Bron: Kerk en Woord. 7 bladsye.

Galasiers 3:28 - Gelyk voor God of Een in Christus?

’n Skrifstudie oor Galásiërs 3:28🔗

Paulus, ’n hartseer apostel, wat soveel moeite gedoen het om die evangelie van Christus suiwer aan die Galásiërs te verkondig, is van voor af in barensnood. Sy werk is deur Joods-gnostieke leraars getorpedeer. Volgens Galásiërs 3:1 het hulle die gemeentes betower. Die gemeentes van Galásië is in verwondering oor die verstommende sogenaamde dieptes waartoe die gnostici met hulle besondere ‘kennis’, buite Christus om, kom. Dit is ’n groot teleurstelling, want Paulus het die evangelie so duidelik aan hulle verkondig asof Christus voor hulle oë gekruisig is.

Hy roep hulle tot verantwoording. Hoe het hulle die Gees ontvang? Hoe het die lewendmakende Gees van God by hulle kom werk (vergelyk Johannes 3)? Dit is die saak waaroor dit in die hele brief en ook in hoofstuk 3 gaan. Is dit deur die werke van die wet of deur die prediking van die geloof? Die Jode onder hulle wil hê dat dit deur die werke van die wet moet wees. As iemand nie ’n Jood is wat die wetboek van die voorvaders ontvang het en veral ook nog steeds die skaduagtige voorskrifte daarvan onderhou nie, maar ’n Griek is, is hy ’n minderwaardige gelowige. As iemand nie ’n vryman is wat as kind van Abraham met superieure regte die wet kan toepas nie, maar ’n slaaf is, is hy ’n minderwaardige gelowige. As iemand nie ’n man is wat die orde gerieflik despoties sonder teëspraak kan dikteer nie, maar ’n vrou is, is sy ’n minderwaardige gelowige. So klink ook die daaglikse gebed van die Judaïs wat God dank dat hy nie ’n heiden, ’n slaaf of ’n vrou is nie. Hy dank God dat hy nie ’n minderwaardige gelowige is nie.

Daarteenoor toon Paulus vanuit die Ou Testament die waarheid aangaande die saligheid soos dit in Christus vervul is, aan: die lewewekkende werking van die Heilige Gees het nie anders as deur die verkondiging van die geloof in Christus na hulle toe gekom nie. Geloof is die gawe van God waardeur ons, ongeag ons stand, bloedlyn of geslag, die saligheid in ontvangs neem. In hoofstuk 3 vers 28 kom Paulus by die toepassing van dié leer. Die toepassing dien tegelyk as noodsaaklike regstelling van die heersende dwaling.

n Ou probleem🔗

Die probleem wat Paulus aanspreek was geen nuwe probleem nie, maar so oud soos die verbondsgeskiedenis self. Om maar een voorbeeld te noem: Jona, die patriotiese profeet, het onder hierdie dwaling swaar gely. Hy moes op ’n bitter manier leer dat die saligheid, asook iemand se waardigheid ten aansien van die saligheid, nie bepaal word deur materiële kwaliteite soos bloedlyn, stand, geslag of volksverband nie. Die Jode het hulleself in prioriteitsposisies ten aansien van die saligheid gekategoriseer – dan het dit saak gemaak of jy ’n Jood of ’n Griek, ’n slaaf of ’n vryman, ’n man of ’n vrou is. Selfs binne die dissipelkring van Jesus het die strewe dikwels kop uitgesteek om te wedywer na wie die belangrikste in die koninkryk sal wees. Telkens moes en het Jesus op die nederigste en mins-geagte mense onder hulle gewys.

