Bron: Kompas, 2012. 4 bladsye.

Geloofsekerheid

Woorde is ook onderhewig aan inflasie. Veral die woord “geloof”. Ons glo dat ons iets reg verstaan, en ons glo dat dit gaan reën.

Baie mense in ons land glo wel dat daar “iets” is wat meer verhewe as ons wêreld is. So ʼn vae godsdienstigheid voldoen aan die moderne mens se behoefte aan geloof. Wanneer ons egter wil ontdek wat geloof werklik is, het ons vandag die Bybel meer as ooit tevore nodig. God Self moet vir ons sê wat die geloof is, waartoe Hy ons voortdurend oproep.

Die Bybelse Geloof🔗

Die Bybel praat oor die geloof altyd in die konteks van God se verbond. Die HERE verbind Homself in liefde aan mense. Hy kom met sy ryke beloftes in hulle lewe. ʼn Goeie voorbeeld van Bybelse geloof is die verbond met Abraham. God verwag van Abraham en Sara om volledig op Hom te vertrou, om ‘in verbondenheid met God die Almagtige te lewe’ (Genesis 17:1). Dit beteken om amen op God se beloftes te sê (Psalm 56:5-6). Ook wanneer hulle ouer word en die wieg bly leeg, bly hulle op God vertrou. Hy “wat die dode lewend maak en die dinge wat nie bestaan nie, roep asof hulle bestaan” (Romeine 4:17).

Die beste voorbeeld bly egter ons Heiland, die Voleinder van die geloof (Hebreërs 12:2). Wat geloof is, het Hy volmaak laat sien in sy weg na die kruis. Hy het selfs gesterf met ʼn Skrifwoord op sy lippe!

In die Nuwe Testament word geloof selfs die dominante aanduiding van ons verhouding tot ons God en sy Seun, Jesus Christus. “Sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê” (Johannes 3:15), en: “sodat julle mag glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God; en dat julle deur te glo die lewe kan hê in sy Naam” (Johannes 20:31). Christus prys die gemeente in Pergamus:

En jy hou vas aan my Naam en het die geloof in My nie verloën nie.       Openbaring 2:13

Persoonlike Sekerheid🔗

Aan so ʼn geloof is persoonlike sekerheid onlosmaaklik verbonde. Hy wat glo, is persoonlik sterk daarvan oortuig dat God betroubaar is en dat jy op sy beloftes kan staatmaak. Kenmerkend vir gelowiges is dat die geloof “nie alleen aan ander nie, maar ook aan my” geskenk is (Heidelbergse Kategismus vraag en antwoord 21).

Ons vaders het dan ook tereg gesê dat, wanneer jy glo, jy jou die evangelie ‘toe-eien’. “Dit word werklikheid vir my en ʼn vasstaande kennis” (HK antw. 21), soos die Nuwe Testament dikwels getuig (vgl. Romeine 6:9; Galasiërs 2:16; 1Thessalonisense 3:3; 1 Petrus 1:18).

Maarten Luther het gesê dat die essensie van die geloof die persoonlike woordjies ‘my’ en ‘myne’ is: Jesus is my troue Heiland wat vir al my sondes volkome betaal het. Dis opvallend hoe dikwels ons hierdie woordjies in die Heidelbergse Kategismus vind en hoe persoonlik die sekerheid van God se Woord in Christus daar onder woorde gebring is. Geloof wat hierdie persoonlike sekerheid mis, mag nie die naam van geloof dra nie. Hy wat seker is dat die evangelie waar is, maar die woordjies ‘vir my’ nie durf uitspreek nie, verstaan nie wat in die Skrif met geloof bedoel word nie.

Aangevogte Sekerheid🔗

Luther het die geloof ʼn ‘onrustige ding’ genoem. Net so is die Dordtse Leerreëls besonder pastoraal wanneer gesê word:

Voorts getuig die Skrif dat die gelowiges in hierdie lewe teen verskillende sondige vertwyfelings stry en, as hulle in ernstige versoekings kom, nie altyd hierdie volle geloofsvertroue en hierdie sekerheid van die volharding ondervind nie.(V, 11)

Ook praat die Dordtse Leerreëls oor “diegene wat die lewende geloof in Christus of die vaste vertroue van die hart… en die roem in God deur Christus in hulle nog nie kragtig gevoel nie”, waarby hulle wys op die barmhartige God wat die “dowwe lamppit nie sal uitblus en die geknakte riet nie sal verbreek nie” (I, 16). Hierdie woorde is bemoedigend, veral in ʼn tyd waarin die geloof, onder evangeliese invloed, as ʼn aanhoudende jubelsang gesien word. Hierdie mense raak al hoe meer vervreemd van die Psalms, waarin so sterk die aanvegtinge van God se kinders uitgebeeld word. God se beloftes is seker, maar hoe dikwels is dit in stryd met ons ervarings. Dit is die gevolg van hierdie teenstelling dat die geloof so ʼn ‘onrustige ding’ is.

