Bron: Waarheid en Dwaling. 2 bladsye.

Gebed vir die Kerk van Christus

vrou bid

Sinodokrasie, waar sinodes wederregtelik die plaaslike kerke oorheers, is 'n euwel. Dit is die winspunt van die Dordtse kerkorde om juis te verhoed dat een kerk oor 'n ander heerskappy voer. Te dikwels egter vergeet lidmate, selfs die wat erg teen sinodokrasie is, dat God se regering deur sy Woord en Gees ook met sinodes en ons gebede te doen het.

Ons bely dat Jesus Christus die direkte Hoof van die kerk is (Ef. 1:20ev). Dit beteken dat waar kerke saam vergader in meerdere vergaderings, Christus as Hoof ook die voorsitter is. Hy regeer  die kerk as Woord van God deur die Heilige Gees. Ons bely verder ook dat ons mede-erfgename saam met Christus is en dat ons deel het aan sy regering van die kerk en die wêreld. Hierdie regering van die kerk geskied veral deur gebede.

Maar is ons nog 'n biddende kerk? Is gebed ons vernaamste kenmerk? Dit sou as 'n vreemde vraag voorkom as mens verwys na al die erediensgebede wat wel gebid word. Maar die vraag kon ook anders verstaan word: is ons nog 'n biddende kerk  wat verstaan dat ons ingelyf is in Christus (H.K. Sondag 7) — en dit sluit Christus se regering van sinodevergaderings in?

Hoeveel lidmate is daar wat bid vir kerklike vergaderings, selfs kerkraadsvergaderings, omdat hulle glo Jesus is die Here? Daar is baie wat ongelukkig is oor besluite wat val op kerklike vergaderings, daar word maklik vingers gewys en beskuldigings uitgedeel. Maar wie se skuld is verkeerde besluite? Net die afgevaardigdes wat dit geneem het? Of ook die wat hulle koninklike regeeramp versaak  het deur te swyg in hulle gebede.

Regering deur Gebede🔗

Christus se regering van sy kerk loop deur die gebede van sy  volk. Dit is die plig van elke lid­maat om hierdie dienswerk aan Christus ernstig op te neem. Die gebed van die gelowige het groot krag, en dus maak die gebrek aan gebede (oor kerklike vergaderings) die kerk kragteloos.

Wanneer ons glo dat ons regtig deel het aan Christus, deel het aan sy gesag wat Hy uitvoer oor die kerk, dan kan ons nie anders as om te bid wat Hy ons in die mond lê nie. Of glo ons nie die Here luister na gebede en beïnvlοed met sy Gees besluite wat geneem word nie? Waarom sal die eerste sinode in die Christelike kerk dan sê: "Die Heilige Gees en ons het besluit..." (Hand 15:28)?

Christus regeer sy kerk. Maar Hy reageer ook op die gebede wat die Gees opwek in die harte van sy mense οm te bid oor die welstand van sy kerk. Dit is tog die dierbaarste werk, die kosbaarste diens, die grootste liefde vir die kerk, as God se eiendom, om vir die kerk te bid — ook in sy gesamentlike samekomste.

As ons gebedslewe weer dinamies word, deur te glo ons het deel aan Christus in die kerk, sal ons kerke ook verander. Ons sal die kerk anders bid. Hoeveel lidmate bid nog byvoorbeeld vir ware eenheid in die kerk — ook met die ware gelowiges in ander kerkverbande? Of het daardie gebed lankal gesneuwel onder die 'realistiese' siening dat ons nou eenmaal verskil en dat dit so sal bly? In 'n groot mate het die sondeval en die verskeurdheid wat dit bring, al ons gebedslewe oor hierdie aangeleentheid lamgelê. Wil ons nog regtig die kerkregering van Christus biddend bely? En wil ons werklik die eenheid van sy liggaam sien, en bid en werk daartoe?

