3 bladsye.

Ekumenies Gereformeerd

“Ons glo dat die Seun van God uit die hele menslike geslag vir Hom ’n gemeente wat tot die ewige lewe uitverkies is, deur sy Gees en Woord in die eenheid van die ware geloof van die begin van die wêreld af tot die einde toe vergader, beskerm en onderhou en dat ek daarvan ’n lewende lid is en ewig sal bly.” Ons bely ook dat “... hierdie heilige kerk nie geleë [is] in, gebonde [is] aan of bepaal [is] tot ’n sekere plek of sekere persone nie, maar oor die hele wêreld versprei en verstrooi [is]. Tog is dit met hart en wil en deur die krag van die geloof in een en dieselfde Gees saamgevoeg en verenig.”

Die eenheid van die kerk van die Here Jesus Christus is in die eerste plek ’n gawe van God, maar gee ons ook die opgawe om dit in waarheid uit te leef.

Die Here het sy wil in verband met die kerk met Goddelike gesag in die Heilige Skrif meegedeel. Hy bou Self sy gemeente (Matthéüs 16:18). Hy ken sy skape (Johannes 10:14) en roep hulle by die naam (Johannes 10:3), “een-een gebore uit die volkeskaar” (vergelyk Jesaja 43:1-8). Hy lei hulle uit en bring hulle saam tot één kudde (Johannes 10:16). Daarom is Hy ook bekend as die ‘Opperherder’ (1 Petrus 5:4; Hebreërs 13:20). Die Here Jesus beskerm sy hele kerk gesamentlik en sorg vir elke lidmaat afsonderlik deur al die eeue heen en elke oomblik (HK, Sondag 21). Hy het immers belowe: “Ek is met julle, al die dae tot aan die voleinding van die wêreld” (Matthéüs 28:20). Jesus het die woorde nie maar net vir sy elf dissipels bedoel nie, maar in hulle het Hy tot die hele kerk en al die lidmate van al die eeue gespreek wat deur hulle woord tot geloof sou kom (Johannes 17). Dit is aangrypend om te besef dat die Here Jesus oral en op alle plekke by sy kerk aanwesig is. Waar twee of drie in sy Naam vergader is, daar is Hy in hulle midde (Matthéüs 18:20).

Vir die opbou en versorging van sy gemeente gebruik die Here mense en allerlei instrumente en organe. Hy het vir sy dissipels beveel om heen te gaan en te preek (Matthéüs 10). Ook werk Hy self aktief en intensief in en deur hulle dienswerk. Paulus plant, Apollos maak nat, maar God laat groei en gee wasdom (1 Korinthiërs 3:6).

Almal wat deur die Vader aan die Seun gegee is, wat deur Hom vrygekoop is, vorm ’n groot geestelike eenheid soos ’n menslike liggaam, waarvan al die gelowiges soos lede van een liggaam is (Romeine 12:5). Die ledemate het elkeen besondere gawes en roepinge (Romeine 12:6;            1 Korinthiërs 12:4-27), maar hoort almal soos een organiese eenheid bymekaar, in harmonieuse samelewing met Christus as Hoof (Efésiërs 1:22-23; 4:16). So vorm al die plaaslike kerke reg oor die hele aarde ’n geestelike eenheid (Efésiërs 4:4-5). Die diepste eenheid van die onoorsienbare kerk van gelowiges oor alle eeue en alle plekke is geleë in die uitverkiesing voor die grondlegging van die wêreld (Efésiërs 1:3 e.v.). Die één onoorsienbare universele kerk van die Here bestaan eerste en primêr, voordat dit sigbaar, plaaslik, instutêr op verskillende plekke gestalte verkry.

Dit wil nie sê dat afsonderlike gestigte gemeentes almal as klein onderdeeltjies van die groter geheel beskou moet word nie. Die Here het vir sy kerk op aarde nie streek, provinsiale, nasionale of ekumeniese ampsdraers gegee nie. Hy het vir haar voortgaande bestaan alleen plaaslike ampsdraers as ouderlinge en diakens, herders en leraars gegee. Die kerke is deur hulle gemeenskaplike geloofseenheid in Christus geestelik een, maar bestaan en funksioneer plaaslik, sigbaar almal selfstandig van mekaar. In Openbaring 1:12 sien Johannes nie één goue kandelaar nie, maar die Here loop tussen sewe sewe-armige kandelare deur wat los van mekaar op hulle eie staan en brand.

Tog is dit belangrik om daarmee rekening te hou dat n plaaslike gemeente nie die enigste plaaslike gemeente van Christus is nie; dieselfde geloofsgehoorsaamheid moet by almal aanwesig wees, omdat hulle almal op dieselfde manier aan Christus behoort.

