Bron: Waarheid en Dwaling. 7 bladsye.

Geloofskeuse Toerusting vir Diens in die Kerk 3

Die Heilige Gees gebruik predikante, ouderlinge en diakens in sy kragveld. Hulle dra 'n groot verantwoordelikheid. Dit behaag die Gees van God om deur hulle diens geloof in die harte van Gods kinders te werk en hulle lewe nuut te maak. Verder ontvang hulle in Efesiërs 4:11-16 die opdrag om die gemeente toe te rus. Die toerusting geskied met die oog op diens in die kerk en in die koninkryk van God. Kerklik word ons toegerus tot geloofseenheid en geloofsgroei. Dit alles het ‘n vorige keer ter sprake gekom. Nou dink ons saam oor die toerusting tot volwassenheid en van die volwassenes in die geloof.

Efesiërs 4 openbaar waarop troue amptelike diens in die gemeente uitloop. Die heiliges kom "tot 'n volwasse man, tot die mate van die volle grootte van Christus, sodat ons nie meer kinders sou wees nie wat soos golwe geslinger en heen en weer gedryf word deur elke wind van lering, deur die bedrieëry van die mense, deur sluheid om listiglik tot dwaling te bring".1 Volwassenheid in die geloof beteken om nie meer kinders te wees nie. Alhoewel die doel (volwassenheid) beklemtoon word, kom ook die periode van die kindertyd in die gesigsveld.

Geloofsgroei is dus volgens die Skrif 'n proses wat in twee fases verloop. Die eerste periode is die kindertyd. In hierdie periode is die kind dooplidmaat van die kerk, onmondig. In die tweede periode tree die lidmate as mondige, belydende lede van die liggaam van Christus op. Hulle het toegang tot die nagmaal, laat kinders doop, stem vir ampsdraers en manlike lidmate kan in die besondere ampte verkies word. Geloofsgroei wat in die kind se lewe begin, gaan in die stadium van volwassenheid, ja lewenslank voort.

Om die toerusting van kinders en volwassenes in kerk en gesin reg te kan uitvoer moet ons antwoorde kry op die volgende vrae: Wat beteken die woorde dat "ons nie meer kinders sou wees nie"? Wat kenmerk die kind in die kerk? Hoe moet die lammers van die kudde op hulle pad na volwassenheid opgevoed word? Wanneer mag ons hulle volwasse ag en tot belydenis van geloof toelaat? Hoe lyk die wandel van volwasse gelowiges?

Die Lammers van die Kudde🔗

Die kinders in Efesiërs 4 is die kleintjies en die jeug wat nog nie belydenis van hulle geloof in die midde van die gemeente gedoen het nie. Hulle ontvang 'n erenaam. Die Heiland noem hulle sy "lammers".2 God die Here het hulle uit genade as sy kinders aangeneem van die uur van die ontvangenis af. Ja, selfs voordat Hy ons in die moederskoot gevorm het, het Hy ons geken; en voordat die kinders van die verbond uit die liggaam voortgekom het, het Hy hulle geheilig.3  Die verbondsbelofte kom die kinders net soos die volwassenes toe.4 Op grond van hierdie en ander Skrifgetuienisse bely ons in die doopformulier: God die Vader het ook die kinders in die kerk verkies om sy kinders te wees. Hy belowe om hulle deur die bloed van sy Seun van hulle sondes te reinig en hulle lewe deur sy Heilige Gees te vernuwe.

Die kinders in die kerk is kinders van God. Hulle het nie die reg om in vryheid vas te stel of hulle die HERE sal dien nie. Hulle mag nie gevra word om 'asseblief vir liewe Jesus te kies nie'. Inteendeel, hulle moet leer dat God vir hulle gekies het, dat hulle kinders van sy huisgesin is. Hulle word opgeroep om in Hom te glo en as sy kinders te lewe. Hulle word by die openbare belydenis nie aangeneem nie - asof hulle tevore nie volwaardig in die verbondskring ingesluit was nie. Nee, kinders wat volwasse word, bely dat die HERE hulle reeds in die moederskoot aangeneem het en dat Hy hulle uit genade tot geloof en tot volwassenheid gebring het.