Vir Luther is ‘om te glo’ ʼn gang deur die donker van die aanvegtinge na die stralende lig van die evangelie. Die gelowige se aanvegtinge is nodig en seënryk, want as dít sou ontbreek, sou ons geloof nie ’n ‘nogtans-geloof’ meer wees nie. ʼn Nogtans wat ons so duidelik in Psalm 22:4, Habakuk 3:18, HK antwoord 60 en in die nagmaalsformulier vind.

Die aangevogte geloof is navolging van Christus. Hy is dié aangevogtene by uitstek: “Hy wat in die dae van sy vlees gebede en smekinge met sterk geroep en trane aan Hom geoffer het, wat Hom uit die dood kon red,…” en: “… een wat in alle opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde” (Hebreërs 5:7 en 4:15). Wie Hom leer ken en volg, word na Sy beeld gevorm, want ─ so sê Luther ─ “dit sal met ons nie beter gaan as met ons Koning nie”. Daarom kan hy skryf: “Hoe groter Christen, hoe meer aanvegtinge”.

Moet daarom nie dink dis ʼn skande as jy sukkel om moeilike situasies in jou lewe te hanteer nie. Geloof en aanvegtinge hoort bymekaar. Luister na wat Luther sê wanneer jy dreig om te sink:

Dit is ʼn werk wat ons onder God se hand ondergaan, en nie self verrig nie. Hy is die timmerman, ons is die hout. Hy werk aan ons, skaaf en sny om die ou Adam in ons dood te maak, sodat ons Christus in sy lyding gelykvormig mag word. Want Hy, Christus Self, is ook so bewerk en voorberei tot ʼn voorbeeld waaraan ons gelykvormig word.

Die Here bring ons in die smeltkroes om ons te bring tot die ‘nogtans’ van die geloof en om so die ‘die egtheid’ van ons geloof aan die lig te laat kom (1 Petrus 1:7).

“Teëstemme”🔗

Die stem van God se Woord klink in ons lewe, maar teëstemme maak ons geloof tot ʼn aangevogte geloof…

  • Eerstens is daar ons lewenservaring. Hoe kan dit tog ‘haaks’ staan op dit wat ons glo. ʼn Ernstige siekte, ʼn verkeersongeluk, ensovoorts, kan sommer ons geloofsrus versteur. Hoekom laat God dit dan gebeur? Wat is nog waar van die belofte dat die Here ʼn Hoorder van die gebed is? Juis hulle wat God se Woord ernstig neem en glo dat Hy goed is, ervaar probleme (vgl. Psalm 73:4).

  • ʼn Tweede teëstem is die wêreld se nuusberigte wat ons daagliks bereik. Watter ellende gaan by ons oë en ore verby! Hoe kan ʼn regverdige God dit alles toelaat? Waarom bly Hy stil? ‘God, is U nog werklik daar?’

  • ʼn Derde teëstem is die moeites met die kerk, veral by die jeug. Hulle is jonk en wil vir Jesus lewe. Wat ʼn konserwatisme vind hulle in die kerk, in plaas van brandende liefde tot Jesus en om ander mense met hierdie liefde te bereik. Is God nie sterker aanwesig in die evangeliese groepe, waar die vuur van die Gees helder brand, nie?

  • ʼn Vierde teëstem hoor ons wanneer ons na die begraafplaas moet gaan. Is die dood nie onherroeplik die einde nie? Die kerk spreek oor oorwinning oor die dood, die ewige lewe en die opstanding van ons liggaam, maar ons grawe wel ʼn graf en wag al eeue op die dag van die opstanding!

Nogtans🔗

Die kern van alle aanvegtinge is wel dat jy moeites met God Self het. Met Hom wat soveel heerlike dinge beloof het en ʼn werklikheid wat so geheel anders lyk. Dit is die paradoks waarmee Israel se psalmdigters so geworstel het. Maar juis hierdie teenstelling moet ons bring tot die ‘nogtans’ van die geloof. Daarin bewys die geloof dat dit vertrou op wat die Here sê, al lyk alles teenstrydig. Om te glo is dan om jou oë te sluit en om aan God se lippe te hang, soos Calvyn gesê het. Lippe wat spreek oor sy trou, sy goedheid en regverdigheid dwars teen ons ervarings in. ʼn Mens sou geloof kon tipeer as om aanhoudend ‘nogtans’ of ‘maar tog’ te sê. Jy word ernstig siek, maar tog hou jy vas aan die belofte dat die Here jou nie vergeet nie. Jy word bedroef deur jou sondes, maar tog weet jy dat daar vergewing is. Jy raak ontsteld oor al die onreg in die wêreld, maar tog is jy seker dat God eendag reg sal laat geskied. Jy gaan na die begraafplaas, maar tog sê jy: Jesus het die dood oorwin, daar kom ʼn opstanding in heerlikheid!

Om ‘nogtans’ te kan sê, kos dikwels baie stryd. Dit leer ons by Israel se digters. Ons kry ʼn kykie in hulle harte wat vol vrae en sorge is. Maar jy sien ook by hulle hoe die lig deurbreek, wanneer hulle ondanks alles al biddend tog vasgryp aan God se beloftes! Dit is die heerlike werk van God se Gees wat by God se kinders volharding bewerk en hulle, ondanks alle bitter ervarings, laat roem in die God van hul heil.