Daar is sake van gemeenskaplike aard waar in geloofsgehoorsaamheid ander meganismes gebruik moet word om goeie onderlinge orde te reël. In Handelinge 15 is geworstel met die vraag of heidene wat tot bekering kom, ook besny moet word. Afgevaardigdes van verskillende gemeentes is na Jerusalem gestuur om daar saam met die kerkraad van Jerusalem te vergader. Saam het hulle die Woord ondersoek en in geloofsgehoorsaamheid tot ’n besluit gekom.

Die uitroep van sogenaamde meerdere vergaderings was dus nie aanvanklik deel van die totstandkoming of voortbestaan van die kerke nie. Die nut en doel van die meerdere vergadering lê egter besonder daarin dat meerdere plaaslike kerke mekaar hierdeur bystaan om op ’n goeie manier as kerke voort te bestaan. Hieruit is die bekende stelling gebore dat kerkverband en meerdere vergaderings nie nodig is vir die wese, die bestaan van die kerke nie, maar wel vir die welwese, die goeie voortbestaan van die kerke.

Die Gereformeerde kerkbegrip is dus nie sinodaal nie, maar presbiteriaal. Dit gaan van die plaaslike kerk as die enigste voortgaande en permanente vergadering, as sigbare gestalte van die onoorsienbare en universele kerk van die Here Jesus Christus uit. Kerkverband in presbiteriale sin is nie ’n vaste institutêre struktuur nie, maar slegs ’n onderlinge hulpaksie, ’n kommunikasie-funksie en ’n reeks afsprake tussen plaaslike kerke. Hierdie afsprake in onderlinge verbondenheid is vir gelowiges uiters belangrik. Dit geld tussen gelowiges individueel, maar ook tussen ware kerke van Christus. Daarom moet ons die oproep van Paulus nougeset gehoorsaam: “Ek vermaan julle dan, ek, die gevangene in die Here, om te wandel waardig die roeping waarmee julle geroep is, met alle nederigheid en sagmoedigheid, met lankmoedigheid, terwyl julle mekaar in liefde verdra en ernstig strewe om die eenheid van die Gees te bewaar deur die band van die vrede”.

Ons belydenisskrifte asook die kerkorde het oor die loop van die eeue as ’n gemene akkoord tussen plaaslike kerke tot stand gekom, deurdat afgevaardigdes van die kerke (dikwels te midde van uiteenlopende sienings) saamgekom het om oor die korrekte siening van ’n saak te besin. Die Woord is ondersoek en daarvolgens is besluite oor die saak geneem wat op skrif gestel is.

Artikel 31 KO lui dat onderlinge afsprake voorwaardelik is - so het kerke dit met mekaar ooreengekom. As ’n buurgemeente dinge doen wat ten aansien van die Woord tugwaardig is, is dit ons ordelike afspraak dat erkenning en deelneming nie vas en nie bindend is nie, maar voorwaardelik, vermanend, volgens dieselfde praktiese stappe wat die Here Jesus in Matthéüs 18 gestel het vir die optrede tussen broeders.

Die woord ‘kerkverband’ kom nie in die Skrif voor nie. In die Ou Testament is die gedagte gevestig dat God sy koninkryk in en deur die volk Israel, die nageslag van Abraham, Isak en Jakob vestig. Tog was daar ook ander persone wat Hom gedien het. Ons lees van Job en sy drie vriende, van Jetro in die land Midian en van Melgisedek van Salem. Waar gelowiges mekaar ontmoet het was die eenheidsband wat hulle in die geloof met God gehad het die basis waarop hulle handelinge met mekaar berus het. In die ontvouing van die Israelitiese volksgeskiedenis was hulle kultiese en seremoniële godsdienshandelinge georden en het rondom die tabernakel en onder leiding van die Leviete plaasgevind. As Ou Testamentiese kerkvolk het die Jode die gemeenskaplike kenmerk van die besnydenis gehad waarin hulle ’n geloofsband beleef het. Hulle het die wet en die profete en die verbond met God gehad en die gemeenskaplike verbondsgeskiedenis met mekaar gedeel.

Nadat die volk uit ballingskap teruggekeer het, het die sinagogepraktyk langsamerhand inslag gevind. Rondreisende Jode kon later in enige dorp by die sinagoge aandoen vir die gebruiklike daaglikse seremoniële praktyke. So is veral op die sabbatte uitgebreide liturgiese praktyke onderhou. Verskillende standaard-kenmerke het die band tussen die Jode op godsdienstige gebied gesmee. Hier word sorgvuldig beklemtoon dat die bloedband, taal en kultuurband nie regstreeks in fokus is nie. Wat hier wel beklemtoon word is die belewing van kerkverband.

