Bron: Die Kerkblad, 1995. 4 bladsye.

Gedagtes oor die Kerk ...

kerke

Wanneer aan die kerk van die Here gedink word, is dit voor die hand liggend dat onder andere aan die eienskappe en kenmerke van die kerk gedink sal word. Sowel die eienskappe (HK 21:54) as die kenmerke van die kerk (NGB 29) vorm immers deel van ons gereformeerde belydenis.

Eienskappe🔗

Tot die eienskappe van die kerk word die volgende gereken: eenheid, heiligheid, algemeenheid (katolisiteit), apostolisiteit en Christelikheid. Ons bely dat die kerk een, heilig, algemeen, apostolies en Christelik is. Want as ons na die kerk kyk soos hy werklik is, die kerk soos ons hom sien en ervaar, dan ontdek ons veel onenigheid, onheiligheid, verdeeldheid, menslikheid en onchristelikheid. Wat ons bely en wat ons beleef, mag egter nie in teenspraak met mekaar wees nie. Daarom laat ons belydenis oor die kerk ook 'n appèl uitgaan dat die kerk al hoe meer moet wórd wat hy ís: die kerk moet een wees, want God is een (Joh. 17:21; Ef. 4:4-6), die kerk moet heilig wees, want God is heilig (Lev. 11:44; 1 Pet. 1:15-16), die kerk moet liefhê, want God het lief (Matt. 5:48), die kerk moet vergewe, want God vergewe (Ef. 4:32). Soos wat die kerk nooit vrede mag maak met onheiligheid en onchristelikheid nie, so mag die kerk ook nooit in onenigheid en verdeeldheid berus nie.

Kenmerke🔗

Dit is bekend dat waar Calvyn slegs twee kenmerke van die ware kerk onderskei het, naamlik die Woord en sakramente (Institusie, 4.1.8) – of toegespits: slegs een kenmerk, naamlik die Woord (4.2.4/7). Die gereformeerde kerke na Calvyn het drie kenmerke erken: die suiwere prediking van die evangelie, die suiwere bediening van die sakramente en die kerklike tug (NGB 29).

Die reformatore het die kenmerke egter nie op 'n absolutistiese wyse hanteer nie. So was Calvyn byvoorbeeld van mening dat waar die Woord en die sakramente suiwer funksioneer, die "kerk nooit verwerp mag word nie, ook al is dit origens vol foute. Ja, daar kan selfs in die bediening van die leer of sakramente enige foute insluip sonder dat dit ons van haar gemeenskap behoort te ver­vreem" (Inst. 4.1.12). Vanselfsprekend wil Calvyn nie dwalings in beskerming neem nie, maar hy oordeel dat ons "nooit ligvaardig, om die een of ander klein verskil, die kerk moet verlaat nie (4.1.12). 'n Mens sal immers tevergeefs na 'n kerk soek "wat met geen enkele vlek bespat is nie" (4.1.13). Ook H Bavinck het iewers opgemerk dat daar nooit 'n ware kerk sou gewees het indien die drie kenmerke absoluut gegeld het nie. Tereg is 'n absolutistiese beskouing deur die GKSA afgewys (Acta GKSA 1958:78-80).

kerkrame

Dit kan nie ontken word nie dat die kenmerke van bepalende betekenis is vir kerkwees. Waarmee egter baie deeglik rekening gehou moet word, is dat hierdie kenmerke nie op 'n statiese en formalistiese wyse hanteer moet word nie, só asof dit niks te maak het met 'n lewe van geloof, oot­moed en liefde van die lidmate nie. Vandaar dat artikel 29 van die Nederlandse Geloofsbelydenis nie net handel oor die merktekens van die kerk nie, maar ook oor die merktekens van Christene. Indien daar formeel korrek gepreek, gedoop, nagmaal gevier en getug word, en dit word nie in ge­loof en liefde gedoen nie, dan het so 'n kerk in koue formalisme verval.

Karaktertrekke🔗

Skrifgetroue kerke bevat ook 'n aantal karaktertrekke waarsonder die kerk nie behoorlik kan funksioneer nie. Ek noem slegs enkele daarvan.

Eerstens is 'n Skrifgetroue kerk 'n kerk van liefde. Kerke waaruit die liefde – vir God en vir die naaste – verdwyn het, loop gevaar om in volkome duisternis te eindig (Openb. 2:5). Vir die gemeente van Efése skryf Christus: "Maar Ek het dit teen julle: Julle het My nie meer lief soos in die begin nie" (Openb. 2:4). Of anders vertaal: "Maar Ek het teen julle dat julle julle liefde, die eerste, prysgegee het" (C van der Waal). Het 'n kerk wat die eerste, die grootste (1 Kor. 13:13), prysgegee het, nóg enige bestaansmoontlikheid? Die hele Wet word immers in een woord saamgevat: liefde (Mark. 12:29-31).

