Bron: Wegwijs. 2 bladsye.

Gehoorsaam in die Wêreld

Bybel

Gehoorsaamheid teenoor die Here is nie slegs ʼn saak van die uiterlike nie. Dit is iets anders as die onderhouding van ʼn uiterlike groepskode. Werklik gehoorsaam wees kan nie sonder ʼn hartlike vertroue op die Here nie. En dit kan ook nooit gehoorsaamheid wees as dit nie voortkom uit, en nie gevul is met liefde tot die Here en ons naaste, nie.

Lyding🔗

Gehoorsaamheid is ook nie maar net ʼn saak van innerlikheid nie. So asof ons in ons privaatlewe (buite werkstye en binne die mure van huis en kerk) baie noukeurig sou leef, maar in die samelewing pas ons onsself soos ʼn verkleurmannetjie aan by die mense om ons heen, by hulle gedrag en by hulle lewensinvulling.

In die Skrif beteken gehoorsaam wees dat jy kant kies. Bewus, duidelik en publiek. Jy het die moed om anders te wees en uit jou dop te kruip (vgl. Handelinge 11:26). Daarom roep Christelike gehoorsaamheid altyd ʼn reaksie van die omgewing op. Soms positief: mense sien jou goeie werke en word nuuskierig; jy kry geleentheid om verantwoording af te lê van die hoop wat in jou is, en jy bely die Vader en die Seun. Maar dikwels is die reaksie ook negatief. Want vanaf die moederbelofte het God vyandskap gestel tussen die saad van die slang en die van die vrou. En in die tent van Abraham het die een wat na die vlees verwek is, die een wat na die gees verwek is, alreeds vervolg. In die wêreld ly die kerk verdrukking en word daar kwaad van haar gespreek en haar lewenstyl is 'onderdrukkend', 'krimineel' en 'onverdraagsaam' (vlg. 1 Petrus 2:12; 3:16). ʼn Christen is nie wêreldvreemd nie. Maar wel vreemdeling.

In die Skrif gaan gehoorsaamheid gepaard met lyding. Opvallend is dat ons by lyding dikwels in die eerste plek dink aan siekte en moeite, aan pyn en teenslae. Maar in die Skrif gaan dit heel dikwels oor lyding wat jy moet meemaak, omdat jy die Here gehoorsaam wil wees. Lyding om Christus wil.

Ek het die indruk dat daardie kerkgroepe wat so sterk op ervaring fokus, hierdie dinge sterker ondervind as ons. Is dit omdat ons onsself meer aanpas en meer bedag is op hoe ons 'oorkom'? Ons is dikwels bly as ons omgewing konstateer dat gereformeerdes sulke gewone mense is, wat gerus ʼn film mag kyk, grimering mag gebruik, jeans mag dra en regtig nie altyd geestelike liedere loop en fluit nie. Ek besef baie goed dat die geloof nie slegs iets uiterliks is nie, en dat geloof nie ʼn vroomheids-skou is nie. Maar die slegte reaksies wat hierdie ander Christene dikwels kry – kry hulle dit werklik omdat hulle 'oorgeestelik' is? Of het die feit dat ons dit minder ondervind, ook te make met ʼn minder herkenbare en ʼn minder 'anders-wees' as die wêreld? Gooi ons te veel water in die egte Christelike wyn en durf ons onsself nog onderskei van die wêreld?             

Wat ek eintlik maar wil sê, is: gehoorsaamheid is nie iets wat binne die mure van die huiskamer en kerksaal opgesluit is nie. Dit is nie ʼn houding wat na binne gekeer is nie. Dit is iets wat midde-in die samelewing in praktyk gebring word. Dit is iets wat opval en reaksie oproep by hulle wat buite is. Gehoorsaam wees en vrymoedig in die wêreld staan, het alles met mekaar te doen.

verkleurmannetjie

Verdriet🔗

Wie gehoorsaam wil leef, sal nie alleen moeite van die wêreld se kant ondervind nie. Hulle sal ook pyn oor die wêreld ondervind. Wie bely dat die Here deur alle mense geëerbiedig en gehoorsaam moet word, sal verdriet ken oor alle sonde en afvalligheid in die wêreld.

