Bron: Die Kerkblad, 1986. 3 bladsye.

Ek is Werkloos

ontslaan

Die uitdrukking op sy gesig was 'n mengsel van verslae skok, ontnugte­ring en moedeloosheid.

"Ek is afgedank… Hulle het my eenvoudig meegedeel dat die maat­skappy nie meer my dienste kan be­kostig nie. Sommerso… En dit na soveel jare diens? Waarvan gaan ons leef? Werk is deesdae so ontsettend skaars. Ons het sulke groot finansiële verpligtinge".

'n Baie Omvangryke Probleem🔗

Hy is een van die honderdduisende wat dit die afgelope jaar in Suid-Afrika beleef het. Dit kom voor onder alle lae van die bevolking en volke, alle ouderdomme en rasse en inkomstes. Dit het 'n nasionale krisis geword. Miljoene rande word van owerheidskant afgesonder om nuwe werkgeleenthede te skep.

Diakonale Roeping🔗

Die kerk staan voor 'n baie groot roeping om in hierdie verwarrende tye die liefde van God sigbaar en tasbaar te bewys.

'n Paar jaar gelede moes som­mige diakonieë van Blanke plaas­like gemeentes selde werklik onder eie lidmate armversorging doen. Dit het nou drasties verander, veral in industriële gebiede. So was al ge­valle waar die diakonie in die ge­meente moes afkondig dat hulle net nie meer genoeg geld het om in die nood van die behoeftige lidmate van die gemeente te voorsien nie. Hoe wonderlik dat harte en hande oopgegaan het en aangrypende offers gebring is om te voorsien in die nood van medegelowiges.

Hierdie krisis vlek nietemin die leemtes van die kerk se diakonaat oop. Ons wys net op die volgende:

  • Daar was min gevalle van nood sodat min diakens werklik ge­skool is om die behoeftiges se omstandighede behoorlik te peil. Hulle kan ook nie met sulke wys­heid die mense bystaan dat hulle nie armlastiges word nie, maar gehelp word om weer finansieel selfstandig te word. Praktiese skolingsgeleenthede vir diakens is nou dringend noodsaaklik en behoort die hoogste prioriteit te geniet.

  • Dit is nie die diakens se taak om self al die barmhartigheidswerk te doen nie — hulle moet die hele gemeente lei, aktiveer en toerus om mekaar se laste te dra. Nou het die omvang van die behoefte aan persoonlike aandag so toe­geneem dat die paar diakens van die gemeente alleen dit onmoontlik kan behartig. Gebruik die Here dalk die huidige werkloos­heidskrisis om ons te dwing tot die besef dat die ongereformeer­de ampsbegrip wat nog so baie voorkom in die praktyk uitloop op baie groot probleme?

  • Die amp van die diaken funksio­neer nog baie min in die Swart kerke. In hulle woonbuurtes is egter die grootste nood aan ar­moede en ellende wat uit werkloosheid voortvloei. Omstandighede daar bied vir die ongelowige magte van die revolusie 'n uit­nemende groeibodem. Hoeveel Blanke diakonieë het al die moeite gedoen om net 'n bietjie te verneem wat die behoeftes van die Swart medegelowiges in hulle onmiddellike omgewing is? Kan diakonieë dalk begin om kon­struktief planne te beraam om werksgeleenthede vir werklose swartmense te skep en gepaard­gaande daarmee die Evangelie te laat verkondig? Is die groei van die Kommunisme nie nou meer as ooit 'n onbetaalde reke­ning van die kerk nie?