Die probleem van die gemeente van Efése was nie dat hulle die belydenis verwaarloos het nie, nee, hulle het juis die valse apostels getug (Openb. 2:2). Wat egter ontbreek het, was die liefde. S Greijdanus merk hieroor die volgende op: "Daar was te Efése – soos alle eeue deur in die kerk van die Here – mense wat geoordeel het dat met 'n sekere regsinnigheid van belydenis, die lei van 'n goddelose en ondankbare lewe maklik verenigbaar was". In moderne taal gestel: ortodoksie (die regte leer) moet altyd hand aan hand gaan met ortopraksie (die regte lewe), ander loop dit op niks uit (1 Kor. 13:2). Leer en lewe gaan saam (Matt. 7:21).

Dit is opvallend dat Calvyn van oordeel was dat die eenheid van die kerk juis deur twee bande aanmekaar gehou word, naamlik "die gesonde leer en broederliefde" (4.2.5.)

Tweedens is 'n Skrifgetroue kerk 'n kerk van vreugde. Hierdie karakteristiek word op aangrypende wyse in die gelykenis van die jongste en oudste seun uitgebeeld. Die oudste seun is in bepaalde sin beeld van die Ou-Testamentiese kerk, die kerk wat beswaard was oor Christus se toenaderende houding tot sondaars (Luk. 15:2). Die oudste seun kon hom hoegenaamd nie daarin verbly dat 'n weggeloopte verlore broer terugkeer nie. Hy was vol besware, verwyte en veroordelings. Hy het geen besef daarvan gehad dat dit juis vergifnis is wat uitbundige vreugde skep nie. Wat word van 'n kerk wat nie meer begrip het van God se vergifnis in Christus nie? Wat word van 'n kerk waaruit die vreugde weg is? Ja, wát het uiteindelik van die oudste seun geword?

'n Kerk wat geen oog het vir mense buite die kerk nie, word 'n vreugdelose kerk. (Hier sou breed uitgewei kon word oor die sendingroeping van die kerk.) Hoe is dit moontlik dat daar in die kerk op aarde 'n somber stemming kan heers terwyl daar in die hemel blydskap is oor een sondaar wat hom bekeer?

Vreugde is volgens die Skrif só deel van die kerklike en Christelike lewe dat Paulus 'n hele brief daaraan kon wy (Filippense) en dit ook as een van die kenmerke van die koninkryk kon beskryf (Rom. 14:17). Waar Christus is – waar daar redding is – is daar volkome blydskap (Joh. 16:24). Genade (charis) en vreugde (chaira) hoort saam.

Derdens moet gesê word dat 'n Skrifgetroue kerk 'n kerk van vryheid is. Christus het sy kinders vrygemaak (verlos) van die sonde, die duiwel en dood – in beginsel altans. Die Christelike kerk is 'n vrye kerk, vrygemaakte kerk! Dis egter geen self-vrymaking nie, maar 'n vrymaking deur die waarheid van Jesus Christus (Joh. 8:31, 32).

voëls wat vlieg

Die kerk is ook vry – nié van die Wet nie, maar van die vloek van die Wet (Gal. 3:13; 4:5; 5:1). Wie die Wet hanteer as 'n middel om verlos te word, probeer om die onmoontlike te vermag – die mens kan homself immers nooit verlos nie. Daarmee is die betekenis van die Wet egter nie verlore nie. Die Wet help ons om ons sondige aard te leer ken sodat ons ons toevlug na Christus, ons Verlosser, kan neem; dit leer ons ook om die wil van God te ken en om dankbaar te lewe (HK 44:115). Die vrye kerk is nooit liberalistiese kerk nie, omdat dit gehoorsaam bly aan die Woord van God.

Kerklike vryheid het ook nog 'n ander dimensie; die kerk is ook vry van die staat/regering. Die kerk moet sorg dat hy nie 'n spieëlbeeld word van die regering of die politiek van die dag nie hy mag nie 'n politieke party in gebed wees nie. Die kerk moet vry wees. Die nuwe bedeling in Suid-Afrika hou dié groot voordeel vir die "wit" kerke in dat die verleidelike band tussen "wit kerk" en "wit regering" gelukkig verby is, maar die nuwe situasie hou 'n besonder groot uitdaging in vir die "swart" kerke onder 'n swart regering, naamlik om nié die foute van die verlede te herhaal nie.

