3 bladsye. Vertaal deur Nic Coetzee.

Geen ander Evangelie

Wanneer ek oor die teologiese eienskappe van kultusse skryf, dink ek aan my eie tien jaar betrokkenheid by die Jehova-getuies. Bevryding uit die organisasie en my redding het gekom toe ek my eie spirituele toestand erken het (Rom. 3:23; Ef. 2:1) en my vertroue in Christus van die Bybel geplaas het (Joh. 20:28). Versekering van ʼn ewige lewe kan slegs in Hom gevind word (1 Joh. 5:10-13). Ek word ook herinner aan baie vriende wat bevry is van die Jehova-getuies en ander kultusse.

Ons kan nie vandag sê hoeveel kultusse daar is nie. Na beraming is daar soveel as vyfduisend wêreldwyd, met 150 miljoen aanhangers (The Encyclopedia of Cults and New Religions, Harvest House Publishers, 1999, p.xvii).

Met hierdie syfers in gedagte kan Christene sekerlik nie die bestaan van kultusse veronagsaam nie en hul aanhangers behoort as ʼn belangrike sendingveld beskou te word. Baie van die aanhangers van kultusse het voorheen hoofstroomkerke bygewoon of was selfs lidmate daarvan.

Wat is ʼn Kultus?🔗

Die term kultus het verskillende betekenisse. Hoe word dit in hierdie artikel gebruik? Dr. Ronald Enroth verduidelik: “ons definieer die woord “kultus” as ʼn groep godsdienstige mense, waarvan die geloofstelsel en – praktyke beduidend afwyk van die Heilige Skrif of dit selfs weerspreek  - soos dit geïnterpreteer word deur ortodokse, Bybelse Christendom en soos uitgedruk in ʼn belydenis soos die Apostoliese Geloofsbelydenis,” (Evangelizing the Cults, Servant Publications, 1990, p.11).

Oordeel en Skriftuurlike Waarskuwings🔗

Baie mense  hou nie van die blootlegging van godsdienstige foute nie en dit word  negatief ervaar, maar die Skrif is duidelik oor die verantwoordelikheid van Christene. In stede van die dikwels misbruikte “Moenie oordeel nie” (Mat. 7:1) – skynheilige oordeel – wil hierdie gedeelte van die Bergrede hê dat mens  oordeel (Mat. 7:6, 15-20). Dit is ʼn opdrag, en nodig.

Die Bybel lig die leser dikwels in oor wat fout of oneg is. Dit waarsku oor valse christusse (Mat. 24:5); valse gode (Gal. 4:8); valse apostels en valse engele (2 Kor. 11:13-15; Gal. 1:8-9); valse geeste (1 Joh. 4:1-3); valse profete (Mat. 7:15); valse tekens en wonders (Mark. 13:22); valse broeders (2 Kor. 11:26; 1 Joh. 2:19) en ʼn valse evangelie. Paulus skryf: “Dit verbaas my dat julle so gou van God wat julle deur die genade van Christus geroep het, afvallig word en ʼn ander evangelie aanneem. Daar is geen ander evangelie nie! Tog is daar mense wat die evangelie van Christus probeer verdraai en dit is hulle wat vir julle verwarring bring (Gal. 1:6-7).

En dan moet nog ʼn valsheid – valse leerstellings –beklemtoon word: “Die Gees sê uitdruklik dat in die eindtyd sommige afvallig sal word van die geloof. Hulle sal misleidende geeste navolg en die leerstellings van bose geeste aanhang (1 Tim. 4:1). Vir die Christen moet godsdienstige stelsels en bewerings aan die Bybelse leer getoets word (2 Tim. 3:16-17).

Sommige Eienskappe van Kultusse🔗

Daar is ʼn eenvoudige en dikwels-aangehaalde (dog nie so deeglike) benadering om die eienskappe of patrone van kultusse uit te ken, nl. deur die terminologie van wiskunde te gebruik: optel, aftrek, vermenigvuldig en deel.   Deur van hierdie terme gebruik te maak kan ons die eienskappe van kultusse vasstel. (Weens beperkte ruimte sal slegs twee kultusse gebruik word om hierdie karaktertrekke te illustreer: Die Kerk van Jesus Christus van die Heiliges van die Laaste Dae , die Mormone (M) met meer as 12 miljoen aanhangers en die Jehova-getuies (JG) met 6.3 miljoen aktiewe aanhangers.

