Bron: Die Kerkblad, 1989. 5 bladsye.

Geen Boek soos die Psalmboek "II n'y a livre…"

Boeke

Die geskiedenis van die Gerefor­meerde kerke kan ook gelees word in die waardering wat hierdie kerke vir die Psalmboek het. Met die Reformasie in die 16e eeu het dit naas die Bybel die belangrikste kerkboek geword – hierdie bundel van 150 Psalms.

In die Franse uitgawe van sy kommentaar op die Psalms, is daar 'n uitdrukking wat Calvyn herhaal­delik gebruik: "II n'y a livre…". Dit beteken: 'daar is geen boek'… geen boek soos die Psalms nie.

Luister na sy uitsprake as by elke keer hierdie "il n'y a livre" gebruik:

  • Daar is geen boek waarin 'n mens duideliker en mooier lofpry­sings vind oor God se besondere genadegawes en al Sy werke, as die Psalms nie!

  • Daar is geen boek waarin meer bevrydinge, meer getuienisse en meer ervarings van God se voorsienigheid en vaderlike sorg oor ons, vertel word nie!

  • Daar is geen boek waarin ons in die manier om God te loof volmaak­ter onderwys word en waarin ons vuriger gedryf word in die oefening van godsvrug as die Psalms nie. Dit lyk nie of Calvyn kan klaarkry nie. Sy waardering vir die Psalms is byna grensloos. "II n'y a livre”… Daar is geen boek… Ons hoor die refrein oor en oor:

  • Daar is geen boek soos die Psalms wat so vol van onderwy­singe is om ons lewens te vorm tot heiligheid, regskapenheid en gereg­tigheid nie.

  • Die Psalms leer ons om ons kruis te dra – die bewys van ons gehoorsaamheid.

  • Daar is geen boek soos die Psalms waarin ons die manier om God te loof beter vind nie.

  • Die Psalmboek is die anatomie van alle dele van die siel. (Hier sê Calvyn dat dit sy gewoonte is om die Psalmboek so te noem. Dit ontleed alles van ons sielelewe tot in die fynste besonderhede).

  • Die Psalmboek is die spieël waarin ons al die aandoeninge van die mens kan sien.

  • Hier in die Psalmboek beskryf die Heilige Gees alle smarte, droef­heid, vrees, twyfel, verwagtinge, sorge, verslaentheid, ja, selfs alle verwarde emosies.

  • Die profete praat in die Psalm­boek. Hulle nooi ons uit om onsself te ondersoek. Hier bly ons swakhede en ondeugde nie meer verborge nie.

Straatsburg 1539🔗

Die 23e April 1538 was 'n donker dag in die lewe van Calvyn. Toe het die Raad van Genève vir hom en Farel uit die stad verban. Vyandskap teen die predikante het tot 'n klimaks gekom. Alles het verlore gelyk.

Maar die stad Straatsburg het Calvyn met ope arms ontvang en hy word predikant van die Franse vlugtelinggemeente. Hier sou hy dan die heel eerste Gereformeerde Psalmboek uitgee. Dit was in die begin van die jaar 1539.

Hierdie eerste Straatsburg-Psalmboek is uiters belangrik. Dit is die moederbundel van alle latere bundels wat oor eeue heen in die Gereformeerde kerke oor die wêreld gepubliseer is, ook juis die Afrikaanse Psalmboek. Dit is van kardinale belang omdat ons Calvyn se beginsels vir 'n Psalmberyming wat hy later nog verder sou uitbou, alreeds hier leer ken.

Calvyn

Calvyn se Eerste Twee Beginsels vir 'n Beryming🔗

1. Geen Bloemlesing nie, maar Een Styl🔗

Calvyn het geweier om willekeurig enige Psalm wat voorkom in sy bundel op te neem. Die Lutherse Psalms was vir hom te vry berym soos bv. Psalm 46. Dit voldoen nie aan die vereiste van getrouheid aan die grondteks nie.