Paulus spreek dieselfde probleem onder die betowerde Galásiërs aan. Hulle ly swaar onder die aanslag van die Judaïsme wat steeds hierdie hoogmoedswaan in die gemeente wil laat geld. Die Joods-gnostieke leiers het christene daartoe verlei om steeds op ’n tipies Joodse manier saligmakende waardes aan die besit van ‘n statusposisie te koppel: of jy Jood of Griek is, slaaf of vryman, man of vrou. Vanuit die Ou Testamentiese verbondsgeskiedenis toon Paulus in Galásiërs 3 aan dat, wanneer dit oor ons waardigheid binne die saligheid gaan, daar nie meer onderskeiding in terme van volk, stand of geslag geld nie. Materiële en biologiese onderskeidings, of sosiale en kulturele strukture en konvensies wat onder ons gebruiklik is, is nie geldig wanneer dit oor ons ewigheidsbelang gaan nie. Wanneer dit oor ons ewigheidsbelang gaan is slegs een kriterium geldig, en dit is of ons in Christus is. In Christus is almal wat salig word – die hele liggaam van Christus met al sy variasies en verskeidenheid van ledemate – ewe welgeluksalig.

Wie is die onderskeie mense in vers 28 nou eintlik?🔗

Dit gaan hier nie oor mense wat buite Christus staan nie – miskien wel mense wat voorheen buite Christus was. Paulus beskryf hier nie die breë sosiale maatskappy in die wêreld nie – ook al is die mense vir wie hy skryf nie geïsoleer van die sosiale maatskappy nie, maar volledig daarbinne ingeskakel.

Hy is nie – ten opsigte van die verwydering van die onderskeid tussen slaaf en vryman – besig met ’n Marxistiese of Frans-revolusionêre politieke teologie wat die slaaf-vryman verhouding wil omverwerp nie.

Hy is ook nie – ten opsigte van die verwydering van die onderskeid tussen Griek en Jood – met die globalistiese Babiloniese teologie besig wat die onderskeiding tussen volkere wil verander tot ’n universele wêreldburgerskap nie.

Ten opsigte van die verwydering van onderskeid tussen man en vrou, is hy nie besig met die feministiese teologie wat die onderskeid tussen man en vrou ongedaan probeer maak nie.

Kortom: Paulus hou hom nie op met die sosiale politieke bevrydingsteologie waarmee ons in die laaste eeu op verskeie terreine so fel gebombardeer word nie. Die geldigheid van sy lering sal ook nooit irrelevant word wanneer in die komende eeue of in ander plekke ander sosiale strukture onder die mense tot stand sou kom nie.

Dit gaan hier uitsluitlik oor die gelowiges wat uit verskillende volke en stande aan God se verbond met Abraham deel kry. Dit gaan eksklusief oor die kerklike gemeenskap wat deur die uitvoering van die sendingopdrag (kyk Matthéüs 28) dissipels van Christus word, tot geloof gekom het, gedoop is in die Naam van die drie-enige God en geleer word om alles te onderhou wat Jesus beveel het.

Interpretasie stry met die teks🔗

Die foutiewe interpretasie van Galásiërs 3:28 is daarin geleë dat ’n ongeldige vereenselwiging gemaak word tussen die letterlike uitdrukking ‘een in Christus’ (eis en Christoi) in die Griekse teks en wat die verklaarders interpreteer as ‘gelyk in Christus’ (omoioos en Christoi) of selfs ‘gelyk voor God’ (omoioos pros ton Theon).

So byvoorbeeld Van Rensburg en Möller: “Dit gaan nie oor die opheffing van die onderskeid tussen Jode en Grieke nie, maar om hulle gelykheid voor God.” So ’n interpretasie van die teks is in der waarheid ’n plaasvervanging van die geïnspireerde teks.

’n Verdere implikasie hiervan is dat hierdie foutief geïnterpreteerde gelykheid sou inhou dat almal gevolglik ook aan mekaar gelyk is en daarom noodwendig tot dieselfde taak, funksie, posisie en status in die samelewing (en daarom veral ook in die kerk) bemagtig of geregtig is – asof hierdie reg deur Christus aan die kruis verdien is.

