Hierdie artikel handel oor geduld in die lewe van die Christen, veral in moeilike omstandighede.

Bron: De Wekker, 2003. 2 bladsye. Vertaal deur Alet du Plessis.

Geduld is ʼn Mooi Eienskap

Geduld – is dit nie een van die mooiste pêrels van ons geestelike lewe nie? En net soos pêrels, is dit uiters skaars. Of dit moet ‘n verpligting word, soos in ons tyd waar daar baie mense oorspanne en gestres is. In sulke gevalle kan daar deur verskeie instansies hulp verleen word, maar dit vra baie geduld van die betrokkenes om die herstelperiode enduit te voltooi.

skulp met pêrel

Net soos in die geval met baie ander dinge, kan ons geduld nie van die geloof losmaak nie. Ons lees herhaaldelik in God se Woord oor die beoefening van geduld. In sy brief aan die Hebreërs skryf die apostel: julle het geduld nodig. Jy het geduld, volharding nodig. Hy het Christene wat baie moes ly, daartoe aangemoedig. Beteken dit ons moet alles maar geduldig verdra? Jy sal kwaad en opstandig word; en mens kan jou indink dat hulle dit ook geword het. Dit is mos ons natuur om kwaad te word en te vergeld vir wat ons aangedoen word. Maar die apostoliese vermaning leer ons dat geduld ʼn saak van geloof is.

Die Hebreërs is van hulle besittings beroof. Hulle het baie swaarkry verdra in die onderdrukking. Die Here het hulle daardie genade gegee. Hou vol daarmee!  Noudat hulle weer lyding ervaar, het hulle weer geduld in die lyding nodig. Volhard om dit te verdra!  Dit is blywende lydsaamheid wat hulle nodig het. Hulle moet telkens weer geduld beoefen. Dit is nie maar net vir een keer nie, maar dit neem ʼn sentrale plek in. Mens sou kon sê: jy is nie ʼn gelowige as jy nie geduldig leer volhard om die pad van die Here te loop nie.

Aanvaarding🔗

Geduld beteken: om die lyding en teenslae wat jy belewe te aanvaar. Die Christen mag nie die lyding ontvlug of ontwyk nie. Deur lyding toon God aan sy kinders dat Hy met hulle besig is. Die Here kasty hulle as Hemelse Vader uit liefde. Lyding is deel van almal wat deur die Here bemin word. Dit vra van ons dat ons die swaarkry moet verdra, die lyding geduldig moet aanvaar. Hoe verset ek my nie daarteen nie!  Daar is niks wat so teen ons (vroom) vlees indruis as om die kruis te dra nie. Maar dan behoort ons nie by die groot Kruisdraer nie. Agter Hom aan kan daar slegs ʼn volgeling met ʼn kruis kom.

Moontlik het jy allerhande argumente hierteen. Het die lyding enige sin? Watter gevolge het dit vir my goeie verhouding met my man of vrou? Moet ek nie die belange van my gesin in aanmerking neem nie? Daar kan na ons mening baie argumente aangevoer word teen die geduldige verdra van smart en onreg. Maar dit is nie geldig nie; dit is deel van die geloof om lyding te verdra.

rystoel

Geduld is bevrydend🔗

Lyding verdra staan lynreg teenoor die moderne lewensuitkyk dat jy jouself moet laat geld. Jy moet opkom vir jouself en jou man staan. Dit was ook so in die Griekse wêreld in die Bybel se tyd. Dit was die regte ding om manlik en dapper te wees. Jy moes jou nie deur omstandighede van stryk laat bring nie, jy moes altyd sterk staan. Maar hierdie krampagtigheid hoef nie in die Christen se lewe te wees nie. Jy kan maar geduld beoefen. Dit gee ʼn gevoel van bevryding. Maar ons kan dit nie uit eie krag regkry nie - ons sal met die eerste teëspoed tou opgooi. En ons kan soms so moedeloos word, nie waar nie? As ampsdraer kan jy nie meer die spanning hanteer nie. Jy vind dit sinloos om te bid. Jy het alle hoop laat vaar vir ‘n beter geestelike en kerklike lewe. Jy wil liewer stop. Is dit nie die groot versoeking van ons tyd nie? Dat ons saam kla: ek weet nie meer nie. Juis dan moet jy nie ingee nie, maar moet jy geduldig wees. Dit is baie bevrydend, want dan kan jy dit oorgee. Laat die Here bestuur, waak en sorg, want dit wat Hy doen is wysheid.

Oefening dra vrug🔗

Hoe moet ek geduld beoefen? Daar is ʼn passiewe en aktiewe kant. Jy kan iets passief verdra soos wanneer jy lyding ervaar, bv. in gevangenskap of wanneer jy spot en smaad verduur.

Aktief geduldig wees kan tot uiting kom in verwagting. Wag op die Here en sy koms. Want die Here antwoord ons gebed, maar nie altyd direk soos wat ons graag wil hê nie. Ons hoop vir uitkoms, maar die Here gee dit op sy tyd. Wanneer hy ons opwek om te volhard in verdraagsaamheid, verwys die apostel na die belofte van die koms van die Here. Hy sal kom en nie vertoef nie. Die Here Jesus sal as die wêreldregter verskyn. Hy sal die verdrukkers straf en die verdruktes verlos. Om Hom so te verwag, gee moed en troos. Dit maak jou bereid om die Here te volg. Dan verduur jy die lyding, nie omdat jy moet nie, maar ter wille van Jesus. En daar skitter die pêrel van geduld!  Die gelowige berus in die wil van die Here: dit is vir my goed om naby God te wees. Al is ek uitgebrand of uitgeblus; dit gee my rus en krag: die wat die Here bly verwag, kry nuwe krag.

geduldig wag

Hou moed!🔗

Dan word jou hart liefdevol nader getrek om naby die Here te wees. Dan gee ons nie moed op nie. Die sonde of satan kan ons nie oorwin nie, al maak hulle dit vir ons baie moeilik. En jy sal al meer besef hoe baie die Here van my moet verdra. Hoe groot is God se lankmoedigheid en geduld!  Daarom hou ons aan, net soos die weduwee by die onregverdige regter. Verseker het ons baie lydsaamheid en volharding nodig om geduldig te bly. Maar geloof, hoop en liefde ondersteun ons daarin. Die verwagting versterk jou om uit te sien na die Here. Dit is nie verlammende berusting nie, maar ʼn verwagtingsvolle hoop op die hulp en verlossing van die Here.

Om te volhard in verdraagsaamheid het ʼn heerlike doel. Hy wat geduldig bly verwag, sal kry wat die Here beloof. As ons deel het aan die lyding van ons Here Jesus, sal ons binnekort deel in sy heerlikheid. Sy belofte is immers: Maar wie tot die einde toe volhard, sal gered word.