Met 'n nougesette noukeurigheid het hy ook sorg gedra dat daar nie 'n vermenging van verskillende soorte Psalmbewerkings sal wees nie. Dit gaan nie ten eerste oor die digter en sy digkuns nie, maar om die Woord. Calvyn se vereiste is streng: Dit moet 'n Psalmbundel in één styl wees.

2. Die Beryming moet uit die oorspronklike Hebreeus wees🔗

Calvyn se eie berymings was almal uit die oorspronklike Hebreeus. Ook die baie Psalms wat die digter Marot berym het, was vanuit die Hebreeus. Dit kon gebeur met die hulp van Francois Vatable, die groot Franse geleerde en die man by wie Calvyn sy Hebreeus geleer het. Letterlik, woord vir woord, het Vatable aan Marot die Psalms uit die grondteks deurgegee in Frans.

Die Afrikaanse Psalmboek🔗

Daar bestaan 'n oppervlakkige opvatting dat die man wat Psalms berym, eenvoudig die vertaling moet berym. Kom daar 'n nuwe Bybelvertaling, dan moet daar, so sê sommige, ook 'n nuwe Psalmberyming kom. Dit strook egter glad nie met die oorspronklike beginsels wat in Straatsburg en later in Genève gevolg is nie.

Het ons huidige Afrikaanse beryming hieraan beantwoord?

In sy geskrif 'Die Afrikaanse Psalmberyming', stel prof. G. Dekker die saak baie duidelik:

Wat ons eintlik bedoel met 'psalmberyming', is die vertolking van die Hebreeuse Psalms in moderne Westerse versvorm. Dit beteken dus dat die vertolker hom heeltemal moet inlewe in die ontroering van die oorspronklike gedig.

So het Totius (prof. dr. J. D. du Toit) die digter van die Afrikaanse Psalmberyming sy werk uit die oorspronklike Hebreeus gedoen. As kenner van die Hebreeuse taal en as Bybelvertaler en met name vertaler van die Psalms, was hy uitnemend daarvoor voorberei.

Wat baie interessant is, is die feit dat daar alreeds 14 jaar voordat die Afrikaanse Bybel in 1933 verskyn het, van Totius se Psalmberymings gepubliseer is. Hy het nie vir die vertaling gewag nie. En hy is ook nooit spesiaal van sy werk losgemaak om ná die Bybelvertaling met die Psalmberyming 'n begin te maak nie. Teen daardie tyd was 'n groot aantal alreeds berym. Die beryming het dikwels hand aan hand met die vertaling uit Hebreeus gegaan.

Van hierdie moeisame werk om die betekenis vanuit die oorspronklike Hebreeus te ontworstel, vertel Dekker die volgende:

As hy saans vermoeid gaan rus het nadat hy hom die hele dag verdiep het in die Hebreeuse sange, het die ontroering hom aangegryp, en in die nederige vertrekkie van sy plaashuis het hy in die bed, by die lig van 'n kers op 'n stoel, sy berymings neergeskryf. So het die eerste en talle van die mooiste vertolkings ontstaan.

Verskil tussen Lutherse en Calvinistiese Berymings🔗

Calvyn se voortdurende refrein, "Daar is geen boek soos die Psalmboek nie", kom ook sterk na vore in die verskil in uitgangspunt met die Lutherse vereistes vir 'n Psalmberyming.

Geen Vrye Lied nie🔗

Vir die lied in die erediens van die kerk het Calvyn konsekwent die Psalm as die geskikste geag. Hy grond dit op die feit dat God se Woord in die kerk in die sentrum staan en nie die woord van mense nie. God Self is deur Sy Gees aan die woord, nie net in die verkondiging van hierdie Woord nie, maar ook die sang van die gemeente moet hierdie Woord laat hoor. So het Calvyn dan ook Skrifberymings, soos byvoorbeeld die Lofsange van Maria, Simeon ens. in sy eerste Straatsburgbundel opgeneem. Aan die vrye lied wou hy egter geen plek gee nie.

orrel

Verskil met Luther🔗

Die basiese beginsel om geen vrye liedere van mense in die erediens toe te laat nie, het dan onmiddellik 'n verskil met die Lutherse opvatting uitgewys. Die verskil gaan egter selfs verder. Selfs vereistes vir 'n Psalmberyming verskil.

