Bron: Kompas, 2005. 6 bladsye.

Gehoorsaamheid: Mag 'n Mens dit nog Vra?

Dit is vakansie. Almal het die dag af. Dus kan ons almal lekker laat slaap. ʼn Heerlike gedagte. Na ʼn tyd raak ʼn mens egter moeg vir die bed en staan maar op. Pa trek gou sy kamerjas aan. Hy wil gou voorbereidings begin tref vir ete. Wat die tyd betref, sal hulle seker “brunch” eet. Wanneer hy in die sitkamer kom, blyk dit dat hy nie eerste opgestaan het nie. Die oudste drie kinders sit gespanne op die bank voor die televisie. Dis sg. kinderprogramme is aan die gang; dis ʼn tekenfilm wat wys, met allesbehalwe vredeliewende beelde. Hoe lank sit hulle al daar? En bowendien, daar is ʼn afspraak in die huis: die kinders sit nie self die televisie aan nie. Dit mag net met Pa of Ma se toestemming. Wat moet Pa in hierdie geval doen? Kwaad word? Die televisie afsit? Dan sal ʼn mens die kinders se gesigte moet sien…

Dit is vroegmiddag. ʼn Aantal kinders van ʼn gereformeerde laerskool bly by die nasorg. Een van die ma’s kom hou toesig. Dis die reël dat die kinders op hul plekke bly sit terwyl hulle eet. Maryke staan op van haar plek sonder om te vra en loop met ʼn beker in haar hand na ʼn maat om te gesels. Die ma betig haar en beveel haar om op haar plek te bly sit. Maryke kyk na die ma asof die grootste onreg haar aangedoen word. En sy sê: “Dit mag van die ander ma’s, en jy is nie my ma nie!” Hoe moet die ma hierop reageer? Sal sy dit maar los? As die ander ma’s dit toelaat… En Maryke se onvriendelike gesig… As nasorgma wil sy graag gewild wees by die kinders, dan is dit dalk vir hulle lekkerder as sy ʼn volgende keer weer kom.

Inleiding🔗

Hierdie artikel handel oor gehoorsaamheid in die opvoeding. Mag ʼn mens dit deesdae nog vra? Kinders (en die ouers?) het ʼn afkeer van mense wat mag oor hulle het, aldus “opvoedingsghoeroe” Gordon. Hulle wil self ʼn sê oor hul lewe hê. ʼn Mens kan eerder met hulle onderhandel en hulle tot insig bring. Dit het meer sin as om jou ouerlike gesag te laat geld. Die hele maatskappy word gekenmerk deur verdraagsaamheid. Alles “moet kan”. As ouers sou ʼn mens byna nie meer leiding in die opvoeding durf te gee. Al gou voel ʼn mens of jy outyds of bemoeisiek is.

Om kinders op te voed tot selfstandigheid beteken tog: om verantwoordelikheid aan hulle te gee. Dan moet ʼn mens as ouers jou kinders tog toelaat om so gou as moontlik oor allerlei dinge self besluite te neem? En laat ons eerlik wees: sedert die sondeval sit gehoorsaamheid nie eintlik in ons bloed nie. Dit geld vir ouers sowel as vir kinders. Maar wat maak ons dan met die Bybelse norm: “Kinders, julle moet jul ouers gehoorsaam wees in die Here, want dit is reg.” (Efesiërs 6:1)

Hieroor sal dit in hierdie artikel gaan, en wel aan die hand van die volgende onderwerpe: Wat is gehoorsaamheid eintlik? Waarvandaan kom gesag? Wat is die doel? Hoe word dit toegepas? Gehoorsaamheid en beloning. Kan gesag misbruik word?

Wat is Gehoorsaamheid?🔗

Om te gehoorsaam is afgelei van die woord hoor. Dit het daarom te doen met luister. Bv. in die geskiedenis van die storm op die see (Matteus 8:27), waar die dissipels opmerk “dat selfs die winde en die see Hom gehoorsaam is”. Die elemente luister na die bevel van Jesus en doen wat Hy sê. Die storm en die see is elemente. Kan ʼn mens so ʼn gehoorsaamheid ook van kinders verwag? Mag ʼn mens ook aan kinders iets beveel, iets opdra? Hulle is mos lewende wesens, geskape met ʼn wil en met eie inisiatief. Hulle dink ook na oor dinge en sou op grond van sekere oorwegings kon weier. Mag ʼn mens desondanks van kinders vra om te gehoorsaam, om te luister? Frustreer jy daarmee nie jou kinders nie?