Daar is ook Bybellesers en/of verklaarders wat die tekswoorde as ’n soort locus classicus (die grondliggendste plek, die klassieke plek in die Bybel) neem, wat ondanks die res van die Skrif, die beginsel sou verskaf om die onderskeidende funksies en posisies van mense afskaf. Die teks sê immers self dat daar ‘geen’ onderskeid meer is nie.

So ’n verregaande verdraaiende omgaan met die teks is reeds deur prof Greijdanus in sy Teologiese kommentaar op het Nieuwe Testament van Galásiërs 3:28 as strydig met hierdie teks afgewys. Hy skryf onder andere die volgende:

“De dwaalleeraars zeiden, dat wanneer zij niet besneden werden, zij niet zalig konden worden, Hand. 15:1, dus geen deel in Christus en Zijn heil hadden. Neen, zegt de apostel, gij, ook gij, zijt een in Christus. εις niet εν, hoewel de lezing εν ook voorkomt, doch denkelijk door verandering van het oorspronkelijke, misschien in verband met het volgende εν. Het onzijdige zou eene onbepaalde eenheid aanduiden, εις wijst op het persoonlijke; vgl. ook Eph. 2:15. Zij vormen als een persoon. Niet (Afr. eenders HLJM) noch ισοι (Afr. gelyk HLJM), gelijk, waardoor overeenkomst van hoedanigheid, gesteldheid, houding, aangegeven zou zijn. εις spreekt van onderlinge verbinding tot eene volstrekte eenheid als een persoon (kursivering HLJM); vgl. ook Rom. 12:4-5. εστε ook hier, evenals in vs. 26, εν Χριστω Ιησου vgl. bij vs. 26. Deze eenheid is in Hem gegrond, en bestaat in Hem. Met dit vers wordt verscheidenheid van dienst in ‘s Heeren gemeente niet uitgesloten, vgl. 1 Cor. 12:13 vv., en evenmin gezegd, dat voor het gemeentelijke leven en optreden en werken, en ten aanzien der ambten, geslachtelijke verschillen voorbijgezien moeten worden, en van geene beteekenis meer zijn, vgl. 1 Cor. 14:34-35; 1 Tim. 2:11 vv. De apostel handelt hier niet over de diensten in ‘s Heeren gemeente, maar over deel aan Hem en de verbinding der geloovigen onderling en in Hem, met betrekking tot de genieting van het heil Gods in Christus, zooals ook nog weer uit vs. 29 blijkt.”

Absoluut geen onderskeid nie?🔗

Dit is belangrik dat kennis geneem word van die absolute uitdrukkings wat ons in die Skrif kry en hoe hierdie terme in die algemeen deur mense gebruik word. Dink aan die woorde: alles, almal, hele, niemand, niks, geen. Absolute terme word in enige taalgebruik nooit absoluut ongekwalifiseerd gebruik nie, maar altyd nader bepaal deur die konteks waarin dit gebruik word. ’n Soektog deur die Skrif met die sleutelwoorde: hele, alles, geen en niks, lewer telkens die resultaat op dat wanneer hierdie absolute woorde gebruik word, dit deur die verdere omskrywing nader gekwalifiseer word.

So moet dit ook in Galásiërs 3:28 verstaan word. Wanneer Paulus sê dat daar “geen” onderskeid meer tussen mense is nie, moet ons uit die konteks gaan vasstel in watter sin hy dit bedoel het. Die konteks is kennelik die tema van die saligheid – die verlossing kan alleen deur die genade wat God aan ons in Christus bewys het, verkry word. Wat hierdie saak betref is daar géén uitsonderings te vinde nie. Gevolglik die reformatoriese slagspreuke: sola gratia, solo Christo en sola fide. Hierin is daar “geen” onderskeid tussen mense wat salig word nie. Die rede daarvoor is dat God alle mense wat salig word in Christus verenig het. Hulle is een in Christus.

