Bron: Die Kerkblad, 2005. 3 bladsye.

Een Liggaam Met Baie Lede Die Liggaam-metafoor volgens Korinthiërs

In hierdie uitgawe van Die Kerkblad het u waarskynlik reeds baie gelees oor die gebruik van metafore in die Bybel. U het ook gesien dat Paulus in sy briewe graag die metafoor van ’n liggaam gebruik om na die kerk te verwys. Sy eerste brief aan die Korinthiërs is ’n voorbeeld hiervan. In 1 Korinthiërs 12:27 sê hy vir die kerk in Korinthe: “Julle is die lig­gaam van Christus.” Vir die gereelde Bybelleser is hierdie woorde so bekend dat dit nie vir hom/haar enigsins vreemd voorkom nie. Tog, as ’n mens mooi daaroor dink, is dit ’n vreemde manier van sê, want dit verwys tog nie letterlik na Christus se fisiese liggaam waarmee Hy op aarde verskyn het nie. Die woorde moet sekerlik metafories verstaan word.

Nie Altyd Metafories Nie🔗

Dadelik moet erken word dat die woord “liggaam” nie orals in 1 Korinthiërs metafories bedoel word nie. In 1 Korinthiërs 6:13 byvoorbeeld, waar Paulus skryf dat ’n mens se “liggaam nie vir hoerery bedoel is” nie, is hy duidelik besig om die Korinthiërs te vermaan oor hulle onsedelike optrede met hulle eie liggame. Hy wys hulle daarop dat hulle liggame aan die Here behoort (vs 13), en dat hulle God ook in hulle liggame moet verheerlik (vs 20).

Ook in 1 Korinthiërs 15, die hoofstuk waarin Paulus oor die opstanding uit die dood skryf, praat hy van die opstanding van die liggaam. In vers 44 skryf hy dat ’n natuurlike liggaam gesaai word en ’n geestelike liggaam opgewek word. Nogtans is hy daarmee nie besig om die opstanding te vergeestelik nie. Die op­standing sal werklik en liggaamlik by die wederkoms van die Here plaasvind.

Wat Paulus wel sê is die volgende: Enersyds sal die liggame waarmee ons eendag gaan opstaan nie ’n ander liggaam wees as dié waarmee ons gebore en begrawe is nie (vgl. die beeld van die koringkorrel in verse 37 en 38). Andersyds sal ons liggame in die opstanding ’n heeltemal ander gestalte aanneem as wat dit op aarde gehad het (onverganklik, in heerlik­heid en krag, geestelik, hemels). In aansluiting hierby gebruik Paulus die woord “Iiggaam” in hierdie hoofstuk dikwels in die betekenis van “sigbare gestalte”, naam­lik verse 35, 37 en 38.

So is daar nog heelwat plekke in 1 Korinthiërs waar Paulus van die liggaam in die gewone, letterlike be­tekenis praat. Voorbeelde hiervan is 1 Korinthiërs 5:3 (“in die liggaam afwesig, maar in die gees teenwoor­dig”); 7:4 (“die vrou/man het nie mag oor haar/sy eie liggaam nie”); 7:34 (“heilig na liggaam en na gees”); en 13:3 (“al sou ek my liggaam oorgee om verbrand te word”).

Daar is egter ’n hele paar plekke in 1 Korinthiërs waar Paulus van ’n “liggaam” praat en hy dit duidelik meta­fories bedoel. Hierdie metaforiese gebruik van “lig­gaam” kom in hoofstukke 10 tot 12 van 1 Korinthiërs voor, en dikwels verteenwoordig dit die kerk. Wanneer ’n mens die tekste egter noukeurig nagaan, dan val dit jou op dat “liggaam” nie orals dieselfde beskrywing gee nie. Op sommige plekke verwys “liggaam” na die liggaam van Christus. Op ander plekke dui “liggaam” op die eenheid van die lidmate van die kerk.

Metafoor 1: Liggaam van Christus🔗

Dit is opvallend dat Paulus in 1 Korinthiërs (in teenstelling met sy briewe aan die Efésiërs en Kolossense) dikwels van die “liggaam van Christus” praat sonder om daarmee direk na die kerk te verwys. Hierdie ver­wysings staan almal in verband met die viering van die Nagmaal:

  • “Die brood wat ons breek, is dit nie die gemeen­skap met die liggaam van Christus nie?” (10:16)
     
  • “Neem, eet, dit is my liggaam wat vir julle gebreek word” (11:24)
     
  • “Wie op onwaardige wyse eet, sal skuldig wees aan die liggaam en bloed van die Here” (11:27)
     
  • “... eet en drink ’n oordeel oor homself terwyl die liggaam van die Here nie onderskei nie” (11:29)

Die aanhalings hierbo uit 1 Korinthiërs 11:24 en 27 moet ’n mens letterlik opneem, omdat dit verwys na die werklike gekruisigde liggaam van Jesus Christus. Maar juis deur dit te sê, word dit duidelik dat die woord “liggaam” hier ’n ruimer betekenis verkry. Dit word ’n sinekdogee (dit is ’n stylfiguur waarin net na ’n deel verwys word, maar die geheel bedoel word). Met ander woorde: dit dui wel op Jesus se liggaam, maar sluit ook ander dinge in wat met sy liggaam in verband staan. Dit dui op die totale heilsgebeure aan die kruis: dat Jesus sy liggaam daar oorgegee het om gekruisig te word as soenoffer om vir ons sonde­skuld te betaal en ons met God te versoen - presies dit wat in die viering van die Nagmaal uitgebeeld word.