Die Duitse teoloog Heinrich Vogel, self 'n Lutheraan, stel die verskil in die beginsels vir 'n Psalmberyming soos volg:

  • Die Lutherse Psalmberymer gee 'n vrye bewerking van die Psalm en dit word 'n "nuwe lied". Die Calvinis daarenteen is geheel en al aan die oorspronklike teks gebonde.

  • By die Lutherse digter is die digterlike vryheid primêr en die teks van die Bybel is slegs 'n leidraad. By die Calvinis is die oorspronklike teks primêr en daarna kom die digterlike vryheid.

  • Die Lutherse Psalmberymer bring die naam van Jesus Christus direk in die teks in, maar die Calvinis sal, hoewel hy Christus in die Psalm erken, hom by die oorspronklike teks bepaal. 'n Mooi voorbeeld is Heinrich Vogel se beryming van Psalm 23. Die herder in die Psalm word dadelik "Here Jesus Christus". Daar is baie meer voorbeelde.

Die Gevolge van hierdie Verskil🔗

By Straatsburg het Calvyn in 1539 met die Psalmberyming 'n ander pad as Luther gegaan. Hy het 'n ander beginsel gestel en 'n ander aksent gelê wat verder beheersend vir alle Psalmboeke in die Gereformeerde kerke in die wêreld is. Dit verskil heeltemal van die Lutherse boeke. Dit verskil ook van ander Protestantse kerke soos bv. die Anglikane. Trouens, volledige Psalmbundels met al die 150 Psalms, vind ons alleen by Gereformeerde kerke.

Tot vandag toe is die allerbelangrikste vraag by alle Psalmberymings: Wat is die beginsels vir 'n beryming?

Die Psalms is die Gemeente se Gebede🔗

Aangrypend is dit dat Calvyn die Psalms in sy moedertaal (Frans) 'oraysons des fidelles' noem – die gebede van die gelowiges.

Opvallend: Om die gemeente te leer bid, het Calvyn en Farell alreeds op 10 November 1536 versoek dat die Psalmsang in die erediens van Genève ingevoer moes word. Dit is een van die wonderlikste dinge wat met die Hervorming gebeur het. Met die Psalms in die erediens, het die innige, diepgelowige, Skriftuurlike gebede weer in die erediens teruggekeer.

Dat die Psalms 'volmaakte' gebede in die erediens is, was egter nie 'n nuwe gedagte in die kerkgeskiedenis nie. Die Psalms self vertel dat hulle gebede is. Dit was ook die beskouing in die Ou Testamentiese kerk. Die Psalms van Dawid word byvoorbeeld die 'gebede van Dawid' genoem (Psalm 72:20).

Die kerkvader Augustinus (einde 4e eeu) het die Psalm selfs die 'dubbele gebed' genoem. In die Psalm spreek God Self sy gemeente aan, want dit is God se Woord. Maar God doen dit op 'n besondere manier: deur die stemme van die singende gemeente.

Dit is egter nie al nie: ook die gemeente spreek God aan deur die Psalm wat Hy self aan hulle gegee het. En as die gemeente God aangespreek, dan bid hulle.

'Die Verhewendheid voor die Aangesig van God'🔗

Juis omdat die Psalmsang die gebede van die gemeente is, mag dit nooit gepaardgaan met platvloerse of wêreldse musiek nie. Calvyn beklemtoon die 'verhewendheid voor die aangesig van God en die engele'. Deur sy sang, moet die gemeente waarlik bid! Hulle moet dit saam eendragtig doen. Daarvoor is die Psalms die allergeskikste kerkliedere, want dit is God se eie Woord en nie die woord van mense nie. Nie mompel en prewel en binnensmonds sonder begrip en verstand nie. (Calvyn praat van 'a murmerer entre eux sans aucune intelligence'.)

