Bron: Kerk en Woord, 1994. 3 bladsye.

Gasvryheid - Onontbeerlik

’n Hart en Huis wat Wyd Oopstaan vir Ander🔗

Die skrywer van die Hebreërbrief skryf aan die Christene uit die Jode in Hebr 13:2: “Vergeet die gasvryheid nie, want daardeur het sommige, sonder om dit te weet, engele as gaste geherberg”.

Die woord vir “gasvryheid” (Grieks: Filoksenia) kan letterlik vertaal word met: “liefde hê vir die vreemdeling”, Dit beteken dat jy gereed staan om die vreemdeling te verwelkom. Gasvryheid beteken dus dat jou hart en daarmee ook jou huis vir enigeen wat op pad is of jou hulp op een of ander manier nodig het, oopstaan, dat jy graag sulke mense herberg of hulle onderdak gee.

Gasvryheid teenoor reisigers was ’n belangrike deel van die Oosterling se huishouding. Ons moet onthou dat die herberge, d.w.s. die tuisgaanplekke en oornagplekke in die Bybelse tyd seldsaam was. Hotelle was daar nie.

Rehuel, die priester van Midian, is hoogs verbaas dat sy dogters by die put ’n weldaad van ’n vreemdeling (Moses, wat hulle vee laat drink het nadat hy die ander herders verdryf het) beleef het en hulle hom nie genooi het om by hulle te kom eet nie. (Eks 2:20)

Dan sê hy vir sy dogters: “En waar is hy? Waarom het julle die man dan daar laat staan? Roep hom dat hy brood kan eet”.

Die Voorbeeld van Abraham en Lot🔗

As die Hebreërskrywer die Christene uit die Jode nou volgens Hb 13:2 motiveer om hulle huise vir hulle medebroeders oop te stel, verwys hy na twee voorbeelde van gasvryheid uit die Ou Bedeling, waarskynlik die voorbeelde van Abraham en Lot.

Gen 18:1 e.v. vertel ons watter gulhartige ontvangs Abraham aan drie vreemdelinge gegee het. Toe die drie onbekende reisigers op die hitte van die dag by hom aankom, het hy hulle tegemoetgeloop en hulle as’t ware gesmeek om nie by hom verby te gaan nie, maar van sy gasvryheid gebruik te maak. En dan lees ons hoedat hy hulle voete laat was het, hulle onder die boom by hom laat lê en rus het terwyl hy en Sara ’n rojale maaltyd vir hulle voorberei het.

Sonder dat hy van Abraham bewus was, betoon Lot net sulke gasvryheid aan dieselfde drie. Dit lees ons weer in Gn 19:1-3 by die besoek van die engele aan Sodom toe hulle dit gaan verwoes het. Lot se hart en huis staan net so oop soos Abraham se tent.

God gaan Sy Volk daarin Voor🔗

Behalwe die voorbeelde van Abraham en Lot is daar meer sulke voorbeelde van gasvryheid in die Ou Testament. Dink maar aan Gideon, Rigt 6:11-23 en aan Simson se ouers, Rigt 13:3-21. Om die waarheid te sê, die Ou Testament laat ons sien dat die verantwoordelikheid om vir die reisiger en vreemdeling te sorg nog altyd ’n vanselfsprekende saak by God se volk moes wees. Hoe diepgaande het Hy hierdie houding nie in die Thora by hulle ingeprent nie!

As die HERE vlak voor Kanaän sy verbond met Israel hernuwe en Moses vir hulle uitlê hoe hulle moet leef as hulle in die land van belofte kom, dan hoor hulle dat hulle vir die vreemdeling net so ’n besondere sagte plekkie moet hê as vir die wees en die weduwee, Deut 24:17 e.v.

Dit is ’n onafskeidelike deel van die lewe in die verbond dat die reg van vreemdeling en wees en weduwee nie verdraai mag word nie.

“As jy jou oes op jou land insamel en ’n gerf op die land vergeet, mag jy nie omdraai om dit te gaan haal nie; vir die vreemdeling, die wees en die weduwee moet dit wees...” Netso wanneer olywe afgeslaan word of druiwe in die wingerd ge-oes word: ’n deel moet vir die vreemdeling en wees en weduwee bly Deut 24:19-21.

Die rede waarom die HERE Israel leer om so vir die vreemdelinge en wese en weduwees te sorg, is dat Hyself so vir hulle gesorg het toe hulle slawe in Egipteland was. God het Abraham en sy nageslag reg gegee op ’n lewe in die verbond met Hom toe hulle dit totaal onwaardig was, ja, dit glad nie verdien het nie, ja selfs afgode gedien het, Jos 24:2,14.

