Bron: Waarheid en Dwaling. 5 bladsye.

Geloofsgroei Toerusting vir Diens in die Kerk 2

Die Heilige Gees roep die ampsdraers om die heiliges vir hulle diens in die kerk en in die koninkryk toe te rus. Die omvang van hierdie toerustingsopdrag word in Efesiërs 4:11-16 kortliks geskets. Ons lees dié volsin weereens ten einde die inhoud diep op ons te laat inwerk:

(11) En Hy (ons Verlosser wat na die hemel opgevaar het) het gegee sommige as apostels, ander as profete, ander as evangeliste, ander as herders en leraars, (12) om die heiliges toe te rus vir hulle dienswerk, tot opbouing van die liggaam van Christus, (13) totdat ons almal kom tot die eenheid van die geloof en van die kennis van die Seun van God, tot 'n volwasse man, tot die mate van die volle grootte van Christus; (14) sodat ons nie meer kinders sou wees nie wat soos golwe geslinger en heen en weer gedryf word deur elke wind van lering, deur die bedrieëry van mense, deur sluheid om listiglik tot dwaling te bring; (15) maar, terwyl ons in liefde die waarheid betrag, in alles sou opgroei in Hom wat die Hoof is, naamlik Christus, (16) uit wie die hele liggaam - goed saamgevoeg en saamverbind deur die ondersteuning wat elke lid gee volgens die werking van elke afsonderlike deel in sy mate - die groei van die liggaam bevorder vir sy eie opbouing in liefde.

Ampsdraers wat die gemeente vir diens in die kerk toerus, vestig volgens Efesiërs 4 die aandag op drie mikpunte. Hulle ywer vir geloofseenheid, -groei en -keuse. Vorige keer het ons oor die toerusting met die oog op geloofseenheid nagedink. Nou gaan dit oor die groei in die geloof.

Groei🔗

Groei is 'n proses, toeneem in grootte, in omvang, in lengte. Groei is 'n eienskap van die geloof.  "Die regverdige sal groei soos 'n palmboom; hy sal opgroei soos 'n seder op die Libanon. Geplant in die huis van die HERE, sal hulle groei in die voorhowe van onse Cod.  In die gryse ouderdom sal hulle nog vrugte dra; hulle sal vet en groen wees, om te verkondig dat die HERE reg is, my rots, en in Hom is geen onreg nie."  Geloofsgroei - God beveel dit. "Verlang sterk soos pasgebore kindertjies na die onvervalste melk van die woord, dat julle daardeur kan opgroei." "Julle moet toeneem in die genade en kennis van onse Here en Saligmaker, Jesus Christus."

In die lang volsin van Efesiërs 4 wemel dit van woorde wat op geloofsgroei wys. Die doel van toerusting deur die voorgangers is die "opbouing van die liggaam van Christus" (12). Jy sien die gebou, die kerk, hoër oprys, die liggaam van die Here groei. Ons "kom tot", groei uit "tot 'n volwasse man, tot die mate van die volle grootte van Christus" (14). Die gemeente groei op "in Hom wat die Hoof is" (15). Elke lidmaat bevorder "die groei van die liggaam" (16). En ten slotte wys die apostel nogmaals op die opbou van die liggaam van Christus "in liefde" (16).

Wat is dit, om op te groei in Christus? Hoe moet die ampsdraers die Woord bedien en hanteer om die gemeente te laat groei in die geloof? Ons laat ons in die besinning hieroor lei deur een van die skatboeke van die kerk. Die Heidelbergse Kategismus bely die geloofsgroei in uitdrukkings soos "hoe langer hoe meer", "altyd meer en meer". Voorgangers wat hierdie belydenis en die Skrifgedeeltes waarna die Kategismus verwys, in prediking, huisbesoek en katkisasie laat spreek, aktiveer die lidmate.  Elkeen persoonlik en die kerk in sy geheel groei in Christus op (15).  Die woorde "in Christus" gee aan die Heiland die sentrale plek in hierdie groeiproses. Opgroeiende gelowiges word in die loop van die lewe al hoe sterker aan Hom verbind.  Hulle ken en dien Hom steeds meer en intiemer as die Man van smarte, hulle Verlosser en die Hoof van sy liggaam.

Die Man van Smarte🔗

Die Kategismus vra op die man af:  "Waaruit ken jy jou ellende?" Die kort antwoord lui:  "Uit die wet van God". Elke Sondag hoor ons die wet. Jaarliks kom die verkondiging van die wet in die kategismusprediking aan die orde. Waarom, waartoe? Die HERE wil dat ons groei in sondekennis.  Hy laat die wet predik "sodat ons gedurende ons hele lewe ons sondige natuur hoe langer hoe beter kan leer ken". Dit gebeur ook daadwerklik. Hoe ouer die gelowige word, des te meer groei sy skuldbesef. As die Here dié een wat sonder sonde is, nooi om die eerste klip op die owerspelige vrou te gooi, gaan die beskuldigers weg, "deur hul gewete bestraf, een vir een, van die oudste af tot die laaste toe".  Ja, van die oudste af...