In Christus een🔗

Een-wees in Christus is ’n baie bekende Pauliniese begrip. In Galásiërs 3 ontwikkel hy die verkondiging van ons een-wees in Christus pertinent as die een weg na saligheid:

Die een weg van saligheid deur die geloof vir almal word vanuit die Ou Testament aangetoon met die volgende argumente:

Abraham het alreeds die saligheid alleen deur die geloof ontvang🔗

  • Galásiërs 3:6: Net soos Abraham in God geglo het, en dit is hom tot geregtigheid gereken.

Dieselfde grondbeginsel van die saligheid geld net so vir almal wat as kinders van Abraham kwalifiseer🔗

  • Galásiërs 3:7: Julle verstaan dan dat die wat uit die geloof is, hulle is kinders van Abraham.

Menslike prestasies soos die onderhouding van die wet as kenteken van hoogwaardigheid kan nie vir die saligheid deug nie🔗

  • Galásiërs 3:10: Want almal wat uit die werke van die wet is, is onder die vloek; want daar is geskrywe: Vervloek is elkeen wat nie bly in alles wat geskryf is in die boek van die wet om dit te doen nie. Galásiërs 3:11: En dat niemand deur die wet by God geregverdig word nie, is duidelik; want die regverdige sal uit die geloof lewe. Galásiërs 3:12:

Maar die wet is nie uit die geloof nie, maar die mens wat hierdie dinge doen, sal daardeur lewe.

Galásiërs 3:13: Christus het ons losgekoop van die vloek van die wet deur vir ons ’n vloek te word - want daar is geskrywe: Vervloek is elkeen wat aan ’n hout hang.

Galásiërs 3:14: sodat die seën van Abraham na die heidene kan kom in Christus Jesus, en dat ons die belofte van die Gees deur die geloof kan ontvang.

Dit is soos die beeldspraak dat iemand in geloofsverwagting leef wanneer hy die belofte ontvang dat hy as ‘n erfgenaam in iemand se testament benoem is🔗

  • Galásiërs 3:15: Broeders, ek spreek menslikerwys: selfs ’n mens se testament wat bekragtig is, maak niemand tot niet of voeg daaraan toe nie. Galásiërs 3:16: Nou is aan Abraham die beloftes toegesê en aan sy saad. Hy sê nie: En aan die sade, asof dit op baie sien nie, maar op een: En aan jou saad, dit is Christus.

Die feit dat die wetgewing later by Sinaï bygekom het, het geensins die oorspronklike beginsel van die geloofsverwagting om ’n erfgenaam op grond van ’n testamentêre belofte van God te wees met iets anders vervang nie; inteendeel, dit het hierdie beginsel juis bevestig🔗

  • Galásiërs 3:17: Maar ek sê dít: die wet wat vier honderd en dertig jaar later gekom het, maak die verbond wat deur God in Christus vantevore bekragtig is, nie kragteloos om die belofte tot niet te maak nie. Galásiërs 3:18: Want as die erfenis uit die wet is, dan is dit nie meer uit die belofte nie. Maar God het dit aan Abraham deur ’n belofte genadiglik geskenk.

Die waarde van die wet was juis om hierdie oorspronklike grondbeginsel, wat vir almal wat salig word geld, as ’n seremoniële illustrasie te laat dien totdat die beloofde Middelaar dit vervul🔗

  • Galásiërs 3:19: Wat beteken die wet dan? Dit is bygevoeg weens die oortredinge, totdat die saad aan wie die belofte gedoen is, sou kom; en dit is deur engele beskik deur tussenkoms van ’n middelaar. Galásiërs 3:20: En die middelaar is nie net vir een nie; maar God is een.

Paulus beskryf ons een-wees in Christus ook met die liggaam-metafoor in sy briewe aan die Efésiërs, Korinthiërs en die Romeine. Hierdie metafoor is noodwendig baie sprekend. Dit is ooglopend dat alle ledemate van ‘n liggaam nie “gelyk” is nie, veral omdat hulle nie almal dieselfde funksie verrig nie. Tog is hulle almal “een”. Hulle is in die hoof verenig.

