3 bladsye.

Ds Dirk Postma en die Gereformeerde Kerk Rustenburg 1859

Oor die eerste Gereformeerde Kerk Rustenburg en ds. Postma bestaan onder die NG en NH mense nogal skewe persepsies. Hulle neem eenvoudig aan dat ds. Postma as kerkstigter mense wat geëis het dat gesange verbied moes word, laat skeur het om die Gereformeerde Kerk in SA as denominasie te stig. In Rustenburg sou in 1859 omtrent gebeur het wat in 1987 met die stigting van die APK gebeur het. Hierdie persepsie berus op die ou presbiteriaanse idee dat net predikante kerklike leiding kan gee om 'n kerk of 'n genootskap te stig wat aan mense se wense voldoen.

Wortels van die gebeure in Rustenburg🔗

Die gebeure in Rustenburg in 1859 het diep historiese wortels. Daar was Rustenburgers soos die Venters en Krugers wat slagoffers was van die beledigende Herderlike Brief van die Ring van Graaff-Reinet in 1841. Die Brief het hulle "deurboorders van die liggaam van Christus" genoem omdat hulle besware teen die Nederlandse Gesangebundel van 1807 gekoester het. In Colesberg het van die Rustenburgers gely onder ds. Reid se outokratiese dwang en tug sodat hulle weggetrek het.

'n Heeltemal ander groep Voortrekkers onder leiding van J.A. Enslin was radikaal teen die band van die NG Kerk met die Engelse regering sowel as teen die gesange gekant. Die skakeringe van gevoelens tree duidelik op die eerste Algemene Kerkvergadering in Rustenburg in 1853 na vore wanneer ds. D. van der Hoff as predikant van die staatskerk bevestig word.

Kerklike moeilikhede wit in die blom🔗

Engeland het Transvaal se onafhanklikheid in 1852 erken. Vier verskillende politieke faksies het met mekaar stry gekry: Potchefstroom van M.W. Pretorius en Van der Hof, Marico van J.A. Enslin, Soutpansberg van Schoeman en die Volksraadparty van Lydenburg. Die partye het van tyd tot tyd in Volksraad byeengekom en die Uitvoerende Raad het ook kerklike sake gereël.

Teen 1855 het ds. Van der Hoff radikaal met Lydenburg en die Enslingroep gebots. In 'n Herderlike Brief het hy erken dat hy die ‘Psalmsingers’ nie uit die Skrif kon oortuig dat hulle verkeerd is nie. Hy wou ook nie toegee dat Lydenburg nog 'n predikant uit Holland beroep nie, omdat dit o.a. sy salaris by die Volksraad kon beïnvloed. Die verskille het ernstige politieke probleme vir die jong Republiek meegebring sodat Lydenburg by tye van die Volksraad en staatskerk wou wegbreek.

P.A. Venter van Elandskraal het in 1856 ds. Van der Hoff met 'n geskrif aangevat op sy stelling dat hy mense wat net Psalms sing nie uit die Bybel as verkeerd kon bewys nie. Hy wou weet waarom hulle dan vervolg word. Mense van verskillende oortuigings kon die sug na alleenheerskappy van Van der Hoff nie meer duld nie.

Transvalers en Vrystaters soek 'n ander predikant🔗

Gedurende 1856 het die mense begin inisiatief neem om die kerklike moeilikhede self op te los. Hoe die kommunikasie plaasgevind en ooreenkomste aangegaan is, is selfs vandag nog nie duidelik nie. Gelyktydig met P.A. Venter se rondskrywe in 1856 begin 'n kerklike afskeidingsbeweging in Rustenburg vorm aanneem. Selfs landdros Robinson is daarby betrokke. Oudl. Ph. Snyman van Rustenburg stel Pretorius in kennis dat hy by die afskeiding (waarby talle ondersteuners van Schoeman betrokke is) sal moet aansluit. As rede voer hy aan dat hulle nie geleer en bestuur word volgens die grondslae van die Dordtse Sinode van 1618/19 nie.

