2 bladsye.

Evangelies-Gereformeerd

Twee maande gelede – in die artikel getiteld Katoliek, Protestants, Gereformeerd en Evangelies – is aangetoon op watter wyse ’n gereformeerde gelowige/kerk ook evangelies behoort te wees. In vandeesmaand se artikel wil ek probeer aantoon op watter wyse evangeliese gelowiges ook gereformeerd behoort te wees! Anders gestel: evangeliese kerke met ’n sterk reformatoriese (Calvinistiese) basis  kan gevaar loop om die verkondiging van die rykdom van die evangelie te verskraal indien bepaalde Bybelse momente – wat besonder eie is aan die gereformeerde geloofsleer – misverstaan óf verontagsaam word. Hier word spesifiek na die leer van die genadeverbond verwys.

Sommige evangelies-reformatoriese  kerke is geneig om hul gereformeerde basis te verskraal tot slegs die sogenaamde “five points of Calvinism”. Daaronder word verstaan sake soos die “totale verdorwenheid van die mens”, “Gods onvoorwaardelike uitverkiesing”, die “beperkte versoening”, die “onweerstaanbare genade” asook die uiteindelike “volharding van die gelowiges.” Verskillende evangelies-reformatoriese kerke vind in hierdie breëre calvinistiese basis by mekaar aansluiting. Hier dink ’n mens byvoorbeeld aan die talle gereformeerde Baptiste groepe, die evangeliese Anglikane ensovoorts. Die volstrektheid van die vrye genade van God word by al hierdie kerkgroepe gehandhaaf en skerm hulle af van Arminiaans-evangeliese groepe.

’n Mens vind egter dat genoemde evangelies-reformatoriese kerke/gelowiges daarvan wegskram om die evangelie binne die verbondsmatige konteks van die Skrif te verkondig en sodoende word die verkondiging onvermydelik verarm. Wanneer die appèl van die evangelie buite die kontoere van God se genade-inisiatief geplaas word, word die mens op homself teruggewerp om “die Here te vind” en “aangeneem te kry.” Die insig wat die gereformeerde aksent meebring, verryk egter die verkondiging dramaties en plaas vaste grond onder die gelowige se voet – die vaste grond van Gods verbysterende genade-inisiatief wat belofte-gewys persoonlik toegesê word.

Verbondsmatige verkondiging is niks anders nie as om die evangelie binne die “omhulsel” van Gods belofte te verkondig nie. Wanneer die Woord iemand se ore bereik, bring God ’n band tussen Homself en die mens tot stand. Die Woord skep ’n verbinding tussen God en mens. God bring die mens binne Sy dampkring deur middel van die verkondigde Woord. Hy sluit die hoorder in by die heil. ’n Meer Bybelse manier van sê sou wees om te sê dat God die hoorder van Sy Woord binne ’n verbondsverhouding met Homself bring. Want d.m.v. die verkondiging word ’n eensydige toesegging gemaak: God sê aan die hoorder die heil toe. Hy sê letterlik: “Ek verklaar aan jou dat Ek jou ingesluit het by die kruisverlossing van Golgota en daarom is jou skuld betaal. Ek het jou met myself versoen. Plaas jou vertroue daarop en begin met Mý leef.” Let op dat dit presies die manier is waarop die apostel Johannes dit doen in 1 Joh 5: 9-13: God se “getuienis” - wat aan almal verkondig word – behels dat “Hy ons die ewige lewe gegee het deur Sy Seun”. Let op die verlede tyd “gegee het”. Dit is hierdie getuienis wat geglo moet word. Wie dit nie glo nie, maak God tot leuenaar en gaan verlore.

Dit is nie alleen kerke wat die kinderdoop bedien wat aanspraak kan maak op verbondsmatige verkondiging nie. Wanneer ook al die toesegging wat die Skrif maak, korrek verstaan en verkondig word, is daar sprake van verbondsmatige verkondiging, sonder dat die begrip “verbond” direk ter sprake kom! Hoe dikwels kom die begrip “verbond” slegs ter sprake wanneer die legitimiteit van die kinderdoop verdedig word! Aan die ander kant is daar kerke wat die kinderdoop bedien sonder enige noemenswaardige verbondsleer. ’n Mens sou kon sê hulle bedien die kinderdoop sonder dat hulle enige substansiële inhoud daaraan heg. Natuurlik verryk die korrekte verstaan van die doop die verkondiging, want die doop onderstreep aan die individu dít wat die Woord in elk geval aan die persoon toesê: “Jou sondeskuld is regtig op Golgota uitgewis.” Op watter wyse of tydstip die persoon ook al gedoop is, die verkondigde Woord spring die doop voor. Ook die ongedoopte persoon wat die verkondigde Woord aanhoor, ontvang uit die Skrif die toesegging van dieselfde verbondsbelofte en mag dit onmiddellik aanneem. Die gedoopte het nie ’n voorsprong bó die ongedoopte nie. Die voorreg wat die gedoopte egter wél het, is dat die doop die verkondigde Woord persoonlik waarborg en onderstreep ten einde aan die hoorder volkome sekerheid te gee. Bo en behalwe die verkondigde toesegging, gee God Sy sigbare handtekening daarbý en wie kan dan nog twyfel? Dit is die rykdom van die pastoraal-sakramentele betekenis van die doop.

Evangelies-reformatoriese kerke wat hul gereformeerde basis verstaan én dit ernstig neem, handhaaf die evangeliese klem op die soteriologie, die ononderhandelbare noodsaak van geloof en bekering, asook die klem op sekerheid van saligheid en ’n passie vir sending en evangelisasie (soos in die vorige artikel aangedui), maar benader dit vanuit die vrye toesegging van die reeds volbragte heil en die persoonlike insluiting van die individu daarby. Die band (verbond) wat die verkondigde Woord tussen God en hoorder skep, word sodoende korrek verstaan en aan mense bedien. Dit is van hieruit wat die geloof en bekering as Godgegewe vrug voortvloei.