Gebedslui🔗

Die Reformasie het baie goeie dinge daargestel. Maar die latere kinders van die Reformasie het gebedslui geraak. Dit het ons laat verval in 'n toestand van tevredenheid met verdeeldheid. Dit mag nie, veral nie nou in Suid-Afrika nie, waar die kerk staan onder een van die grootste golwe wat hom wil verswelg, naamlik die kommunistiese sosialisme aan die een kant en die menseregte-ideologie aan die ander kant.

Wat bid ons vir ons kerkraad, vir die klassis, vir die partikuliere sinode, vir die teologiese skool? Ons moet besef dat ons 'n groot plig het om met ons gebede by God ywerig te pleit dat sy regering oor die kerk erken sal word, dat alle sondige menslike insigte die wyk neem, en dat Hy die kerk teen die aanslae van die satan en sy demone sal staande hou.

Hoe anders sal ons met ons gewete kan saamleef. Om te sê, "ons het dinge raakgesien wat goed en reg is" en God nie genoeg dank daarvoor nie, is lewensgevaarlik. Om te sê, "ons het ook die vervalle tempelmure gesien wat opgebou moet word", maar ons het net gekla en steeds 'n gebedsverduistering gehandhaaf?

vervalle kerk

Dit is nie 'n aanval van buite οm te sê: "Ons bid nie genoeg en reg nie". Dit is die melaatse hand in eie boesem. As ons saam met Christus gesterf het en saam met Hom opgestaan het en die dinge bedink daarbo waar Christus is, dan moet die gebedslewe oor die sinodes ook weer vlam vat. Is dit nie hier waar die kerklike onbetrokkenheid begin nie — 'n onbetrokken­heid by wat Christus in sy kerk doen.

Ons moet biddend betrek wees by wat Christus doen. As Hy dalk besluit het om die kerke skoon te skroei onder allerlei ellendes en swaarkry - raak dit ons? As Christus se oordeel by die huis van God gaan begin (1Petr 4:17) — is ons uitgesluit? Kan ons ons die 'luuksheid' van halwe en ongereelde gebede veroorloof? Wat bid mens vir God as Hy besluit om sy kerk te straf en te dissiplineer oor wanpraktyke wat toegelaat word? Kom ons binneste in beroering soos Habakuk s'n as ons sien dat God inderdaad 'n heilige God is wat woon onder 'n onrein volk? (Hab 3:16)

Die kerk sal nie bly voortbestaan aan die Suidpunt van Afrika as ons God nie daarvoor smeek nie. Eeue terug is die kerk in die Noorde van Afrika verdring. Wat verhoed God om dit nie hier by ons te laat gebeur nie? Het ons opgestapelde gebede om na God te bring in 'n smeking dat Hy oor ons barmhartig sal wees? Wat kan ons God regtig bring dat Hy ons hier moet laat voortbestaan — behalwe Christus se Naam op ons lippe?

Kus die Seun🔗

As die kerk nie wakker word nie — oor hierdie gebedsluiheid — hoor ons die mure al kraak. 'n Swygende kerk is 'n sterwende kerk. Gebedsluiheid is om God se regering te minag. 'n Biddende kerk is 'n bloeiende kerk. Christus se koninklike hand moet deur die kerklike gebede gesoen word (Ps 2:12)

Bid is harde werk. Daar is nie tyd om te sê: Nog 'n bietjie slaap, nog 'n bietjie bid, nog 'n bietjie hande vou om uit te rus nie.

Die Heilige Gees kom ons swakhede te hulp — ook by ons gebrek om oor Christus se Geestelike handelinge in die kerk te bid. As ons in die Heilige Gees bid, dan bid Christus in ons. Hy gee ons die woorde. Hy reinig dit en Hy regeer ook daarvolgens. Die gebed van die regverdige het groot krag. Dit staan vas. Maar sal Christus biddende regverdiges in Suid-Afrika vind wat wil lewe onder sy regering in sy kerk?