In vers 29 kom die “verruimde” betekenis van die be­grip “liggaam” in die Nagmaal duidelik na vore. Ons moet by die viering van die Nagmaal “die liggaam van die Here onderskei”. Met ander woorde: ons moet die heenwysende karakter van die Nagmaal begryp - dat die brood heenwys na Jesus wat sy liggaam aan die kruis as offer vir ons sondes gegee het.

In vers 16 word hierdie heenwysende betekenis nog verder uitgebrei deur die liggaam-metafoor by te voeg: “Die brood wat ons breek, is dit nie gemeenskap met die liggaam van Christus nie?” Hiermee word twee betekenislyne saamgevoeg. Aan die een kant wys die liggaam van Christus op sy soendood aan die kruis. Aan die ander kant wys sy liggaam op ’n saak waarmee die gelowige gemeenskap het en moet hê. Om gemeenskap met sy liggaam te hê beteken enersyds om deel te hê aan die weldade wat uit sy soendood voortvloei; andersyds beteken dit om met Hom verenig te wees. In hierdie laaste geval verskyn die liggaam-metafoor van Efésiërs en Kolossense weer in die gesigsveld. 1 Korinthiërs 11:16 is dus ’n voorbeeld van ’n metafoor met meervoudige betekenis.

Hoewel laasgenoemde teks (saam met 12:12) een van die min plekke in 1 Korinthiërs is wat na die kerk as liggaam van Christus verwys, loop die Hoof/lig­gaam-metafoor in werklikheid soos ’n goue draad regdeur die brief. Die feit dat Christus (as Hoof) oor sy kerk (sy liggaam) regeer, vorm die grondgedagte van die hele Korinthiërbrief. Paulus skryf die brief immers in antwoord op ’n hele klomp praktiese probleme en lewensvrae wat die Korinthiërs aan hom gestel het. In sy antwoord wys Paulus hulle elke keer daarop dat hulle in hulle worsteling met hierdie vrae en probleme hulleself maar net aan Christus (as Hoof) moet onderwerp, want hulle is sy liggaam wat aan Hom behoort. Voorbeelde hiervan is 1 Korinthiërs 3:23; 6:20; 8:12 en 10:31.

Metafoor 2: Een Liggaam🔗

In 1 Korinthiërs 10:17 word “liggaam” ingespan om op nog ’n verdere aspek van die Nagmaal te wys: “Omdat dit een brood is, is ons almal een liggaam, want ons het almal deel aan die een brood.” Hier verteenwoordig “liggaam” die eenheid van die kerk. Hierdie metaforiese betekenis van “liggaam” word in hoofstuk 12 van die brief in besonderhede uitgebou. In vers 12 word verduidelik: “Soos die liggaam ’n een­heid is en baie lede het, en soos al die lede saam, al is hulle baie, een liggaam vorm, so is dit ook met die liggaam van Christus.” En dan brei hy uit op hierdie beeld:

  • Al bestaan die liggaam (kerk) uit ’n verskeiden­heid van lede, is ons tog een (vs 12-14).
     
  • Aangesien al die lede van die liggaam (kerk) ewe noodsaaklik is, kan die een hom/haar nie belang­riker beskou as enige ander lid nie (vs 15-16).
     
  • Elke lid van die liggaam (kerk) het sy eie onmis­bare funksie en kan dus nie op ’n ander neersien nie (vs 17-21).
     
  • Die lede van die liggaam (kerk) wat op die oog af die kwesbaarste is het dikwels die meeste aansien (vs 22-24).
     
  • As een lid van die liggaam (kerk) ly, ly al die lede saam; as een lid geëer word, is al die lede saam bly.
     
  • Die liggaam (kerk) mag nie onderling verdeeld wees nie, maar moet ter wille van voortbestaan as ’n eenheid funksioneer (vs 25, 27).

Samevatting🔗

Dit blyk dus dat die begrip “liggaam” in 1 Korinthiërs op meer as een manier gebruik word. Soms word dit letterlik gebruik, soms as sinekdogee, soms as enkelduidige metafoor, soms as meerduidige metafoor.

Tog, regdeur alles, soos ’n goue draad, loop die verkondiging dat die kerk die (een, onverdeelde) liggaam van Christus is, wat deur sy kruisdood verlos is (soos in die Nagmaal verkondig word) en daarom Hom as Hoof in alles moet verheerlik en gehoorsaam.