Ons kinders het 'n bevoorregte posisie. Hulle is kinders van God, in sy huisgesin - die kerk - ingelyf. Sy doopseël staan op hulle voorhoofde geskrywe. Kinders is egter nie volwasse nie. Hulle is die onmondige lede van die liggaam van Christus. Die volwassene wat aan sy jeug terugdink, sê met die apostel: "Toe ek 'n kind was, het ek gepraat soos 'n kind, gedink soos 'n kind, geredeneer soos 'n kind; maar nou dat ek 'n man is, het ek die dinge van 'n kind afgelê".5 "Elkeen wat melk gebruik, is onervare in die woord van geregtigheid, omdat hy 'n kind is. Maar vaste spys is vir volwassenes, vir die wat geestesvermoëns besit deur die gewoonte geoefen, om goed van kwaad te onderskei."6

Die praat, gedagtegang en redenering van die kinders in die kerk getuig van onervarenheid. Dit is die kenmerk van ons kleintjies en onmondige jeug. Nog nie deur gewoonte geoefen nie, staan die jong seun en dogter nog wyd oop vir sowel goeie as slegte invloede. Suiwer gegronde oordeelvorming ontbreek nog. Kinders wat teenoorgestelde menings met oortuiging hoor verdedig, "word soos golwe geslinger en heen en weer gedryf".7

Hulle kan onmoontlik met vers en kapittel bewys waarom sekere menings en dade reg of verkeerd is. Ons mag dit dan ook nie van hulle verwag nie, in navolging van Hom wat die murmurering van die kinders tydens Israel se woestynreis vergewe het. Sy volk onder die ouderdom van twintig jaar wat ook aan dié gemopper deelgeneem het, mog desondanks die beloofde land beërwe.8 Terloops: Hierdie en ander Skrifgegewens oor die posisie van die kind in die verbond en in die kerk, asook die betekenis van die nagmaal moet terdeë in ag geneem word in enige skriftuurlike besinning oor kindernagmaal.

Jong kinders in die verbond is net so goed as die volwassenes bevoorreg. Die voorreg beteken nie dat hulle kleintjies in die geloof mag bly nie. God wil dat die kinders in sy kerk volwasse word. Tot volwassenheid kom beteken juis om nie meer kinders te wees nie. Die Roomse leer van die fídes implicita laat die 'leek' kind bly. Dit wil sê:  Elke lidmaat hoef maar 'n minimum te glo. Die res glo die kerk vir hom of haar. Hierdie leer is in stryd met die Woord en daarom dwaalleer. Die dominee en die ouderling kan nie vir ander lidmate glo en in die geloof groei nie. God wil dat "ons almal kom ... tot 'n volwasse man" (13-14). Almal, geen lid van Christus se liggaam uitgesonderd nie. Ampsdraers wat lidmate skriftuurlik toerus, neem geen genoeë met 'n skare wat die wet nie ken nie en aanvaar nie verskonings vir onwetendheid soos die opmerking 'ek is maar 'n leek' nie. Gereformeerde kerke ken geen onkundige 'leke' nie, maar voed die lammers van die kudde op tot volwasse mans en vroue wat nie meer onervare is nie, maar "standvastig, onbeweeglik, altyd oorvloedig in die werk van die Here".9

Toerusting op Pad na Volwassenheid🔗

Toerusting van ons kinders in die kerk, en dus ook in gesin en skool, bestaan uit leiding op die pad na volwassenheid in die geloof. Wanneer die kind volwasse word, kom hy of sy tot openbare bely van die geloof in die gemeente. Dan stel die liturg in naam van die HERE vyf vrae wat van harte bevestigend beantwoord word. Die kind moet dus so toegerus word dat hy of sy opreg 'ja' kan sê.

Die vyf vrae in die Formulier vir die aflegging van belydenis van geloof behoort dus as dié gids by die toerusting gebruik te word.