Die Psalms in Suid-Afrika🔗

Ook in Suid-Afrika is die verhouding tussen die Psalmsang en die gebed steeds beklemtoon. In 1923 skryf Totius (Prof. J. D. du Toit) van die Teologiese Skool van die Gereformeerde Kerke in die voorwoord van die eerste bundeltjie Afrikaanse Psalms: 'n Lofsang is selfs 'n 'dubbele gebed’ soos die kerkvader Augustinus gesê het, 'sodat ons daarin nie mag verflou nie'.

Totius

Ook geen Musiek soos die Psalmmusiek🔗

Calvyn se streng beginsels oor 'n Psalmberyming is nie die enigste beginsels wat hy neergelê het nie. Ook die musiek moes die noukeurigste toets deurstaan, want "daar is geen boek (soos die Psalmboek) nie" Inderdaad! Reeds 30 eeue lank is dit die boek vir die kerksang.

Voor God en die Engele🔗

In die Voorwoord van die Geneefse Psalmboek wat op 10 Junie 1543 uitgegee is, vind ons merkwaardige dinge oor die musiek. Hier sê Calvyn dat die Psalms wat God se Woord moet vertolk en nie die gedagtes van mense nie, deur die regte musiek gedra moet word. Uit ondervinding weet hy dat sang 'n groot krag en energie (in Frans: "force et vigueur") het om die harte van mense te beweeg. Dit kan die harte om God met 'n kragtiger en gloeiender ywer aan te roep, laat ontvlam. Juis die musiek moet in die erediens die harte tot 'n innige gebed laat ombuig.

Die musiek mag nie ligsinnig en oppervlakkig wees nie, maar – soos wat Augustinus gesê het – moet dit gewig en majesteit hê. Die Psalm is 'n gebed en dit mag nie vermaak aan die mense verskaf nie. Dit moet gedoen word 'voor God en die engele'. Die doel van die erediens is nie dat die mense hulle moet amuseer en verwonder aan kunsgenot nie, maar om daar vrug en stigting te ontvang. En stigting beteken nie die streling van die mens se gevoel nie, maar om in die ware geloof opgebou te word.

Musiek as 'n Versoeking van die Wêreld🔗

Verkeerde musiek in die erediens is vir Calvyn uiters gevaarlik. En daarom moet daar tussen musiek as vermaak en musiek in die kerk onderskei word. Laat ons nou hierdie Hervormer se woorde letterlik aanhaal:

In die eerste plek is dit nie sonder rede nie dat die Heilige Gees ons so noukeurig in die Heilige Skrif vermaan om ons in God te verbly en dat al ons vreugde daar tot die ware doel gerig word, want Hy weet hoeveel ons geneig is om ons in ydelheid te verheug. Soos ons natuur ons dus trek en ons beweeg om alle vorme van dwase en bedorwe vreugde te soek, so skenk die Here aan ons om ons af te trek en te weerhou van die versoekinge van die vlees en die wêreld, alle moontlike middele om ons besig te hou in daardie geestelike vreugde wat hy so sterk aanbeveel.

Geen Populêre ("pop"-) Musiek in die Kerk nie🔗

Laat ons voortgaan om Calvyn woordeliks aan te haal:

Nou is onder die dinge wat geskik is vir die vermaak van die mens en wat aan hom genot verskaf, musiek een van die eerste of een van die vernaamste; en dit is nodig dat ons daaraan dink dat dit 'n gawe van God is, afgesonder vir dié gebruik. Verder, op grond hiervan behoort ons des te versigtiger te wees om dit nie te misbruik nie, uit vrees dat ons dit sal besoedel en bevlek en dit daardeur tot ons verdoeming omskakel, terwyl dit bedoel was om tot ons voordeel te gebruik. As daar geen ander oorweging was as slegs hierdie nie, behoort dit ons inderdaad te beweeg om die gebruik van musiek te matig sodat dit alle eerbare dinge sal dien en dat dit nie 'n aanleiding vir ons sal wees om vrye teuels te gee aan losbandigheid of om ons verwyfd te maak in wanordelike genoeëns nie en dat dit nie die instrument sal word van wellustigheid of van enige skaamteloosheid nie.

