Bron: De Wekker. 7 bladsye.

Geloof Maak Gesond

Siekte en Genesing staan nie op Sigself nie🔗

Die dokters het ʼn suster, ʼn middeljarige vrou opgegee. Een van ons ander susters het my verseker dat ons siek suster wel gesond sal word. Dié sekerheid het sy nadat sy intens vir die sieke gebid het. Die wonder gebeur. Ons siek suster het uit haar koma bygekom en heeltemal herstel. God genees. Hy doen wonders op die gebed.

ʼn Jong moeder van vier kinders kry kanker. Die dokters het gedoen wat hulle kon. In die gemeente waaraan sy behoort, word intens vir haar genesing gebid. Daar word ook saam met haar gebid en op haar versoek ontvang sy ook salwing. Dit het haar goed gedoen, maar sy het nie beter geword nie en ʼn vrou en moeder wat vir haar gesin onmisbaar is, is nogtans oorlede.

Waarom Gebeur dit?🔗

Hierdie voorbeelde kan vermenigvuldig word, en so ook die vrae wat daarmee saamgaan. Hoekom vind op die een gebed genesing plaas, en op die ander nie? Waarom sterf so baie mense ondanks gebede? Word daar nie genoeg gebid nie? Word daar nie reg gebid nie? Is daar nie genoeg geloof by die sieke of by diegene wat bid nie?

Daar is Christene wat die laaste vrae bevestigend antwoord. Volgens hulle gebeur die wonder van genesing as daar genoeg geloof en gebed is. God wil mos nie die siekte nie — dit kom van die duiwel. God wil genesing gee, daarom het Hy die gawe van genesing en die siekesalwing gegee.

Ons kom hierdie gedagterigting toenemend onder Christene teë, ook by hulle wat miskien besef dat daar genuanseerd of selfs anders oor gedink moet word. Daarom is daar toenemende aandag onder Christene vir genesing na gebed, vir die gawe en bediening van die genesing.

Daar is ook Christene wat vir hierdie denke huiwerig is. Verskillende beskouings oor hierdie saak lei tot konflik tussen Christene en in gemeentes. Die een verwyt die ander van ongeloof en omgekeerd is daar die verwyt van naïwiteit.

Waar lê die waarheid? Ek wil in ʼn paar artikels aan die vraag aandag gee. Hierdie eerste artikel word as ʼn verkenning bedoel.

ʼn Breër Perspektief🔗

Daar is al baie oor die vrae hierbo geskryf. Dit is opvallend dat mense hulle tot siekte en genesing beperk. Vir ʼn goeie begrip is daar egter ʼn breër perspektief nodig, wat reeds by die skepping begin.

God het die mens goed en na Sy beeld geskape. Die mens kry sy plek in die goeie skepping van God; lewendig en gesond. Hy lewe met God en wil wat God wil. Dit was ʼn lewe in ooreenstemming met die wette van God. Toe kom die ommekeer - deur ongehoorsaamheid. Dit is die sonde.

Die kern van die sonde is dat die mens soos God wil wees; dat hy nie meer wil wat God wil nie. Daarmee is hy die beheer oor sy lewe kwyt. Dit geld vir die hele menslike geslag, vir volkere, geslagte en persone. Die mens(heid) maak sy eie keuses - wat telkens ten kwade blyk te wees - in sy verhouding tot God én in sy verhouding tot sy medemens en die res van die skepping - en dit met die oog op homself. Hierdie keuses blyk ook vir die gesondheid skadelik te wees.

Dit is die breër perspektief waarteen die vrae oor siekte en genesing aan die orde behoort te kom.

Ons moet begin by die sonde. Hoewel dit die, vir die mens, ongesondste ding is, word dit die minste as sodanig herken en erken. In ons tyd word die verband tussen sonde en siekte selde getrek. Blykbaar is daar die vrees om te lyk soos die vriende van Job, wat sy lyding aan ʼn erge sonde toeskryf. Die vrees mag gegrond wees, maar dit moet nie lei tot die gedagte dat sonde en siekte niks met mekaar te doen het nie. Sonder sonde sou daar nie siekte wees nie. Daarmee bedoel ek nie dat siekte altyd ʼn direkte straf is nie. Dikwels word siekte veroorsaak deur faktore wat buite direkte skuld lê, maar sommige siektes is tog die gevolg van ʼn ongesonde lewe. Soms kán siektes ook ʼn straf van God wees.