Die kind wat tot volwassenheid gekom het, verklaar onder meer: Ek glo in ons drie-enige HERE, die God van my doop.  Ek - in sonde ontvang en gebore en steeds tot alle boosheid geneig - is in Christus geheilig. Die Vader het my as sy eie kind aangeneem. Die Heilige Gees werk die nuwe lewe in my. Ek glo dat die Bybel Gods Woord is. Ek glo die leer van die Skrif, soos die kerk dit bely en leer. Ek belowe om deur die genade van God in dié leer te volhard, die HERE lief te hê, in verbondsgemeenskap met Hom te !ewe in gehoorsaamheid aan sy Woord. Ek sien van die sondige wêreld af. Ek soek my lewe en saligheid buite myself in Christus. Ek belowe om ywerig die bediening van Woord en sakramente te soek, as lewende lid van die liggaam van Christus my gawes aan te wend en my aan die christelike vermaning te onderwerp as ek my misgaan.

Openbare belydenis is geloofskeuse. Dit is nie 'n vrye keuse om te glo nie.  Die vrye wil-keuse wat die Fariseërs, Pelagiane, Remonstrante en ander ketterse bewegings leer, bestaan nie. Niemand kan na die Heiland toe kom as die Vader hom nie trek, nie na Christus toe sleep nie.10 Nee, geloofskeuse is die keuse wat uit die geloof voortkom, uit die geloof wat die Heilige Gees in die hart gewerk het en bly werk. Die wil wat deur die Gees vernuwe is, werk ook self.11 Die lidmaat wat bely, sê uit krag van die HERE:  Ek wil U dien, U wat my aangeneem en verlos het en my lewe elke dag nuut maak. Ek wil volgens u Woord lewe, die leer daarvan trou bewaar. Ek kies kant - teen die sondige wêreld. U laat my kant kies. U sê immers self: "Want alles wat in die wêreld is - die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe - is nie uit" U, die Vader, nie, "maar is uit die wêreld. En die wêreld gaan verby en sy begeerlikheid, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig" 12

Wie die kinders van die kerk toerus, is besig met 'n groeiproses. Elke groei gaan stadig. Ons jong plante het veel aandag en tyd nodig om tot volwassenheid uit te groei. Kan katkisasieklasse onmiddellik na die erediens met voldoende konsentrasie plaasvind? En wat kom daar van geduldige en tydsame onderrig tereg, terwyl ouers buite ongeduldig staan en wag vir die einde van die les - want hulle wil tog so graag gaan koffie drink by die huis? Wat is die resultaat van 'n stoomkursus wat die kinders voor die openbare belydenis moet 'ryp druk'? Hoekom is so baie belydende lidmate 'leke' in die geloof? Jong plante wat nie liefdevolle en voortdurende aandag in kerk, gesin en skool kry nie, verdor. As hulle tot openbare belydenis toegelaat word, kan hulle onmoontlik die vyf vrae opreg en met die nodige kennis beantwoord. Die gevolg? Hulle ja verander in nee met die daad. Die belofte aan die HERE en aan sy gemeente om ywerig eredienste by te woon word as niks geag in die afwesigheid van talle belydende lidmate in die tweede Sondagse samekomste van heelwat gereformeerde kerke.

Toerusting op die pad na volwassenheid geskied deur suiwer bediening van die Woord. Ware verkondiging van die Woord bring ook die jongmense onder die gesag van die evangelie. Dié prediking pas nie by ongehoorsame 'hoorders' aan nie. Nee, dit bring tot volwassenheid in geloof. Gemeentes wat dié preke nie verdra nie, moet luister na die vermanende woorde: "Julle het traag geword om te hoor. Want hoewel julle vanweë die tyd leraars behoort te wees, het julle weer nodig dat 'n mens julle die eerste beginsels van die woorde van God moet leer, en julle het weer behoefte aan melk en nie aan vaste spys nie".13 Wie die brief aan die Hebreërs lees, word gou-gou oortuig dat die skrywer nie die gevoel van sy hoorders in ag geneem het nie, maar in opdrag van sy Sender vaste spys aan die lesers voorgesit het. Ook aan vandag se lesers...

