Bron: Die Kerkblad. 3 bladsye.

Geloftedag...

die getuienis van Christen-Afrikaners in die 21ste eeu🔗

16 Desember. Dingaansdag, Geloftedag, Versoeningsdag. Maak nie saak hoe die dag genoem word nie - vir die nasate van die Voortrekkers bly dit ’n dag van besondere betekenis, ’n dag om  in ere te hou. Dit is ook ’n dag waarop gelowige Afrikaners ’n unieke getuienis na die hele samelewing kan en moet uitdra. Waarvan getuig ons as ons Geloftedag vier? Na my oortuiging is  dit ’n drievoudige getuienis waarin verlede, hede en toekoms op ’n unieke manier saamkom.

’n Getuienis dat geskiedenis belangrik is🔗

Dit word dikwels beweer dat mense wat Geloftedag vier eintlik maar in die verlede leef en nie saam met die tye wil verander nie. Hierdie bewering kom gewoonlik saam met die pleidooi dat ons liewer van die verlede moet vergeet en ons met die realiteite van die hede moet besig hou. Hierdie pleidooi het in ons samelewing al byna die status van ’n slagspreuk gekry - tot so ’n mate dat daar vandag maar min mense oor is wat werklik in ons land se geskiedenis belangstel.

Hierdie toedrag van sake veroorsaak ’n gevaarlike vakuum in ons volk se bestaan. Dit skep die ruimte vir polilitiek-gedrewe disinformasie. Die opkomende geslag word gebombardeer met wanvoorstellings oor ons land se verlede. En ons gebrek aan kennis laat ons weerloos. Ons aanvaar sulke wanvoorstellings maklik as feite.

Binne hierdie situasie word die viering van Geloftedag geweldige belangrike getuienis. Dit roep uit dat geen volk of enige samelewing kan voortbestaan sonder ’n behoorlike kennis van sy geskiedenis nie. ’n Mens moet immers weet waar jy vandaan kom om te begryp waar jy werklik is en om jou koers vorentoe te kan bepaal. Anders raak jy gou verdwaald en begin jy in sirkels loop. Kort voor lank word jy ’n identiteitlose reisiger op pad na nêrens. Daarom is dit belangrik om ook ons kinders aan die viering van Geloftedag te laat deelneem. Hulle moet deeglik besef: omdraai en terugkyk is nie ’n vassteek in die verlede nie, maar ’n noodsaaklikheid om nou en in die toekoms behoorlik te kan funksioneer.

Die viering van Geloftedag behoort dan so ingerig te word dat dit werklik hierdie getuienis kan dra. Geloftedag is méér as Dingaansdag, méér as ’n blote geskiedenisles oor die oorwinning by Bloedrivier. Dit vra dat lyne getrek word vanuit die verlede na die hede, sodat die opkomende geslag weer moed kan kry vir die toekoms. Om hierdie lyne te trek vra ’n gelowige uitkyk op die verlede, hede en toekoms.

’n Getuienis van God se hand in ons lewe🔗

Daar is twee maniere om na die geskiedenis te kyk: óf deur die bril van die geloof of deur die bril van ongeloof. Wie sonder geloof na die geskiedenis kyk, sien bloot ’n aantal onsamehangende gebeure raak waarvan die oorsaak bloot in hulleself geleë is. Wie ons voorouers was en wat met hulle gebeur het is daarom nie vir ons ter sake nie. As hulle dan ’n gelofte afgelê het, word geredeneer, is ons nie daaraan gebind nie. Elkeen is op sy eie hier op aarde en moet maar sy eie heil uitwerk.

Hierteenoor is die viering van Geloftedag ’n getuienis van ’n gelowige uitkyk op die geskiedenis. Die gelofte van Bloedrivier herinner ons daaraan dat God in beheer is. By Bloedrivier was nie gewoon menslike oorsaak en gevolg aan die werk nie. Dit was God wat op die ernstige gebede van gelowiges die onmoontlike laat gebeur het. Aan ’n handjievol mans en vrouens wat in hulle oomblik van nood gelowig na Hom opgekyk het, het Hy die oorwinning gegee - teen ’n ongelooflike oormag.

Daarmee is weer eens gewys dat ons almal se lewe in God se hand is. In die woorde van die Kategismus (Sondag 10): “Deur sy almagtige en alomteenwoordige krag onderhou en regeer God hemel en aarde en alle skepsels sodat alles nie per toeval nie, maar uit sy Vaderhand toekom.”