Vierdens is 'n Skrifgetroue kerk 'n kerk van versoening. Die Skrif is daaroor duidelik dat Christus ons met God en ook met mekaar versoen het (Rom. 5:1-11; 2 Kor. 5:11-21) en dat dit eenvoudig ondenkbaar is dat gelowiges in 'n houding van onversoendheid en vyandigheid kan leef. Trouens, as ons met ons gawe na die altaar op pad is (kom ons sê: as ons oppad is na die nagmaal) en dit ons byval dat ons broer iets teen ons het, moet ons ons gawe by die altaar los en ons eers met ons broer versoen voordat ons ons gawe bring (Matt. 5:23).

Die reikwydte van die versoeningsaltaar strek ver. Paulus praat in hierdie verband van 'n geheimenis, 'n verborgenheid, 'n misterie van die evangelie (Ef. 6:19). Hierdie woorde beteken nie dat die evangelie duister of onverstaanbaar is nie – nee, die geheim van die evangelie is baie dui­delik: "Deur die verkondiging van die evangelie en in hulle verbondenheid met Christus Jesus word ook mense wat nie Jode is nie, saam met ons deel van die volk van God en lede van die liggaam van Christus, en kry hulle ook saam met ons deel aan wat God belowe het" (Ef. 3:6). Die geheim van die evangelie is dat nie net Israel nie, maar ook heidene deel kry aan God se reddende genade in Christus én dat beide opgeneem word in God se nuwe kerk. In Efesiërs 2 word breedvoerig uiteengesit hoedat Jesus die middelmuur van skeiding tussen Israel en die heidene afgebreek en hulle versoen het in sy een kerk. Die eenheid van die kerk rus op verlossing en versoening. Hierdie eenheid oorskry alle ras- of klasverskille.

In 'n wêreld van verdeeldheid en onenigheid is daar één plek waar daar versoening en vrede behoort te wees, en dit is in die kerk van Christus. Dáár behoort mense mekaar te verstaan omdat hulle die taal van geloof, hoop en liefde praat. Dáár behoort mense met groot sosiale, kulturele en intellektuele verskille mekaar die hand van versoening te reik wanneer hulle saam aansit aan die maaltyd van versoening.

Geen wonder nie dat talle twintigste-eeuse belydenisskrifte juis die boodskap van versoening tot 'n sentrale motief van belydenis gemaak het.

nagmaalstafel

Vyfdens is 'n Skrifgetroue kerk 'n kerk van lyding (en lydensbereidheid). Christus het sy navolgers uitdruklik gewaarsku dat "as hulle My vervolg het, sal hulle julle ook vervolg" (Joh. 15:20; vgl. Joh. 16:33; Matt. 10:16). Paulus beaam hierdie woorde: "Almal wat in Christus Jesus toegewy aan God wil lewe, sal ook vervolg word" (2 Tim. 3:12). Die apostel Petrus het 'n hele brief aan hierdie tema gewy (1 Petrus). Hierin skryf hy onder andere: "Juis hiervoor is julle ook geroep, omdat Christus self vir julle gely en so vir julle 'n voorbeeld gestel het, sodat julle in sy voetspore kan volg" (1 Pet. 2:21). Wanneer 'n kerk nie vervolg word nie, is dit 'n rede tot selfondersoek en moet die vraag gestel word of daardie kerk nog 'n troue navolger van Christus is. As daar meer van "Show business" as lyding in die kerk gesien word, is dit 'n rede tot groot kommer. Die kerk moet hom steeds indringend afvra of hy nie vanweë materialisme en wêreldgelykvormigheid al ver van die evangelie van Christus weggedryf het nie. Ten minste die bereidheid om te ly vir die saak van Christus moet altyd aanwesig wees. Die kerk mag nooit agter 'n op sigself waardevolle saak soos godsdiensvryheid wegkruip as hy moet ly vir die evangelie nie. Die bloed van martelare is die saad van die kerk (Tertullianus). Ware vryheid bestaan nie in (godsdiens)-vryheid wat die staat aan die kerk verleen nie, maar in gehoorsaamheid aan Christus, selfs tot in die dood.

Misverstand🔗

Daar moet 'n groot misverstand egter uit die weg geruim word: 'n kerk van liefde, vreugde, vryheid en versoening vergoeilik nooit die sonde nie, inteendeel so 'n kerk maak juis groot erns daarmee. Sonde moet immers bely, nagelaat en vergewe word, nie net in die geval van die jongste seun nie, maar ook by die oudste, nie net by die buitekerklike nie, maar ook by die binnekerklike (Openb. 2:5). Nie net die verlore broers benodig bekering en vergewing nie, maar ook die kerk self moet elke dag van bekering en vergewing leef (wat tog 'n samevatting van die hele evangelie is – Luk. 24:27). 'n Kerk wat erns maak met die eienskap van heiligheid en die kenmerk van tug is 'n kerk wat daarmee erns maak om die sonde te bestry.