Daar bly wel iets van die kind in die volwasse gelowige oor, naamlik kinderlike geloof. Die belydende lidmaat ontvang die koninkryk van God "soos 'n kindjie".14 Kinderlike glo is heelhartige, blymoedige aanvaarding van die Woord van God, hartlike vertroue in Hom. Wat die Here sê, is die waarheid. Sy beloftes staan vas soos die berge, ongetwyfeld.

Toerusting tot Standvastigheid🔗

Juis hierdie kinderlikheid bewerkstellig standvastigheid in die lewe van die volwasse lid van die liggaam.  Standvastigheid verdra nie enige aantasting van Gods Woord in die kerk van Christus nie. Efesiërs 4 sê: Wie in die kerk tot 'n volwasse man uitgegroei het, word nie soos die kinders "heen en weer gedryf deur elke wind van lering" en laat nie dwaling in sy hart en in die kerk toe nie. 15

lemand vra: Is dit wel aktueel? Moet ons vandag in die kerk waak teen "wind van lering" en "dwaling"? Antwoord: Het die Heiland nie gewaarsku dat baie, ja "baie valse profete sal opstaan en baie mense mislei" nie?!16 Die Here roep die ampsdraers om op hulleself en sy hele kudde ag te gee. Want wrede wolwe sal onder julle inkom en nie die kudde spaar nie. "Ja, uit julle self sal daar manne opstaan wat verkeerde dinge praat om die dissipels weg te trek agter hulle aan."17 "Die Gees sê uitdruklik dat in die laaste tyd sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang."18 "Want daar sal 'n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle 'n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels."19

"In die laaste tyd (dit is die bedeling van die Pinksterdag tot die wederkoms van Christus) sal daar spotters wees wat volgens hul eie goddelose begeerlikhede wandel. Dit is hulle wat skeuring maak, sinnelike mense wat die Gees nie het nie."20

Afdwaling is nie slegs van mense en duiwels afkomstig nie. God stuur "die krag van die dwaling". Daar staan letterlik: "'n energie van dwaling". Dit sit as 't ware in die lug. Mense wil afdwaal. God stuur die krag van die dwaling met die doel dat volhardende afvalliges die leuen glo, "sodat almal geoordeel kan word wat die waarheid nie geglo het nie".21

God stuur die krag van dwaling om ongelowiges te veroordeel en ... sy gelowige kinders te beproef. Daar moet "partyskappe (ketterye) onder julle wees, sodat die beproefdes onder julle openbaar kan word".22 Watter toets moet die gelowige ondergaan? In sy liefde vir die HERE en sy Woord sal hy gehoorsaam wees aan die bevel: "Aan 'n man wat partyskap verwek (in die grondteks: 'n heretiese, ketterse mens) moet jy jou onttrek ná die eerste en tweede vermaning".23 Dit wil sê: Bedien liefdevolle leertug in vermaning en sluit die dwaalleraar by volhardende weerstand teen die vermaning uit, buite die kerk en die koninkryk.24

Die kerk staan in die frontlinie. Die HERE stel ons daar op die proef. Die ou slang wat duiwel en Satan genoem word, veg. Hy hou nie op om die skaapstal van Christus aan te val nie. Aan die front ontvang ons die opdrag:  "Geliefdes, glo nie elke gees nie, maar stel die geeste op die proef of hulle uit God is, want baie valse profete het in die wêreld uitgegaan".25

Hoe om die valse profete uit te ken? Die Skrif gee ons die rigsnoer: "Hy wat God ken, luister na ons (sy Woord); hy wat nie uit God is nie, luister nie na ons nie. Hieruit ken ons die Cees van die waarheid en die gees van die dwaling".26Die kerk en al sy volwasse lidmate word opgedra om in alle tye "kragtig te stry vir die geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is".27

