Bron: Kerk en Woord. 3 bladsye.

Gebruik die Nagmaal Suiwer

HK Sondag 30
Lees Hebr 7: 26 - 28 en 10: 8 - 22

Die herhaalde offerandes van die Ou Testament het in Christus tot vervulling gekom. Daarom is die Ou Testamentiese offers ook so herhalend, selfs daagliks gebring, omdat dit nie genoegsaam was nie, omdat dit nie die versoeningstaak kon volvoer nie. God het geen behae in die bloed van stiere en bokke nie. Christus het as vervulling hiervan, as ware en onskuldige mens, in ons plek, eenmalig vir al die gelowiges van alle tye, die finale offer gebring.

Die Roomse leer van die daaglikse misoffer staan lynreg teenoor die evangelie wat ons leer, en die reformasie wat bely - dat ons volkome versoening ontvang deur alleen waarlik te glo in die Here Jesus Christus. So pas dit dan enigsins om die vraagstuk van die Roomse mis te behandel saam met die vraag: Vir wie die nagmaal ingestel is, naamlik slegs vir die wat waarlik in die Here Jesus glo.

By die Doop word gevra of kindertjies ook gedoop mag word, waarby die eenheid met die besnydenis van die Ou Testament ’n heldere ja op hierdie vraag geantwoord het. Maar wanneer dit nou hier om die toelating tot die nagmaal gaan, sny die Heidelberger die dwaling af wat mense uit die parallisme met die doop sou wou opdring dat jong kindertjies ook nagmaal moet kan gebruik, gewoon omdat hulle ook in God se genadeverbond inbegrepe is.

Daar was inderdaad van vroeg af reeds sektes wat sulke nagmaalsgebruike vir klein kindertjies toegepas het, soos die Apostelsekte (1913) wat stel dat net soos die natuurlike melk van die moeder, sonder dat die kind dit weet, vir die natuurlike liggaam is, so is die heilige nagmaal die lewe vir die geestelike liggaam.

Dit is ’n parallelisme met die doopsformulier dat die kinders sonder dat hulle weet in Adam verdoem is en ook weer sonder dat hulle dit weet in Christus geheilig is.

Ook die Roomse kerk het in haar kerklike praktyk al hoe meer beweeg in die rigting van ’n kindernagmaal. (Pous Pius X het in 1910 al reeds die ouderdom waarop die sogenaamde vormsel - geloofsbelydenis en “die eerste heilige kommunie” gevier kan word as ’n reël op 7-jarige leeftyd vasgestel).

Dit is dus begryplik waarom dit veral sedert die Reformasie noodsaaklik was om die vraag oor toelating tot die nagmaal sterk eensydig afmanend te stel. Want toe was die mense geneig om gewoon klakkeloos, gewetenloos selfs, na die nagmaal te gaan, veral as deel van die kultuur om ingevolge die kerklike jaar Pase te onderhou.

Deeglike selfondersoek en selfonthouding was in daardie dae baie belangrik. Die temas wat gebruiklik is by ’n deeglike selfondersoek val presies binne die driedeling van die Kategismus - drie dinge wat ons moet weet om in ons enigste troos salig te lewe en te sterwe - ons ellende, ons verlossing en ons dankbaarheid. Veral ook om aan skynheilige mense vir hulle eie gewete te waarsku dat hulle vir solank hulle onbekeerlik lewe, hulle ’n veroordeling oor hulleself eet en drink.

Maar nou het daar in die Wes-Europese protestantisme van die 17e en 18e eeu godsdiensbewegings in swang gekom wat die persoonlike vroomheid en die innerlike bevinding - gesien in die Puritanisme asook in die piëtisme, beklemtoon het. Selfs dikwels ’n sieklike belangstelling vir selfontleding.

En toe hierdie golfbeweging sy duisende verslaan het, het ’n ongesonde nagmaalsweerhouding ontstaan. Skielik het mense uit hul selfbeproewing, die besef van hul onwaardigheid, hul gebrek aan liefde en ywer vir die Here, en hul vrees vir huigelary tot die gevolgtrekking kom dat hulle hul eerder van die tafel van die Here moet onthou as dat hulle hul saligheid in Christus aan sy tafel gesoek het. Soveel so dat in sommige kerke slegs enkele persone uit gemeentes van honderde lidmate aan tafel gaan.