So kom helder aan die lig dat hy dit nie in Galásiërs 3:28 wil hê oor hoe gelyk God die ongelykes gemaak het nie, maar hoe Hy almal op een manier salig gemaak het. Daar is naamlik nie verskillende weë na die saligheid nie. Wat dit betref is daar geen onderskeid tussen man en vrou nie. Daar is maar één weg – dit is die nuwe en lewende weg in Christus.

Wanneer die sendingopdrag uitgevoer en die nasies tot dissipels gemaak word, verander dit mense wat in verskillende stande en state is se beskouing van en houding teenoor mekaar. Prakties: Wat het, in Christus, tussen Ragab die Kanaäniet of Rut die Moabiet en die res van Israel gebeur toe hierdie vroue ook die genadeverbond deelagtig geraak het? Wat het, in Christus, tussen Sara en Abraham gebeur nadat beide van hulle – man en vrou – in God se genadeverbond opgeneem is?

Daar vind ’n ingrypende situasieverandering tussen mense plaas wanneer hulle die gemeenskaplike saligheid in Christus deelagtig raak. Paulus beskryf in ’n kort briefie aan Filémon die situasieverandering wat ingetree het nadat die droster-slaaf Onesimus, onder die bediening van die Woord, tot geestelike geboorte gekom het. Die slaaf-meester-verhouding is eintlik ’n oppervlakkige en minderwaardige verhouding in vergelyking met wat hulle intussen in die Here vir mekaar geword het. Hulle het in die Here ook broeders vir mekaar geword.

Wat hieruit duidelik word, is dat hulle christenskap nie hulle lewenstruktuur ten opsigte van mekaar vervang nie, maar tog bring die werking daarvan hulle op ’n besondere manier byeen en gee daarmee egte waarde en sin. Hulle oorspronklike menslike staat - Jood, Griek, slaaf, vryman, man, vrou - word nie vernietig nie. Hulle is in presies dieselfde menslike staat waarin hulle geroep is, maar nou in Christus verenig.

Het hulle aan mekaar gelyk geword noudat Onesimus tot bekering gekom het? Nee, nie gelyk nie. Het hulle posisionele en funksionele verhouding teenoor mekaar verander noudat Onesimus tot geloof gekom het? Waar hulle posisie, gesag en funksie voorheen ongelyk was, het dit dan nou gelyk geword? Nee. Die kwaliteit van hulle verhouding het egter verdiep, verhoog en verbreed. Hulle het ’n nuwe ewigheidsband met mekaar verkry waarin hulle met mekaar onder die persoon Christus verenig is. Die aardse gesagsverhouding is nie uitgewis nie, maar verchristelik. Dit beteken nie hulle is nou ewe skielik gelyk voor God nie, maar hulle is ondanks hulle verskille in status één in die diens voor God, één in Christus. Dus is Onesimus nou ’n buitengewone slaaf vir Filémon, en Filémon ’n heel buitengewone meester vir Onesimus. “Want miskien is hy om hierdie rede ’n tydjie van jou geskei, dat jy hom vir altyd kan besit, nie meer as ’n slaaf nie, maar méér as ’n slaaf, as ’n geliefde broeder in die vlees sowel as in die Here, veral vir my, hoeveel te meer vir jou” (Filémon vers 15,16).

Dieselfde geld vir die man-vrou verhouding. Petrus skryf hieroor in 1 Petrus 3 waar hy belangrike voorskrifte gee van hoe hulle as gelowiges teenoor mekaar moet optree, omdat hulle “mede-erfgename van die genade” is. Hulle “mede-erfgenaamskap” het nie meegebring dat daar ongekwalifiseerd “geen onderskeid” meer tussen hulle is nie, maar die bestaande verhouding as getroude egpaar het deur hulle mede-erfgenaamskap ’n dieper dimensie verkry. So kan Petrus sonder moeite die voorbeeld van Abraham en Sara uit die Ou Testament ter illustrasie van hierdie leer aan die Nuwe Testamentiese gelowiges gee.

