Bron: De Reformatie. 3 bladsye.

Galasiers 6:2 - Die Wet van Christus

Sy Liefde🔗

…die wet van Christus…    Galasiërs 6:2

Hoeveel mense is daar nie wat die wet van God ernstig wil opneem en daardeur omkom nie? Deur God se wet te wil doen kan jy Christus miskyk!

Daarom gaan dit in hierdie brief van Paulus aan die Galasiërs oor niks anders as die behoud van die gemeente nie. Want in die gemeente het mense onder die indruk gekom van manne wat vir die wet opgekom het, sonder om oor Christus te praat. As hierdie manne hulle sin gekry het, sou die gemeente buite die genade staan (5: 4).

Paulus gaan nie oor tot ʼn anti-houding nie. Hy neem die wet ook ernstig op. Maar hy wil nie oor die wet praat sonder om oor Christus ook te praat nie. Dit gaan vir hom oor die wet en oor Christus. Dit is die wet van Christus.

Dit is heel eerste die wet soos Christus dit geleer het. Die bergrede laat ons sien wat dit inhou. Christus het die goud van sy Vader se wet weer laat skitter. Hy het in sy onderwysing beide die lieflikheid en totaliteit van die wet getoon. Die heerlike wet is ʼn stukkie paradys in ons verdorwe wêreld… het Hy gesê.

Maar is dit al? Het Hy die wet uitgelê en dit net daar gelos? Dan sou dieselfde van Hom waar wees waarvoor Hy die Fariseërs, die wetgeleerdes van daardie tyd, verwyt het:

Want hulle bind pakke saam wat swaar en moeilik is om te dra, en sit dit op die skouers van die mense, maar self wil hulle dit nie met hulle vinger verroer nie.Matteus 23: 4

Juis op hierdie punt blyk die verskil tussen Hom en hulle. Hy het die wet uitgelê, maar het nie self daarvan weggeloop nie. Hy het sy lesse self in praktyk gebring. Hy het liefgehad – tot die einde toe (Johannes 13: 1). Hoewel Hy geweet het van Judas se streke en Petrus se foute, het Hy hulle steeds liefgehad.

Hy het afgebuk om hulle voete te was (Johannes 13: 5). Hy wou die mindere wees, terwyl Hy die meerdere was. Daardeur het Hy laat sien waarvoor Hy gekom het. Hy het bukkende tot die kruis gekom. Die dieptepunt van lyding vir Hom was tegelykertyd die hoogtepunt van liefde vir mense. Die wet is deur Hom gedoen. Psalm 119 kan in die kerk van Christus van a tot z gesing word. Christus is die vreugde van die wet.

Sy Gemeente🔗

… en vervul so die wet van Christus.Galasiërs 6:2

Heelwat mense wat deesdae in die kerk oor die liefde praat, moet nadruklik weer aan God herinner word omdat hulle (byna) slegs hulle naaste in ag neem. Maar dit geld ook andersom: Mense wat praat oor die liefde vir God, moet ook soms nadruklik aan hul naaste herinner word.

Paulus skryf in die brief aan die Galasiërs teen dwaalleraars wat die gemeente die wet op Joodse manier wou laat vervul. Dit was verkeerd omdat hulle daarby nie oor Christus gepraat het nie.

Maar dit was ook gevaarlik omdat hulle Christus se gemeente in gevaar gebring het. Want die naleef van die wet sonder Christus, beteken dat jy self aan die werk moet gaan. En dan is jy net vir jouself besig. Jy loop maklik teen ʼn ander vas. Dit veroorsaak botsings. Mense byt en eet mekaar, ja verslind mekaar, met die wet in die hand (5: 12-26). Sonder Christus is die mens vir die mens ʼn wolf. Hierdie visie op die wet sonder Christus maak die gemeenskap stukkend.

Die gemeente is en bly gesond waar daar ʼn goeie sig is op die wet as die wet van Christus. Dit is die wet van die liefde vir die naaste. Want,

 die hele wet word vervul in een woord, naamlik: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.5: 14

As dit so duidelik daar staan, kan jy jou afvra waar die liefde vir God dan bly. Word die eerste gebod (Christus se samevatting van die wet) nie oorgeslaan nie?