Optel: Is buite-bybelse openbaringe of ander boeke nodig om die Bybel te verstaan, of moet hul aangehaal word as die oorsprong van leerstellings? Hulle word dikwels hoër as die Bybel self geag. ʼn Variasie hiervan is dat die Bybel beskou word as akkuraat en volledig, maar dat dit slegs behoorlik deur interpretasie van die groep se leier of die organisasie verstaan kan word. Dit is die JG se uitgangspunt. Die Bybel word wel deur die Mormone erken as een van die “standaardwerke”, maar dit bevat nie al die geïnspireerde leringe nie en dit word ondergeskik gestel aan die Boek van die Mormone, die Leerstellings en Geloftes, en die Waardevolle Pêrel. Hulle glo ook dat voortdurende openbaring plaasvind.

Aftrek.  Doen die groep afbreuk aan Jesus Christus deur sy godheid te ontken (ʼn ontkenning van die Drie-eenheid)? Hy mag as ʼn engel beskou word, of as ʼn groot leermeester terwyl hy op aarde was, maar nog steeds net as ʼn mens. Beide die M en JG verwerp die Drie-eenheid. Vir die Mormone  is die drie persone van die Godheid apart en verskillend. (Die Heilige Gees is ʼn persoon, die Heilige Gees is die Vader se invloed). God die Vader is ʼn verhewe mens. Christus was die Vader se eerste geesteskind. Daar is ook ander gode. In die JG se leerstellings is Jesus Jehova se eerste skepping en die Heilige Gees is God se onsigbare, aktiewe krag.  Dit is in teenstelling met die Bybel: “Hoor, Israel, die Here is onse God is ʼn enige Here” (Deut. 6:4). As die Skrif bestudeer word om vas te stel wat dit sê oor die Vader, die Seun en die Heilige Gees, word daar telkens  “God” genoem (2 Kor. 1:3; Joh. 1:11, 20:28; Heb. 1:8; Rom. 9:5, Hand. 5:3-4) en word daar goddelike eienskappe openbaar. Anders as die Mormone se leerstellings is God nog altyd God volgens die Skrif (Ps. 90:2; Hab. 1:12). Daar is nie ander gode nie (Jes. 43:10-11; Jes. 44:6-8, 24-25; Jes. 45:5-6, 18-24). God is gees (Joh. 4:24).

Vermenigvuldig. Vermenigvuldig die groep die vereistes vir verlossing? Is verlossing wat afhanklik is van lidmaatskap van die organisasie en sekere vereiste rituele  ʼn ontkenning van regverdiging deur geloof? Is verlossing òf onseker òf bloot iets vir die toekoms? Wat sê die Skrif: “God het ons dan nou vrygespreek deurdat ons glo. Daarom is daar vrede tussen ons en God deur ons Here Jesus Christus” (Rom. 5:1). “Julle is inderdaad gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julself nie; dit is ʼn gawe van God. Dit kom nie deur julle eie verdienste nie en daarom het niemand enige rede om op homself trots te wees nie. Nee, God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het (Ef. 2:8-10). “Hy het ons verlos, nie op grond van iets wat ons vir ons vryspraak gedoen het nie, maar op grond van sy eie ontferming. Dit het Hy gedoen deur die wedergeboorte wat die sonde afwas en deur die Heilige Gees wat nuwe lewe gee” (Titus 3:5).

Eenvoudig gestel, in hierdie en ander Bybelgedeeltes is die vergelyking: Geloof is gelyk aan verlossing plus werke. In die kultiese denkwyse is die vergelyking: Geloof plus werke is gelyk aan verlossing. Die Skrif is duidelik daaroor dat goeie werke die uitvloeisel is van God se genade; goeie werke  verdien nie verlossing nie (Gal. 5:22-25).