Maar die wat nie meer na u reëls luister, al die verdwaaldes, al die goddelose – o Here, ek is bedroef, ek is stukkend oor ʼn wêreld wat in die bose lê.             

Dít is ʼn deel van die lyding en verdriet wat die kerk van vandag moet dra. Ons word nie bedreig om in vryheid te vergader en ook word ons gewetens nie gebind nie. Ons word nie oor ons geloof opgesluit of gemartel nie. Maar ons regverdige siele word dag na dag gekwel deurdat ons al die werke sien en hoor wat teen God se wet ingaan. Ons liggaam bly ongeskonde. Maar ons gewete word voortdurend blootgestel aan onsuiwer invloede, en dit ondermyn dikwels ons besef van wat goed en kwaad is.               

In elke tyd het die kerk haar eie moeite en opdragte. Ek dink dat een ons grootste opdragte vir 1994 is om in 'n samelewing, waarin ons omring word deur sonde, nie daaraan gewoon te raak nie, maar hartseer daaroor te wees, en steeds 'n opregte verontwaardiging te bly voel. Ons kan nie onsself uit hierdie wêreld terugtrek nie. Met die opbrengs van ons toegangskaartjies word ook sondige praktyke gefinansier. Van ons belastinggeld word ook goddelose kultuur gesubsidieer. Dit kan mens nie voorkom nie. Maar nou moet ons oppas dat ons, as kerke, dit nie as verskoning gebruik om die drumpel na die sonde laer te maak nie ('n mens kan mos nie uit die wêreld weggaan nie!), maar om dit steeds as pyn te bly voel.              

Wie gehoorsaam is, sluit nie sy oë vir die wêreld nie. ʼn Christen staan met oop oë in die samelewing. Hy sien skerp die ontwrigting en die verskeurdheid wat die sonde teweeg gebring het. Hy het verdriet daaroor. Dit sny in sy siel. En hy weet dat hy self ook verantwoordelik is vir die ontwrigting en ontaarding van die wêreld.               

Ons sien vandag baie dinge verkeerd loop en ontspoor. Ons het ʼn oog vir die gebrokenheid van hierdie wêreld. Maar hoe reageer ons daarop? Deur te sê dat jy allerlei dinge nie so ernstig moet opneem, omdat jy dan geen lewe het nie? Of hou ons vol dat die val in sonde inderdaad geen lewe is nie? Werk en versterk die gelowige sig op die gebrokenheid ons verlange na God se nuwe wêreld? Sny dit deur ons siel dat die Here brutaal teengestaan word? Laat die besef van ons verdorwenheid ons sug van verlange om uit die liggaam, wat in die mag van die dood is, verlos te word? Maak dit ons bewoë oor al die mense wat verstrik is in die ryk van duisternis?

Werfkrag🔗

Gehoorsaam wees aan die Here het niks te make met jouself afsluit van die wêreld daarbuite nie. Inteendeel. Lewe uit en na die Woord van God het werfkrag. Dit is ʼn lewe waarin die lig van God se Woord skyn en waardeur jy jou naaste bring tot verheerliking van God. Nie van ʼn slap kompromis-houding of opportunistiese opstelling nie, maar van ons godvresende wandel word gesê dat dit ons naaste vir Christus wen. Wie die Woord van die lewe vashou, skyn soos ʼn blinkende ster in die wêreld. Wie hom- of haarself nie wil onderskei, wie nie anders wil wees (Efesiërs 4:20) of meer wil doen as normaalweg nie (Mattheus 5:47), daardie persoon skakel die lig in ons samelewing af.    

lig          

Die Here verwag van ons ʼn deursigtige lewenstyl as leesbare briewe van Christus. Dit is ons, as ons Hom gehoorsaam 'sonder om te kla' en 'sonder teëspraak' (Filippense 2:14). As ons God se bevele elke keer ontvang met 'n 'ja maar…' of 'net as…', en as ons voortdurend eers moet nadink of die Here ons wel voldoende oortuig het en perspektief bied, dan doen ons afbreuk aan ons boodskap na buite. Moet ons naaste in ʼn God glo wat ons self voortdurend moet bevraagteken?! Ons kan alleen oortuig as ons laat sien dat ons die Here op sy Woord vertrou en so sonder teëspraak doen wat Hy gebied.