Bron: Die Kerkblad. 1 bladsye.

As Ek nie Geglo het nie

Daar is baie dinge waaroor 'n mens kan sê dat daaroor nie 'n wesentlike verskil is tussen gelowiges en ongelowiges nie. Sommige van die dinge is van so 'n aard dat 'n mens kan verstaan dat dit so is en oor ander is 'n mens hartseer dat dit so is. Gelowiges en ongelowiges het nie hulle lewe in hulle eie hand nie. Hulle kan ook nie hulle eie toekoms uitwerk of bepaal nie – al dink hulle soms dat hulle kan. Albei groepe ken onsekerheid en teleurstellings en hartseer in hulle lewens. Dit kan 'n mens verstaan. Soms vervaag die grense tussen die lewenswyse van die gelowiges en ongelowiges en daaroor is 'n mens hartseer.

Tog is daar een saak ten opsigte waarvan daar 'n wesentlike verskil bestaan tussen die twee groepe. Dit is die saak wat baie duidelik na vore kom in Psalm 27, veral in die woorde van vers 13, wat terselfdertyd 'n versugting én 'n lofkreet is:

O, as ek nie geglo het dat ek die goedheid van die HERE sal sien in die land van die lewendes nie…

Die implikasie is duidelik. As dit nie die geval was nie, dan was ek verlore, dan was alles tevergeefs, dan is daar geen hoop nie. Dit is hierdie vertroue wat die groot verskil tussen gelowiges en ongelowiges is – of behoort te wees.

Dit is natuurlik so dat hierdie vertroue soms goedkoop en oppervlakkig kan wees, maar dit was nie die geval toe Dawid die Psalm geskryf het nie. Dit was 'n tyd toe hy deur vyande bedreig was (vers 6) en toe hy hard tot God geroep het om verlossing. Ten spyte van sy eie moeilike omstandighede het hy egter die vaste vertroue op God en sy nabyheid gehad. Daarom kon hy ook met vertroue wag op die uitkoms wat God op sy tyd sal gee.

Dit is hierdie vertroue wat gelowiges staande hou in tye van smart en onsekerheid, die vertroue dat God hulle lig en heil is en dat hulle daarom nie bang hoef te wees nie. Hiervan kan martelare getuig, wat tot in die dood getrou was. Hiervan kan gelowiges getuig van wie dierbares deur die dood weggeneem is, dat God se genade inderdaad vir 'n mens genoeg is. Wanneer alle sekerheid weggeneem word, bly die sekerheid dat God se genade vir jou genoeg is. Dan kan 'n mens in die donkerste nag steeds 'n loflied sing oor God se genade, soos Paulus doen aan die einde van Romeine 8. Daar is niks wat ons kan skei van God se liefde nie – en wie hieraan vashou, het sekerheid in 'n onseker wêreld. Hulle het die lewe, die ewige lewe, wat nou reeds die deel is van God se kinders.