Bron: Kompas, 2002. 2 bladsye.

Fris en Lewenskragtig in die Ouderdom

Om oud te word beteken vir baie mense verlies van kragte en aftakeling van vermoëns. In ʼn sekere mate geld dit vir ons almal. Tog is die verouderingsproses nie iets wat buite ons verantwoordelikheid staan nie. Dit is nie ʼn noodlot wat ons maar net moet ondergaan nie. Vir elke dag mag ons van die Here lewensmoed en lewenskrag vra.

As ons die Here vir lewenskrag vra om Hom ook in ons ouderdom nog te kan dien, gee Hy vir ons sy beloftes:

Die jonges word moeg en mat, en die jongmanne struikel selfs; maar die wat op die HERE wag, kry nuwe krag; hulle vaar op met vleuels soos die arende; hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle wandel en word nie mat nie.Jesaja 40:30, 31

Nog meer direk, juis in verband met ouer word, klink die belofte in Psalm 92: Die regverdige sal groei soos ʼn palmboom; hy sal opgroei soos ʼn seder op die Libanon. Geplant in die huis van die HERE, sal hulle groei in die voorhowe van onse God. In die gryse ouderdom sal hulle nog vrugte dra, hulle sal vet en groen wees, om te verkondig dat die HERE reg is, my rots, en in Hom is geen onreg nie.Psalm 92:13-16

Hierdie belofte geld spesiaal vir die regverdiges. Hulle lot word hier teenoor die van die goddelose mense gestel. Die goddelose mense mag voorspoed hê en “groei soos plante” maar dit is onbestendig en tydelik. Hulle sal vergaan net soos wat groen onkruid verwelk en verdor. Maar die regverdiges staan vas en word met palm en seder vergelyk. Die palmboom en die seder is bome wat eeue oud kan word en altyd groen bly. Die dadelpalm word ook deur sy baie vrugte gekenmerk.

Nou moet wel duidelik gestel word dat die regverdiges nie noodwendig die “room van die mensheid” is nie. Wie van ons sou homself dan hierdie belofte kon toeëien? Slegs deur die geloof is ons regverdig vir God. So getuig die Skrif ook van Abraham dat hy deur sy geloof regverdig was (Romeine 4:4-6).

Hierdie geloof bely eie tekortkomings en onmag. Hierdie geloof het ʼn besef van eie sonde en skuld. Maar dit soek en vind sy geregtigheid in God se genadige ontferming in Jesus Christus. Hierdie geloof stempel die hele lewe. Dit spoor ons aan om met lus en liefde volgens die wil van God in alle goeie werke te lewe. Ons hele lewe lank, dankbaar en bly.

Tog is dit nie almal wie so uit die geloof lewe se deel om in hulle ouderdom “fris en lewenskragtig” te wees nie. Ook regverdiges kan op ʼn vroeë leeftyd al aftakeling in hulle lewe ervaar.

Hierby moet ons besef dat God se seën in die ou verbond ʼn meer sigbare en tasbare vorm gehad het. Dit kom baie duidelik na vore wanneer in Levitikus 26 en Deuteronomium 28 seën en vloek teenoor mekaar gestel word. Dit was toepaslik vir Israel omdat hulle nog as volk van God in die kinderskoene gestaan het.

Maar ook toe reeds was die kern van die seën geestelik van aard. Die regverdiges sal groei soos ʼn palmboom en ʼn seder, omdat hulle “in die huis van die HERE geplant is”, “in die voorhowe van onse God”. Die vreugde van hulle bestaan vind hulle in die genot van die gemeenskap met God. En so dra hulle vrugte, ook in hulle ouderdom.

Dit is ook vir ons die kern. Dit gaan nie net daaroor dat ons self kan groei en bloei nie. Maar dat ons in die ouderdom ook nog vrugte vir die Here sal dra. So ʼn ouderdom is ʼn geseënde ouderdom.

Die Here gaan met elkeen van sy kinders ʼn eie pad. Die pad kan ook lei deur onverstaanbare donker dieptes. Dan moet ons gewillig die pad volg waarheen sy hand ons lei. In die geloofsvertroue dat sy hand liefde is en sy pad saligheid.

ʼn Lewe wat so gelouter word kan dikwels die rykste en rypste vrugte vir die Here dra en in daardie sin “fris en lewenskragtig” wees. Ook by liggaamlike aftakeling en verval van kragte.

Laat ons duidelik besef dat ons eie geestelike matheid en gebrek aan diensvaardigheid nie die oorsaak mag wees dat ons buite die lewe te staan kom en nie meer vrugte vir die Here dra nie.

Ons kan op baie verskillende maniere vir die Here vrugte dra. Ook wanneer ons in ʼn groot mate beperk word in ons vermoëns en wanneer ons al hoe meer hulpbehoewend word. Wanneer ons lewe dan tog nog deur geduld en blymoedigheid bestempel word, het dit ʼn aansteeklike uitwerking. Dit kan ʼn baie positiewe invloed op ons omgewing hê!

Die waarde en krag van die geloofsgebed mag veral ook nie onderskat word nie. ʼn Bejaarde suster het eendag vir my gesê: “Ek kan niks meer doen nie, behalwe bid!” Ek het haar toe daarop gewys dat die geloofsgebed meer beteken as enige menslike organisasievermoë en totale insette van ongebroke lewenskrag.

Lê hierin nie juis vir ons bejaardes hulle grootste taak nie? Wie in die gejaagde arbeidsproses opgeneem is, ondergaan die invloed van die gejaagde lewe. Dit hinder dan dikwels die gebedslewe. Tyd vir rustige konsentrasie, wat vir die gebedslewe nodig is, ontbreek dikwels.

Ouderdom is ʼn tyd van rus en besinning, van inkeer tot jouself en tot die Here. Daar kan dan beter afstand geneem word van allerhande klein dingetjies van elke dag, wat ons so maklik in beslag kan neem. So kan die werklike nood van die kerk en van die wêreld beter oorsien en ingeskat word en aan die Here voorgelê en opgedra word. Laat die bejaardes wat nie veel meer kan doen behalwe bid nie, bewus wees van die groot krag van die gebed. Hulle moenie mismoedig fokus op wat hulle nie meer kan doen nie. Maar met die krag van die geloof moet hulle hulself beywer om te doen wat hulle nog wel kan doen.

Ek dink nou aan die stryd van Israel teen Amelek in die woestyn, by Rafidim. Josua het teen Amelek in die vlakte gestry. Maar Moses het op die top van die berg gestaan en het sy staf na die hemel opgehef. Dit was natuurlik nie net ʼn leë gebaar nie. Moses het daarmee die hulp van die HERE afgesmeek.

En dan sien ons dat, sodra hy die staf laat sak het omdat sy hande moeg geword het, Amelek die oorhand gekry het. Toe het hulle ʼn klip opgerig waarop Moses kon sit en Aaron en Hur het sy arms ondersteun sodat hy die staf na die hemel uitgereik kon hou. En so het hulle die oorwinning behaal. Deur die geloofsgebed, wat deur middel van die opgehewe staf na die hemel opgestyg het. So kan ons tot in hoë ouderdom, solank as wat ons kan bid, ons plek in die strydende kerk inneem.

Laat ek dit so saamvat: Ons lewe moet heeltemal deur diensvaardigheid aan die Here bestempel word. Tot in hoë ouderdom.

Wat die diens aan die Here betref, die Here stuur ons nooit met pensioen of emeritaat nie. En van vervroegde pensioen is daar glad nie sprake nie. Ook as ons net een talent oorgehou het, mag ons dit nog steeds nie begrawe nie.