Die gelowiges is één soos wat God één is🔗

Dat één in Christus nie sonder meer gelýk voor Christus of gelyk teenoor mekaar kan beteken nie, illustreer ek aan die hand van wat Paulus in Galásiërs 3:20 bedoel met die woorde “maar God is een”. Hy gebruik hier presies dieselfde Griekse woord as in vers 28. Dit bedoel dat daar geen verdeling in God is nie. Veel eerder is hierdie, op tipies Pauliniese manier, ’n aanhaling en verwysing na die Ou Testament in Deuteronómium 6:4: “Hoor, Israel, die HERE onse God is ’n enige HERE”. Hierdie uitsprake word elders deur die HERE self nader uigelê dat naas Hom geen ander God is nie. God het geen gelyke nie. God se heilsdade is ’n refleksie van sy wese. Hy maak mense nie op verskillende maniere salig nie. Daar is by Hom geen verandering of skaduwee van omkering nie. God is één. Sy werke is één.

In hierdie opsig sou dit eweneens ’n verdraaiing van die teks wees as ons dit hier sou vertaal of interpreteer met: God is gelyk. God openbaar Homself in drie afsonderlike persone: Vader, Seun en Heilige Gees. Die Johannese geskrifte bied ’n antwoord op die vraagstuk van die betekenis van die eenheid van God. In die Here Jesus se hoëpriesterlike gebed (Johannes 17) word die woord één ’n paar keer gebruik, maar so dat die éénheid wat ons as gelowiges met mekaar het, regstreeks verbind word aan die éénheid wat die Seun met sy Vader het.

  • Johannes 17:11: “En Ek is nie meer in die wêreld nie, maar hulle is in die wêreld; en Ek kom na U toe. Heilige Vader, bewaar in u Naam die wat U My gegee het, sodat hulle een kan wees net soos Ons.”
  • Johannes 17:21: “dat almal een mag wees net soos U, Vader, in My en Ek in U; dat hulle ook in Ons een mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het.”
  • Johannes 17:22: “En Ek het hulle die heerlikheid gegee wat U My gegee het, sodat hulle een kan wees, net soos Ons een is.”
  • Johannes 17:23: “Ek in hulle en U in My, sodat hulle volkome een kan wees; en dat die wêreld kan weet dat U My gestuur het, en hulle liefgehad het net soos U My liefgehad het.”

Sou ons kon sê dat die Vader en die Seun gelyk is, terwyl hier staan dat hulle een is? Ons beweeg hier op ’n gebied wat in die kerkgeskiedenis groot verstaansprobleme opgelewer het. Die geloofsbelydenis van Atanasius – teen die dwalinge van Arius – het hierdie probleme tot ’n einde gebring.

Wat in hierdie belydenis treffend aan die orde kom, is dat ons by die drie-enige God tegelyk gelykheid én onderskeid kry, eenheid én verskeidenheid. Wat die drie persone se Goddelikheid, majesteit, heerlikheid, aanbiddelikheid en almag betref, is hulle volkome gelyk. Tog, wat hulle funksies, persoonlikhede en take betref is hulle ongelyk. Waar eenheid tegelyk gelykheid en ongelykheid insluit, sou dit ’n tragiese verenging gewees het as eenheid met gelykheid vertaal sou wees. Die Vader het nie aan die kruis gehang nie, die Seun is nie uitgestort nie, die Gees is nie gebore nie.

Is dit dan enigsins die bedoeling van Jesus om sy “ongediskrimineerde” gelykheid met sy Vader aan die orde te stel toe Hy van sy éénheid met sy Vader gepraat het, waarin sy verloste dissipels ook nou saam met Hom én sy Vader verenig word? Sou ons sy eenheid met die Vader as gelykheid met die Vader kon vertaal? Uit die konteks van die Hoëpriesterlike gebed is dit eerder die gedagte om die geskeie vyandskap wat daar weens die sondeval tussen God en mens gekom het, weer tot versoening te bring. Die vyandskapsverhouding kan deur die offergawe van Christus weer in volkome liefdes-, blydskaps-, heiligheids- en waarheidsbelewing met God en met mekaar omgesit word.