Deel. Maak die organisasie daarop aanspraak dat hulle die enigste een is wat die waarheid besit? Dat hulle God se enigste kanaal is, of die enigste ware kerk is? Word alle ander godsdienstige organisasies gevolglik verwerp as vals? Is sy verlossing verlore as iemand die groep verlaat? Mormone glo hulle behoort aan “die enigste ware en lewende kerk op die hele aangesig van die aarde” (Leerstellings en Geloftes, 1:30). JG glo dat hulle organisasie vanaf 1919 gedien het as Jehova se “enigste sigbare kanaal, deur wie alleen  spirituele voorligting sou kom” (Watchtower, October 1, 1967, p. 590).

Daar is vier ander karaktertrekke wat ook beoordeel moet word.

Leerstellige dubbelsinnigheid. Word die leringe van die groep gekenmerk deur leerstellige dubbelsinnigheid of onsekerheid? Word leerstellinge aangebied asof God dit openbaar het, of as “huidige” lig, wat later verwerp kan word deur nuwe begrippe? Daar is baie voorbeelde van hierdie praktyk in M (poligamie, Adam-God) en JG literatuur (Die Groot Piramiede, die “owerhede” in Rom. 13:1-7).

Valse profesieë. As mens die groep se geskiedenis bestudeer, blyk dit dan dat hul leiers valse profesieë verkondig of aangemoedig het? Dit was of deur nuwe openbarings of deur spekulasie gebaseer op foutiewe interpretasies van die Skrif gedoen. Joseph Smith (M) en sy opvolgers het hulle die titel “profeet” aangematig, maar meer as vyftig van Smith se profesieë het nie uitgekom nie en so ook profesieë van sy opvolgers.

Die Jehova-getuies is bekend vir hulle profesieë wat nie uitgekom het nie. (1914, 1918, 1920, 1925, 1975, ens.). Ek onthou nog dat JG in 1941 gepraat het van die “oorblywende maande voor Armageddon”. Volgens die Bybel dui hierdie mistastings duidelik ʼn valse profeet aan (Deut. 18:21-22).

Gesonde reëls vir interpretasie. Nadat hy verskeie hedendaagse kultusse opgenoem het, vra Dr. James Sire: “Hoe kan hierdie verskillende godsdienstige bewegings hul beroep op die Skrif ? ...... Hulle kan dit slegs doen deur die beginsels van gesonde literêre interpretasie te oortree (Scripture Twisting, Intervarsity Press, 1980, p. 12). Die subtitel van die boek dui die boek se fokus aan: 20 Ways the Cults Misread the Bible.

Semantiek. Word Bybelse terme gebruik maar ʼn ander betekenis daaraan gegee? Om bewus te wees van hierdie herdefinisie van terme is dit belangrik om te let op hoe die Mormoonse leer verskil van Bybelse Christelike godsdiens. Dink na oor die volgende (teenoor die Skrifgedeeltes soos aangedui). Mormone beskou sonde as spesifieke handelinge, nie as die mens se basiese natuur nie (Rom. 5:6-8; Ef. 2:3). Die Evangelie word verklaar as synde leringe en kerkverordeninge wat deur Joseph Smith weer teruggebring  (1 Kor. 15:1-4). Wedergeboorte is wanneer jy in die M se kerk gedoop is (2 Kor. 5:17; 1 Pet. 1:23).

Wat is die Christen se verantwoordelikheid? Terwyl daar baie redes is hoekom die kultusse groei, is een ooglopende rede die gebrek aan die verstaan van die Bybel en gebrek aan spirituele onderskeidingsvermoë. Christene moet die uitdaging van kultusse verstaan en  moet “altyd gereed wees om ʼn antwoord te gee aan elkeen wat van julle ʼn verduideliking eis oor die hoop in julle lewe” (1 Pet. 3:15) en “verplig voel om julle aan te spoor om te stry vir die geloof wat een maal oorgelewer is aan dié wat God vir Hom afgesonder het” (Judas 1:3).