Wat die oorsaak van ʼn siekte ook al is, dit is altyd ʼn teken van die dood. Ons ervaar dit ten sterkste by ernstige siektes wat dikwels op die dood uitloop. Van die dood sê Paulus dat dit die loon van die sonde is. In wese is siekte en dood één. Nou verwant hieraan is die verouderingsproses met sy eie gebreke en siektes soos demensie.

Siekte is ʼn vorm van lyding, maar nie die enigste nie. Daar is ook baie lyding wat mense mekaar aandoen, soos oorloë en gesinsgeweld, om maar twee te noem. En vergeet nie geloofsvervolging nie. Al hierdie vorme van lyding bring hulle eie siektes mee. `n Ander vorm van lyding word deur natuurrampe, soos orkane en aardbewings, veroorsaak. Hierdie rampe bring dikwels ook weer siektes teweeg.

Samevattend kan gesê word dat menslike ongehoorsaamheid die bron van alle lyding is. Dikwels kry die duiwel die skuld vir alle ellende. Dit kan verstaan word, want hy is tog die bose wat vir God wil oorwin. Hy probeer dit te doen deur die mens, wat die beeld van God is, te verlei. Op die manier ís hy die bron van alle ellende, maar die mens het vrywillig en gewillig uit die bron gedrink en hy doen dit weer en weer. Ons moet daarom die skuld van die sonde en van al die ellende wat daaruit voortvloei, met insluiting van siekte, in die eerste plek by onsself soek. Ons kan genesing en gesondheid net verstaan as ons siekte in hierdie perspektief sien.

Die Geneesheer🔗

Ons is siek mense in ʼn siek wêreld. Die sonde het almal en alles siek gemaak. Dit kan afgelei word uit die volgende woorde van Jesus: “Die wat gesond is, het die geneesheer nie nodig nie, maar die wat ongesteld is. Ek het nie gekom om regverdiges te roep nie, maar sondaars tot bekering” (Lukas 5:31,32). Niemand is gesond nie, want almal is sondaars en het die geneesheer, Jesus, nodig. Die hemelse Vader het uit liefde Sy Seun gestuur om sy siek wêreld te red. Elkeen wat in Hom glo, sal nie verlore gaan nie, maar hét die ewige lewe. Die ewige lewe is nie net toekomsmusiek nie, maar reeds werklikheid vir wie glo. Ewige lewe is geloof dat alle sondes vergewe is omdat Christus dit op Hom geneem het.

’n Christen kan dus sê dat hy van die sonde verlos is, maar hy kan nie sê dat hy daarvan ontslae is nie. Wie in Christus glo, is ’n nuwe mens, ’n kind van God en nie meer ’n sondaar nie. Dieselfde mens moet nogtans tot die einde van sy lewe teen die sonde stry.

In dieselfde trant kan gesê word dat wie glo, lewend geword het uit die dood. Vir diégene wat saam met Christus opgestaan het, lê die dood — as straf op die sonde en as skeiding van God — agter hulle, want Christus het die dood oorwin. Tog bly die dood die vyand wat die laaste verslaan word. Daarom kry elke Christen met die dood — as lewenseinde — te doen. Net so kry elke gelowige te doen met die verouderingsproses en die gebreke en siekte wat daaruit voortspruit.

God maak nie vir die gelowiges ’n uitsondering wanneer dit oor siekte gaan nie. Hulle is net soos ander mense aan die natuurwette onderworpe. Hulle het met dieselfde erflikheidsfaktore wat siekte kan veroorsaak, te doen. Die mens is vir baie siektes medeverantwoordelik, soms onbewus of halfbewus. Gelowiges loop nie ’n kleiner risiko om siek te word as ongelowiges nie. Hulle is soms lank en ernstig siek en sterf ook as gevolg daarvan. Ander word gesond, maar dit gebeur ook met ongelowiges. Daar is nie ’n patroon waarvolgens blyk wie gesond word en wie nie; van watter siekte daar genesing is en van watter nie. Daar kan gesê word van watter siektes meer mense gesond word as van ander. Dit doen niks af aan die oortuiging dat God magtig is om te genees nie. Elke genesing kom van God, wat die Skepper van die lewe is. God kan genesing op verskillende maniere skenk. Die belangrikste is miskien die krag tot herstel wat die menslike liggaam van die Skepper gekry het en wat deur goeie oefening en klimaat bevorder word. Daarmee kom spontane genesing van baie siektes. Ook wilskrag, en vertroue dat genesing sal kom, maak die kans op genesing groter. Verder gebruik God dokters om genesing te skenk. Hulle kennis en deskundigheid het met verloop van tyd geweldig toegeneem. Dit is ’n geskenk waarvan ons dankbaar gebruik kan maak.

