Bron: Die Kerkblad, 1986. 2 bladsye.

Geen selfverloëning — geen Christen

Toe het Hy vir almal gesê: 'As iemand agter My wil kom, moet hy homself verloën, elke dag sy kruis dra en My volg.'

Lukas 9:23

Hoe onderskei mens 'n Christen?🔗

Pasop vir valse ant­woorde, soos dat iemand 'n Christen is eers wan­neer hy allerlei innerlike ervarings beleef het. Een ding wat egter waar is, is dat 'n Christen (onder an­dere) uitgeken kan word aan die feit dat hy homself verloën het. Mens kan dit ook andersom stel: iemand wat homself nie verloën het nie, kan nie 'n Christen wees nie. Lees gerus ook maar Matteus 10:38 en Lukas 14:27.

Mode-Christene🔗

Hierdie woorde uit Lukas 9 wat hierbo aangehaal is, rig Jesus aan 'n groot ska­re mense. Hulle was men­se wat agter Hom aange­loop het om as 't ware in die mode te wees. Daar was groot opgewondenheid aan verbonde om Jesus te volg. Hulle wou hieraan deel, maar hulle wou niks prysgee in die verband nie: hulle was nie bereid om hulleself te verloën nie.

Die gevaar van mode-Christene is vandag ook wesenlik. Dit is vandag 'n ordentlike en fatsoenlike ding om aan 'n kerk te be­hoort. Dit is 'n openbare skande as iemand aan geen kerk behoort nie. Hoeveel mense behoort aan 'n kerk omdat almal so maak? Hoeveel is be­reid om hulleself te verloën, hulle kruis te dra en Christus te volg? — waarsonder iemand nie aan Christus kan behoort nie!

Selfverloëning is egter nie 'n soort toetreefooi tot Christenwees nie: dit is nie om aan allerlei voorwaardes te voldoen om jouself waardig voor Christus te maak nie. Juis die teenoorgestelde! Dit is om te erken: Ekself is niks, en uit myself kan ek niks doen wat die Here behaag nie — meer nog: ekself bestaan nie meer nie en my belange tel nie meer nie.

Gewillig🔗

Selfverloëning word op niemand afgedwing nie. Net so dwing Jesus nie­mand om Hom te volg nie. Hy sê: "As iemand agter my wil kom…" 'n Mens is nie 'n Christen omdat jy dit moet wees nie — teen wil en dank nie. Jesus wil nie teësinnige volgelinge hê nie. Mens is 'n Christen omdat jy dit wil wees. Net so gaan dit hier oor 'n wel­bewuste, gewillige besluit om jouself te verloën, jou kruis te dra en Jesus te volg.

Jesus dwing niemand om 'n kruis te dra nie. Op niemand se rug gespe Hy 'n kruis vas nie. Nee, 'n mens neem self jou kruis op en dra dit. Jesus self het gewilliglik sy lewe afgelê: "Niemand neem my lewe van My af nie, maar Ek lê dit uit Myself af" — Johannes 10:18. Hieraan het ons ons lewe te danke — 'n nuwe en ewige lewe. Ons Here en Meester se lewe op aarde was gekenmerk deur kruisdra en Hy roep ons ook tot 'n lewe van kruisdra. Wie nie daartoe bereid is nie, is nie sy volgeling nie.

Kruisdra beteken nie dat ons al die siekte en verdriet wat ons lewens van tyd tot tyd kenmerk, maar moet aanvaar en verdra nie. Kruisdra dui op die skande (Hebreërs 12:2), veragting, ontberinge, opofferinge wat noodwen­dig gepaard gaan met Christenwees. Selfverloëning beteken 'n bereidheid om Jesus te volg sonder om terug te deins vir die ongerief en ongemak wat dit meebring. Dit beteken om gewilliglik en maklik die eie gerief en gemak prys te gee.

Bereidheid om te sterf🔗

Selfverloëning beteken nie om net tot op 'n bepaalde punt op te offer en niks verder nie. Selfverloëning hou in 'n bereidheid om selfs jou lewe op te offer, as dit daarop aankom. Dit is wat die kruis en kruisdra impliseer: 'n kruis was gebruik vir net een doel: om 'n persoon ge­nadeloos te laat sterf. Iemand kan nie kruisdra as hy nie bereid is om sy lewe te gee nie. Hieroor was Jesus baie duidelik en reguit:

want elkeen wat sy lewe wil behou, sal dit verloor, maar elkeen wat sy lewe om My ontwil ver­loor, sal dit behou.

Selfverloëning beteken ook 'n ander soort sterf, ooreenkomstig Paulus se bedoeling in Galasiërs 2:20: "ek leef nie meer nie, maar Christus leef in my". Hyself en sy eie be­geertes, gemak, voordele, gevoelens was dood, ja, alles wat eie is aan die ou mens, was dood. Sy be­geertes was nie op homself gerig nie, maar op Christus, wat in hom leef.

'n Weiering tot selfverloëning is die oorsaak van oneindig baie spanninge tussen mense, onaangenaamhede en lamsakkig­heid in die kerk. Solank EK vir myself belangrik is, sal dit nie regkom nie.

Maar selfverloëning is nie alleen maar 'n prys-gawe van alles en 'n lewe van bitterheid nie. Dit is wel 'n bereidheid tot prysgawe van alles, ter wille daarvan om 'n navolger van Christus te wees en om aan Hom te behoort — 'n baie groter bate as al­les wat ons prysgee (Filippense 3:7).