Vir die antwoord op hierdie vraag luister ons eers na wat die Bybel hieroor te sê het. Ons groot, magtige, onnavolgbare wyse God wil ons Vader wees. (Hoe is dit moontlik!). Daarvoor het Hy gegee dit wat Hy die liefste gehad het, nl. sy eie Seun. Hy wil die mense weer gelukkig maak, daarvoor het Hy aan hulle sy tien reëls gegee. Let wel: nie tien aanbevelings nie, maar tien gebooie. Ons moet daarna luister en dit doen, ouers sowel as kinders. Een van hierdie gebooie, die vyfde, staan juis min of meer tussen die eerste en die tweede tafel van die wet. Tussen die liefdesgebod vir God met alles wat jy het, en die gebod van liefde aan die naaste soos vir jouself. In die vyfde gebod gebied God: “Eer jou vader en jou moeder, dat jou dae verleng mag word in die land wat die HERE jou God aan jou gee.” Om te eer wil sê: respekteer, die regte plek toeken; dit beteken ook: gehoorsaam, hulle volg.

Hierdie gehoorsaamheid van die vyfde gebod geld vir ouers sowel as vir kinders. Dit is mos by die berg Sinai aan die hele volk gesê. Hierdie gehoorsaamheid aan die Here God en Jesus Christus vorm feitlik die basis vir ʼn Christelike gesinslewe.

Gehoorsaamheid is gebaseer op gesag. Gesag sê iets oor die posisie van die een teenoor die ander. Jy het iets oor die ander te sê. Ons erken God se gesag. Hy het die sê in ons lewe.

Met gehoorsaamheid word nie bedoel om uitsluitlik te reageer op nors bevele nie. Maar juis om ʼn liefdevolle stem van harte te volg. Dus sê dit ook iets oor die houding van die opvoeder. God se gesag word gedra deur sy liefde. God is tog liefde. Vir Hom gaan dit om jou behoud. Hy wil jou na sy heerlike toekoms lei. Daarvoor gebruik Hy sy gesag. Daardie gesag is geen doel op sigself nie. Nie by God nie, en daarom ook nie by vaders en moeders nie!

Waarvandaan kom Gesag?🔗

Gesag is nie vryblywend nie. Dit geld ook vir die opvoeding. Die Here God het naamlik ʼn gebod oor die gesag gegee. Die besonderse van hierdie gebod is dat Hy ʼn belofte daaraan verbind, ʼn belofte vir dié wat die gebod onderhou. Die Here God sal jou dae verleng in die land wat Hy aan jou gee. As gevolg van hierdie belofte is dit ook ʼn unieke gebod. Die beloning staan daarby geskryf. Daaruit blyk tegelykertyd hoeveel waarde die Here God aan hierdie gebod heg. Hy wil die mens ekstra stimuleer om hierdie gebod te hou.

Wat wil die Here God aan ons sê met hierdie gebod en die belofte wat daaraan verbonde is? Dit is die taak van moeders én van vaders om aan hulle kinders die pad na God se Koninkryk te wys. Hierdie opdrag het hulle van Hom gekry. Daarom moet die kinders hulle ouers daarin gehoorsaam. Ouers het die taak om hulle opvoeding te rig op die Koninkryk van God.

Dit is ook opvallend dat die Here God in die eerste deel van die gebod nie sê: “Eer jou ouers” nie, maar: “Eer jou vader én jou moeder”. Daarin kom mooi na vore dat Hy onderskeid maak, en warmte gee. Jy moet jou vader én jou moeder eer, elkeen met sy of haar eie take.