Ek noem die belangrikste laaste: die gebed. Dit is ’n geneesmiddel wat God eerstens self gee, om ook saam met al die bogenoemdes te gebruik. Dan moet die gebed wel een wees waarin ons ons lewe en siekte in die regte perspektief sien. As ons in vertroue bid, en as daar in geloof saam met ons gebid word, kan ons groot dinge van God verwag. Deur sulke gebede kan ook die vertroue kom en as dit daar is, gevoed word. Dan mag ons op wonders hoop, want ons het ’n God wat wonders doen. Laat ons in daardie geloof lewe en bid, wantwie bid, is altyd beter daaraan toe, al word hy nie beter nie.

God is ons Heelmeester. Hy genees al ons siektes. Of . . . tog nie?

Siekte en Genesing in die Ou Testament🔗

Een van my tantes het ʼn kunsbeen gehad. Sy het nietemin vol goeie moed op haar lewenspad gegaan. Sy kon dit doen ondanks alles wat sy meegemaak het, omdat sy ʼn sterk karakter en groot geloof gehad het.

In die tyd voor die amputasie van haar been het sy om genesing gebid. Ander het ook vir haar gebid. Die genesing het egter nie gekom nie, maar haar vertroue op God het gebly. Ondanks die groot terugslag het sy geweet dat God naby is. Sy het geglo in God se toekoms, waarin sonde en siekte sal verdwyn. Daarom het op die dag van haar begrafnis, op haar versoek, die Woordverkondiging gegaan oor die woorde in Jesaja 33:24: “En geen inwoner sal sê: Ek is siek nie”.

Niemand sal meer siek wees nie. Is dit net toekomsmusiek? In die Ou Testament is daar enkele tekste wat dikwels aangehaal word as bewys dat God sy kinders reeds in die hede van siekte verlos. In Eksodus 15:26b staan daar: “Ek is die HERE wat jou gesond maak”. In Psalm 103:3b sing Dawid van die HERE “wat al jou krankhede genees”. Die HERE is ons dokter wat al ons siektes genees. Dit lyk asof dit die samevatting is van ’n belangrike aspek van die evangelie, soos dit reeds in die Ou Testament opklink.

Gehoorsaamheid aan die Geneesheer🔗

Met Eksodus 15:26b as bewys vir genesing, word net die helfte van die teksvers aangehaal. Daarmee kan aan die bedoeling van die vers maklik verbygegaan word. Gesonde Skrifuitleg vereis dat die hele teks is sy verband gelees moet word.

Eksodus 15:1-21 is ’n loflied aan God vir die verlossing van Israel uit Egipte. Na die bevrydingsfees begin die trek deur die woestyn, maar gou lyk dit asof die verlossing verkrummel, wanneer hulle drie dae lank nie water vind nie. Toe hulle wel water vind, is dit bitter en ondrinkbaar. Dit lyk asof die dood naby is, maar God gee lewe deur die bitter water soet te maak. Deur hierdie wonder kon hulle verder.

Die vraag ontstaan waarom God nie sy volk die moeite gespaar het nie. Die antwoord wat in vers 24b gegee word, is dat God hulle op die proef gestel het. Die HERE wil dat hulle in gehoorsaamheid aan sy gebooie moet lewe. Dan sou Hy nie een van die kwale wat Hy op die Egiptenaars gelê het, op die volk lê nie, so staan dit in vers 26a. Daarop volg dan die woorde: “. . . want Ek is die HERE wat jou gesond maak”.

Hier word dus nie verkondig dat God die dokter is wat Sy kinders van alle siektes genees nie. Dit gaan hier oor die kwale waarmee God die Egiptenare gestraf het toe Farao die volk nie wou laat gaan nie. Met dieselfde kwale sou die HERE Sy eie volk straf as hulle aan Hom ongehoorsaam sou wees. As hulle gehoorsaam was, sou hulle nie deur die kwale getref word nie. Dáárin sou die HERE hulle Geneesheer wees.