Dis nie waaroor dit hier gaan nie. Dit gaan hier oor die mense wat God wel wou dien, maar oor hulle naaste heen gekyk het. Wanneer Paulus dan Christus se wet die wet van die liefde tot die naaste noem, word God nie vergeet nie, maar word die naaste beklemtoon. Hierdie insig bewaar Christus se gemeente in die liefde tot mense – binne en buite die kerk.

Op ʼn dag het iemand na vele jare weer ʼn keer kerk toe gekom. Maar na ʼn rukkie staan iemand by die kerkbank waar sy sit: ‘Wil u asseblief weggaan – ek sit altyd hier’. Geskok het sy ʼn ander plek gesoek.  Maar ook daar stap iemand verby wat haar verwytend aankyk: sy het nou op die persoon se plek gesit. Verskrik het sy weer buitentoe gegaan, en terwyl sy haar jas aangetrek en die kerkdeur agter haar toegemaak het, hoor sy nog net die gemeente sing: ‘God het ek lief…’.

Hierdie dinge kom nie voor waar daar ʼn goeie sig op God se wet is nie. Dit is Christus se wet: Wie God liefhet, het sy naaste lief.

Sy Opdrag🔗

Dra mekaar se laste en vervul so die wet van Christus.Galasiërs 6: 2

‘Mense in die kerk skei deesdae asof dit niks is nie.’ Dié versugting hoor ʼn mens soms. So ʼn opmerking word baie keer gemaak uit liefde vir God se wet. Dit is hartseer om te sien hoe God se gebod nie meer ernstig blyk opgeneem te word nie.

So ʼn opmerking kan uit opregte sorg gebore wees. Tog is daar ʼn gemis. Daar is ʼn gemis aan ootmoed (vers 1). Maar bowendien is daar ʼn gemis aan betrokkenheid (vers 2). En dit is nie volgens die wet van Christus nie. ʼn Mens kan so ʼn opmerking dus maak uit liefde vir die wet, terwyl jy tog nie op die weg van die wet gaan nie. Want die weg van die wet is dat jy iemand se las ook dra. Iemand se las is iets wat hom of haar laat struikel. Dit kan ʼn karakterfout of ʼn boesemsonde wees. ‘Die las dra’ beteken dat ons mekaar nie alleen los met ons sonde, ons skuld, ons foute nie. Ons help dra. Dit is Christus se weg. Hy het wel die sonde veroordeel, maar dit tegelyk ook kwytgeskeld. Hy het juis die las op Hom geneem. Die gemeente gaan Christus se weg wanneer hulle nie mekaar se laste net laat lê nie, maar dit optel. Dit word die weg van die kruis.

Dis nie altyd eenvoudig om jouself opsy te skuif en die probleme van ʼn ander op te tel nie. Maar dit is die weg wat Hy getoon en gegaan het. Dit is ook sy wet.

Hy wil dat ons die wet doen. Dit is ʼn opdrag om die wet te vervul. ‘En vervul die wet van Christus.’ Hierdie uitdrukking is aan die een kant ontmoedigend. Paulus voer hier ʼn ontmoedigingsbeleid teen die mense wat God se wet hul wet wou maak deur dit self te doen. Paulus skryf: 'vervul die wet… maar… dit bly Christus se wet.'

Want ons bereik dit nie. Die wet vra soveel liefde – dit het ek nooit. Juis die liefde onthul ons sonde (sien Sondag 2 HK). Hoe mooi, hoe totaal is dié liefde. Hoe egoïsties, hoe onmagtig is ons lewe.

Dat die wet Christus se wet is en bly, ontmoedig ʼn mens om op die weg van die werke te gaan. En tegelyk bemoedig dit ʼn mens om die weg van die geloof in te slaan. Want dit is heerlik dat die apostel ons met die opdrag van hierdie teks wys op die wet van Christus. Hy het die wet alreeds vervul. Hy is die bron. Deur die geloof mag ons uit die bron put om sy wet te voldoen. Op die manier groei die liefde in ons. En dan is dit nie meer ons nie. Dit is Christus wat sy wet in ons volbring. Die opdrag word ʼn gawe van God.