Gesag kom van God af. Hy gee dit aan die ouers. En nie as ʼn doel op sigself nie, maar – so blyk dit uit die vervolg van die gebod – as ʼn middel. Ouers is instrumente wat die Here God gebruik. Dit vra van ouers die besef dat hulle ook gesag moet opeis. Gesag, soos dit deur God bedoel is. Of jy dit nou wil of nie, as ouer/opvoeder is jy vir ʼn belangrike deel vir jou kind die identifikasiefiguur van God. Dit beteken dat ʼn kind vir ʼn groot deel die beeld wat Hy van God vorm, via die ouers vorm. Streng ouers, wat niks toelaat nie, gee aan ʼn kind die gedagte dat God ook so ʼn streng en onbarmhartige Persoon is. Andersyds: ouers wat alles maar net toelaat, skep by kinders ʼn beeld van God as Iemand wat ook nie alles kan help nie, Iemand wat alles goedkeur. Kinders leer deur die gehoorsaamheid wat ouers van hulle vra, ook om die Here God te gehoorsaam. Daardeur leer hulle besef dat daar ʼn mag bo hulle is.

Natuurlik kan ʼn mens as ouers nooit ʼn volledige beeld van God verteenwoordig nie. Daardie taak sou te moeilik wees. Ouers is ook maar net mense. Daarom het God in sy oneindige wysheid sy Gees aan vaders en moeders gegee. Hy sal hulle vir hul taak toerus. Dit beteken nie dat ouers maar met hul arms gevou kan sit en wag tot hulle die Gees binne-in hul voel nie. Die Gees van God werk deur die Woord. Dit beteken: ouers wat wil opvoed volgens Gods wil, wat bewus is van hul besondere opdrag, het die Bybel oop in hul lewe. So laat hulle die Gees daarin werk. Christenouers kan hul taak net goed vervul as hulle naby die Woord lewe. Indien jou houding is om gehoorsaam te luister na Vader in die hemel, leer jy jou kinders die regte lewenshouding.

Kinders behoort na hul ouers te luister, omdat dit beteken: om te luister na Vader. Ouers moet dus die beeld van Vader uitstraal!

Ander Visies op Gesag🔗

Hier volg twee ander visies op gesag.

ʼn Ander benadering van gesag wat in ons tyd baie volgelinge het: ʼn mens verkry gesag deurdat ander dit aan jou toeken. Dit bring die gevaar van ʼn subjektiewe invulling: as ek meen dat jy iets oor my te sê het, dan is dit so. Jy besluit of jy sal gehoorsaam al dan nie. Deesdae kom hierdie vorm van gesagserkenning dikwels voor. As dit na my mening sinvol is, sal ek hierdie reël gehoorsaam. As ek nie die nut daarvan kan insien nie, dan doen ek dit nie. “Ek het nie lus om na hierdie onderwyser te luister nie. Hy het eintlik maar min om te sê.” In werklikheid beskou die mens homself hier as die hoogste vorm van gesag: ek bepaal.

Nog ʼn opvatting: gesag is om verantwoordelikheid vir ʼn ander te dra, vir solank hy of sy nog nie die verantwoordelikheid vir iets kan dra nie. Volgens hierdie sienswyse het gesag ʼn seënryke uitwerking. Dit is gerig op die ander. Hierdie opvatting lê nader aan die Bybelse opvatting oor gesag: gesag as diensbaarheid.