Pastorale Nood van Werkloses🔗

Alle gelowiges behoort iets te weet van die aanslae wat so 'n krisis maak op die werklose se geloofslewe en sy verhouding tot die Here. Die duiwel probeer hard om die gelo­wige wat werkloos geraak het, te laat twyfel aan die liefde van God. "Het die Here my regtig lief as my en my gesin se hele toekoms bedreig word? Is God se liefde regtig kon­kreet, of is dit maar net iets wat 'n mens in die kerk bely en dan maar weer self alleen jou stryd in die harde werklikheid buite die mure van die kerk stry? Straf God my dalk oor my sonde deur hierdie slag wat my getref het? Wat is die sin van hierdie krisis in ons lewe?"

moedeloos

Gevoelens van "My lewe het mis­luk, ek is niks werd nie," en diep neerslagtigheid kan voorkom. Daar word deur kenners beweer dat selfmoord as gevolg van werkloosheid baie toegeneem het.

Wat sê God in Sy Woord🔗

Die pastorale begeleiding van die werklose moet hom herinner aan sekere kernbeginsels van die Bybel.

Kom ons stip 'n paar daarvan aan:

  • God roep ons op om te glo in sy liefde. Hy het sy liefde bewys toe Hy sy enigste Seun vir ons — vervloekte, verdoemde sondaars gegee het. Hy het nie net ons sonde vergewe nie, maar ons sy kinders en erfgename gemaak. As iemand jou so liefhet dat hy bereid was om sy enigste kind vir jou te laat sterf om jou lewe te red, sal hy jou dan nie ook genoeg liefhê om vir jou kos en klere te gee nie? Lees Romeine 8:32. Wat 'n belediging vir God as ons twyfel aan sy liefde.

  • Geloof beteken om God op sy woord te neem, om Hom te ver­trou dat Hy vir jou die beste beskik, al lyk dit vir jou soms nie so nie. Hy het gesê: "Wees oor niks besorg nie…" (Filippense 4:6). "Moenie julle kwel oor julle lewe — wat julle sal eet en wat julle sal drink nie; of oor julle liggaam — wat julle sal aantrek nie…" (Matteus 6:25). "Werp al julle be­kommernis op Hom, want Hy sorg vir julle…" (1 Petrus 5:7). Om aan hierdie beloftes te twyfel beteken om God tot leuenaar te maak.

  • God tug ons tot ons beswil (Hebreërs 12:10). Hy moet soms alle ver­keerde fondamente onder jou uitruk om jou nader aan Hom te trek; om jou — al is dit dan met 'n skok — tot die besef te bring dat Hy alles in jou lewe is. Dat Hy self en Hy alleen my rotsvaste anker en sekuriteit is (Psalm 73:25 en 26).

Dra Mekaar se Laste🔗

Werkloosheid bied aan die gemeente die geleentheid om meer as ooit tevore die gemeenskap van die gelo­wiges konkreet te maak. Nie net deur stoflike middele te voorsien nie, maar veral om ons broers en susters wat deur hierdie krisis gaan, by te staan met ons gebede, ons begrip en ons blyke van liefdevolle belangstelling.

Het jy al vir Jan en Sannie in julle gemeente gaan kuier sedert hy werkloos geword het? Het jy hulle dalk net geskakel en gesê "Ek het gehoor van julle krisis. Ek wil net hê julle moet weet ek dink aan julle en ek bid vir julle".

Het jy al daaraan gedink om hulle uit te nooi vir 'n ete en gesellig saam iets te doen, net om hulle te help om hulle gedagtes 'n bietjie af te lei van die probleme? Of het jy hulle ge­leentheid gegee om net daaroor met jou te praat om hulle te help om uiting te gee aan die emosies wat in hulle binneste opkrop?

Moenie skaam wees om werklike bewoënheid te wys nie. Die Skrif sê tog "treur saam met die wat treur" (Romeine 12:15).

En dan heel prakties: Wat van die gedagte dat 'n kommissie uit die gemeente, onder leiding van die diakonie, 'n lys maak van alle moontlike werksgeleenthede in die omgewing? Die lys word gereeld op datum gehou en sodra daar weer iemand werkloos raak, is daar al onmiddellik 'n beginpunt om weer werk te help soek.

Laat die krisis vir gelowiges 'n geleentheid wees om te wys wat regte Bybelse koinonia (gemeenskap) en diakonia (diens) is.