Bron: Vox Viva. 3 bladsye.

Funksionele dood!

Loop hierdie lewe uit op ‘n ewigheid aan die ander kant van die graf? “Dit kan ek nie meer glo nie!” vertel die berugte Engelse Biskop J.A.T. Robinson aan ‘n Joodse student. Dit kan vir Robinson geen doel in die lewe meer wees om ‘n “goeie dood” te sterf nie. Wat nou saak maak is wat jy in hierdie lewe doen. Daarna kan dit eintlik nie meer saak maak wat gebeur nie. Niemand word meer aangespreek deur die dood nie en is ook nie in besonder bang daarvoor nie. Vrese en tegelyk ook verwagtings van enigiets anderkant die dood het alle krag verloor.

Die dood deel van die lewe?🔗

Alle moderne ontwikkelinge in die mediese wetenskap ten spyt, is mense steeds dit eens dat ons almal moet sterwe. Dit is by die vraag hoe ons na die dood kyk en hoe ons leer om dit te verwerk, dat die weë vêr uiteen gaan. Daar was tye in Christelike kerke dat die angs vir die dood as ‘n soort afskrikmiddel van ‘n ligsinnige lewe gefunksioneer het. Vreesbeelde oor die dood het moeiliker geword in die tyd wat ons leef. Mense het maniere gevind om die vrees vir die dood te verdryf. Hoeveel begrafnisondernemers weet nie al te goed hoe om die dood selfs mooi te laat lyk nie! Selfs sonder hierdie soort narkose, is daar talle mense wat sterf sonder om enigsins na te dink oor wat die dood is.

Dit het deel geword van “in memoria” en selfs skrifoordenkings by begrafnisse om van die dood as ‘n “verlossing” te praat. Dit gaan ons nie verby nie. Vir baie is dit vandag nie meer so eenvouding om te verwoord of die vrees vir die dood of eerder die angs om te lewe die grootste is nie! Die gereelde voorkoms van selfmoord laat sien dat die vrees vir die lewe die betekenis van die dood radikaal beïnvloed.

Vanuit die filosofie is selfs die dood van Christus totaal nuut verstaan. ‘n Nuwe verstaan van Jesus Christus moet in diens gaan staan van ‘n nuwe omgaan met die dood. Die hoogtepunt van Jesus se lewe word gesien in sy oorgawe aan die dood self. Sy dood sou nie maar net nog een van baie wees nie. Wanneer Jesus sterf, word die wese van ‘n mens se bestaan duidelik as ‘n menswees-tot-in-die-dood.

Die Eksistensialisme oor Jesus se dood en opstanding🔗

Jesus se dood sou volgens die filosofie van die eksistensialisme niks te doen hê met God se toorn nie. Dit is juis volledig openbaring van God se liefde vir mense. Jesus sterf om die mens in sy reg te herstel. Jesus se dood laat ons sien dat ook ons nie in ons dood in die nietigheid verval nie, maar in God se hand. Selfs in die dood sal ons nie met die dood en sy mag te doen hê nie, maar met die genadige God.

Volgens hierdie verstaan van die Skrif is dit nou juis nie net die boodskap van Jesus se dood nie, maar ook sy opstanding uit die dood. Jesus staan op sodat ons kan weet dat niks ons van die liefde van God kan skei nie. As God vir ons is, kan niks teen ons wees nie. Nie eers die dood nie (Rom. 8:32 ev.). Op hierdie manier word die dood iets wat by die lewe pas en selfs heel mooi is. Volgens die Duitse Nuwe Testamentikus, Rudolf Bultmann, wil die boodskap van Christus se dood en opstanding uit die dood ons leer om die dood radikaal te omhels. Geloof sou dan die lewenshouding wees waarmee ‘n mens oop staan vir die toekoms wat die dood insluit. Geloof maak vrede met die lewensangs en omhels alle onsekerheid – ook die onsekerheid van die dood.

Die ewige lewe is om hierdie openbaring van God in Christus te ken en aanvaar. Dit is ‘n lewe nie van ná die graf nie, maar van hier en nou. Die dood kan die lewe van hier en nou nie raak nie – daarom moet ons nóú leef deur alles daarvan te geniet wat ons kan en wil. Die dood kan die lewe van nou nie raak nie.

Doodgewone dood🔗

Die manier waarop die dood vandag dikwels anders gesien word, het dus alles daarmee te doen dat die dood onafskeidelik deel is van die lewe. Die dood het doodgewoon geword. Vrees vir die dood moet verdwyn. Geniet die lewe, want dit is maar kort! Angs oor ‘n lewe ná die dood moet weggeneem word. Gedagtes oor reïnkarnasie word al meer gewild. Die dood word ‘n geleentheid waarin die mens homself kan “uithuil” oor die lewe van mislukte kanse en geleenthede, om dan net weer in ‘n nuwe lewe in ‘n nuwe liggaam nuwe geleenthede aan te gryp.