Wat is die Bedoeling?🔗

Gesag en die gehoorsaamheid daaraan verbonde is, soos reeds gesien, ʼn middel: om te lei tot God, gerig op behoud. Daarom is die belangrikste taak van gesag om diensbaar te wees. As gesagsdraer is jy in die eerste plek dienaar. Jy is daar om die saak in goeie bane te lei. Dit gaan dus nie daarom om jou mag te laat geld nie. Dit gaan nie om jouself, as gesagsdraer, nie. As opvoeder mag jy Vader se uitgestrekte hand aan die kind laat sien. In jou opvoeding is alles gerig op die behoud van jou kind vir die Koninkryk van God. Gesag straal dus in die eerste plek liefde uit. Omdat ons grootste Gesagsdraer liefde is. Liefde beteken om sorgsaam te lei, maar ook: om te trek. Want liefde trek. Liefde beteken enersyds ʼn arm om jou, maar andersyds ook duidelikheid en openhartigheid. Duidelikheid bied aan die kind veiligheid. As gesagsdraer stel jy dus duidelike grense. Grense dui die veilige pad aan. Binne daardie gebied gaan dit goed. Kinders wil graag die grense wat jy gestel het, verken. En doen ons nie dikwels dieselfde by God nie? Wat kan ons maar doen en wat beslis nie? Eintlik vra jou kind hier: Pa en Ma, hoe sterk staan jou grense eintlik? Wat is julle standpunte en hoekom? Laat weet my. En verduidelik as ouers ook hoekom bepaalde grense gestel word. Dit is bowendien vir ʼn mens soms glad nie lekker om presies te weet wat die grense is nie. Dan moet daar ingegryp word, omdat daar bv. gevaar dreig. Byvoorbeeld: jy loop met jou kind, vier jaar oud, in die dieretuin. Julle kom by die tiers, wat lekker lê en slaap in hul hok. “Hulle lyk net soos groot katjies, nè Pappa? Ek gaan hulle gou vryf.” Voor jy besef wat gebeur, het die kind hom losgeruk en hy hardloop na die hok. Jou hart slaan bollemakiesie en jy hardloop agterna. Net betyds word hy weggeruk. Die kind huil en skree dat hy die tiers wil vryf.

Elkeen sal verstaan dat die pa nie bly staan het nie, maar – by wyse van spreke – die kind se arm so te sê uit potjie geruk het. Hy het nie by homself gedink nie: “My kind moet maar self agterkom hoe gevaarlik ʼn tier is. Dan sal hy seker nooit meer so iets doen nie.” Van laasgenoemde is ʼn mens in elk geval oortuig as die pa nie ingegryp het nie.

Soms word die indruk gewek dat daar deesdae wel op hierdie manier opgevoed word. Dit word gedoen onder die beginsel van: “My kind moet dit self maar agterkom. Laat hy eksperimenteer.” Hierdie reël kan in sommige gevalle natuurlik wel toegepas word. As ʼn mens vantevore oorweeg het wat die gevolge sal wees as die eksperiment verkeerd loop.

Ouers mag, ja moet, opvoed. Daarvoor is verseker ʼn porsie durf nodig. Want soms moet teenstrydige gevoelens oorwin word. Jy weet dat jou kind nie daarvan sal hou as ʼn bepaalde televisieprogram afgesit word nie. Maar jy is gerig op sy behoud. Daarom moet die liefde hierin na vore kom. Die Spreukedigter sê dit as volg: “Wie sy roede terughou, haat sy seun; maar hy wat hom liefhet, besoek hom met tugtiging.” (13:24). By tugtiging moet ons nie dadelik dink aan slaan nie. Met tugtiging word bedoel trek. Trek jou kind vroeg reeds na die goeie pad. Wys hom op die pad van God. ʼn Pad van liefde, wat lei na ʼn wonderlike lewe.

Hoe lyk opvoeding sonder liefde? 1 Korintiërs 13 gee ʼn duidelike antwoord hierop: jy is dan o.a. ʼn klinkende metaal, ʼn luidende simbaal; jy is dus niks nie, dit baat niks nie. Ware liefde soek egter nie sy eie belang nie, kwes niemand se gevoel nie, word nie verbitterd nie, reken die kwaad nie toe nie. Vir ʼn opvoeder is dit dus elke dag ʼn groot uitdaging!

Hoe word dit Toegepas?🔗

Hoe gaan ʼn mens om met gesag en gehoorsaamheid in die praktyk van elke dag? Hieronder volg ʼn paar praktiese idees wat dalk kan help:

  • Dink self na oor wat die doel is van ʼn bepaalde reël wat aan jou kind voorgehou word. Stel veral noodsaaklike reëls in.

  • Pas die reël by sy/haar leeftyd? Kan ʼn mens dit van jou kind verwag?

  • Hoe reëel is die reël wat gestel word? Hoe gaan ander ouers om met hierdie reël?

  • Kies ʼn geskikte tyd om die reël oor te dra. As jou kind juis op pad iewers heen is, sal jou mededeling op dowe ore val.