Betreffende hierdie kerkverband gaan dit oor die geloofsband wat gelowiges, gesinne, families en sinagoges met mekaar onderhou het.

Ons kry die interessante samestelling van die dissipelkring van die Here Jesus. Onder hulle was daar Simon die Seloot, Levi die Tollenaar en Paulus die Fariseër. Tog was hulle almal later apostels. Daar is geloofsverband. Christus is die band van eenheid. Hierdie verband is ook later met kerkstigting te Jerusalem gelê. Jesus het die wêreldwye verband self gelê met die opdrag dat die apostels sy getuies sal wees tot aan die uiteinde van die wêreld. Al die nasies moet tot dissipels van Christus gemaak word. Hulle moet gedoop word in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees en hulle moet geleer word om alles te onderhou wat die Here Jesus beveel het. Op hierdie wyse kom daar verband, verbond, verbinding, binding met gelowiges wêreldwyd, in Christus een.

Die gemeente te Jerusalem is vervolg en in die hele hellenistiese wêreld verstrooi. Deur die sendingwerk van die apostels het gemeentes vanweë die verkondiging van die Here Jesus tot stand gekom. Waar daar gemeenskaplike knelpunte was, het hulle die briewe van die apostels aan mekaar gestuur. Die apostels het die Nuwe Testamentiese gemeentes net so oor verskillende gedrags- en leerstellige probleme vermaan as wat die profete die Ou Testamentiese kerk aangespreek het.

Ketters en dwaalleraars is effektief deur die apostels, en ná hulle ook die kerkvaders bestry (byvoorbeeld die skeurgroepe onder leiding van ketters soos Montanis, Arius, Pelagius en Donatus). Sommige het met hulle skeurgroepe self uit die gemeenskap van die kerke getree. Ander kere het die kerk die ketters uitgedryf en soms selfs tereggestel (byvoorbeeld Servette). Dit het soms gebeur dat persone onregmatig uit die kerk geweer is (Wicliff, Huss en Luther). Dan moes hulle noodgedwonge op ander plekke begin vergader.

Met die herstigting van die Gereformeerde Kerke in 1859 te Rustenburg is lidmate deur die sinode gedwing om sekere praktyke en leerstellige standpunte teen hulle gewetens en die Woord te aanvaar. Hulle is voor ’n ultimatum gestel om te konformeer of om uit die kerkverband te tree. Soortgelyk was die probleem met die Vrymaking in Nederland (1944). Kerke en individue is sinodokraties gedwing en in die gewetens gebind om bepaalde afwykende dogma te aanvaar. By weiering daarvan is hulle uit hulle ampte afgesit. Daar was by die vaders van die Vrymaking geen ander opsie oor nie as om gemeentes te stig, gesuiwer van die dwaalleer en kerklike dwinglandy. Ook hierdie hervorming het eers plaasgevind nadat die strydpad vir die ‘reformatore’ toegemaak is.

Sonder om nog verder op historiese voorbeelde in te gaan, is dit die bedoeling om ’n duidelike onderskeid tussen die reformatoriese vergaderende werk van Christus op die kerkverbandelike terrein te maak en ’n skismatiese en sektariese skeurmakery aan die ander kant. Herformasie van kerkverband mag slegs plaasvind wanneer die strydpad vir reformasiegesindes deur die kerk sodanig toegemaak en verhinder word dat hulle nie meer gesprek oor die sake van reformasie kan voer nie omdat die kerk self daardie gesprek afsny. Hiermee saam: herformasie mag slegs plaasvind wanneer die kerk die reformasiegesindes se gewetens met menslike voorskrifte bind en dwing en hulle uit die amp afsit of uit die kerk afsny. Die valse kerk openbaar homself immers waar hy aan sy eie besluit meer mag en gesag toeskryf as aan die Woord van God (NGB artikel 29).

As sommiges die band wat die Gees gegee het deurbreek (Johannes 15), mag ons nie met hulle daarin saamgaan nie. Ons behou die roeping om te vermaan en terug te roep. ’n Kerk mag egter nooit die geringste aanleiding gee dat sy iets doen om die onderlinge band van die eenheid van die Gees te versteur of te verskeur nie (Efésiërs 4:1-4). Hierdie band is onverhandelbaar kosbaar, omdat dit deur die Here self aan ons gegee is.