Gehoorsaamheid aan God is dus heilsaam vir die gesondheid van die volk. Dit is die eerste toepassing, maar nie die enigste nie, want Israel het die beproewing nie deurstaan nie. Bitter water lei tot murmurering teen Moses. Dit gebeur uit wantroue teen God, maar die HERE, hulle Geneesheer, maak die water gesond. Hy gee hulle nie hulle verdiende loon nie, maar hou hulle in die lewe. Daarmee voed Hy hulle vertroue, wat nog meer gevoed word wanneer hulle ná Mara by Elim kom. Dit is ’n vir Israel beskamende geskiedenis. Wantroue teenoor die HERE is só onvanpas, want Hy is trou aan Sy volk en red hulle keer op keer. Dit mag hulle nie laat vergeet dat die HERE van Sy volk toewyding eis nie. Nadat die Israeliete van die water gedrink het, ontvang hulle van die HERE die vermaning om aan Hom gehoorsaam te wees. Gehoorsaamheid bewaar hulle teen die strawwe van God in die vorm van kwale.

Gehoorsaamheid aan God is nie net goed vir die geestelike gesondheid van Israel nie, maar vir dié van elke samelewing en verseker vir dié van die gemeente van Christus. Gebrek aan gehoorsaamheid, liefdeloosheid en egoïsme bring ontwrigting, maak die geestelike sfeer siek en bring daarmee saam liggaamlike en psigiese siektes.

Genesingswonders kan kom as daar in vertroue van die lewende water, Jesus Christus, gedrink word. Hy verlos uit die slawerny. Op pad na Sy Koninkryk beproef die HERE ons geloof. As ons met Hom op pad is, kan ons lewe in die geloof dat Hy ons Geneesheer is.

Só moet die teks dan toegepas word; met versigtigheid, omdat dit in die eerste plek ’n woord was van God aan Israel op die woestynreis na die land van die belofte.

Gevalle van Siekte🔗

God se genade vir sondaars het by Mara en in die hele geskiedenis van Israel geblyk. God ontferm Hom oor wie lewe in vertroue op Hom. As hulle siek word, kan hulle om genesing bid. Hy sal tog seker altyd so ’n gebed verhoor? In Psalm 103 staan tog dat Hy alle krankhede genees? Dit is mos ’n duidelike belofte waarop ons, in vertroue op verhoring, kan pleit? Die vers word dikwels op so `n manier gelees dat wanneer die genesing (by ander) uitbly, die rede, volgens sommige, gebrek aan geloof is.

Ons lees meer as een keer in die Ou Testament dat gelowiges gesond word. ’n Goeie voorbeeld is die genesing van koning Hiskía. Hy het by God gehoor dat hy sou sterwe, maar op sy gebed gee God hom nog vyftien lewensjare.

’n Voorbeeld dat dit ook anders gebeur, is die kind van Dawid en Bátseba. God het Dawid met die siekte van die kind gestraf. Dawid bid intens om genesing, maar die kind sterf (2 Samuel 12:15-18).

Dawid self was meer as een keer siek. In Psalm 32 getuig hy dat sy gebeente uitgeteer het en dat hy die hele dag gely het. Dit was te wyte aan sy ongehoorsaamheid. ’n Gebroke verhouding met die naaste en met God, veroorsaak siekte. Belydenis van die skuld het vir hom bevryding en genesing gebring. Nog ’n voorbeeld van siekte deur die sonde van Dawid vind ons in Psalm 38. In dié Psalm getuig hy ook van sy hoop op God en op genesing.

Lof vir Genesing🔗

Dit gebeur ook in ons bogenoemde Psalm 103:3b.

Bedoel Dawid om met oortuiging te bely dat God by gelowiges altyd elke siekte genees? Uit verse 1 en 2 blyk dat Dawid homself aanspoor om die HERE te loof en nie één van sy weldade te vergeet nie. In verse 3-5 noem hy van die weldade. Hy sê vir homself: die HERE vergewe al jou ongeregtighede; Hy genees al jou krankhede; Hy verlos jou van die graf; Hy kroon jou met goedertierenheid en barmhartigheid; Hy versadig jou met die goeie. Hierdie is geloofsuitsprake van Dawid. Die eerste is dat God alle ongeregtigheid vergewe.