  • Formuleer die reël duidelik aan die kind en noem die redes vir die reël.

  • Kyk jou kind aan wanneer jy die reël met hom bespreek. Jou oë moet jou emosie (liefde, warmte) uitstraal. En jy kan jou kind se reaksie in sy oë lees.

  • Laat jou kind reageer, en ten minste die reël herhaal, om te kyk of die boodskap goed oorgekom het.

  • Jy kan ook met jou kind bespreek wat die gevolge, en eventuele straf, sal wees as nie by die reël gehou word nie. (Dis nie nodig om die straf vooraf te bespreek nie. Dit wek die indruk van: jy sal dit tog nie regkry nie, hier is die strafmaatreëls solank). Na ʼn tydjie kan weer gekyk word na die afsprake en na die realiteit daarvan en hoe dit gegaan het. Laat hoor jou positiewe indrukke hierby duidelik. Die uitwerking daarvan is sterker as dié van korrigerende opmerkings.

  • Wees konsekwent. Kinders wil graag duidelikheid hê. Hulle sal dit uittoets. Om konsekwent die reëls te handhaaf, kan vermoeiend wees. Maar dis beslis die moeite werd. Betrek hierby die voorskrif van Efesiërs 6:4.

Kinders sal t.o.v. ʼn aantal reëls meen dat julle as ouers outyds is en dat ander kinders wel mag doen wat julle verbied. Dis nie nodig om omgekrap hieroor te raak nie. Want jou kinders ervaar dit dalk so, maar dis meestal nie realiteit nie. In sommige gevalle word daar dalk te min duidelike reëls aan kinders gestel, omdat ouers dink dat hulle dan nie in pas is met ander ouers nie. Moet jou nie hierdeur van stryk laat bring nie.

Gehoorsaamheid en Leeftyd🔗

By elke leeftydsfase gaan ʼn mens anders om met gehoorsaamheid. Die indeling van kinders in ontwikkelingsfases en leeftyd het wel nadele. Maar ʼn growwe indeling moet gemaak word, omdat dit te make het met dit wat jy van ʼn kind mag verwag in ʼn bepaalde leeftydsfase. Vir die indeling t.o.v. ontwikkeling word hoofsaaklik aspekte genoem wat te doen het met gehoorsaamheid en gesag.

Dis eerstens dalk goed om op te merk dat jou kind op pad na die volwassenheid deur twee groot groeifases gaan, nl. in die periode van 6-8 jaar en van 12-15 jaar. Dit is dikwels periodes waarin die kind gouer moeg raak en as gevolg daarvan ook dikwels meer labiel is. As opvoeder kan ʼn mens daarmee rekening hou, bv. in die eise wat aan die kind gestel word.

0-4 jaar: Die kind ontwikkel veral via die sintuie. Hulle dink alleen i.t.v. dinge wat werklik waargeneem kan word. Reëls word daarom gerig op konkrete sake. Uitleg by reëls maak daarom nie eintlik sin nie. 4-6 jaar: Die kind weet nog nie van wat hy wel kan doen en wat hy nie kan doen nie. Hy gaan dikwels op in fantasie, waar feitlik alles moontlik is. Ongehoorsaamheid kan te doen hê met fantasie. In hierdie periode moet reëls steeds baie konkreet gestel word.

6-9 jaar: Die geheue begin ontwikkel. Reëls vir ʼn langer tydperk kan gegee word.

9-12 jaar: Die kind ontdek steeds meer wat hy wel kan doen en wat hy nie kan doen nie. Hy begin om die verband tussen die dinge te sien. Vanaf hierdie leeftydsfase word reëls meer met kinders bespreek en verklaar hoekom.

12-18 jaar: Die kind leer meer en meer om konklusies te trek. Voordat hy 15 is, volg hy meestal die mening van die ouers as sy eie mening. Daarna begin hy om ʼn eie mening te volg. Hy kan steeds meer verantwoordelikheid vir sy dade dra en met die gevolge daarvan gekonfronteer word.

