leidende figuur van die Christelike Afgeskeide Gerefor­meerde Kerk in die provinsie Overijssel het Postma kerk en ge­meenskap roepingsgetrou gedien. Hier te Zwolle het hy hom beywer vir Christelike onderwys en doel­treffender opleiding van teologiese studente. Postma se werksaamhede vir die stigting van ’n Christelike skool moet gesien word teen die agtergrond van die aksie van die Christelike Afgeskeide Gerefor­meerde Kerk ten gunste van Chris­telike onderwys in Nederland.

In die begin van die 19e eeu het ontkerstening van die Nederlandse skool plaasgevind. Die Afskeiding van 1834 kon nie in bogenoemde toestand berus nie, en reeds in 1842 het die jong ds. Postma as skriba van die klassis Warfum deelgeneem aan ’n aksie wat gehandel het oor die verkryging van vrye onderwys, sonder die beheer van ’n neutrale staat. Hierdie saak is só belangrik geag dat ’n kommissie, waarvan Postma lid was, die saak van Chris­telike onderwys moes ondersoek. Die resultaat van bogenoemde kommissie se werk was dat die Provinsiale Sinode van Groningen op 8 Maart 1843, waarvan Postma die skriba was, oor die onderwys van die jeug gehandel het.

Verskeie latere klassisse en Pro­vinsiale Sinodes het, met Postma as leiersfiguur, steeds die saak van Christelike onderwys ernstig be­pleit. Al het bogenoemde aksies nie konkrete sukses bereik nie - as gevolg van ’n onsimpatieke ower­heid - het hierdie betrokkenheid van Postma hom toegerus sodat hy kragtig kon optree met die oprigting van die Christelike skool te Zwolle.

Postma was ’n jong en energieke predikant wat dadelik in Zwolle ver­troue gewen het deur sy besliste op­trede - gevolglik sou onder sy lei­ding spoedig ’n Christelike skool in Zwolle opgerig word. Na velerlei versoekskrifte en selfs na die hulp van bekende kampvegters vir Christelike onderwys in Nederland, nl. Groen van Prinsterer en Baron A. Mackay, om by die Gedeputeerde State verlof te kry vir die oprigting van ’n Christelike skool, verleen die State op 31 Oktober 1850 verlof tot oprigting van die skool.

Uit die aandeel van Postma in bogenoemde stryd en soos dit blyk uit omsendskrywes wat hy aan gemeentelede en ouers gestuur het, is dit duidelik dat hy ’n suiwer siening gehad het oor die noodsaaklikheid van Christelike onderwys, want so­danige onderwys is - volgens Post­ma - ’n voortsetting en aanvulling van verbondsonderwys. Hy het aangedring op Christelike onder­wys, want die doel van die onderwys is deur hom aangestip as lewende kennis van die Drie-enige God. Die onderwys moes voorts nasionaal wees, want die vaderlandse ge­skiedenis moes getrou en volgens waarheid aan die jeug onderwys word. Die nasionale moes egter altyd in diens van die Christelike staan, want die nageslag moes, soos die voorvaders, hulle hoop op God stel.

Op 6 Januarie 1851 open ds. Post­ma die skool met 60 kinders en een onderwyser, J.H. Weenink. Op on­derwysgebied het Postma die deure ook oopgelaat vir ander gerefor­meerdes, buite die Christelike Af­geskeide Gereformeerde Kerk; so het lidmate van die Hervormde Kerk sowel as lidmate van die Ge­meente onder die Kruis kinders in dié skool gehad. Teen Januarie 1853 was die leerlingtal reeds 144 en ’n aanvang is met ’n aandskool ge­maak. Mettertyd het hierdie skool in leerlinggetalle toegeneem en later is etlike ‘dogters’ uit die moederskool in Zwolle gestig. Volgens Van der Vyver (1958: 83) staan die skool nog in Zwolle in die Grondsteeg.

Van der Vyver sluit af: “Met reg kan dit aangemerk word as ’n monu­ment wat spreek van die troue ar­beid en deursettingsvermoë van die verlede, wat spreek van ’n lewensoortuiging en idealisme; ’n klin­kende daad, wat spreek van heldere insig in die noodsaaklikheid van Christelik-nasionale onderwys.”

Ds. Postma en Christelik-nasionale onderwys in Suid‑Afrika🔗

Postma vestig hom, na die stigting van die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika in 1859, in Suid-Afrika. In Transvaal was die onderwys in ’n benarde toestand, want daar was geen vaste onderwysstelsel nie, en die ouers moes maar self die onder­wys van hulle kinders behartig, ten spyte van die feit dat baie ouers self nie goed toegerus was vir so ’n taak nie.