Waar dit enersyds belangrik is dat ons nie sonder deeglike selfondersoek aan tafel gaan nie, moet ook besef word dat daar ’n verkondiging en ’n belydenis is wat met nagmaalsgebruik saamgaan. Die nagmaalganger bely sy geloof in Christus, bely eenheid in die geloof met mede-nagmaalgangers, verkondig die dood en opstanding van Christus en maak ’n verlange bekend wat uitsien na die bruilofsmaal van die Lam.

Dit is die opdrag wat Jesus aan sy kerk gegee het in en deur sy dissipels om te doen, so dikwels as wat hulle die brood eet en uit die beker drink. Iemand wat nie glo nie, wat nie deur die soenbloed van Christus bedek wil wees nie, wat nie die eenheid in die geloof met die gemeente beoefen nie, en wat nie na die bruilofsmaal van die Lam uitsien nie, moet nie na die nagmaal toe kom nie. En as iemand nie na die nagmaal toe kom nie, is die getuienis nie een van: arme ek, slagoffer van ellende, onwaardig om voor God te verskyn nie.

Meer nog - dikwels gebruik mense die nagmaal as ’n soort weerwraak teen medebroeders en susters met wie hulle een of ander geding aan het. Nagmaalsgebruik word as ’n soort verhinderingshek teen ’n medebroeder of suster gehou en moet kommunikeer dat julle eintlik ’n growwe onreg teen my gepleeg het, en voordat julle dit nie regstel nie sal ek nie weer nagmaal gebruik nie.

Dit is baie jammerlik, want daarvoor is die nagmaal nooit bedoel of ingestel nie. Die waarheid is dat die persoon wat nie nagmaal toe kom nie, bely en verkondig: Ek leef nie uit die geloof in Christus saam met die gemeente nie. Ek is onberoulik in my sonde. Ek het nie deel aan Christus nie, en ek leef liefdeloos en aanstootlik - so staan dit immers in die formulier geskryf wie nie die nagmaal mag vier nie en wat dit beteken as hulle nie nagmaal vier nie. Wie so lewe, staan buitendien buite en selfveroordeeld.

Intussen is hierdie oproep tot selfondersoek intens belangrik, dat ’n mens ook nie vir jouself lieg en dink ek gaan maar wel aan tafel, en tog leef ek liefdeloos en aanstootlik. Ek gaan wel aan tafel, maar ek gaan tog onberoulik met my sonde voort.

Dit is huigelary. En hierteen waarsku Paulus in sy brief aan die Korinthiërs (1 Kor 10, 11) sulke mense eet en drink ’n veroordeling oor hulleself.

Waar vraag en antwoord 81 hoofsaaklik die gelowiges se selfondersoek en selfbeproewing in die oog gehad het, beweeg die Heidelberger met vraag en antwoord 82 na die uitwendige en sigbare taak en handeling van die kerkraad en gemeente om die tafel van die Here Heilig te hou.

Dit gaan besonderlik daaroor dat mense dikwels nie in staat is om hulleself in waarheid te beproef nie. Vir sover dit heimlik is, vir sover dit ’n innerlike worsteling is, bly die beproewing egter vir die rekening van elke nagmaalganger. Maar - wanneer dit blyk dat iemand met die mond en die teen­woordigheid bely dat hy/sy glo, maar die lewenswandel is intussen openlik hier mee in stryd, dan moet sulke persone van die tafel weggeweer word.

In 1 Kor 11 word die gemeente eksplisiet opdrag gegee om oor die heiligheid van die tafel te waak. Sorg daarvoor, sê hy in vers 34, dat julle nie tot ’n oordeel saamkom nie. Daarvoor moet die sleutels van die hemelryk effektief toegepas word. Ons lees byvoorbeeld in 1 Kor 5: 11: “Maar nou skryf ek aan julle om nie om te gaan met iemand wat, al staan hy as ’n broeder bekend, ’n hoereerder is, of ’n gierigaard, of ’n afgodedienaar, of ’n kwaadspreker of ’n dronkaard of ’n rower nie. Met so iemand moet julle selfs nie saam eet nie.”

Ons is dus verplig om sulke mense met die sleutels van die koninkryk van die hemele uit te sluit, totdat hulle verbetering van hulle lewe bewys.