Uit hierdie gegewens blyk dit duidelik dat ons dikwels geneig is om te vroeg te veel verantwoordelikhede van die kind te verwag. Ons wil hulle op ʼn te jong leeftyd te belangrike besluite laat neem, waartoe hulle nog nie in staat is nie. In werklikheid kan hulle die verantwoordelikheid van ʼn besluit nie dra nie, omdat hulle nog nie ʼn oorsig daaroor het nie. Die opmerking is al gemaak: Daar word opgevoed tot die twaalfde jaar, daarna word net maar geskaaf. In die lig van bogenoemde gegewens is hierdie opmerking nogal waar.

Onderhandeling?🔗

In ons tyd het onderhandeling in die opvoeding ʼn belangrike saak geword. Dit het o.a. te make met die invloede van die Amerikaanse pedagoog Thomas Gordon. Op grond van Bybelse motiewe en die ontwikkelingsgegewens van kinders is die metode van Gordon in ʼn Christelike opvoeding nie toepasbaar op jong kinders nie. Gordon gaan naamlik uit van die goedheid van die kind (ʼn humanistiese siening). Na sy mening kan opvoeders dit eintlik maar net moeilik maak vir die kind. Ons het egter reeds gesien dat onderhandeling in die opvoeding eers werklik ʼn rol speel wanneer die kind in die puberteitsjare kom. Eers dan kry hy sig op die gevolge van bepaalde besluite.

Dit het al gebeur dat ʼn ouer in die winkel met hul kind van ongeveer vier jaar onderhandel wat hulle die aand sou eet. Die bedoeling van dié diskussie was beslis nie om vir die kind die name van ʼn aantal groentes te leer nie. Hierdie kwessie pas egter nie by ʼn kind op die ouderdom nie. Dit is anders by ʼn kind van ongeveer nege jaar, hoewel ʼn diskussie oor hierdie soort sake dan nog steeds geen sin maak nie. ʼn Kind van dié leeftyd dink aan totaal ander dinge. Laat hom toe om net kind te wees. Vanaf ongeveer ses jaar kan oor klein, vir die kind oorsienbare, reëls onderhandel word. Onderhandel word dan bedoel in die sin van: die kind kan leer om na te dink oor die reëls en om die gevolge van sy besluite raak te sien. Maar jy kan jou kind op dié leeftyd nog nie verantwoordelik hou vir die besluite wat geneem is nie.

Onderhandeling in die opvoeding speel eers werklik ʼn rol wanner die kind in die puberteitsjare kom.

As ouer bly ʼn mens verantwoordelik vir jou kind totdat hy eers regtig op eie bene kan staan. As hy geleer het om sy eie besluite te oorsien. In die meeste gevalle is dit eers vanaf ongeveer sestien jaar. En dan bly dit steeds belangrik om in kontak te bly met jou kind oor die “hoekom” van dinge. Juis dan breek so stadigaan die goue tyd aan wanneer jou kinders jou beste vriende word. Dan staan jy skouer aan skouer in die stryd van hierdie lewe.

Negatief?🔗

Gesag (en daarmee saam gehoorsaamheid) het nogal dikwels ʼn negatiewe klank. Dit het te make met die misbruik van hierdie deur God gegewe taak. In ʼn aantal gevalle is gesag vertaal met mag. En dit het gelei tot misbruik. Dan het reëls waaraan nie voldoen is nie, gelei tot swaar, onredelike strawwe en maatreëls. Maar by die lig van die Bybel moet ons gesag nie so beskou nie. Gesag is en bly die bedoeling van God om mense te lei na die verfrissende waterstrome en die groen weivelde van sy Ryk. Gesag gaan om versorging.

Die ergste wat ons ʼn kind kan aandoen, is om die gesag te laat vaar. Dan maak ons ʼn kind onseker. Hy raak die pad byster. Daardeur word die sosiale vermoëns van ʼn kind verminder, omdat hy later in die maatskappy nie oor die weg kan kom met mense wat bo hom gestel is nie. Die ergste is dat die Goddelike gesag vir die kind dreig om te verduister. Daarom word afgesluit met die oproep: ouers, julle moet die durf hê om op te voed. Wees ʼn wegwyser vir jou kind.