Wie in die HERE glo, kan weet dat al sy sondes vergewe is. Dit wil nie sê dat iemand wat glo, nie meer sondig nie. Gelowiges het steeds God se gawes van reiniging en heiliging nodig. Heiliging is egter ook ’n opdrag, ’n lewenslange stryd tussen vlees en gees, sonde en genade.

So is dit ook met siekte. Gelowiges word ook, net soos ander mense, siek deur faktore wat siek maak, onder andere deur probleme in die verhouding met God en die naaste. Gebed en geloof maak nie altyd (dadelik) gesond nie.

Psalm 103:3b is nie ’n belofte van genesing nie. Dit blyk uit vers 4a waar Dawid vir homself sê dat die HERE hom verlos van die verderf (die graf). As dit ’n belofte was, soos vers 3b dikwels opgeneem word, sou Dawid vandag nog moes lewe, en dit is nie die geval nie. Wie egter van ’n dodelike siekte genees word en só van die graf gered word, het dit aan die HERE te danke.

In die geheel van die Bybelse boodskap is vers 4a ’n belofte van ewige lewe. Die Here Jesus is van die graf verlos deur aan die ander kant van die graf weer op te staan. Hy red van die graf. Wie in Hom glo, sal lewe al het hy ook gesterwe. Hy sal nooit sterwe tot in ewigheid nie. (Johannes 11:25-26). Hy sal met Hom in goeie geestelike gesondheid lewe. Psalm 103:3-4 mag ook so gelees word. Om te dink dat gelowiges altyd gesond word, is egter nie in ooreenstemming met hierdie Psalm nie. In hierdie gebroke wêreld is die werklikheid anders. Ons moet ons nie op hierdie werklikheid blind te staar nie, want ons het ’n God wat wonders doen. Hy gee (nuwe) lewe. As siekes gesond word, is dit ’n wonder van Hom. As siekes gesond word, is dit ’n rede om God vir die genesing te loof; om met Psalm 103:3b vir onsself te sê: “wat al jou krankhede genees”.

Samevatting🔗

Die Ou Testamentiese gegewens kan soos volg saamgevat word. Onder die redes vir siekte is ook dat God siekte as straf op ongehoorsaamheid gee. Siekte kan ook ’n gevolg wees van ’n lewe teen die wil van God. Maar nie naastenby elke siekbed is ’n gevolg van sonde nie. Gelowiges word ook siek, terwyl ongelowiges dikwels gesond bly. Gelowiges word ook lang nie altyd (spoedig) op die gebed genees nie. God gee wel altyd geestelike gesondheid op die gebed. Verder is elke liggaamlike genesing ’n gawe van Hom. Boonop gee Hy die belofte dat die tyd sal kom waarin niemand meer sal sê, ‘ek is siek’ nie.

Siekte en Genesing in die Evangelies🔗

Die boodskap van die evangelie oor siekte lyk eenvoudig: Jesus het die siekes genees en het sy dissipels opdrag gegee om dit ook te doen. Na Pinkster het die Gees die gawe van genesing in die gemeente gegee. Dit lyk asof hierdie boodskap onderstreep word deur Hebreërs 13:8: “Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid”. Hierdie teks dien dan ook by menige genesingsdiens as bewys dat gelowige gebede om genesing verhoor sal word.

Jan Zijlstra eindig sy boek Ontmoetingen met Jesus de Genezer met Hebreërs 13:8. In die boek skenk hy aandag aan die meeste van die genesingswonders wat Jesus gedoen het. Hy skryf dit om mense in nood vir Jesus te laat ontmoet en die wonder van genesing te ontvang. Sy boek is glashelder en die evangelie lyk soos ’n siektepolis wat genesing waarborg vir elkeen wat glo. Wie egter die evangelies aandagtig lees, kom tot die besef dat dit nie so eenvoudig is nie. Dit is ’n veelkleurige beeld wat na vore kom.

