Bron: Wegwijs. 2 bladsye.

Geloof en Belewing

Ek noem hierdie twee terme – geloof en belewing – doelbewus in hierdie volgorde. Die geloof kom eerste. Die belewing kom, as alles goed en normaal is, met die geloof saam. Dit gaan oor die belewing van die geloof. En vervolgens oor die belewing van die geloof.

Wie die belewing voorop stel en dit beskou as die belangrikste, gaan te veel van die mens self uit. Wie die klem plaas op die belewing, ontken die belydenis dat die Heilige Gees uitgaan van die Vader en die Seun. Die Heilige Gees werk die geloof (Sondag 7 en 25 HK).

Die Heilige Gees gaan uit van die Vader wat die Skepper is. Die Heilige Gees maak dus gebruik van skeppingsprodukte om die geloof te werk en te versterk. Die skeppingsprodukte is: letters, woorde (preek), water, brood, wyn (sakramente). Die Heilige Gees maak die produkte van die skepping diensbaar aan ‘n lewe in herskepping.

Wie hierdie skeppingsprodukte verag, kan nie oor geloofsbelewing praat nie. Nie oor belewing van die geloof nie, omdat die geloof gewerk en versterk word deur middel van die genoemde skeppingsprodukte.

En nie oor die belewing van die geloof nie, omdat ‘n mens dan iets beleef wat niks met geloof te make het nie.

Die Heilige Gees gaan ook uit van die Seun. Hy eien ons toe wat ons in Christus het. Hy neem dit uit Christus en verkondig dit (Johannes 16:14-15). Daarom ook dat die Seun in Johannes 1 die Woord genoem kan word.

Die Heilige Gees werk dus per definisie nie via besondere belewenisse nie, maar via die Woord en die prediking daarvan. En natuurlik kom dan die vervolg: ons aanvaar wat ons in Christus het.

Wie die belewing van die geloof sien as die ervaring van besondere belewenisse buite die Woord om, beleef miskien wel iets, maar beleef nie die geloof wat uit die hoor van die Woord van Christus is nie.

U mag altyd onthou: u enigste troos lê nie in u (verstoorde) gevoelslewe of enigiets anders nie. U enigste troos lê in wat u is, naamlik die eiendom van Christus.

U geloof as gawe van God is Goddank nie afhanklik van u gevoel nie, maar is onder die hoede van God wie se gevoel en denke volmaak is. Dit geld ook in tye van aanvegting en worsteling.

Aanvegtinge🔗

Die Bybel gee voorbeelde van mense wat beproef word (Job); wat berou het oor hul sonde (Dawid, Ps 32). So ken ons dit ook. Worsteling. Twyfel. Vertwyfeling deur ons sonde.

En God? Hy is vir ons gevoel so ver weg. Die gevolg hiervan is al gou die gedagte: ‘Ek glo seker nie meer nie’. ‘n Voor-die-hand-liggende konklusie. Maar dan wil ek tog vra: met wie worstel u? In feite met God. Job het geworstel. Met God.

Maar dan is daar tog geloof? ‘n Ongelowige sal by teenslae nie met God worstel nie. Hy worstel meestal slegs byvoorbeeld met wat mense hom aangedoen het.

En by sondekennis? Dawid worstel in Psalm 32 met sy onbelyde sonde. Hy kon dit nie uithou nie. Waarom nie? Omdat hy sy sonde teenoor die Here geken het. Hy het sy sonde geken uit God se wet. Maar dit is tog al verlossing? Die hantering van God se wet as spieël kom tog voort uit geloof? ‘n Ongelowige sal nie na sy lewe kyk in die spieël van God se wet nie, maar byvoorbeeld slegs luister na wat sy eie gewete vir hom sê.

In momente van twyfel en diep sondebesef is daar nie altyd belewing van die geloof nie; maar daar is wel geloof, wat blyk uit die feit dat ‘n mens in jou worsteling en in jou sondebesef besig is met God. En as jy uit die diep dal weer opkom, besef jy dat God jou vasgehou het.

Bly maar dink aan Dawid en Job. En weet dat hulle God ook ons God is.