Populêre wêreldse musiek het volgens Calvyn geen plek in die erediens nie. Ook buite die kerk moet musiek wat tot vermaak van die mens is, tot eer van God wees.

Psalmboek

Strydliedere van die Gereformeerde Kerke🔗

Die Sentrale Plek🔗

In die 16e eeu het die prediking van die Woord weer die sentrale plek in die kerkdienste ingeneem. Dit was die grootste gebeurtenis van die Hervorming. God het weer die middelpunt van die kerk ingeneem en nie meer die mens nie. En daarom moes sy Woord weer gehoor word. En toe sing die kerkvolk weer die Psalms! Toe het die Psalm ook meteen die belangrikste kerklied geword.

Geskiedenis van die Gereformeerde Kerk – Geskiedenis van die Psalmboek🔗

By die Hervorming vanuit Genève was die plek van die Psalms in die eredienste baie sterker en konsekwenter beklemtoon as by die Lutherse Hervorming. In die afgelope 400 jaar van kerkgeskiedenis in baie lande is een saak baie duidelik: Daar waar nog Gereformeerdes is, daar vind ons nog die Psalms as kerkliedere. Daar waar Gereformeerde kerke nog stry vir die Gereformeerde Belydenis, daar staan ook die Psalmboek in die brandpunt van die stryd. Miskenning van die Psalms in die kerk is baie dikwels 'n simptoom van 'n miskenning van die Gereformeerde Belydenis. In al die reformasies van bv. die Afskeiding van 1834, die Doleansie van 1886, die "Disruption" van Skotland in 1843, die Afskeiding van die Christian Reformed Church in die VSA in 1857 en die ontstaan van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika in 1859, was die stryd oor die Psalmboek elke keer deel van die stryd oor die Gereformeerde Belydenis.

Toe daar nog Hugenote was🔗

Doumergue, die bekende kerkhistorikus, skryf die volgende:

Die Gereformeerde Kerk is onder Psalmsang gestig. Du Bouly getuig: Die Protestante het by la Ferriere vergader om by Psalmsang die grondslag vir hulle godsdiens te lê. De Raemond het geskryf dat toe die Psalms verskyn het, het die kerk van Calvyn ontstaan. Volgens 'n ou teenstander het die Psalms 'die formulier van die Gereformeerde godsdiens' geword. Op die brandstapel, in die kerker, op die kolleges, op die slagveld het die Psalms weerklink. Die lyfwag van Conde het dit aangehef. Die Psalmsang het meegesleur, besiel, bekeer, getroos en het soos 'n vuur die oorhand gekry. Optogte van studente, vorste en volk van Parys, in die Pre aux Clercs, te Bourges en Bordeaux, het die Psalms gesing. Die Lutherane noem die Psalms die 'Calvinistiese sirene'. Ons Psalms is vertaal en gesing in Duits, Roemeens, Deens, Hollands, Latyn, Portugees, Maleis, Italiaans, Gasconies, Boheems, Pools, Turks, Hongaars, Engels en ten slotte (selfs) in Hebreeus. Hierdie (massale) koor is gelei deur Calvyn wat die eerste Psalms berym het en die eerste melodieë gekies het en die eerste komponiste in beskerming geneem het.

Op die Brandstapel, in die Kerker, op die Slagveld…🔗

Die Hugenote van Frankryk in hulle oorlewing, die stryd van die "Covenanters" in Skotland in die 17e eeu, die Puriteine van Engeland, die Pelgrimvaders in hulle koers na die nuwe wêreld van Amerika, Jan van Riebeeck en sy mense in 1652 aan die Suidpunt van donker Afrika … al hierdie Gereformeerdes het die Psalms saam met hulle gedra – in kerkgeboue, in die veld, in hulle stryd, in hulle lief en hulle leed. Steeds was die Psalmboek naas die Bybel die belangrikste boek vir kerk en huis.