J.J. Venter, vise-president van die OVS-Republiek, bedank in dieselfde jaar die NG Kerk van ds. Andrew Murray. Hy het noue kontak met Lydenburg. Venter stuur namens mense per adres Lydenburg 'n ope brief na Nederland om 'n ortodokse predikant te bekom. Die Here beskik dat hierdie brief langs 'n ompad op die tafel van die Sinode van die Christelijk Gereformeerde Kerk in Nederland in 1857 kom. Ondertussen het die Uitvoerende Raad in Transvaal met alle mag probeer om nog 'n predikant, waarskynlik vir Rustenburg of Lydenburg, uit die Kaapse NG Kerk te kry. So wou Pretorius probeer om eenheid in die staatskerk te behou.

Ondertussen het die Transvaalse Republiek in 1858 op 'n konstitusie gekonsolideer. Die Konstitusie het bepaal dat in Transvaal slegs predikante wat die Dordtse Sinode van 1618/19 onderskryf, toegelaat sou word. Die Chr. Geref Kerk Nederland vaardig in 1858 ds. Postma af om aan die Transvaalse owerheid predikante en onderwysers aan te bied. Die Nederlanders is salig onbewus van die stryd wat hulle geesgenote in Transvaal en die OVS oor jare gestry het. Hulle voel die kulturele band aan, en wil op sterkte daarvan help.

Die Gesangekwessie geskik 1858🔗

Wanneer die berig Transvaal bereik dat ds. Postma in Natal wag om afgehaal te word, neem die deurmekaar Transvaal weer 'n paar eienaardige besluite. Die owerheid is so behep met sy interne probleme dat hy nie mooi raaksien dat Postma na die Regering gestuur is nie. Die Uitvoerende Raad neem in September 1858 verlief dat die Kerkraad van Rustenburg (o.l.v. ds. Van der Hoff) in Augustus 1858:

  1. toegestem het dat 'n gemeente binne die Transvaalse staatskerk sonder Gesange bedien sou word; en
  2.  dat 'n kommissie bestaande uit die bekende Krugerfamilie en Ph. Snyman, ds. Postma in Natal sou gaan afhaal. Hulle moes hom ook daarheen terugbring, indien hy hulle nie geval nie.

Die Volksraad keur ook hierdie besluit in September 1858 goed. Daarmee was die Gesangesaak amptelik opgelos.

Volgens die grondwet van Transvaal moes 'n Algemene Kerkvergadering op 11 Januarie 1859 in Pretoria vasstel of ds. Postma aan die basis van die Dordtse Sinode van 1618/19 voldoen. Die ondersoek was natuurlik net 'n formaliteit.

Die Kerk as genootskap betrag🔗

Die saak was amptelik gereël in die ooreenkomste waarop Postma gehaal was. 'n Mens kan egter verstaan dat ds. Van der Hoff geen tweede predikant in Transvaal wou duld nie. Hy sou allermins as Hervormde 'n Chr. Geref. predikant langs hom wou hê.

Postma was selfs bereid om die sing van gesange aan elke predikant se oordeel oor te laat, solank daaroor net nie 'n skeuring afgedwing word nie. Tog het die vergadering daarop onverbiddelik besluit dat die Hervormde Kerk (as 'n sinodale struktuur) met Evangeliese gesange gehandhaaf word. Om gesange te sing, is as voorwaarde gestel om aan die NHK te mag behoort. Binne die staatskerk (as instituut) sou dus nie langer soos in 1858 ooreengekom was - ‘n gemeente geduld word wat nie gesange sing nie. Ds. Van der Hoff het die besluit noodsaaklik geag omdat, soos hy gesê het, die NHK nie 'n `afgeskeie kerk' (soos die CGKN wat ds. Postma gestuur het) is nie. Van der Hoff het dus doelbewus 'n breuk veroorsaak om die Kerk as 'n sinodale struktuur 'n sekere `naam' en identiteite laat behou.

Die breuk 12 Januarie 1859🔗

Toe die besluit geval het, het 15 gesiene Transvaalse leiers, waaronder kmdt. Paul Kruger, by wie reg swaar geweeg het, in 'n goeie gees verklaar dat hulle van die aangebode hulp uit Nederland in die persoon van Postma gebruik wil maak. Hulle skei hulle dus van die NHK af om hulle kerklike toekoms op die basis van die Dordtse Sinode van 1618/19 te reël. Hulle spreek die hoop uit dat die twee ‘gemeentes' tog in die toekoms een kan word in leer, erediens en dissipline. Paul Kruger sê op die Algemene Kerkvergadering in April 1859 dat die onversetlike dwang en ongevoelige sug om hulle te oorheers, hulle gedwing het om uit die NHK te tree.

