Bron: Die Kerkblad, 1990. 2 bladsye.

Ds. Dirk Postma, 'n Kort Lewenskets

Die man wat so ’n buitenge­wone plek in die geskiedenis van die Gereformeerde Ker­ke in Suid-Afrika sou inneem, is op 10 Januarie 1818 in Dokkum, Fries­land (Nederland), gebore. Sy ouers was Pieter Pieters Postma en Lolkje Arjens Boekhout. Hiervan sê Dirk Postma self:

Ek kan nie op ’n vermoënde afkoms roem nie, maar bo alle aardse voorregte is dit vir my wonderlik om te vermeld dat my geliefde ouers stoere burgers en opregte, godvrug­tige mense was. So is ons opge­voed.

Teenoor die gees van die Franse Rewolusie en die opkomende libe­ralisme en vrysinnigheid van die 19e eeu het hulle vreemd gestaan.

Dirk was nog nie 6 jaar oud nie, toe verloor hy sy vader en op 15- jarige leeftyd moes hy die skool ver­laat om as ’n loodgieterskneg sy weduweemoeder te help versorg. Dit was in die tyd van die Afskeiding en vorming van die Christelike Gereformeerde Kerk in Ulrum on­der leiding van ds. Hendrik de Kock in die jaar 1834. So het ook die Postma-gesin hulle teen die vrysin­nige gees in die kerk van die 19e eeu verset. Hierdie mense het onvoor­waardelik onder die algehele gesag van die Heilige Skrif gebuig en die Gereformeerde Belydenis in die Drie Formuliere van Eenheid het hulle onverswak gehandhaaf.

Soos wat dit gewoonlik in die kerk­geskiedenis gebeur, het die hand­hawing van die Gereformeerde Be­lydenis ook vanaf 1834 ’n meedoën­lose stryd gebring. Die liberalis duld eenvoudig nie teenstand in sy vry­sinnige optog nie en ook die ower­heid is ingespan om ds. De Kock en sy mense te vervolg en hulle regte te ontsê. Dit was in hierdie tyd dat die jong Dirk Postma die roeping gevoel het om predikant te word. Vir hierdie doel gee ds. T.F. de Haan aan hom privaat-opleiding terwyl hy homself met buitengewone ywer in die Gereformeerde Teologie ver­diep. Hierdie intensiewe studie was so geseënd dat Postma op 22-jarige leeftyd op 10 Junie 1840 deur die kerke geëksamineer en as propo­nent beroepbaar gestel is.

In Nederland bedien ds. Postma 5 gemeentes: Minnertsga, Wilder­vank, Bedum, Middelstum en Zwolle, vanwaar hy na Suid-Afrika vertrek het. In hierdie tyd is ds. Postma ’n leidende figuur in Neder­land met groot invloed, veral op die gebied van Christelike onderwys.

Dit was in 1857 wat die Sinode van die Christelike Gereformeerde Kerk besluit het om ds. Dirk Postma af te vaardig om aan die Transvaalse regering (ZAR) in hulle nood aan predikante en onderwysers hulp aan te bied. Hiermee saam moes hy ook die moontlikhede vir sending onder­soek. Intussen het hy sy vrou verloor en met die twee oudste seuntjies, Petrus en Martinus, en drie dogters wat hy onder die sorg van familie agterlaat, vertrek hy in 1858 op sy eensame seereis na Suid-Afrika. Via Kaapstad en Durban, kom hy in Pietermaritzburg tereg en ’n kommissie van die gemeente Rus­tenburg kom haal ds. Postma per ossewa. Op 7 November 1858 preek hy vir die eerste keer in Transvaal in die huis van die bekende P.J.W. Schutte van Buffelsdoorn, naby Potchefstroom.

Met die enigste predikant in Transvaal, ds. Dirk van der Hoff, het ds. Postma aanvanklik ’n baie goeie verhouding en hulle tree ook gesamentlik op met die Kersnaweek van 1858 in die gemeente van Pot­chefstroom.

Op 11 Januarie 1859 word ds. Dirk Postma kragtens die Transvaalse grondwet deur die Algemene Kerkvergadering oor sy gereformeerde leer ondersoek. ’n Bykomstige saak wat aanvanklik glad nie  op  die agenda was nie - nl. Postma se standpunt oor die gesange -  word egter bygehaal. Toe die vergadering die sing van gesange per besluit verpligtend maak, het ’n aantal af­gevaardigdes waaronder S.J.P. Kruger deur hierdie gewetensdwang die vergadering verlaat. Die uitvloeisel hiervan was die stigting van die Gereformeerde Kerk Rus­tenburg op 11 Februarie 1859. In leer, diens en tug (kerkregering) het hierdie manne en vroue weer open­lik gekies om trou te wees aan die Gereformeerde Belydenis volgens die Drie Formuliere en die Kerk­orde van die Sinode van Dordrecht (1618 - 19).

Hierdie nuwe gemeente het ’n be­roep op ds. Postma uitgebring en dit was die begin van die stigting van meer gemeentes in Transvaal, die Vrystaat en die Kaapkolonie. Die bediening van al hierdie kerke wat hulle kragtens ’n Akte van afskei­ding op die grondslag van die Drie Formuliere as Belydenis en die Dordtse Kerkorde vir die kerkrege­ring gestel het, was vir ds. Dirk Postma ’n bykans onbegonne taak. Sy arbeid was egter wonderbaarlik geseënd.

In 1864 het ds. Postma begin om jongmanne vir die predikantsamp op te lei. Hieronder was ’n onder­wyser, die later bekende Jan Lion­ Cachet. Ook het die oprigting van Christelike skole oral deur die inisia­tief van ds. Postma ’n aanvang geneem.

Op ’n Sinode in Potchefstroom is daar in 1869 besluit om ’n Teologiese Skool vir die Gereformeerde Kerke in Burgersdorp op te rig. Tot sy dood op 28 Desember 1890 was Postma die professor in teologie aan hierdie inrigting. En die deeglike opleiding met die gepaardgaande literariese departement met ook ander hulpkragte was die begin van die latere Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys.

Die betekenis van ds. Dirk Post­ma vir die GKSA in besonder, maar ook vir die gereformeerde godsdiens in die algemeen, is onberekenbaar. Ook sy invloed vir die uitbouing van die Christelike onderwys onder ons volk, kan nooit na waarde geskat word nie. Daarby het die Here ook sy nageslagte, baie manne en vroue, in sy Koninkryk diensbaar gestel en is steeds baie van hulle vandag nog diensbaar manne en vroue wie se werk onnoembaar groot is deur die genade van God.

Van ’n loodgieterskneg tot ’n be­dienaar van die Woord van God.

Van ’n nederige, arm weeskind in Nederland tot ’n profeet van God oor die wydtes van Suid-Afrika.

Vanuit ons Dietse stamland uit die verre Europa tot die bodem van die Afrikanervolk met wie hy homself met hart en siel verbind het met so ’n ryk, geseënde invloed ...

Dit is Dirk Postma! In ’n laaste gedagtenisrede sê hy: “Nie aan my nie, o Here, maar aan u Naam alle eer! ”