Koersvas🔗

Ons word voortdurend in die geloof voor keuses geplaas. Keuse stel ons in 'n of-of-posisie. Die waarheid bly volg; uit krag daarvan die dwaling weerstaan. Die hele kerkgeskiedenis illustreer hoe die kerk strydende kerk is. En hoe - in die geloofskeuse teen dwaling en afval - Christus sy belofte vervul: "Die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie".28 Ons sogenaamde post-moderne tyd word gekenmerk deur afkeer van geloofskeuse.  Daar word gepropageer dat in alle godsdienste 'n kern van waarheid skuil. Nie God of die afgod nie, maar Christus en Boeddha, Christen en Jood en Moslem en heiden. Almal het 'n stukkie van die waarheid. Die leuse is: Ons lewe in 'n new-age. Wêreldeenheid. Wie praat daar nog van antitese, keuse voor of teen, Christus of Belial? Die evangelie van, die moederbelofte "Ek stel vyandskap..."29 word vervang deur 'alle mense is broeders'.

Wie in geloof kies, bly die waarheid aanvaar en alle afwyking daarvan as leuen ontmasker. Hierdie mens lewe koersvas, laat hom nie deur wind van lering heen en weer slinger nie. Die vraag is nie of hy of sy in 'n post-moderne era inpas nie, maar of die God van die Woord wat sy of haar hart besny het, die koers van die lewe bly bepaal en verheerlik word. Die Heilige Gees hou mense op die koers van die Woord. Hulle mag in die wêreld verdrukking ly, doodgeswyg, as misdadiger behandel word, "maar die woord van God" wat hulle op sy vaste koers hou, "kan nie geboei word nie."30

Geloofseenheid, -Groei en -Keuse🔗

Die eenheid van die geloof, geloofsgroei en -keuse hang onlosmaaklik saam. Eenheid is die voorwaarde om te kan groei. Waar eenheid ontbreek, praat dominees, ouderlinge en diakens - elkeen in sy eie amptelike roeping - teen mekaar en kan geen werklike toerusting plaasvind nie. 'n Kerkhuis, teen homself verdeeld, sal nie bestaan nie.

Waar lidmate voortdurend deur ampsdraers toegerus word en gevolglik mekaar toerus, groei kinders en volwassenes in die geloof. Hulle word meer en meer aan die Here Jesus verbind en groei in die gehoorsaamheid aan sy Woord.

In die groeiproses word die lammers van die kudde volwasse en leer om voor die waarheid en teen die dwaling te kies. Hulle word koersvas. In die standvastigheid van die geloof weerstaan hulle alle kettery en kom die kerk tot uitoefening van liefdevolle leertug. Leertug ... om die eenheid van die Gees deur die band van die vrede te bewaar. So word die geloofsirkel gesluit. Van eenheid tot groei tot keuse ter bewaring van die eenheid in onse Here Jesus Christus. Dit is 'n wonder om ware gereformeerde kerke te wees en te bly. 'n Wonder van die Gees wat harte vernuwe, in sy eenheid laat bly en geloofsgroei en -keuse in ons lewe werk.

Selfbeproewing🔗

Die leer van die Skrif oor geloofskeuse stel ampsdraers, kerkrade en lidmate in hulle selfbeproewing voortdurend voor die volgende vrae.

Ampsdraers en Kerkraad🔗

  • Is die inhoud van prediking, katkisasie en huisbesoek sodanig dat die lammers van die kudde, die jong plante, optimaal kan groei in geloof? Ken die kandidate vir openbare belydenis die HERE en die leer van die Skrif soos die kerk dit bely? Kan hulle die vyf vrae in die Formulier vir die aflegging van geloofsbelydenis heelhartig en volmondig bevestigend beantwoord?

  • Is die werk van alle ampsdraers op voortdurende geloofsgroei van alle belydende lidmate gerig?

  • Bedien ons die Woord in prediking en huisbesoek aan belydende lidmate wat nie hulle belofte nakom om die eredienste ywerig te soek nie? As hulle dié diens van die HERE verwaarloos, wat ontbreek aan die geloofsgroei in die lewe van Maandag tot Saterdag?

  • Gebruik ons, ampsdraers, "by die bediening van die Woord, by die kategetiese onderrig en by die huisbesoek die middele van lering, weerlegging, waarskuwing en vermaning" om die belydende lidmate koersvas in hulle geloofskeuse voor te gaan en by te staan?31

  • Voer ons die opdrag van die HERE uit deur leertug uit te oefen ooreenkomstig ons belydenis in die geval van openlike afwyking van die leer van die Skrif soos die kerk dit bely?