Dood is ook nie meer net dood nie. Dit is te kleurloos en kaal. Mense moet dink dat hulle voortleef in hulle nageslag of selfs in die natuur. Mense kon dus nog nie daarin slaag om die dood self as totaal magteloos te verstaan nie.

Sinvolle en funksionele dood🔗

‘n Ander manier waarop die dood skadeloos gemaak word, is om die dood ‘n funksie te gee. Maak die dood iets sinvol. Vergeet dat die dood die loon op die sonde is. Die Biologie het ons tog geleer dat die dood by die lewe hoort. Die dood staan selfs in diens van die lewe. Jou eie afsterwe kan ‘n manier word waarop jy in ‘n oorbevolkte wêreld plek maak vir ‘n ander een. In ‘n wêreld met beperkte werkgeleentheid, skep jou dood groot moontlikhede vir jou naaste.

Dit is geen groot sprong om van hier te kom na die belangrikheid van orgaanoorplantings nie. Die een wat sy organe beskikbaar maak vir sy medemens, laat sien dat hy deur sy eie dood in diens van ander se lewe wil staan. Ons dood het ‘n funksie vir die voortbestaan van die menslike geslag. Die dood kry sin en betekenis.

Hier lê een van die sterkste motiewe vir die regverdiging van aborsie. Niemand sal wil ontken dat die ongebore baba ‘n lewende wese is nie. Een van die faktore waardeur aborsies geregverdig word, is die funksionaliteit van die dood van die ongebore baba. Die dood van die ongebore baba moet egter in diens staan van die lewe van die moeder wat oor haar eie lewe wil beskik of kies om haar lewe anders in te rig as wat moontlik sal wees wanneer die baba eenmaal gebore is.

Bring by hierdie “ontmitologisering” van die dood nog ‘n knippie ekonomiese motiewe en dit word verstaanbaar waarom die voortydige beëindiging van die lewe van ‘n swak, sielsieke en verstandelik beperkte bejaarde met die mooi woord “genadedood” beskryf kan word. Die dood van die bejaarde of verstandelik/ liggaamlik siek mens moet in diens staan van die voortgang van die lewe van ander. Dit is goed om dood te gaan. Elkeen kry sy beurt en deel en as joue verby is, moet jy plek maak. Sonder die dood is daar geen lewe meer nie en daarom is daar vir talle vandag geen lewe meer sonder die dood nie. Die dood is funksioneel en betekenisvol gemaak!

Met allerlei mediese tegnieke kon die lewe van die mens verleng word, maar nie alle agteruitgang van die lewenskwaliteit kon ingeperk of gestuit word nie. Die gevolg is ‘n groeiende bevolking van bejaardes waarvan die lewenskwaliteit dikwels baie laag is. In die versorging van hierdie bejaardes (of in elk geval langer lewende mense wat andersins vroeg sou sterf), word daar nou swaar aanspraak gemaak op finansiële offers en tyd en mannekrag. Dit is duidelik hoe die dood dan maklik gesien word as ‘n bondgenoot om die lewe vir die nuwe geslag meer leefbaar te maak. Die groei in mediese kennis het ongelukkig nie ‘n eweredige groei in die verstaan van die dood tot gevolg gehad nie. Dit het eerder gelei tot ‘n totaal nuwe verstaan van die dood wat werklik liefdeloos en onchristelik is. Só word “genadedood” die hoogste vorm van medemenslikheid!

Beheer oor die dood🔗

Wanneer die dood eenmaal as deel van die lewe gesien word, sal daar na maniere gesoek word om die dood ook te beheer. Waarom sou die tegnologies gevorderde mens hom nog laat oorval deur die dood? Ons kan die dood eerder inspan soos wat dit ons pas. Die mens neem selfbeskikkingsreg op oor die lewe en die dood. Die onsekerheid van die dood moet onder beheer gebring word. Op hierdie manier kan ek deur orgaanskenking my organe selfs ‘n tweede kans op lewe gee!

Dit alles is natuurlik geen goeie manier om die laaste vyand te oorwin nie en dit bly ‘n illusie. Dit ontneem ook die Paasfees van enige betekenis. Christus se dood en opstanding word vervlak tot ‘n lewensfilosofie. Christus se dood en opstanding maak  dat ons nie ligtelik met die dood omgaan nie. Die dood moet oorwin word. Dit is ‘n oorwinning wat ons het in Christus alleen. Die stryd teen die dood gaan voort. Wel uit die sekere verwagting van Christus se wederkoms waardeur die laaste vyand vernietig sal word. Die dood sal verslind word in Christus se oorwinning!