Ons leer ons sonde nie slegs uit die wet nie, maar ook uit Christus se lewe op aarde ken. Die vier evangelies teken die Here Jesus as die volmaakte paradysmens. Hy wandel in sy staat van vernedering egter nie - soos Adam weleer - in 'n paradys nie.  Rondom Hom is die woestyn van die sonde. Die Man van smarte  volbring Gods wil in die sondige wêreld. Sy liefde, sy toewyding, sy diens van God is volmaak. Nooit soek Hy sy eie wil nie, maar altyd die wil van die Vader wat Hom gestuur het. In die nag van die verraad, by die ingang na die diepte van sy lydensweg, bid die Man van smarte: "My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie beker by My verbygaan; nogtans nie soos Ek wil nie, maar soos U wil".

God hou in die wandel van die Here Jesus in sy vernedering die spieël aan ons voor. Dié lewenswandel is heeltemal volgens die eis van sy verbond. Die HERE het behae in dié mens wie se hele hart en lewe op Hom gerig is. Daar was in die hele geskiedenis maar een so 'n mens, onse Here Jesus Christus. Hy het konsekwent gelewe uit die begeerte: "Ek het lus, o my God, om u welbehae te doen, en u wet is binne-in my ingewande." Die onvoorwaardelike en volkome gehoorsaamheid en liefde van Christus - dit moes ons s'n gewees het. Wie gelowig Jesus se gehoorsaamheid, toewyding en liefde met die diens van God in sy of haar eie lewe vergelyk, kom tot die ootmoedige belydenis: Ek is ver van dié volkomenheid. Ek maak my skuld elke dag groter.

Opgroei in Christus beteken eerstens die voortdurende vergelyking van sy en my gehoorsaamheid aan die wet van God en aan die God van die wet. Die slotsom van die vergelyking? Hy is die enigste Een wat voor God se regterstoel kan bestaan. Wat my en alle ander mense betref...  "As U, HERE, die ongeregtighede in gedagtenis hou, HERE, wie sal bestaan?" Indien Christus slegs as spieël aan ons voorgehou word, bly ons almal in ons sonde. Die psalmdigter in die ou bedeling weet gelukkig reeds meer. Hy ken die evangelie van genade en verlossing. Onmiddellik na sy versugting volg die jubelsang: "Maar by U is vergewing, dat U gevrees mag word".

Die Verlosser🔗

By U is vergewing ... Waarom? Omdat Die HERE Hom ontferm en in sy ontferming sy verbondsreg handhaaf. Hy is en bly regverdig in sy barmhartigheid. Hy stuur sy Seun om in ons plek aan sy reg te voldoen.  "Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê... Hy wat in die Seun glo, het die ewige lewe; maar hy wat die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die toorn van God bly op hom."

Opgroei in die Seun as Verlosser... Nou kyk ons weer na Hom in sy staat van vernedering en aanvaar Hom gelowig as ons Plaasbekleder. Hy het die wet van God in ons plek volbring. Wat doen die Regter? Hy ruil Christus se regsposisie met dié van die gelowiges uit. Jesus se gehoorsaamheid word ons s'n. Ons ongeregtigheid en oortredings word Syne. Ons straf? Hy het dit gedra en aan die kruis weggedra, toe Hy uitroep: "Dit is volbring". Die hemelse Regter plaas Christus se geregtigheid en heiligheid, asook sy skuldbetaling op die rekening van elkeen wat glo.  Die uitspraak van die Regter? Jou skuld is betaal, afbetaal op Golgota. Jou Saligmaker het vir jou gehoorsaam die wet vervul, vir jou neergedaal na die hel, in die ewige dood.

Nou verstaan ek dat die HERE sy wet so streng en absoluut afkondig en laat verkondig. Dit geskied nie om die gelowiges in pessimistiese vrees vir die ewige straf te laat wegsink nie. Inteendeel; die Heilige Gees laat die steeds dieper ontdekking van sonde saamgaan met die steeds "groter verlange na die vergewing van sondes en na die geregtigheid in Christus". Sonder ellendekennis soek geen mens verlossing nie. "Die wat gesond is, het die geneesheer nie nodig nie, maar die wat ongesteld is." Die verlange na die vergewing van sondes om Christus wil word met die toenemende skuldbesef steeds groter. Altwee groei saam in die lewe van elke gelowige.  Die Heilige Gees bewerk dit in sy kragveld. Ons groei op in Christus, die Man van smarte. Die aanhoudende gebed 'Vergeef ons om Christus wil' word gedra deur die al hoe vaster oortuiging: Buite Hom is my lewe reddeloos verlore.