Met die viering van Geloftedag haal ons dus vir onsself en vir ons kinders uit die geskiedenis ’n les van Godsvertroue. In die eerste plek word ons daaraan herinner dat God elke mens op ’n bepaalde tyd op ’n bepaalde plek onder bepaalde omstandighede geplaas het. Dit geld ook vir ons in die Suid-Afrika van 2018. In sy wyse raad het God ons hier geplaas, nie maar as losstaande enkelinge nie, maar as deel van die Suid-Afrikaanse gemeenskap - of ons nou daarvan hou of nie. Hy het ons ook hier geplaas as onafskeidbare deel van ’n bepaalde volk - of ons nou daarvan hou of nie. Daarby het Hy ons hier geplaas met ’n roeping om getuies van die evangelie van Christus te wees - of ons daarvan hou of nie.

Geloftedag word dan deel van ’n persoonlike getuienis waarmee elke Christen-Afrikaner sê: in my lewe, in die lewe van my volk het God Homself betoon as ’n God van genade en barmhartigheid. Kyk mooi na jou eie geskiedenis en die geskiedenis van jóú volk, en jy sal God se hand ook dáár raaksien. God het Hom nie onbetuig gelaat aan die nasies nie. Ons erken en bely dit voor al die volke om ons. Dit doen ons deur die gelofte van ons voorouers by Bloedrivier in stand te hou. Die viering van Geloftedag is dus nie ’n belediging vir enigiemand of enige volk in hierdie land nie, maar ’n kragtige Christelike getuienis oor God se almag.

’n Getuienis van waarheen ons op pad is🔗

So is Christen-Afrikaners saam met die Christene van ander volke in hierdie land geroepe om aan alle mense te getuig van God se voorsienigheid. Uiteindelik moet ons, saam met ander Christene, mense daartoe te bring om nog verder terug te kyk in die verlede, na Gólgota, waar God die grootste oorwinning ooit bewerkstellig het: die oorwinning oor die sonde en die dood. Saam moet ons getuig dat elkeen wat in die geloof aan die gekruisigde en opgestane Jesus Christus vashou ’n begenadigde kind van God is, erfgenaam van al sy heerlike beloftes.

Juis ons roeping as gelowiges om die evangelie van Jesus Christus te verkondig bring ’n nuwe dimensie aan die viering van Geloftedag. Want dan leer ons om verder te kyk as die volksverband van die klompie gesinne daar in die laer by Bloedrivier. Ons sien ’n klein groepie gelowiges wat die evangelie van Jesus Christus met hulle saamgedra het die binneland van Afrika in.

Toe Jesus Christus voor sy hemelvaart die opdrag aan sy kerk gegee het: “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies ...” het Hy ook die belofte gegee: “Kyk, Ek is met julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.” Wat by Bloedrivier gebeur het was ’n verdere hoofstuk in die geskiedenis van die kerk. Die Here gaan saam met sy kerk, ook wanneer dit deur uitwissing bedreig word. Hy bewaar sy kerk sodat die evangelie sy loop kan neem in die wêreld. So het God in hierdie geval dit so beskik dat daardie Trekkers en hulle nasate instrumenteel kon wees in die verspreiding van die evangelie in Afrika.

Geloftedag lê dus ’n dure plig op elke Christen-Afrikaner. In hierdie land waar God ons bewaar en laat wortel skiet het, hier moet ons getuies wees van die evangelie van Jesus Christus. God het ons en ons voorouers wonderlik begenadig. Soos altyd het Hy ook in ons geval sy belofte nagekom. Hy is getrou aan sy be­loftes. En ons? Waarheen is ons op pad met die plig wat ons opgelê is?

Die viering van Geloftedag behoort dus so ingerig te word dat ons verder gaan as die blote herdenking van die oorwinning wat God by Bloedrivier aan ons ouers gegee het. Dit behoort ’n getuienis te word van God se voorsienigheid waarin Hy die Afrikaners en elke ander volk in ons land en in die wêreld bewaar. Dit behoort ’n aansporing te wees om getuies van Jesus Christus te wees. Dan sal Geloftedag ons opnuut op die pad van ons roeping plaas. Uit die geskiedenis sal ons leer voren­toe kyk na die pad waarlangs die Here sy kerk lei na ons ewige bestemming.