Enkele hoogtepunte in Postma se stryd vir die verkryging van CNO in Transvaal, is die volgende:

  • In 1864 word hy aangestel as ‘opsiener’ van ’n privaatskool te Waterkloof, distrik Rustenburg.
  • Op 10 November 1964 open Post­ma ’n skool te Rustenburg op S.J.P. Kruger se plaas. Dit is die eerste Gereformeerde Kerkskool in Suid-Afrika - onder toesig van (die) plaaslike kerkraad. Ouers van Potchefstroom het selfs hulle kinders na hierdie skool van ds. Postma gestuur.

Toe Postma hom in 1866 in Burgers­dorp (Kaapprovinsie) gevestig het, was die skole van die Kaap staats­ondersteun en -beheer. Geen dog­matiese onderrig is toegelaat nie, en onder die Engelse bewind is skole feitlik geheel en al verengels. In Burgersdorp, onder leiding van Postma, is ’n hele aantal privaat­skole in stand gehou en in 1869 gee die kerkraad verlof aan meester J. de Ridder om sy Vrye Christelike skool in die konsistoriekamer te hou.

Verdere betrokkenheid van Post­ma by CNO in Suid-Afrika lê veral op die terrein van die geskrewe woord. So het hy byvoorbeeld op 'n gereelde basis van hom laat hoor in De Maandbode, die Almanak van die Gereformeerde Kerk in Zuid-Afrika en in die Handelinge van Sinodes. Sake wat hy suiwer uitgelig het, was onder andere die volgende:

  • Ouers bly verantwoordelik vir die opvoedende onderwys van hulle kinders onder toesig van die kerkraad.
  • Buurtskole behoort soveel as moontlik opgerig te word.
  • Die karakter van die onderwys moes wees: positief Christelik Gereformeerd.
  • Gods Woord moes onderwys word: dit moes die ganse opvoedende onderwys rig en bepaal.
  • Christelike opvoeding en tug moes kenmerkend wees van die skole.
  • Ouers moes self die opvoedende onderwys van hulle kinders finansieel onderhou. Net so min as wat die staat seggenskap oor die kerk kon hê, kon hy die skool oorheers.
  • Postma het tweetaligheid be­pleit, naamlik Hollands en Engels.

Uit bogenoemde standpunte van Postma is duidelik af te lei dat hy nie net die belange van sy kerk se lidmate in verband met CNO bepleit en behartig het nie, maar ook dié van die ganse Christelike Afrikaan­se volk op sy hart gedra het.

Postma, die grondlegger van die Potchefstroomse Uni­versiteit vir Christelike Hoër Onderwys🔗

Postma het besef dat die belangrik­ste boustene wat in ’n CNO-stelsel gelê kon word, Christelik-nasionaal­opgeleide onderwysers moes wees. In hierdie verband het hy weer soos telkens in die verlede, ’n leidende rol gespeel in die Sinodebesluit van 1869 dat die Teologiese Skool te Burgers­dorp só ingerig moes word dat nie net predikante nie, maar ook on­derwysers en mense wat ’n breë akademiese opleiding wou onder­gaan, dit wel aan die Teologiese SkooI kon ontvang. J.L. Cachet be­weer by ’n geleentheid tereg dat hulle (dosente en studente) in alle nederigheid begin het met ’n tempel of gebou van die wetenskap “waar­van de hoeksteen zou zijn: Gods heilig Woord.”

Postma se onbegrensde idealisme stel in vooruitsig iets soos ’n Nor­maalskool vir die opleiding van onderwysers vir laer en sekondêre onderwys, dog ook graadopleiding vir teologiese en ander gevorderde studies. Hierdie ideaal van hom is verwesenlik in die sieraad, sigbaar in die huidige Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys met sy 8 806 studente in1989.

Perspektief🔗

’n Baie oorsigtelike weergawe van Postma se betrokkenheid by die opvoedende onderwys van die ver­bondsjeug laat die gelowige waar­nemer tot die besef kom dat hier ’n begenadigde dienskneg van God onvermoeid aan die werk was. Mag sy inspirasie ook alle gelowiges van vandag en môre aanvuur om Chris­telik-nasionale onderwys vir alle verbondskinders in Suid-Afrika te bepleit en te bevorder!

Bronne geraadpleeg

  • BINGLE, P.W. 1954. Die Gereformeerde Kerk en die onderwys in Suid-Afrika, 1859 - 1899. Potchefstroom (Verhande­ling (M.Ed. ) PU vir CHO.)
  • POSTMA, A. 1944. 'n Vaste burg is onse God. Potchefstroom: KJ Boekefonds.
  • VAN DER VYVER, GCP. 1958. Profes­sor Dirk Postma 1818 - 1890. Potchefstroom: Pro Rege Pers Beperk.