Vir ons wat onder die Nuwe Testamentiese bedeling leef, geld dit netso:

God sy Seun vir ons laat sterf toe ons nog sondaars was, om die waarheid te sê, toe ons nog God se vyande was! (Rom 5) M.a.w. ons kry by God ’n oop hart en ’n ruim onderdak terwyl ons eintlik met ons vyandigheid alle reg op sy liefde verbeur het. Dit is onvergelyklike liefde.

Maar dan wil Hy ook sien dat ons uit dankbaarheid vir sy gulhartigheid teenoor ons, gulhartig sal optree, eerstens teenoor ons medegelowiges, maar ook teenoor almal wat ons hulp nodig het.

In die gelykenis van die barmhartige Samaritaan, Luk 10:25-37, beeld Jesus dit uit. Die Samaritaan verbind nie slegs die slagoffer se wonde nie, maar sorg ook vir ’n ruim onderdak vir die hulpelose: “Hy het hom toe op sy eie pakdier gehelp en hom na ’n herberg geneem en vir hom gesorg. En toe hy die volgende môre weggaan, haal hy twee pennings uit en gee dit aan die eienaar van die herberg en sê vir hom: Sorg vir hom, en enige onkoste wat jy nog meer mag hê, sal ek jou betaal as ek terugkom”.

’n Deurgaande Lewenshouding🔗

Gasvryheid is dus geen luukse wat die kerk hulle nou en dan mag veroorloof nie, maar op grond van God se onverdiende genade moet dit ’n deurgaande lewenshouding wees. Met die geskiedenis van die sondares wat sy voete gesalf het (Luk 7:36-50) wys Christus so aangrypend aan Simon die Fariseër en aan ons uit wat die kenmerk is van iemand wat veel vergewe is: So iemand het soos die sondares ook veel lief. Simon het so min liefde gehad dat hy nie aan Jesus, sy gas, eers die basiese gasvryheid bewys het om sy voete te was, Hom ’n soen te gee en sy hoof te salf nie. Maar die slegte vrou kon die Here, omdat sy veel vergewe was, nie genoeg oorlaai met haar gulhartige liefdesbewyse nie. So hoort dit by almal wat vergewing ontvang.

Vandaar dat Paulus en Petrus die gemeentes oproep om gasvryheid na te jaag, Rom 12:13; 1 Pet 4:9. Hulle moes mekaar met die gawes wat God hulle gegee het, dien, maar ook die buitestaanders, ja alle mense, Gal 6:10.

En daarom is gasvryheid juis ook ’n uitstaande kenmerk by ’n voorganger in die gemeente, 1 Tim 3:2; Tit 1:8.

Ook onder moeilike omstandighede moet ons dit volhou. Die Hebreërs is swaar vervolg: Hebr 10:32-34 praat van ’n “lydensworsteling”, van “verdrukkinge” wat hulle deurstaan het. Ja, hulle is selfs van hulle besittings beroof. Die Joodse sinagoge het jag gemaak op hulle stamgenote wat die Christelike geloof aangeneem het. Wie nou ’n mede-Christen sou huisves, sou sy lewe in gevaar stel. Nogtans vermaan die skrywer die gemeente nog: “Vergeet die gasvryheid nie.... Die broederliefde moet bly”.

Aan Christus gedoen....

Die Hebreërskrywer sê dat deur gasvryheid te bewys, “sommige sonder om dit te weet, engele as gaste geherberg het”. Beteken dit dat ons dit doen om iets terug te ontvang? Nee, maar deurdat hulle hul harte en huise oopgestel het vir vreemdelinge, het God sulke gulhartigheid op ’n onverwagte manier beloon. Wie een van die geringstes van hierdie broeders van Christus ontvang, of te ete of te drinke gee, of klee, of as vreemdeling herberg, het dit aan Homself gedoen. En daarin is sy seën!

Christus was die Groot Swerwer. Die Jakkalse het gate en die voëls van die hemel neste, maar die Seun van die mens het geen plek waar Hy sy kop kan neerlê nie, het Hy gesê. Hy was sonder dak vanweë u en my sonde.

So moes Hy ons weer met God versoen. Maar so het ons onderdak gekry.

Nou kan ons ook onderdak gee, met ’n ruim hart! En juis by ons eredienste moet ons daarin uitblink!