Nie 'n denominasie nie - gemeente gestig!🔗

Op 11 Februarie 1859, nadat ds. Van der Hoff eers die kerkgebou gegee en toe weer teruggetrek het, het meer as 300 mense onder seringbome in die ope lug vergader. Hulle het ouderlinge en diakens gekies en bevestig en die beroep op ds. Postma herhaal. Hy het daarop vir die beroep na die NGK Winburg bedank, en die beroep na die gemeente van Rustenburg aangeneem. Eers daarna het die kerkraad aan die Regering kennis gegee dat te Rustenburg ’n vrye Gereformeerde Kerk op die geloofs-, erediens- en kerkregtelike basis van die Sinode van Dordrecht 1618/19 ontstaan het. Die stukke verwys oorwegend na die mense wat die kerk is. Hulle verstaan die kerk primêr as die gemeente van Rustenburg.

Die Gereformeerdes het die wonder gesmaak om ’n vrye kerk te wees. Na jare kon hulle die Here dien soos hulle geglo het. Weliswaar het Postma die ‘kerk’ baie meer deur die bril van die Nederlandse Kerkreglement van 1816 beskou. Hy het egter eers na afloop van die stigting van die kerk die kerkraad van Rustenburg as ‘n ‘Algemene Vergadering’ sy ‘gewysigde’ DKO laat aanvaar. Die Kerkorde het gebreke, maar is nie ’n konstitusie vir die genootskap nie. Die eerste Sinode het in 1862 teen Postma se sin, die Dordtse Kerkorde aanvaar. Daardeur het 5 selfstandige kerke ’n sinodale verband vir kerkregering aangegaan.

Die betekenis van Rustenburg 1859🔗

Die gebeure op 11 Februarie 1859 het enorme betekenis. Die persepsie dat Postma ‘n ‘kerk’ of denominasie kom stig het deur mense oor gesange weg te lok, bots teen die werklikheid. Die geboorte van die Gereformeerde Kerk te Rustenburg getuig van geloof, wil, selfwerksaamheid en offerbereidheid onder gewone eenvoudige ongeleerde mense wat uit geloof geleef het. Hulle wou net kerk wees en die amp van die gelowige volvoer soos wat hulle gewete, wat deur die Bybel en gereformeerde oorlewering gevorm is, dit van hulle gevra het. Hulle het hulle hierin nie deur predikante of sinodes laat voorskrywe nie. Hierdie Gereformeerdes het die kerk as liggaam van Christus met hulleself as gemeente vereenselwig. Die kerk het vir hulle in die erediens sigbaar geword.

Indien die Rustenburgers in 1859 ‘kerk’ as ’n party, organisasie of denominasie (kerkbegrip van die rasionalisme) verstaan het, sou Postma eers ‘n ‘konstitusie’ vir “ ’n kerk met ’n naam” moes optrek. Die ‘naam’ sou in hierdie geval ‘Chr. Geref. Kerk van die ZAR’ (soos waar Postma vandaan kom), of ‘Vrye Hervormde Kerk van die ZAR’ minus Gesange (soos waar die mense vandaan gekom het), moes gewees het.

Vir die mense wat op 11 Februarie 1859 uit die NHK of staatskerk getree het, het kerk-wees gemeente-wees beteken. Die gemeente moet die geloof en vryheid in Christus volgens die gereformeerde leer, diens en tug van die Sinode van Dordrecht 1618/19 beleef en uitlewe. Daardie meer as 300 mans, vroue en kinders in die koelte van die seringbome onder ’n swaar gelaaide wolkehemel het op 11 Februarie 1859 in hulle erediens onder bediening van ds. Postma die liggaam van die Here Christus in die kenmerke van die ware kerk (NGB. 29) konkreet sigbaar gemaak.

Hulle het daarvoor die Here gedank en geprys!