Bron: Die Kerkblad, 1990. 1 bladsye.

Ek Glo in God

Ek glo…

So begin die belydenis wat ons elke Sondag as gemeente, in ons harte meespreek.

Ek glo in God die Vader … Ek glo in God die Seun … Ek glo in God die Heilige Gees…

Dit is "ek glo" en nie "ons glo" nie.

Dit is nogal merkwaardig. "Ons" is vanselfsprekend net so be­langrik. "Ek" leef immers in gemeenskap met ander wat glo. "Ek" staan in my geloof gebind aan alle gelowiges van alle tye en oor die hele wêreld. Dit is 'n voorreg om te bely: "ons glo". Dink maar daaraan hoe bitter dit is wanneer 'n mens in die intieme kring van die huwelik alleen kan so "Ek glo". My man of my vrou of my kinders glo nie… Droewig!

En tog: "Ek glo" plaas my alleen in my "ek" voor God. En dit is nood­saaklik. Die geloof van die kerk maak my nie salig nie, alleen my eie geloof. Vir my is die geloof eers werklik aktueel wanneer ek self daarby betrokke is.

"Ek glo…" Dan kan ek soms so eensaam staan in die wêreld. Ons dink aan Luther voor die ryksdag van Worms. Die owerhede eis van hom om sy sogenaamde ketterye terug te trek, anders die marteldood op die brandstapel! Luther verklaar egter; "Hier staan ek. God help my. Ek kan nie anders nie!" Luther staan eensaam teenoor sy vyande, maar hy handhaaf "Ek glo…"

Wanneer ek bely: "ek glo", dan gaan dit om die allerlaaste. Dit gaan om die uiteindelike dinge. Dit gaan daarom hom ek die wêreld my eie bestaan ja, alle dinge waar­deer. "Ek" staan voor God en die mense en bely: "Ek glo…"

God is my Vader. Jesus is my Verlosser. Die Heilige Gees is my Heiligmaker … Goddank, Hy het my die geloof gegee.

"Ek glo." Kom my ongeloof tot hulp, Here!