  • Wat onderneem ons om tekorte in die amptelike diens in gehoorsaamheid aan ons Sender te voorkom of weg te werk?

Lidmate🔗

  • Is my inspanning as dooplidmaat voldoende om uit te groei tot openbare belydenis van my geloof? Luister ek elke dag na die stem van my Vader in sy Woord? Berei ek die katkisasieklas genoegsaam voor? Luister ek aandagtig na die prediking? Wil ek kortom die HERE en sy diens leer ken en liefhê? Wek ek my vriende en vriendinne in die kerk (broers en susters in God se gesin) op om saam na volwassenheid op te groei?

  • Onderrig ons - volwassenes - ons kinders en laat ons hulle voldoende onderrig om na volwassenheid op te groei? Wat onderneem ons in huisgodsdiens, toesig oor hulle persoonlike Skriflesing, gebed, voorbereiding van katkisasie, liefdevolle gesprekke, voorgaan in eie lewe, in die keuse van hulle skool ensovoorts om die lammers van Christus se kudde optimaal in sy evangelie tuis, met sy heilsame Woord vertroud te maak?

  • Woon ek die eredienste getrou by om in geloof te groei en aan die front teenoor die gees van dwaling te kan staande bly?

  • Wat onderneem ek om volwasse in die geloof te kan bly? Lees ek - sowel persoonlik as saam met ander belydende lidmate – die Skrif voldoende en neem ek genoegsaam van skriftuurlike leesstof kennis om voortdurend teen afdwaling gewapen te word en uit geloof keuses teen afdwaling in leer en lewe te kan maak?

  • Wat beplan ek om tekorte in my geloofs-toerusting en dié van broeders en susters te voorkom of weg te werk?

Endnotes🔗

  1. ^ Ef. 4:13-14​
  2. ^ Joh. 21:15.  
  3. ^ Jer. 1:5.
  4. ^ Hand. 2:39; vgl. Gen. 17:7; HK, antw. 74.
  5. ^ 1 Kor. 13:11.
  6. ^ Heb. 5:13-14.
  7. ^ Ef. 4:14. 
  8. ^ Num. 14.
  9. ^ 1 Kor. 15:58.
  10. ^ Joh. 8:44.
  11. ^  DLR, 3-4:12.  
  12. ^ 1 Joh. 2:16-17.
  13. ^ Heb. 5:11-12. 
  14. ^ Luk. 18:15-17; vgl. Matt. 19:13-15; Mark. 10:1 3-16.
  15. ^ Ef. 4:1 3-14.
  16. ^ Matt. 24:11. 
  17. ^ Hand. 20:29-30.
  18. ^ 1 Tim. 4:1. 
  19. ^ 2 Tim. 4:3-4.
  20. ^ Jud. 18-19.
  21. ^ 2 Tess. 2:11-12. 
  22. ^ 1 Kor. 11:19. Die Griekse woord 'haireseis' word ook in die nuwe Afrikaanse vertaling as 'partyskappe' vertaal. 1 Kor. 1:10 openbaar dat daar in die kerk geen skeuringe (skismas, in Grieks: schismata, partye wat ampsdraers tot party-voorgangers degradeer) moet wees nie. Die HERE verbied altwee, maar openbaar uitdruklik dat daar nie skisma nie maar wel 'hairesis' moet wees (kragtens sy ewige besluit) om sy gelowige volk op die proef te stel. Schisma en hairesis moet derhalwe ook in die vertaling duideliker onderskei word as wat in ons Afrikaanse vertalings geskied.
  23. ^ Tit. 3:10.
  24. ^ HK, antw. 85.
  25. ^ 1 Joh. 4:1.
  26. ^ 1 Joh. 4:6.
  27. ^ Jud. 3.
  28. ^ Matt. 16:18. 
  29. ^ Gen. 3:15. 
  30. ^ 2 Tim. 2:9 (nuwe vertaling).
  31. ^ KO, art. 55.