Ons mag bid vir hierdie Gees wanneer ons geloof wil beswyk. Hy leer ons om ‘nogtans’ te sê en die Here te volg op die weg deur alle aanvegtinge heen. In 1 Korinthiërs 10:13 lees ons die bemoedigende belofte wanneer die beproewings te swaar word:

Geen versoeking het julle aangegryp behalwe ʼn menslike nie; maar God is getrou, wat nie sal toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; maar Hy sal saam met die versoeking ook die uitkoms gee, sodat julle dit sal kan verdra.

Die enigste uitweg om in die geloof te volhard, is wanneer die Heilige Gees jou met al jou vrae laat sê: ‘nogtans’!

Sekerheid van die Geloof🔗

Wanneer ons oor geloofsekerheid praat, is dit belangrik om te onderskei wat dit beteken. Daar is sekerheid van die geloof. Maar daar is ook die sekerheid oor my geloof. Dan kom die vraag: ken ek die Here Jesus in waarheid? Hierdie vraag moet beslis van tyd tot tyd gestel word. Dink maar aan die nagmaalsformulier wat ons oproep om onsself te ondersoek of ons in God se vaste beloftes glo. Dit is so troosvol dat die woordjie ‘vaste’ langs God se beloftes geskryf is en nie by ‘glo’ nie. Ons vier nie die nagmaal omdat ons so vas glo nie, maar omdat God se beloftes vasstaan. Ons moet dit wel glo. Want die nagmaal is die maaltyd van die geloof in die offer van Christus.

Hoe kan jy seker weet dat jy ʼn gelowige is, en die Heiland opreg liefhet? Die antwoord vind ons in antwoord 86 van die Heidelbergse Kategismus, wat sê: “… sodat ons vir onsself uit die vrugte van ons geloof sekerheid kan kry…”. Die vrugte verseker my van die egtheid van my geloof. Elke goeie boom bring goeie vrugte voort. “Want dit is onmoontlik dat ʼn mens wat deur ʼn ware geloof in Christus ingeplant is, nie vrugte van dankbaarheid sal voortbring nie” (HK antw. 64).

Dit plaas ons daaglikse lewe in die kollig. Is daar vrugte? Vertoon ons “die kenmerke van die Christene en die gelowige lewe”, wat in artikel 29 van die Nederlandse Geloofsbelydenis en die Dordtse Leerreëls genoem word? Neem ons deel aan die nagmaal soos dit beskryf word in die Heidelbergse Kategismus antwoord 81?

As ons dit by onsself vind, mag ons daarvan seker wees dat ons met alle swakheid wat nog in ons oorgebly het, ware gelowiges is. Dan is daar by ons ‘die seker wete’ waaroor Johannes skryf: “Ons weet dat ons oorgegaan het uit die dood in die lewe, omdat ons die broeders liefhet” (1 Johannes 3:14). Wanneer ons met hierdie wete tog swak is en moeite het om daarin rus te vind, mag ons gryp na die troos wat Johannes gee: “want as ons hart ons veroordeel, God is meer as ons hart, en Hy weet alles.” (1 Johannes 3:20). Hy weet dat ons met al ons gebreke tog sy kind wil wees.

Die Weg na Sekerheid🔗

Hoe bereik jy die persoonlike sekerheid, wat onlosmaaklik aan ʼn ware geloof verbonde is? Nie om angstig binne-in jouself rond te krap nie, maar om God se beloftes aan te gryp. Die persoonlike woordjies ‘my’ en ‘myne’ word gebore by hulle wat hul steeds weer aan die evangelie onderwerp. Die Dordtse Leerreëls wys God se aangevogte kinders op die “middele” (I, 16; V, 14) waardeur die Here sy krag wil uitoefen, soos die prediking, sakramente en tug. Die beste medisyne vir al ons swakheid is: woon die eredienste gehoorsaam by, en laat jou versterk deur die prediking en die sakramente.

So werk die Heilige Gees die geloof in ons harte en maak Hy dit sterker (HK antw. 65). Maar dan moet die prediking ons ook werklik help. Die prediking help wanneer daar oor ons aanvegtinge gepreek word, wanneer daar aandag gegee word aan alles wat die Dordtse Leerreëls sê oor die lewe van God se kinders, jonk en oud. Die duiwel soek God se kinders, ook oumense! Hoe dikwels ervaar hulle dit nie! Daarom het ons veral pastorale prediking en huisbesoeke nodig wat nie die aanvegtinge van ons geloof ignoreer nie. Laat ons herders oor ons siele waak (Hebreërs 13:17), die siel wat so dikwels aangeveg word!

Ek kan dit nie nalaat om met ʼn woord van Luther te eindig nie:

Niemand moet dink dat hy kan bid sonder angs en nood nie. Daarom is die heilige kruis ʼn groot skat.