Die Hoof van die Gelowiges🔗

Die gelowiges word verder deur die ampsdraers toegerus om die Heiland steeds meer as hulle Hoof te erken (15).  Dit wil sê:  Hulle eerbiedig hulle Verlosser wat hulle vir die prys van sy lewe gekoop het, as hulle Heer en Meester. Sy wil word al hoe meer hulle wil. En hulle groei in heilige afkeer van alles wat Hy haat.

Geloofsgroei ten opsigte van die kwaad hou in dat "ons die sonde hoe langer hoe meer afsterwe".  Afsterwing van die ou mens is 'n proses. "Dit is 'n hartlike berou daaroor dat ons God deur ons sondes vertoorn het en daarom ook hoe langer hoe meer die sonde haat en daarvan wegvlug."

Opgroei in die Hoof behels positief die hartlike lus om steeds hegter aan Hom verbind te word. Ware gelowiges "begeer om" deur die gebruik van die genademiddele (die diens van Woord en sakramente) "hulle geloof hoe langer hoe meer te versterk en hulle lewe te verbeter". Dié begeerte word deur voortdurende gebed vergesel.  Hierdie gebed: "Regeer ons so deur u Woord en Gees dat ons ons hoe langer hoe meer aan U onderwerp". Die verhoring van die gebed lei tot 'n "hoe langer hoe meer" godvresende en onbesproke lewe,  tot 'n "altyd meer en meer" vernuwing "na die ewebeeld van God".

Opgroei in Christus is 'n proses. Elke gelowige groei in skuldbesef, in die gebed om vergewing van sondes om Christus wil en in 'n nuwe lewenswandel. Groei in die kragveld van die Gees geskied persoonlik, maar nie los van die gemeenskap van die heiliges nie.

Die Hoof van die Kerk🔗

Daar is samegang in die opgroeiproses. Efesiërs 4 spreek die kerk in sy geheel toe. Ons kom almal (saam) tot die eenheid van die geloof (13). Ons betrag (saam) in liefde die waarheid en groei (saam) op in Christus, die Hoof van sy kerk (15). Die apostel het die 'saam' reeds in die vorige hoofstuk beklemtoon. Ons kan "saam met al die heiliges" ten volle begryp "wat die breedte en lengte en diepte en hoogte is" en "die liefde van Christus" ken.

Die samegang van die gelowiges doen niks af van die persoonlike opgroei in Christus nie.  Inteendeel, elke lid stel hom in die stadium van sy of haar persoonlike geloofsgroei in diens van die hele liggaam.  Elke lid gee met sy en haar gawes en kragte "ondersteuning" aan die liggaam en bevorder sodoende die groei daarvan (16). Individualisme, soek van eie belang, streling van eie 'vroomheid', die vraag 'wat kan ek in die kerk kry', staan haaks op die evangelie. Ons ontvang in die kerk om te gee, te ondersteun, die groei van die liggaam (die kerk) te bevorder, in onderwerping aan die wil van die Hoof.

Samegang in geloofsgroei. Die Skrif leer dit. Die kerk bely dit ooreenkomstig die leer van die Skrif. As ons gelowig nagmaal vier, bely ons nie slegs persoonlik ons geloof in die Heiland nie, maar word ons ook deur die Heilige Gees "al hoe meer met sy geseënde liggaam verenig ... Dit wil sê dat ons deur een Gees - soos die ledemate van die liggaam deur een siel - ewig lewe en geregeer word".   Die Hoof van die kerk is onlosmaaklik met sy kerk verbind. Wie die Here liefhet, het ook sy kerk lief.

Samegang in geloofsgroei is die vrug van gehoorsame amptelike werk in die gemeente. Die lidmate wat deur die ampsdraers toegerus is tot geloofsgroei, gaan mekaar toerus. Ouers stel as doel van die opvoedingstaak: Ons kinders moet in Christus opgroei, Hom as Hoof van hulle lewe eerbiedig. Sy wil sal vir hulle heilige wet wees. Bybelstudiegroepe soek geloofsgroei, opbou van elke lid. Ons omgang met mekaar - in besoeke, gesamentlike in- en ontspanning - word al hoe meer op die groei van die liggaam gerig. Ons hou mekaar vas en help mekaar verder in die liefdediens van Christus en bind mekaar aan sy Woord.

Saam Groei in die Kerkverband🔗

Samegang in geloofsgroei, in onderwerping aan die Hoof... Daarvoor lewe ook plaaslike kerke saam in die kerkverband as gemeenskap van heiliges. Een Gees, een Woord van God stimuleer alle kerke tot toename in die geloof.