Jesus Genees die Siekes🔗

Matteus vertel in hoofstuk 8:16 dat Jesus almal wat ernstig siek was, genees het. Hy noem dit die vervulling van die profesie in Jesaja 53:4, dat Hy ons krankhede op Hom geneem en ons siektes gedra het. By ander geleenthede genees Jesus egter nie almal nie. In Betésda maak Hy net die man wat al 38 jaar siek was, gesond (Johannes 5:6-9). Christus lê hier ’n verband tussen siekte en sonde (5:14). Daardie verband is klaarblyklik ook daar by die verlamde man wat deur sy vriende na Jesus gebring word (Lukas 5:18-25). By die blindgeborene (Johannes 9:3) ontken Jesus daardie verband. Matteus vertel aan die begin van vers 16 in hoofstuk 8 dat die mense baie besetenes na Jesus toe gebring het. Dit lyk voor die hand liggend dat dit in die res van die vers ook oor siekes gaan wat van duiwels besete was. Jesus dryf die geeste uit met die vinger van God waardeur dit duidelik is dat die koninkryk van God gekom het (Lukas 11:20). Genesing en bevryding is tekens van die ryk van God wat in Jesus gekom het. Die krag van God kom tot uiting in die genesing wat Jesus werk (Lukas 5:17). Hy gee voor sy hemelvaart aan sy dissipels opdrag om in sy Naam siekes te genees, (Matteus 10) én daarna (Markus 16). Daar was egter ook iemand - nie een van die dissipels nie - wat blykbaar ook die krag gehad het om in die Naam van Jesus wonders te doen (Markus 9:38-40).

Dit is nog meer opmerklik dat ook mense wat nie in God se oordeel sal kan bestaan nie, in die Naam van Jesus kragte gedoen het (Matteus 7:21-23). Vals christusse en vals profete kon klaarblyklik ook groot tekens en wonders doen (Matteus 24:24). Hulle doen dit om die gelowiges te mislei. Jesus sê dan dat dit onmoontlik sal gebeur.

Dit het egter wel gebeur dat die wonders wat Jesus gedoen het - selfs in die stede waarin Hy die meeste kragte gedoen het (Matteus 11:20) - nie geloof gewek het nie. In Nasaret het Jesus, vanweë hulle ongeloof, min kragte gedoen (Matteus 13:58).

In ons tyd word geloof (en gebed) dikwels as voorwaarde vir genesing beskou. Ook op hierdie punt is die beeld wat die wat die evangelies bied, gevarieerd. Die melaatse wat Jesus smeek om genesing, toon geloof (Markus 1), maar by die verlamde is dit nie duidelik of hy, of net sy vriende, glo nie (Markus 2). By die man met die verdorde hand gee Jesus genesing sonder dat oor geloof gepraat word (Markus 3).

Soms gaan ʼn ouer in geloof namens of saam met ʼn kind na Jesus, maar by die vader van die maansieke kind gaan sy geloof gepaard met ongeloof (Markus 9:24).

Ek wil nog een aspek noem met die oog op die massa genesingsbyeenkomste van vandag. Jesus het nie sy genesings geadverteer nie, al was daar dikwels ʼn massa mense aanwesig. In baie gevalle het Jesus siekes individueel of in ʼn klein kring genees. Daarby het Hy hulle dikwels opdrag gegee om vir niemand te vertel dat hulle genees is nie (Markus 1:44; 3:12; 5:43; 7:36 en 8:26).

Hierdie laasgenoemde aspek speel by die huidige genesingsbyeenkomste geen rol nie. Ook die ander bogenoemde aspekte kom daarin nie na vore nie. Al die nadruk word geplaas op die mag van Jesus om siekes te genees, en op die belang van geloof en gebed om genesing te ontvang. Niemand sal daardie belang ontken nie, maar wie die ander aspekte vergeet, is eensydig en net met sekere gedeeltes besig. Hulle vergeet dat in die dae van Jesus lank nie almal gesond geword het nie en bowendien het baie in hulle ongeloof volhard, ondanks al die wonders wat Jesus gedoen het.

Ander Wonders🔗

Ons lees in die evangelies dat Jesus ook dooies opgewek het. In sy reeds vermelde boek oor genesings, gee Zijlstra nie aan hierdie wonders aandag nie. Ek weet ook nie van voorbeelde van opwekking uit die dood by sy genesingsbyeenkomste of by die van ander nie. Met ʼn oortuiging dat Jesus nou dieselfde dinge doen as destyds, sou mens verwag dat daar ook vir opwekking uit die dood gebid sou word.

Jesus het nog baie ander wonders gedoen. Ek noem hier die spysiging van skares en die stilmaak van die storm. Wat ʼn seën sou dit wees as daar op die gebed van gelowiges ʼn einde sou kom aan hongersnode en verwoestende storms.