So moet die woord éénheid hier binne die konteks van die gebeure op die Groot Versoendag verstaan word: die hoëpriester wat binne-in die allerheiligste vir die kerkvolk pleit. Alhoewel daar ’n verband tussen is, is dit nie Jesus se mening om in hierdie gebed te praat van sy Godgelyke gestalte wat Hy in die hemele gehad en prysgegee het nie (Filippense 2). So ’n interpretasie van die betekenis van sy eenheid met die Vader is buite die skopus van die teks self.

As Jesus die eenheid tussen Hom en sy Vader voor sy dissipels uitspreek, stel Hy homself en sy Vader nie as gelykes nie; nog veel minder dat die Vader sy Vaderskapsposisie en funksie ontledig tot ’n gelykheid met die van die Seun. Hy bedoel met die eenheid met sy Vader ’n vereniging in volkome liefde. Daarin wil Hy al sy dissipels, ongeag hulle vele ongelykhede, laat deel.

Wanneer God ons in Christus as sy kinders aansien, sien Hy ons sonder aansien des persoons aan. Dan hang die kwaliteit van ons kindskap nie daarvan af of ons Jood of Griek, slaaf of vryman, man of vrou is nie, maar Hy sien ’n geregverdigde, ’n kwytgeskelde, ’n wedergeborene, ’n gelowige, ’n volwaardige kind, ’n mede-erfgenaam. Hy sien die een saad van Abraham, hulle almal in Christus. Almal van ons is in Hom verenig en toegedek, aangetrek met die kleed van Christus se volkome regverdige dade. In Christus sien God die kerk en almal in die kerk – met hulle onderskeie gawes, roepings en funksies. God sien hulle onder die belofteseën van Abraham as nageslag van Abraham. Erfgename volgens die belofte.

Die relevansievlak(ke) van Galásiërs 3:28 vir die hedendaagse Suid-Afrikaanse samelewing.  In die Skriflig 32(1), 1998:69-84.

’n Tipiese beskrywing van die standaard argumentasie van die bevrydingsteologie vind ons in die openingsparagraaf van die verklaring van 32 predikante pas na afloop van die Nasionale sinode van die GKSA 2006 (versorg deur W.C. Vergeer en T. van der Walt): “Die reg van vroue om God in die besondere ampte te dien, is geen mensereg nie. Dit is geen geslag se reg nie. Dit is nie ’n vergunning van ’n sinode wat dan gegee en vervolgens geneem kan word nie. Dit is en bly die reg van Jesus Christus alleen. Hy het dit aan die kruis verdien”.

Byvoorbeeld, T. van der Walt in ’n toespraak voor die studente en professore van die Teologiese Skool Potchefstroom. Hy stel onder andere: “Soos met die kwessie van slawerny: God hou ook in sy openbaring rekening met die tydsomstandighede, soos die kwessie van hoofbedekking vir vroue - hoe lank nie ’n hewige debatspunt op kerklike vergaderings nie. En toe dié nie tot ’n besluit kon kom nie, het die vroue hoedloos kerktoe begin gaan, en al die studiekommissies van hoeveel kerkrade het irrelevant geword. Sou so-iets nie dalk ook met die strydpunt ‘die vrou in of uit die amp’ kan gebeur nie? Ondanks begrip vir die tydsomstandighede en sensitiwiteit daarvoor, word die beginsel baie duidelik gestel soos in - weereens - Galásiërs 3:28 en Kolossense 3:11. In ons uitlewing daarvan moet ons sekerlik ook rekening hou met die hedendaagse tydsomstandighede, natuurlik egter sonder om enigsins daaraan vetoreg te gee.”