Die Latynse woord 'klassis' beteken leërafdeling, vloot. Elke skip maak deel van die konvooi uit.  Plaaslike kerke 'vaar' in een en dieselfde rigting. Die Griekse woord 'sinode' beteken saam op pad.  Die doel? Groei van elke plaaslike kerk in gehoorsaamheid aan die Woord van Christus, die Hoof van al sy kerke.

Die praktiese uitlewing van so 'n kerkverband? Net soos die lidmate in elke plaaslike kerk gedra al die kerke hulle ooreenkomstig die suiwere Woord van God. Die gemeentes verwerp alles wat daarmee in stryd is. Hulle erken Jesus Christus as die enigste Hoof. Die kerke bind mekaar aan en hou mekaar vas op die fondament van die kerk, die lewende en lewendmakende Woord. Dit doen hulle in die rondvraag in die klassis. Hulle doen en ontvang kerkvisitasie vir geloofsgroei van die kerke. Afgevaardigdes na meerdere vergaderings oorweeg, oordeel en besluit in volstrekte onderwerping aan die Hoof van die kerk. Sy Woord - daarvoor buig elke kerklike vergadering. In so 'n kerkverband word die kwaad van independentistiese en hiërargiese optrede in die krag van die Gees weerstaan. Tot behoud en geloofsgroei van die kerke en al die lidmate en boweal tot eer van ons almal se Hoof.

Selfbeproewing🔗

Die leer van die Skrif oor geloofsgroei dring elke gelowige ampsdraer, lidmaat en kerkraad tot voortdurende selfbeproewing en beplanning van aktiwiteite met die oog op blywende groei. Vrae wat by skriftuurlike selfbeproewing ter sprake kom, is onder meer die volgende:

Ampsdraers en Kerkraad🔗

  • Leer die gemeente deur ons amptelike arbeid die Here Jesus genoegsaam as die Man van smarte ken? Is sondekennis en skuldbesef sodanig dat lidmate toenemend na vergewing om Christus wil verlang?

  • Leer die lidmate deur die amptelike werk die Heiland genoegsaam as hulle enigste Verlosser ken?

  • Besef hulle onder andere in die lig van Jesaja 53 dat Gods volk deur reg verlos word, deur toerekening van ons ongeregtigheid aan Christus en van sy geregtigheid en heiligheid aan ons? Weet en glo elke belydende lidmaat dat die Here op Golgota sy verdiende straf gedra en weggedra het?

  • Is die amptelike werk genoegsaam gerig op die Hoof van die kerk?  Neem die insig in die gemeente toe dat Christus Hoof is in ons huwelik, gesin, opvoedingvan kinders, in- en ontspanning? En word Hy steeds meer as die Hoof van die hele lewe erken en eerbiedig?

  • Is die bydrae van elke lidmaat tot die groei van die liggaam voldoende? Wend elkeen sy en haar gawes tot nut en saligheid van die ander lidmate aan?

  • Wat onderneem die kerkraad in die kerkverband om geloofsgroei in alle kerke te bevorder? Watter instruksie gee hy aan sy afgevaardigdes met die oog op independentistiese optrede van een of meer susterkerke?

  • Ontvang die kerkraad kerkvisitatore met die oog op geloofsgroei van die kudde wat aan sy sorg toevertrou is?

  • As daar enige tekorte in die amptelike werk is, wat beplan en voer die kerkraad uit om daardie tekorte in geloof en in die krag van die Heilige Gees weg te werk?

Lidmate🔗

  • Staan Christus in my lewe sentraal? Bring die vergelyking van sy en my diens van God in die lig van die wet my steeds meer tot die oortuiging dat ek my skuld by God elke dag groter maak? Soek ek my verlossing gaandeweg meer buite myself in die Here Jesus? Neem my dankbaarheid toe vir sy wetsvolbringing en offer aan die kruis om my van sondes vry te koop?

  • Erken en eerbiedig ek my Heiland meer en meer as my Hoof? Het Hy in my lewe seggenskap:  in die keuse van my eggenoot, in my huwelik, gesinbeplanning en gesin, in my werk, in my bydraes vir die kerk, in my ontspanning, in die leesstof wat ek verkies (en nie verkies nie), ensovoorts?

  • Wat is my bydrae tot die groei van die liggaam? Wend ek die gawes, wat God aan my gegee het, tot nut en saligheid van die ander lidmate aan? Aanvaar ek elke lidmaat wat Christus aan sy liggaam, die kerk, toegevoeg het soos die Here my aanvaar?

  • Toets ek optrede en besluite van my ampsdraers aan die Woord?

  • Wat beplan ek en beloof ek biddend aan die HERE in die geval van tekorte in my diens van God of in dié van ampsdraers? En wat onderneem ek om die plan en belofte in dade om te sit?

Toerusting vir geloofsgroei ... Kerke wat van krag tot krag gaan in die geloof. So word die Hoof van die kerk verheerlik.