Word hiervoor nie op dieselfde manier gebid as vir siekes nie? Dus omdat Jesus nie sy dissipels hieroor opdrag gegee het en dit nie by die gawes van die Gees genoem word nie, sou Jesus dan nie van siekte én van honger wou red nie? Die vraag is des te meer beklemmend omdat Jesus ons in die Onse Vader nie geleer het om vir genesing te bid nie, maar “gee ons vandag ons daaglikse brood” (Matteus 6:11).

Die Grootste Wonder🔗

Die grootste wonder is dat God mens geword het. Hy is God-met-ons sodat ons sy heerlikheid kan aanskou, vol van genade en waarheid. Uit die volheid word oorstelpende genade ontvang — sodat óns mens-met-God word. Wie Christus gesien het, het die Vader gesien (Johannes 1:14-18). Deur Hom word alle dinge nuut. Dít is die grootste wonder in die evangelie. Daarom vat Jesus die evangelie só saam: “Die tyd is vervul en die koninkryk van God het naby gekom; bekeer julle en glo die evangelie” (Markus 1:15).

Nie net die verkondiging van Jesus was evangelie nie, Jesus was dit self, in eie persoon. Hy het dit onderstreep deur die wonders wat Hy gedoen het, ook deur genesings. Hulle moet in daardie perspektief gesien word. Ook die genesings wat God nou gee.

Die Opdrag van die Apostels🔗

Daar word dikwels na die opdrag van Jesus aan sy twaalf dissipels verwys as bewys dat Hy nou dieselfde is en genesing skenk. Hulle het mag gekry om alle siektes te genees (Matteus 10:1). Dit blyk uit die vervolg van hierdie vers dat hulle ook mag gekry het om bose geeste uit te dryf en dooies op te wek. Hierdie mag het hulle verkry binne die omvang van die opdrag om die evangelie van die koninkryk te verkondig. Dit moes hulle doen onder die verlore skape van die huis van Israel en nie onder die ander volke nie. Dit is dus nie reg om (deel van) hulle opdrag op die gelowiges van vandag van toepassing te probeer maak nie.

Moontlik is dit anders gesteld met die opdrag wat Jesus voor sy hemelvaart aan sy dissipels gegee het, nl. om die evangelie aan die hele wêreld te verkondig. Hierdie opdrag, wat ons vind in Matteus 28:19 en Markus 16:15-16, word in Markus 16:17-18 aangevul met die belofte dat die tekens die gelowiges sal volg. Onder die tekens word genesing ná handoplegging genoem. Vers 20 vervolg dan dat die dissipels van Jesus heengaan en oral preek, terwyl die Here die Woord, deur die tekens wat op die prediking volg, bevestig. Die klem bly op die verkondiging van die evangelie.

Die boek Handelinge getuig van die verkondiging van die evangelie van die apostels en die wondertekens wat hulle, nie net in Jerusalem nie, maar ook in Samaria en ander lande gedoen het. Dit is uit die Nuwe Testament duidelik dat die apostels ʼn besondere roeping gehad het om die werk van Jesus voort te sit. Hulle posisie was uniek. Die Nuwe Testament gee geen aanduiding dat daar in die na-Bybelse tyd nie meer genesings voorkom nie. Tog lê die aksent ná Handelinge anders. Dit is opvallend dat in die Nuwe Testamentiese briewe skaars oor genesing gepraat word.

Jesus Christus is Dieselfde🔗

Ons kom terug na Hebreërs 13:8. Die teks staan nie in ’n konteks wat oor genesing gaan nie. Vers 7 het gehandel oor voorgangers wat getrou die Woord van God verkondig het, ook al moes hulle die marteldood daarvoor sterf. Die gemeente word opgeroep om hulle in hulle geloof te volg. Vers 9 waarsku teen ’n dwaalleer, sodat die leser sy vastheid in die genade sal vind. Dit is in hierdie verband dat genoem word dat Jesus Christus altyd dieselfde is. Die Hebreërs gaan deur ’n moeilike tyd, maar Jesus is vir hulle in hulle lyding dieselfde as vir hulle voorgangers. Daarom word hulle opgeroep om selfs “buitekant die laer” te gaan om sy smaad te dra.

Hebreërs 13:8 is dus nie geskryf om genesing te beloof nie, maar om aan gelowiges, wat ter wille van Christus ly, troos te gee. Dit kan, deur die geloof dat Christus altyd Dieselfde bly. Geloof in Hom gee volharding. Dié geloof maak gesond.